Lesersbrief: Wanneer ʼn kind kies om sy lewe te beëindig

susanna-moolman

Susanna Moolman. Foto: Verskaf.

Susanna Moolman van Gauteng skryf:

Soos te veel ander ouers, het ek my ook onverwags in daardie klein skuitjie bevind. My seun, ʼn jongman met soveel potensiaal en geleenthede, neem sy eie lewe. Daar moes ek leer dat dit ʼn sterfte is wat andersoortige emosies uitlig. Vernedering, vrees, angs, om net ʼn paar te noem. Ons gee voor dat ons so “verlig” en modern is, maar wanneer dit by die groot verliese kom, is veroordeling steeds vinnig op die voorgrond.

Onverwags bevind ek my in ʼn vakuum van oorverdowende stilte. Om dit ligtelik te stel, die nadraai van selfdood is ʼn helse ervaring, en die begeerte om ʼn einde aan my eie lewe te maak, was ʼn baie lang tyd my intiemste metgesel.

Die afgelope vyf jaar was ʼn pynlike leerskool. Maar groei ons dan nie juis die hoogste in die haglikste omstandighede nie? Dus, vir elke ouer daar buite wat ná 10 of 20 jaar steeds daagliks treur, wil ek sê: Dit hoef nie so te wees nie. Daar ís lewe ná die dood van ʼn kind – vir albei van julle. Maar jy moet daardie waarheid vir jouself soek en vind.

Om “te laat gaan” beteken nie om van die kind te vergeet nie, maar om die pyn agter te laat, sodat jy hierdie kind op ʼn nuwe manier kan leer ken. Dit is ʼn ongeskrewe taal wat tyd neem om te verstaan.

En “om daaroor te kom” is net so ʼn verwarrende uitdrukking. Verwerk eerder die pyn, hartseer en verlies, en leer om ʼn lewe te leef waarin jy ook ʼn lig vir ander kan wees. Daardeur maak ons die gebroke wêreld weer heel – een persoon op ʼn slag. Dít is ons Godgegewe opdrag, om mekaar lief te hê en te ondersteun.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SUZETTE BOTHA ·

HOE DAPPER EN ONGELOOFLIK SPESIAAL IS JY NIE OM DIT TE DEEL NIE! INDERDAAD IS JOU WOORDE BAIE WAAR EN MAG JY ‘N LIG WORD WAT BAIE ANDER SE DONKER VERLIG! SHALOM

Gerd Lourens ·

Sjoe Susanna. My hart gaan uit na jou en jou familie. Mag God julle (en almal wat geliefdes verloor het) bystaan.

Anoniem ·

Sterkte Susanna. Met Vader aan jou sy sal jou lig altyd skyn.

Dabo ·

Baie dankie vir die positiewe gesindheid na jou hartverskeurende ervaring. Vir elkeen wat ook hierdie pad moet loop, wil ek graag die boek van Dr,Henk Gous met die titel: Om die ondraaglike te dra, aanbeveel.

Hartseer ·

Susanna, my hart gaan uit na jou en glo ek die Vader sal jou dra deur jou hartseer tyd. Ek het ook ‘n kind verloor maar nie deur selfdood nie . Ek sukkel nog na 2 jaar om alles te verwerk en kry net nie afsluiting nie . Ek bid elke dag tot God om my deur die dag te neem, Hy doen dit maar vanaand as die son sak oorweldig die hartseer en verlange my so dat ek ook voel , wat is my doel op hierdie aarde, moes ek nie maar eerder die een gewees het wat weggeneem moes word nie , hy was nog so jonk !! Ek het hulp gaan soek , dit gekry maar nog steeds kan ek nie “cope” met die verlange en hartseer nie .

Connie ·

Ek het ook my seun verloor in kar ongeluk.Sukkel om vorentoe te beweeg. Soek hom elke dag.Praat met hom as ek so alllen voel.Mis hom met my hele hart en siel.
So veel haat in my vir kind wat ongeluk veroorsaak het,by is ook dood.
Kwaad vir almal

Liza ·

En die wat agterbly sit met die vrae en selfverwyt, as ek dit, as ek dat, dalk moes ek eerder so of so … Net tyd en die besef dat jy niks anders kon doen of se, niks sou dit kon verander nie…. elkeen stap sy eie paadjie, en GOD se genade is groter as enige fout wat jy ooit kan maak…. Dankie

Nico ·

Niemand sal seker weet hoe hy of sy sal reageer as so iets gebeur nie, totdat dit gebeur. Baie dankie vir die waardevolle insig. Mag dit ons gespaar bly. Deur genade van Bo.

Stukkende Hart ·

My seun was ook moeg vir die lewe in Desember. Dit is die swaarste seer wat daar is. Hoe laat jy gaan? Hoe vind jy weer vrde met sulke baie vrae? Ekskuus as ek bitter klink maar ek sien nie die lig of waarheid nie. net n donker bedroefde hart

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.