Was die eerste hartoorplanting werklik in Suid-Afrika gedoen?

Christiaan Barnard (Argieffoto)

Christiaan Barnard (Argieffoto)

Deur Janco Jordaan

Die meeste lesers van hierdie opinie/skrywe sal heel moontlik goed weet wie dr. Christiaan Barnard is; dalk selfs die museum in Beaufort-Wes besoek as hulle die binneland vir die kus verruil vir ʼn week of twee. Sommiges meen selfs dat die hartoorplanting op mnr. Louis Washkansky in 1967 uitstaan as een van die grootste bydraes tot die mediese wetenskap van die eeu.

Dr. Christiaan Barnard is voorwaar ʼn Brit, Nederlander of Duitser om op trots te wees…

Onlangs het ek myself as lid van ʼn internasionale groep van 12 mense bevind, almal tussen die ouderdom van 25 – 30 jaar, ek was die enigste Suid-Afrikaner. As ʼn ysbreker was die idee om te sê waar jy vandaan kom en een van jou land se beste uitvindsels of hoogtepunte te noem. Daar was fantastiese uitvindsels/hoogtepunte wat een na die ander op die tafel geplaas is: demokrasie, die duikboot, Apple, om maar net ʼn paar te noem.

Dit was amper my beurt en ek wou 1994 se oorgang na demokrasie genoem het, maar die Griek het my voorgespring. Ek kon nog Apartheid noem, almal weet daarvan, maar ek was bang dit benadeel my wéér. Toe onthou ek wat in die Groote Schuur Hospitaal op 3 Desember 1967 gebeur het en noem dat ek van Suid-Afrika af kom, die land waar die eerste hartoorplanting gedoen is. Ek moes dalk maar eerder Apartheid en Nelson Mandela gekies het.

Want sien, dit is moeilik om In teenargument te stel as iemand grappenderwys noem dat die land waar so ʼn mediese wonder geskied het se huidige president dink hy kan Vigs vermy deur ʼn koue stort te vat. Dadelik word die korrelasie getrek met die Gambiese president mnr. Yahya Jammeh wat ook meen hy kan Vigs genees met kruie. Ander lede van die groep meen weer hulle het nie gedink dr. Barnard kom van Suid-Afrika af nie, dalk eerder Duitsland of selfs Nederland, maar nie iewers uit Afrika nie.

Só eindig die ysbreker en laat my met ʼn koue gevoel en bitterkruiesmaak in die mond en die gedagte dat Suid-Afrika in hierdie stadium nie eienaarskap kan eis oor dit wat regtig aan die land behoort nie. Ek wonder hoeveel van die items op Liezel Luneburg se lys van Suid-Afrikaners se uitvindsels wat uitstaan sal hierdie toets deurstaan?

Die kern van eienaarskap is vir my gesetel in die deurlopendheid en die toegewydheid daarvan. In die afwesigheid van bevestigende gedrag raak eienaarskap afgewater en ek wonder tot welke mate is dit nie wat tans aan die gebeur is met Suid-Afrika nie.

As voorbeeld neem ek ons huidige ekonomiese situasie en rekordlaagtepunt van die Rand/Dollar-wisselkoers.

Sedert Januarie 2015 tot nou het die Rand met 44,98% teen die Dollar verswak. Ongeag die magdom redes vir hierdie regressie en deurlopende kritiek vir swak bestuur en waarskuwings deur ekonome, is ons tans in dié bootjie. Die reaksie op 12 Januarie 2016 deur mnre. Zuma en Ramaphosa by die SAUK se Breakfast Briefing op die verswakkende Rand en die ekonomie is vir my een van die redes waarom ons as Suid-Afrikaners sukkel om eienaarskap te neem oor die goeie goed van Suid-Afrika soos ʼn hartoorplanting, CT en CAT-skanderings.

Ramaphosa: “This is the time where we require all South Africans to work together. This is not the economy of the ANC or the government alone. It is our collective economy and we need to work together to see what needs to be done to shore up our currency, to make sure that exports move. We don’t want a situation where devaluation of the rand lead to increases in food stuff and other things that are essential for the population of our country.”

Zuma: “It should not be made the business of government only [to tackle economic challenges]. All of us [need to be involved]. The economy is in trouble. We can’t do things or do business as usual.”

Dit is duidelik dat die ANC se huidige bestuur nie eienaarskap neem vir dit waarvoor hulle verantwoordelik is nie. Die feit dat die ekonomie nie die ANC s’n alleen is nie moet nie nou eers vir jou sin maak nie, mnr. Zuma.

Met die in gebruik neem van ons nuwe geldnote waarop Nelson Mandela verskyn, het Zuma op 11 Februarie 2012 dit beskryf as ʼn gepaste huldeblyk en dat die nuwe geldnote Suid-Afrikaners sal herinner aan dit wat ons in die verlede bereik het.

In die huidige omstandighede is dit egter moeilik om eienaarskap te neem oor die seges van ons verlede, want net soos ons geldnote, blyk dit ook ongeloofwaardig en is dit maar bitter min werd.

-Janco Jordaan was die Studenteraadvoorsitter vir 2013 en 2014 aan die NWU-Potchefstroomkampus en is tans ‘n nagraadse student in Regte by die Tilburg Universiteit in Nederland

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Retief ·

Waar pas die hartoorplanting in by hierdie hele relaas? Ek kan nie die kloutjie by die oor bring nie!

Marietjie ·

Retief en Alida, hy verduidelik tog duidelik aan die einde dit raak al hoe moeiliker om eienaarskap te neem oor die “seges van die verlede”. Ons kan nie meer roem daarop nie, as mens die huidige regering in ag neem.

elize naude ·

wie weet… maar die eerste hartoorplanting, is deur die tuinier van die grootte schuur wat n briljant genie was en chris se assistent, gedoen en nie deur chris barnard nie!!!!!!

Paul ·

Elize, daardie storie is nie waar nie.
Chris Barnard het wel ‘n assistent, Hamilton Naki, gehad, wat geen formele opleiding gehad het nie, maar so bedrewe en talentvol was met snykuns dat hy selfs prosedures vir mediese studente gedemonstreer en geleer het.

Die storie is dat Naki die hart uit die skenker gesny het. Daardie taak is egter laat die aand, terwyl Naki by sy huis was, deur Chris Barnard se broer Marius en Terry O’Donovan gedoen.

Gaan lees gerus maar op daaroor. Die dokumentêr wat aangevoer het dat Naki dit gedoen het, is eenvoudig foutief. Maar ja, sommige mense laat nie die feite in die pad van ‘n lekker storie kom nie…

alida ·

Retief, ek stem saam. Genade waar pas die twee nou in. Ek dink die skrywer was nog nie eers ‘n gedagte toe die eerste hart oorgeplant is nie!!!!

Liezel Luneburg ·

Natuurlik stem ek nie saam met jou nie. Dáárvoor is ek heeltemal te hardegat. Ek weier om my te laat onderkry deur die huidige sisteem. Ek weier dat negatiwiteit, onkunde en onbekwaamheid my gemoed depressief stel. Ek sal trots Suid-Afrikaans wees, kom wat wil. Ek sál erkenning gee aan die ontwerpers en slimmes en hardwerkendes wat deur die jare net hier ín Suid-Afrika, ten spyte van omstandighede, hul merk gemaak het. Wat nie oorsee gefoeter het nie. Ek salueer elkeen wat opgehou kerm het en iets doen. Ek salueer elkeen wat positief en doelmatig protesteer – sonder om in sak en as dieselfde deuntjie oor en oor te dreunsing. Ek weier om my te skaam vir wie ek is – ‘n Suid-Afrikaner. En herinner my asseblief net waarom jy dr. Chris Barnard en sy span se merkwaardige prestasie van hul wil wegneem as gevolg van die huidige Suid-Afrikaanse politieke en ekonomiese klimaat. Soos ander reeds hierbo genoem het, kan ek die kloutjie glad nie by die oor bring nie…

Loeis ·

Ek was self so paar jaar gelede in ‘n groep baie soortgelyk aan die een wat hierbo beskryf word, en het die ou Suid-Afrika se prestasies soos die eerste hartoorplanting, kernwapens ens genoem nadat die enigste Brit in die groeppie (wie nog nooit in Suid-Afrika was nie) haar (taamlike) kennis oor apartheid uitgepak het (sy is van mening dat sy baie meer van SA weet as ‘n Suid-Afrikaner want sy het by Oxfort geswot). Ek het ook genoem dat die Britte die grondslag vir die pasboekstelsel daargestel het. Sy haat my seker nog steeds. Die waarheid is maar net nie polities korrek nie.

Loeis ·

Is hierdie argument nie bietjie ironies nie?

Die skrywer wil Suid-Afrika se “oorgang na demokrasie” noem as iets waarvoor Suid-Afrika uitstaan. Is dit nie daardie selfde demokrasie wat ‘n einde gebring het aan die era waarin die eerste hartoorplanting hier gedoen is, en wat ook die era gebring het wat Zuma as staatshoof opgelewer het nie?

Disselboom ·

Liewe Janco. Dis die soort situasie waarin jy jou bevind as jy nie jou eie identiteit ken en omhels nie. As jy byvoorbeeld nou geweet het jy is ‘n Afrikaner en nie ‘n reënboognasie-Suid-Afrikaner nie, dan sou jy onmiddelik kon geantwoord het juis oor die verstommende verskil tussen wat was onder Afikanerregering en wat nou is.

Dis jou eie probleem as jy jouself verkneg in jou gemoed om jouself te beoordeel as deel van die reënboognasie en al die leuens en onreg waarmee die huidige regering aan bewind gekom het.

Theresa ·

Elize, gee asb meer inligting en detail oor waar ek kan gaan lees oor die tuinier wat die eerste hart hier oorgeplant het.
Ek het wel so ‘n fliek gesien oor ‘n situasie soortgelyk in Amerika, maar die eerste hart hier in Suid-Afrika is wel deur Chris Barnard oorgeplant. Indien nie – stel ek regtig belang om die belangrike feit op skrif te sien.

Breytie Breytenbach ·

Janco,
Hoewel ek nog my lewe lank hier in Suid-Afrika gebly het, kan ek myself indink hoe jy moet voel daar in die vreemde terwyl jy ervaar dat die dinge waarop ons trots behoort te kan wees deur vreemdes ingepalm word omdat Suid-Afrika so’n lagwekkende plek geword het. Dit moet sekerlik voel asof jou hart deur fyn stukkies glas gesleep word – veral jy, wat duidelik self nie sonder jou lys prestasies is nie.

Maar ek wil jou aanraai om jou oë weg te draai van die groot koerantopskrifte en die toesprake wat in belangrike geboue met dik matte gemaak word. Wanneer politici en ander gedurig in sulke plekke beweeg, begin hulle noodwendig glo dis hoe die praktyk daar buite lyk. Hulle verloor kontak met die werklikheid want selfs wanneer hulle reis, sien hulle die wêreld deur donker glas en niks kan duidelik na hulle deurkom nie. Tog word hulle opinies oor die wêreld heen uitgesaai.

Laat ek jou vertel in die werklike wêreld waar mense elke dag hard moet werk vir hulle brood, is daar nie tyd om baie aandag te gee aan politiek en sulke teoretiese dinge nie. Elke dag sien ek baie welwillendheid tussen alle mense, wit en swart, hier by ons, ervaar ek bereidwilligheid om mekaar te help, luister ek na vrolikheid wat die dae opkikker. En weet jy wat? Vir ‘n hele paar jaar nou al beleef ek hoedat gemeenskappe bymekaarstaan, hoedat mense in dieselfde straat mekaar leer ken en selfs innige vriende word, hoedat misdadigers uioorlê word deur rustige en deeglike beplanning.

Hierin lê ons nuwe grootheid, hierdie klein dingetjies wat geestelike waarde het en wat momentum opbou. Ons leer al meer om na mekaar toe te draai en om waarde te vind in ‘n soort nabyheid wat dertig jaar gelede ondenkbaar was. Dis nog net die begin, maar nie lank van nou af nie sal jy kan begin luister na die magtige dreuning wat ver onder begin opbruis.

Daar is baie mense wat nie die hoofopskrifte haal nie maar wat sterk staan en wat invloed laat geld. So byvoorbeeld is dit ‘n blanke wat aangebied het om die poskantoor (met ‘n verlies van R100 miljoen per maand) te red van ondergang “oor ek die onverteerbare waarheid verkies bo die uitgerekte gevolge van leuens”.

Soos ons voorgeslagte hulle afgebrande plase kon omarm en stadig weer kon opbou, sal ons weer van die grond af ons trots terugkry en ons naam herstel. Wag en jy sal sien.

Theresa ·

Breytie, als mooi geskryf, maar ek is MAL oor jou laaste paragraaf – DANKIE!

GERRIT ·

So onverstaanbaar en soveel dubbelsinnigheid nog nooit gesien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.