Wat beteken demokrasie en wat doen regstellende aksie?

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

Aan die boom van ons demokrasie hang daar na 21 jaar die vrot vrugte van moorde, R800 miljard se korrupsie, ʼn siek onderwys-, gesondheid- en regstelsel, ʼn kreupel Eskom en SA Lugdiens en baie vrot munisipaliteite.

Gebreke in feitlik alle vertakkinge van die volkshuishouding bestaan omdat die noodsaaklike bemesting van dissipline, eerlikheid, integriteit, wilskrag, meriete en arbeidsaamheid wat deur die demokratiese stem van die volk gevoed moet word, ontbreek.

Dit is die gevolg van die beleid van oormatige regstellende aksie en ekonomiese bemagtiging wat die gesonde beginsel van verantwoordelikheid en meriete ondermyn. Daarom word aansienlike hulpbronne vermors, omdat die vrylike uitdeel van gunste en gawes nie eise stel nie, maar laksheid in die hand werk. Ondernemingsgees en vlyt word gesmoor as werkers geen risiko loop nie.

Regstellende aksie se geldelike voordele vir ʼn miljoen mense, van wie ʼn groot groep dan die wil verloor om hul bes te doen, moet opgeweeg word teen die nadele vir vyftig miljoen mense wie se samelewing ondoeltreffend gemaak word.

Ekonomiese bevryding wat verdien word, hou voordele vir almal in die land in. Daarom moet lakse, onproduktiewe werkers afgedank word.

Die gebreke in Eskom, die SA Lugdiens en feitlik alle staats-  en provinsiale departemente en munisipaliteite, kan toegeskryf word aan die aanstelling van onbekwame werkers.

Gee vir ʼn man ʼn vis en hy eet dit op een slag, is ʼn waarheid wat hier ter sake is. Gee vir ʼn amptenaar ʼn joppie sonder bekwaamheid en verantwoordelikheid en hy gaan steeds bakhand staan. Maar gee vir hom gesonde onderwys en opleiding en stel eise sodat hy vir homself kan sorg en hy word ʼn geagte landsburger.

Dit is nodig dat die grondliggende idees rondom suksesvolle beskawings herhaaldelik bekyk en geslyp word en leiers hulle vergewis van wat nodig is vir ʼn wenland. As die boustene van dissipline en integriteit en voortreflikheid versmaai word, is die afgrond ons voorland. Dit is waarom alle leiers onkreukbaar, met eerlikheid en integriteit, moet wees. Dit is ʼn onverbiddelike vereiste vir die handhawing van enige beskawing.

Daarom moet die teikens vir regstelling en bemagtiging plek maak vir meriete-aanstellings van alle bekwame mense, ongeag verkleur, om te sorg dat die skip van SA op die golf van voorspoed vaar.

Die rigsnoer vir verantwoordelike kiesers is om bekwame verteenwoordigers deur hul kruisies op stembriewe aan die bewind te stel en om onproduktiewe, onbekwame en korrupte lamsakke uit die politieke raadsale weg te jaag. Die vermorsing van hulpbronne weens onbekwaamheid op alle vlakke van die volkshuishouding is ʼn duur prys omdat onbekwaamheid beloon en ontwikkeling gekortwiek word.

Daar is tienduisende staatsamptenare wat goeie werk doen, maar solank meriete en produktiwiteit in alle aanstellings nie die maatstaf is nie, sal volledige doeltreffendheid in die slag bly.

‘n Ander soort regstellende aksie wat die herstel van meriete as maatstaf vir alle aanstellings in alle departemente en semi-staatsorganisasies insluit, is absoluut noodsaaklik as daar werklik erns is om ʼn wenland te bou. Daarom moet die ANC ernstig besin oor sy regstellende aksie en ekonomiese bevordering van mense wat net ʼn remskoen vir ekonomiese groei  is.

Koos Botha

  • Hierdie brief is verkort om by die woordbeperking van 500 woorde per lesersbriewe te pas.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

chrisp ·

Koos.
Selfbeskikking is al oplossing as jou kultuur nie saamgaan met die res van Afrika nie.

Hierdie is ‘n demokratiese land met die mees moderne grondwet volgens meeste “kenners”.
Zuma is ons verkose president(die ons is nou die denkbeeldige volk waarvan baie praat).
Regstellende aksie is die beleide van bykans al die partye(ANC,DA.EFF).Dit is duidelik voor die hand liggend dat hierdie demokrasie(dalk demoonkrasie eerder) juis die baarmoeder verteenwoordig van die kind genaamd regstellende aksie. As jy of wie ookal te vinde is vir ‘n demokrasie in die land soos hy nou daarna uitsien is dit(regstellende aksie) ‘n gegewe vir nog baie lank.Daarmee saam die agteruitgang van alles tot op ‘n tiepiese Afrika standaard. Al hoe dit kan verander as die meerderheid daarteen stem.Hoekom sal ek my vrypas na alles weggee(nie almal is so naief soos die NP “manne” van die 90’s nie)?

As jy praat van die “volk” neem ek aan dit is die denkbeeldige een in die reenboogskim wat die nuwe RSA heet.Daar bestaan nie so volk nie.Hoe lyk hy, wat is sy taal,kultuur ens?

As jy ontslae wil raak ven regstellende aksie raak ontslae van die mengelmoeskardoes.So nie sal die meerderheid jou as minderheid aanhou opvreet soos dit maar minderhede se lot is by die feesmaal van die 9 wolwe en die ou een skapie in Afrika,al bler die ou skapie ook hoe hard.

Victor ·

Hoe sou selfbeskikking werk? Watter gebied binne die landsgrense, en hoe gaan mens te werk met die huidige regering om dit ‘n onafhanklike staat te kry?

david ras ·

Regstellende aksie het ‘n ingebore swakheid—–die meganika daarvan bewys dit—
Jy kan nie ‘n 90% meerderheid bevoordeel ten koste van ‘n 10% minderheid sonder om op minderheidsonderdrukking neer te kom nie.

Daar is al baie maal verwys na bv Maleisie se Regstellende aksie program—-maar in daardie geval is veiligheids maatreels ingebou om sulke diskriminasie te voorkom.

Die Amerikaanse weergawe is ook onderworp aan ‘n getalle oorwig—-maar dar is die bevoordeeldes ‘n 10% MINDERHEID. Met ander woorde die meerderheid behou beheer van die stelsel as gevolg van hulle numeriese getalle !

Daar word deurgaans as rede vir hierdie stelsel die geskiedenis aangevoer–die beweerde gebrek aan deelname aan die ekonomie deur hierdie meerderheid.
Wat egter vergeet word is dat daardie ekonomie bestaan as gevolg van die infrastruktuur van ons land en dit is grotendeels deur die blankes befonds en geskep.

Swartes beweer dat dit hulle hande arbeid is wat dit daargestel het, dis deels die waarheid. Maar dit word dan vergeet dat hulle daarvoor betaal is. As ek vir ‘n man werk en sy huis bou en hy my betaal, kan ek sekerlik nie aanspraak maak op mede eienaarskap van die huis nie.

Dit is waar die problem ontstaan het met die onderhandelde grondwet –die swartes het wat daarin staan vertolk as eienaarskap van die SA ekonomie, en nie deelname nie .

Frans ·

Die skrif was aan die muur toe die tuislandbeleid misluk het omdat dit met presies dieselfde probleme geworstel het as waarmee die demokratiese Suid Afrika tans worstel. Biljoene Rande en nie net blanke geld is in die tuislande ingepomp, talle plase is in ‘n konsolidasieproses onteien en het later onproduktief geraak, tot so’n mate dat tot 95%
misluk het.

Vandag betaal almal , behalwe ‘n klein minderheid,die prys van ‘n ondeurdagte onderhandelingsproses ,want as jy na dit stap en op jou eie vermoëns staatmaak teen ‘n klomp geharde kommuniste en Godverloënaars dan is jy besig om jou eie graf te grawe en moenie verwag dat iemand jou gaan help om daar uit te klim nie. Hulle sal eerder op jou
hande trap en verhoed dat jy weer op eie bene staan.

Hoe kon ‘n volk wat sulke briljante mense op alle gebiede opgelewer het sigself so in die voet skiet dat almal nou in klein groepies rondskarrel en na oplossings soek?

juan ·

In my opinie het alles verkeerd gegaan toe predikers liberalisme sonder Godlikheid begin verkondig het vanaf die kansels. Geen persoon kan standvastig wees in die storms van die lewe as hy nie geanker is in die WOORD van GOD nie. Die mens moet talle male herriner word hoe sondig hy is en dit gebeur wanneer hy met God se Woord gekonfronteer word. Slegs dan sal hy sy afhanklikheid & verlorenheid begruip.

John ·

En waarin is etiek geanker? Wat is etiek? As daar nie ooreenstemming is oor wat reg en verkeerd is nie, is chaos die realiteit. Selfs by Christelike godsdienste is daar nie ooreenstemming oor sulke sake nie. Volgens die Katolieke Kerk kan mens net stilletjies bieg by ‘n gawe priester en alles is ok. Christus word deur baie sogenaamde Christene ‘uitgeskryf’ uit die Bybel omdat dit die lewe dan baie makliker vir hulle sou maak. Regstellende aksie het twee partye nodig: een wat het en die ander wat wil he wat die ander een het. Demokrasie is suiwer net gegrond op die aantal stemme vir die een of ander party wat vir sy kiesers belowe hy gaan dit wat hulle begeer in die hande probeer kry. Dis soos bure waarvan die een versigtig leef en die ander buite beheer is. Die verantwoordelikes word die teiken van die ander wat eis dat die regstelsel/etiek wat hulle party aanhang hulle help om dit wat die ander het aan hulle te gee op grond van partybeleid of te wel die kiesers se begeertes. So eenvoudig soos dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.