Lesersbrief: Wat gaan saakmaak oor vyf jaar?

anita-odendaal

Anita Odendaal. Foto: Verskaf.

Anita Odendaal van Middelburg, Mpumalanga skryf:

Dit was die oomblik toe ek vir iemand by die plaaslike Spar deur my motorruit binne hoorafstand skree, “#$% jou, jy is !@#$-up,” dat ek besef het hier is groot fout. Kan ek, ʼn vooraanstaande kerkmens, mamma van twee klein kindertjies so iets doen? Ek skaam my eintlik morsdood. Maar ek bewe van die kwaad nadat iemand my parkeerplek blatant onder my uitgery het.

Hierdie insident het my laat nadink. Nee, dis nie nét as gevolg van die gesteelde parkeerplek by Spar wat my so boos gemaak nie – dit was natuurlik ʼn inhou en opbou van soveel ander dinge buite my beheer wat my die plot laat verloor het. Ek moet bieg, ek het ander goed ook vir die man in sy Polo’tjie gesê, maar dit is nie nou die punt nie.

Ek het êrens die sêding gehoor dat as iets nie gaan saakmaak oor vyf jaar nie, is dit nie die moeite werd om so kwaad te raak daaroor nie. En ja, dis nogal vernederend om te erken dat ʼn parkeerplek definitief nie oor vyf jaar gaan saakmaak nie.

Maar… die veiligheid van ons kinders gaan definitief saakmaak: misdaad, bedrog en korrupsie en staatkaping. Ja, dit gaan saakmaak. So kom ons veg daarvoor, kom ons word kwaad vir alles wat verkeerd gaan. Dít is die moeite werd.

Kom ons gaan stem, dit gáán saakmaak oor vyf jaar. Kom ons hou aan om ons kinders te leer van respek en maniere, want dit gáán saakmaak oor vyf jaar.

Kom ons werk onsself nie op oor minderbelangrike goed soos ʼn krappie op jou kar, langer wag in rye en parkeerplekke nie, want mens voel in elk geval glad nie beter as jy jouself so verloor oor iets kleins nie.

Ontspan meer, waardeer jou familie en moenie sweet oor die klein goedjies nie!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

RonelS ·

Ek lees nou hierdie stelling wat die dame maak oor dinge wat saak maak.

Ek vervies my, maar tog ook stem ek saam met haar stelling…. maak my dink ook.
Dit kom bloot daarop neer dat verskillende dinge is belangrik vir mense. Sy mag dalk nie bekommerd wees oor n krap merk op haar kar nie, maar vir my is dit n vreeslike ding omdat een krap word twee…twee word drie en later lyk dit asof daar n partytjie op my kar was. Dit bloot omdat ek nie kan bekostig om n kar vol krap merke gereeld reg te maak nie.

Respek, indien daardie persoon respek vir jou gehad het en maniere sou jy nie in die eerste plek gevloek het oor n parkeer plek nie.

Ek stem wel 100% saam met die stelling dat kinders respek en maniere geleer moet word. Ek werk in n bedryf waar ek daagliks daardie gaping in opvoeding beleef, so ook volwassenes. Die klein dingetjies moet in plek val… soos asseblief, nee dankie, ja tannie, nee tannie, more oom, more tannie en as jy in n winkel loop kyk jy met jou oe en nie met jou hande nie. Sodra daardie paar goed in plek is sal die res volg.

Ek probeer geensins die dame se stelling uitmekaar ruk nie.

John ·

Wat het stem met vloek en krappies aan motors of parkeerplekke te make? En watter party gaan mens minder laat vloek? Ek dog ons Bybel is meer van hulp. Die VFPlus het homself in die doringdraad ingewerk om ‘n ou ‘Malema’ sy boesem-buddy te maak, want nou ook plase vir gekleurdes eis. Hoekom het Pieter Marais die ander Pietertjies so bearbei? Dit was ‘n catch 9. Nou is die adder in die bed en die ou ooms slaap op die grond. Bye and enjoy! Die winter kom…

Jack ·

Geseënd is hulle wat niks goeds verwag nie want hulle word nooit telleurgestel nie.

Rasper ·

Beste Anita. Ek voel ook so. Het nou die dag iemand aan die nek gegryp. Skaam my nou nog. Het ‘n dokumenter gekyk oor ‘n Afrika land so week terug. As ek nou hel op aarde moes beskryf, sou dit, dit wees. Dit is toe dat ek dink, nes jy, hoe lyk Suid-Afrika oor vyf jaar teen hierdie trant? Dit het my yskoud gelaat…..

L-O-G-IK ·

Selfbeheersig is goed. Maar wat laat jou dink dat deelname aan die verkiesing ‘n goeie ding is?

Dink jy nie die huidige en komende wanorde in ons land sou dalk vermy geword het as meer mense die verkiesing geboikot het, en aangedring het op ‘n stelsel wat die regte van individue en selfheerskappy aan minderhede sou gewaarborg het nie?

Die probleem met deelname aan die verkiesing is dat jy instem daartoe om regeer te word deur diegene wat die mees populistiese uitsprake maak.

Rasper ·

Ek self voel die meeste van die tyd soos ‘n bywoner in Suid-Afrika. ‘n Ekspat, maar weet self nie van waar nie…. As elke liewe Afrikaner wat kan stem, hulle stem weerhou, sal daar ook niks gebeur nie. Ons is net te min. Ons is ook nie gekonsentreerd op ‘n plek sodat die bietjie stemme of weerhouding van stemme, soos ‘n spiespunt ‘n regte verskil kan maak nie. Maar, om te stem doen ook vir my nie veel nie. Al genoem, dat ek voel, al wat my stem doen, is om vir iemand ‘n spreekbeurt te gee. Want die ANC sal nie luister na iemand nie, en al verloor hulle die verkiesing, sal hulle uit hulle pad uit gaan om die land onregeerbaar te maak. Sien hierdie brief in daardie lig. Die magteloosheid van die meerderheid Afrikaners. Om te stem, of nie te stem nie, is irrelevant. Emmigreer is makliker gesê as gedoen. Party mense wag vir totale anargie, en sien eintlik uit daarna. Ander wil hê, dat met die beperkte tyd, en geld, moet ons bou aan hierdie rommel hoop. Die res van ons ploeter maar voort. Wag vir iets…. weet net nie wat nie, maar iets… Miskien more as ons Maroela Media oopmaak, het iemand iets gesê of gedoen wat weer hoop gee.

Frik Lotz ·

Baie goed geskryf, Anita. En ja, ons moet beslis gaan stem, vir n beter toekoms!

Melanie ·

Die motor wat ek bestuur is 12 jaar oud. Ek moet dit mooi oppas want nog ‘n kar sal ek nie kan bekostig nie. Ek sorg dat ek douvoordag my inkopies doen wanneer daar geen (of baie min) ander voertuie te siene is. Die winkel is nog dolleeg en kan ek in vrede my inkopies doen. Daar gaan nie ‘n lang ry op 8 Mei wees nie. Anita kan met vrede in haar hart gaan stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.