Lesersbrief: Wat is die Afrikanerkultuur?

Koos Marais skryf:

(Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Verlede week kon Afrikaners weer hulle gunstelingding doen – wroeg en derms uitryg – en dit nogal onder die granietoog van hulle gunstelingkolos, die Voortrekkermonument. Tydens die Covid-19-weergawe van Aardklop kon hulle besin oor wie en wat hulle is en hoe hulle hulself moet regverdig, vir wie hulle moet jammer sê omdat hulle bestaan, of selfs innoverende maniere bedink om te ontken dat hulle Afrikaners is of was of sal wees.

Op ’n sekere manier was dit Mercy Kannemeyer wat die bal aan die rol gesit het met haar baie lang WhatsApp aan die Voortrekkermonument toe sy beswaar gemaak het teen die webblad van die monument wat luidkeels verklaar dat dit die tuiste van die Afrikanerkultuur is. Onder andere het Mercy dit gehad oor ’n T-hemp met die ou vlag en ’n slagspreuk “Sedert 1652” wat op die webblad te koop is. Miskien was sy reg.

Ander mense het ook deelgeneem aan die Baie Lang WhatsApp-gesprek, party letterlik per WhatsApp. Daar was positiewe bydraes deur Fransjohan Pretorius, Jaco Kleynhans, Dana Snyman, selfs Rian van Heerden en Gielie Hoffmann, maar daar was ook Koos Kombuis se komiese traak-my-nie-agtige idee dat die monument deur “aliens” gebou is, Marita van der Vyver se twyfel en onsekerheid, en ’n hatige en venynige aanval deur Melt Sieberhagen.

Natuurlik was die eintlike doel van die gesprek in wese ’n soeke na die identiteit van die Afrikaner soos deur die monument gesimboliseer. Maar dit was net die begin.

Nadat die monument geweier het om sy swye te verbreek met ’n WhatsApp van sy eie, het die manne en vroue weer vergader op soek na die Afrikaanse leiers. Hy of sy was ook nêrens te vinde nie.

Nog prikkelende gesprekke en selfondersoekende kuns het gevolg, party informeel, en ander formeel op ’n verhoog. In die kafeteria het manne soos ds. Cassie Aucamp en dr. Danie Langner koponderstebo gesit en analiseer terwyl Alexa Strachan rondgehardloop het om al Aardklop se balle in die lug en die kunstenaars gelukkig te hou. Intellektuele soos Waldimar Pelser en Lourensa Eckard het heldhaftig gepoog om die kaf van die koring te skei deur middel van ʼn Oop Gesprek, à la van Wyk Louw.

Aan die ander kant van die spektrum het ’n mindere weergawe van Dozi op ’n verhoog die kitaar geslaan terwyl ’n omie met yl hare, ’n nekdoek en velbroek potjiekos en sterk swart moerkoffie gemaak en vir belangstellendes die besonderhede van ’n outydse ossewa verduidelik het.

Almal was op soek na iets. Die meerderheid sou verklaar dat dit die Afrikanerkultuur was wat hulle gesoek het, juis dit wat Mercy so onthutsend op die monument se webblad gevind het in haar WhatsApp.

Wat is die Afrikanerkultuur? En hoekom is dit vir party so aanstootlik dat Afrikaners gedurig moet verduidelik, verskoning aanteken en wegkruip?

Die vinnige en ligsinnige antwoord is braaivleis, rugby, Afrikaanse musiek, kakieklere (vir party) en brandewyn, maar dit alles is tog nie uniek nie. Die Engelse het rugby uitgevind en almal hou van braaivleis. Alle mense maak en hou van musiek en dieselfde Engelse het kakieklere na die land toe gebring. Hulle is mos selfs die Kakies genoem.

Die enigste saak wat uniek tot die Afrikaner se kultuur is, is sy taal Afrikaans. En dit is iets om te vier en op trots te wees.

Ander mense sou die Afrikaner se geskiedenis wil aandui as deel van sy kultuurgoedere, maar dit is in die konteks van vandag ’n nuttelose argument. Ons is nie die mense wat die geskiedenis gemaak het nie. Dit was ons voorouers. En het enige mens rede om trots op jou geskiedenis te wees as jy geen rol daarin gespeel het nie? Of het jy dan rede om skaam te wees daaroor? Nee, geskiedenis is wat dit is, geskiedenis. Al sou jy hoe hard ook al probeer, kan jy niks daaraan verander nie.

Afrikaans is die enigste kultuurskat wat ek het, maar dit is genoeg. Met my Afrikaans kan ek volledig mens wees, Suid-Afrikaner wees, volledig besigheidsman, volledig kunstenaar, volledig gelowig en sportliefhebber. Ek het nie Engels nodig nie, al kan ek dit praat. Ja, partykeer moet ek dit praat as ek wil besigheid doen, maar dit dra nie ’n druppel tot my identiteit by nie. Engels definieer my nie, en daarop kan en mag en sal ek trots wees. Dit is my keuse.

Terwyl al die vrae en soeke na Afrikaanse identiteit en leiers onder die donderwolke voortgeduur het kon ek my verlustig aan die kuns van mense soos Sandra Prinsloo, TT Cloete, Chris van Niekerk, Deon Lotz, Brendon Daniels, Tinarie van Wyk Loots, Dawid Minnaar en Frank Opperman. Ek kon my verlustig in die woordkuns en toneelspel van kunstenaars, in my taal, die taal waarop ek trots is, die taal wat my definieer en wat my lewe is.

Selfs die einste monument kon my trots maak. Ek kon opstaar na die argitektoniese en vakkundige meesterstuk en die kunstenaars en ingenieurs wat dit alles moontlik gemaak het vereer. Dit het my gedagtes op die vleuels van die koue wind geneem om te dink aan soveel tegnologie wat uit die brein van Afrikaners gebore is. Aan die Afrikaanse besigheidsmanne wat uit niet uit reusagtige finansiële wonderwerke geskep het. Aan universiteite en opleidingsinrigtings wat hulle beplan en gebou het. Hulle het dit alles in Afrikaans gedoen

Maar waar het dit fout gegaan? Wat het gebeur dat party mense nie meer hulself Afrikaners wil noem nie? Hoekom moet ons soek na Afrikaanse leiers, selfs op ’n kunstefees? Hoekom is ’n Afrikaanse identiteit dan nie meer genoeg nie?

(Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Soos ’n weerligstraal het dit my getref. Die politiek. Afrikaans is deur politici gekaap vir hulle eie doeleindes. Van die heel eerste dag af kon politici nie hulle kloue van Afrikaans af hou nie. Ons sien dit vandag nog. Daarvoor moet ek verskoning vra. Ek is jammer dat politici Afrikaans besoedel het soos wat die Emfuleni-munisipaliteit nie die Vaalrivier kan besoedel nie. Volksfeeste en Geloftedae is van oudsher af deur politici uitgebuit om hulle gewildheid uit te bou en stemme te werf. Dit is politici wat Afrikaans ’n slegte naam gegee het. Ek is so jammer daaroor.

Selfs op hierdie Aardklop was daar politici wat kom stemme werf het. Ek is jammer daaroor.

Alles wat sleg is in die Afrikaner se kultuur is tot stand gebring deur politici. Ons kultuur is nie sleg nie, maar ons politici is, wel, minder goed. Hulle verstaan nie die verskil tussen politiek en kultuur nie, want hulle verstaan net een ding – mag. Vir hulle gaan dit net daaroor. Ek is jammer daaroor.

Nie alle Afrikaanse musiek spreek tot my nie, maar baie ander geniet dit. Laat dit so wees. Nie almal stel meer belang in ’n ossewa nie, maar gun die wat daarin geïnteresseerd is hulle eiesoortige kultuur. Gun elkeen sy eie kultuur, behalwe die kultuur van politiek.

Een van die luisteraars by die gesprek oor die Afrikaanse leiers was Connie Mulder, kleinseun van ’n politikus met dieselfde naam en seun van nog ’n politikus. Connie het tereg gevra of die Afrikaner vandag nog hoegenaamd nog aan die politiek moet deelneem. Hy het gevra of ons nie eerder ons energie binne die raamwerk van die burgerlike samelewing moet aanwend nie, soos wat AfriForum en Solidariteit en die kunstefeeste met groot welslae doen. Op hierdie organisasies se suksesse sal ek trots wees. Dit is die soort Afrikaner wat ek wil wees, sonder om jammer hoef te sê.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MT ·

Interessante skrywe. Die Afrikaner en sy kultuur is egter baie meer as bloot ‘n taal. My papegaai praat ook Afrikaans, mar dit maak hom nie ‘n Afrikaner nie.

Duskolos ·

Ek stem saam met jou – nie almal wat Afrikaans praat is Afrikaners nie, net soos almal wat Engels of Spaans praat nie noodwendig Engelsmanne of Spanjaarde is nie. Ek sou sê ons gemeenskaplike herkoms en geskiedenis met voorouers uit (oorwegend) Europa, is ‘n baie sterk samebindende faktor. En die belangrikste aspek van ons kultuur is myns insiens die geloof in die Westers kapitalistiese stelsel wat bepaal dat harde werk en ondernemerskap tot welvaart mag lei sonder dat iemand jou daarvan mag beroof.

Vrijburger ·

Goeie stuk.
En terloops, die skrywers, kunstenaars, joernaliste, geestelikes, intellektuele en ander selfbelangrikes wat altyd ‘n eiertjie-te-le het oor Afrikaans en Afrikaanse kultuur bedryf ook maar hul eie politiek wat die Afrikaanse identiteit benadeel.

Hardekwas ·

Daar is geen of bitter min kultuur hier. Dit geld ook vir baie ander lande. Watse kultuur het Amerikaners, of Kanadese, of Australiërs, ens. Na my mening niks of baie min, soos hier. Al wat die gemeenskaplike faktor onder inwoners is, is taal. Ou volke het nog kultuur, soos die Portugese, Russe, Chinese , ens. Dit lyk of almal wat nuwe wêrelde gaan opsoek het, bitter min kultuur het, want dit is n saamgeflanste mengelmoes wat uit baie ander tale, afkomste, en so aan bestaan. Volkspele en n voortrekkerkappie is geen kultuur nie.

Erik ·

Ek stem saam. Ons moes nou die dag almal werk toe aanttrek volgens ons kultuur. Ek toe maar ‘n denim en t-hemp aangetrek. Voortrekker kappie en kakie klere is nie my kultuur nie, so nee wat, behalwe vir die taal wat ek praat en dalk ‘n pannekoek of koeksister of twee, het ons geen kultuur nie.

MakersMark ·

Ongelukkig is wat sommiges vandag voorhou as “afrikaner kultuur” glad nie versoenbaar met die waardes wat die groot trek, voortrekkers of die voortrekker monument verteenwoordig nie. Brannewyn, bakkie, camo, vellies, sokkie op versimpelde afrikaanse liedjies, braai en vuil taal is wat vir baie afrikaanse kultuur geword het. Meng daarby in die verwronge dagga damp deurtrekte waardes van die “voëlvry” wannabe rewolusionêres van die ’80’s wat onder “kuns en kulruur” skuil, en ek hoef seker nie uit te brei hoekom dit in teenstryd staan met die voortrekker waardes nie. En dit het nie gister begin nie, kom al ‘n lang pad vanaf die morele verval van die NP en die uitverkoop van SA deur meyer, de Klerk en kie en die rigtinglose kortbroek wat toe sommer by die ANC aansluit in ruil vir ‘n kabinet joppie. Ek stem saam daar is nie regtig ‘n polieke oplossing nie die regte Afrikaner kultuur sal in diens tot mekaar en gemeenskappe die beste weerspieël en lewendig gehou word.

Dries ·

Daar is baie van die wat Afrikaans praat wat net strewe om bekendheid te verwerf deur hatig te wees teenoor ons taal en kultuur en ons geskiedenis. Hulle kry dan die reaksie wat hulle wil hê soos Sieberhagen en Kannemeyer. Hoe meer hartverskeurend en seer dit ons maak hoe meer genot en plesier kry hulle daaruit. Kom ons lys net hierdie verraderlike mense sodat die geskiedenis op datum bly vir ons nageslag

Dries ·

Ek het al baie gese. Afriforum en Solidariteit is die kwekers en die organisasie van ons ware leiers. Sonder hulle kan ons maar opgee

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.