Wat is Kersfees sonder ’n moeder?

Argieffoto Foto: "Nativity tree 2011" deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons

Argieffoto Foto: “Nativity tree 2011” deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons

Cindy kón praat, maar sy hét nie. Met haar mond wat altyd oopgehang het, die té groot tong effe uitgesteek, het sy die wêreld skugter en stil-stil bekyk. Haar lyfie was kort en mollig, haar vaal hare in ’n onvleiende praktiese styl gesny om haarself of enigiemand anders moeite te spaar.

Al het sy nie gepraat nie, was sy tog oor die algemeen vriendelik en het maklik geglimlag, soos maar die geval is met kinders wat Down se sindroom het. Sou sy agterkom dat jy vir haar kyk, het sy haar kop skaam laat sak en haar mond probeer toemaak. Almal het altyd geraas oor die oop mond. Sy kon dalk soms met ’n maatjie gepraat het, wie sal weet.

As afloshuismoeder by ’n spesiale skool vir kinders met liggaamlike en/of verstandelike gestremdhede, het my ma gereeld diens gedoen by die koshuis waarin Cindy was. Oor die jare heen het ons haar nooit hoor praat nie.

Nie alle dorpe het sulke spesiale skole nie, dus moes ouers met gestremde kinders hulle kinders in die koshuis plaas. Dit moet ’n ouer se hart gebreek het om so ’n spesiale kind na ’n ander dorp te stuur sodat hy of sy darem ’n mate van akademiese opvoeding en stimulasie kon ontvang. Die kinders leer ook sekere vaardighede aan wat sin en betekenis aan hulle bestaan verleen. Die skool is húlle plekkie onder die son, ’n son wat soms nie dieselfde oor almal skyn nie.

Vir die kinders was die koshuislewe bepaald ook nie altyd maklik of aangenaam nie. Soms kon ’n kind wat normaalweg rustig was aggressief, emosioneel of afknouerig raak. Sommer net stroomop en omgesukkel. So ’n kind was dan gedurig in die moeilikheid, het aanmekaar raas gekry en dit het net weer tot verdere probleemgedrag gelei. ’n Bose kringloop. Hoewel daardie gedrag baiekeer toegeskryf kon word aan die soort verstandelike gestremdheid wat die kind gehad het, was dit dikwels eenvoudig die verlange huis toe wat te veel geraak het. Verlange na ’n ma wat dink jy is die wonderlikste skepsel op aarde. Maar hulle het nie altyd die vermoë of regte woorde gehad om te sê dat hulle verlang nie.

So was dit maar soms met die stil Cindy ook. Sy het normaalweg gedwee, glimlaggend en gelate haar gang gegaan en by die reëls gehou. Maar behoede die koshuismoeder en die ander kinders as ’n triestigheid en gemoedsbeklemming die dag op Cindy neergedaal het. Die woelinge, gedagtes en emosies wat in die skewe en stukkende hokkies van die gemoed van ’n verstandelik gestremde persoon afspeel, sal seker altyd vir ons duister bly. ’n Mens se eie gemoed is soms vir jouself duister. Cindy sou dan botweg weier om enigiets te doen en net in ’n kwaai, dikmond hopie bly sit. Wil nie eet nie, wil nie bad nie, wil níks doen nie.

Die koshuislewe werk net doeltreffend op die ratwerk van dissipline en roetine; elke ding op ’n vasgestelde tyd en plek. Vir die koshuismoeder wat na ongeveer 10 tot 12 kinders met verskillende gestremdhede moes omsien, was daar nie altyd tyd, begrip en geduld vir elke kind se storms en buie nie. Die koshuismoeders was normaalweg baie lief vir die kinders en het hulle bes gedoen, maar hoe verdeel jy jouself tussen soveel kinders as die tyd altyd te min is? Hoe gemaak as, byvoorbeeld, ses kinders op dieselfde dag soos Cindy sou optree? As Cindy dan nie wou eet nie, moes sy maar bly sit waar sy ook al sit terwyl die res eet. Later, as die bootjie van haar gemoed weer rustig gevaar het, was die kos koud.

Ek en Cindy het saam tieners geword en ek het my eie storms beleef. Een aand, toe my ma weer by haar koshuis afgelos het, lui die telefoon net ná aandete – die tyd wat die ouers gewoonlik gebel het. Dit was Cindy se ma. En daar hoor ek en my ma haar vir die eerste keer praat; vinnig, opgewonde en in ’n hoë stemtoon. Nie in volsinne nie, meestal maar net “ja, Mamma”,”nee, Mamma” en verder ’n onverstaanbare gemompel. Naderhand, haar ma wou dalk groet, het Cindy in daai hoë stem op een noot begin huil, terwyl sy aanmekaar “Mamma, Mamma” sê. Verlange, liefde en seer het haar gedryf tot optrede buite haar grense.

As tiener het ek in daardie stadium min van al die raaisels in die spieël van die lewe geweet, maar Cindy se seer het die mure van my hart geruk. Ek het nie op daardie oomblik besef dat hierdie voorval my die res van my lewe sou bybly nie. Ek wou wegkom en vergeet van daardie nuwe, vreemde seer wat ek ervaar het.

Die volgende week toe my ma weer daar afgelos het, het die koshuislewe maar weer op sy gewone patroon aangegaan. Cindy het weer stil en inskiklik geglimlag.

Dis nou al 18 jaar sedert my ma dood is. Waar Cindy is, weet ek nie. Haar ma is dalk ook al dood. Elke jaar wanneer Kerstyd aanbreek en ek Kersmusiek in die winkels hoor, vou donker kloue om my hart. As almal vrolik begin reëlings tref vir familiebyeenkomste, raak ek stil en nukkerig soos Cindy soms geraak het. Ek kry ook nie gesê dat ek verlang nie. As familiefoto’s op Facebook begin verskyn, wil ek ook op ’n hopie gaan sit. En Oukersaand, wanneer ek moeg voorgegee in die bed klim, huil ek ook “Mamma, Mamma”, maar stil en sag.

Kon ek tog maar net één telefoonoproep kry.

Annelize Jansen van Rensburg

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Karmenaadjies, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

SkarrelKind ·

Mooi geskryf – Dis to so waar, baie dinge loop verkeerd net oor ons nie altyd verstaan nie.

Dora du Plessis ·

Hierdie tyd van die jaar soek jy jou geliefdes om jou. Pragtig geskryf met deernis Annelize…

Jackie ·

En hier sit ek by die werk en huil snot en trane . Dis so mooi en mooi gesê . Nou verlang ek eers na my ma. Wil ook n oproep hê al is dit n kollekteer oproep.

Thea Gerber ·

Annelize jy het my hart geruk. Ek het na 15jaar nog my ma se telefoonnommer. Soms wonder ek as ek die nommer bel of ek nie tog nog net eenkeer met my ma kan praat, maar ek besef dat ek dalk n tannie of oom in die tehuis se rus gaan verstoor. Seker die mees aangrypste wat ek vanjaar gelees het. En as jy uit jou dikmond hopiesit uitkom – geniet n wonderlike Christusfees saam met die mense wat jy nog by jou het.

Gesiggie ·

Hierdie storie van jou het my laat sluk aan die knop in my keel””baie mooi…Ja die woorde Mamma…. my Moeder is nou al 9 jaar oorlede… en daar gaan nie n Kerstyd of verjaarsdag om, wat ek ook met die verlange sit”” my wense ook partykeer…. as ek net vir een minuut, of selfs net n sekonde weer na jou gesig kon kyk… en jou n drukkie kan gee… maar sy is nie meer daar”” Ek wens jy kan Cindy opspoor…. sodat jy aan haar die Liefde kan oordra , wat jou Moeder altyd aan haar bewys het”’ dit is al so lank terug… ?? waarlik so n pragtigge storie… Annelize… als wat mooi is vir jou….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.