Lesersbrief: Wat kinders my geleer het …

karyna-le-roux

Karyna le Roux. Foto: Verskaf.

Karyna le Roux van Waverley, Pretoria skryf:

Mens sou dink teen kind nommer vier weet jy alles wat daar geweet moet word oor kinders, maar helaas, daar is ‘n paar dinge wat ek nog moet leer!
Daarom, net ‘n paar gedagtes oor kinders…

Babas breek nie so maklik nie, maar as hulle groter is breek hulle wel – alles! Jou geërfde teekoppies, jou selfoonskerm, ander mense se duur glase … en soms breek hulle ook jou moed meer as jou goed!

Maar jy bly steeds lief vir hulle.

Met ʼn liefde wat ses keer ʼn nag sal opstaan om te kyk of hulle nog asemhaal (veral daar in die begin).
ʼn Liefde wat sal stories lees totdat jy slaap (en hulle nog nie).

ʼn Liefde wat getrou die hoenders en hase voer – want die kinders wou hulle so graag as troeteldiere hê.

ʼn Liefde wat eerder kinderklere koop as nuwe skoene vir jou.
ʼn Liefde wat vuil doeke skoonmaak, lakens was en meer van snotneus-soene hou as wat die tannies by die kerk daarvan hou.
ʼn Liefde wat sukkel om te glo dat my bloedjie regtig die maatjie gebyt het.
ʼn Liefde wat Paw Patrol-, prinses- of ʼn olifant-wat-ballet-kolwyntjies bak tot laat in die nag vir môre se partytjie.
ʼn Liefde wat die laaste beskuitjie, waarna jy so uitgesien het, opoffer vir ʼn smekende gesiggie – net om later te sien hoe die hond daaraan smul…

Kinders het my geleer:

om baie meer te bid
om kinders in kaste te soek
om goeters op vreemde plekke te soek
om te maak of ek skrik
om voor ʼn skare te piepie
om stories in my slaap te lees.

Kinders het my geleer dat ek die kamerdeur moet toetrek.

Kinders het my geleer:

om met ʼn lig aan te slaap want dit hou die ongediertes weg
om ʼn ekstra matras in ons kamer gereed te hou
om met knieë in my ribbes en voete oor my kop te slaap
Kinders het my geleer om te funksioneer met min slaap.

Kinders het my geleer om minder goed te hê wat kan rondlê of deurmekaar gekrap kan word. Hulle het my ook geleer dat die kleur van ʼn papbakkie regtig ʼn saak van lewe en dood is. Hulle het my geleer dat ʼn salfie en ʼn pleister vir alles werk – van ʼn seer tand, tot ʼn slegte hoes, oorpyn, maagpyn en ʼn stukkende toon … maar die meeste vir ʼn seer hart.

Kinders het my geleer:

om ALTYD kaas, brood en Sweetcorn in die huis te hê.
om Lego’s op te ruim
om legkaarte uit te sorteer
om vliegtuie, voëltjies en prinsesse in ʼn gekrabbel raak te sien
om alles drie keer te herhaal
om ʼn skeidsregter te wees!

Vandat ek kinders het:

slaap ek minder

lag ek meer

lê ek minder lang ure in die bad en lees ʼn boek
leer ek meer gediggies en liedjies
vandat ek kinders het hou ek honde aan om die vloer skoon te maak wanneer die kinders eet
vandat ek kinders het, kom my ouers meer kuier … en sommige vriende minder!
Vandat ek kinders het dra ek nie meer wit klere nie.

Vandat ek kinders het:

eet ons uit papierborde
werk my wasmasjien, skottelgoedwasser en brein oortyd!
deel ek my koekies en nagereg en eet ek meer groente (want ek moet die kinders s’n ook eet).

Vandat ek kinders het, het ek leer Chinees praat (om die tweejarige te verstaan).

Kinders het my geleer om enige liedjie te herskryf in ʼn opruim-, bad- of kos-opeet-treffer! Kinders het my geleer om tyd te maak vir Bybellees en bid as ek opstaan – want anders is die dag verby voordat ek daarby kon uitkom (en dan lê ek wakker omdat ek skuldig voel). Kinders het my geleer om skuldig te voel (as ek te min tyd aan hulle spandeer, as ek te veel tyd aan hulle spandeer, as ek te min geld op hulle spandeer, as ek te veel geld op hulle spandeer).

Kinders het my geleer:

om te multitask
om deur die nag te bid
om dankbaar te wees vir gesondheid
om ʼn kombuis in rekordtyd met een hand en ʼn baba op die heup skoon te maak.
Kinders het my geleer om koue tee te drink …

ʼn Paar gedagtes oor kinders:

Sit jou foon neer en tel jou kind op.
Elke kind is uniek.
Maak tyd, prioritiseer, speel, lag, ontspan, bid.
Kinders hou jou op jou tone en knieë.
Kinders druk snaakse goed in hulle monde, neuse en ore.
My kinders is altyd moeg, honger of siek en ander mense se kinders net stout.
Seuntjies piepie die toilet mis!

Vandat ek kinders het, sê ek ʼn paar goed meer:

Los jou boetie!
Sê jammer vir jou sussie!
Haal jou vinger uit jou neus!
Moenie die hondekos eet nie!
Sê hallo vir die tannie!
Sê dankie vir ouma!
Wie het dit gedoen?
Sit stil, lê stil, bly stil!
Het jy al vandag ‘n nommer twee gemaak?
Waar hoor jy dit?
Vra vir pappa.
Hoekom knyp jy jou sussie?
Jy is nie sy ma nie!
Die kamer kort ‘n skoonmaak!
Ek is lief vir jou.
Ek is trots op jou.
Jy is oulik.
Jy lyk soos ‘n prinses.
Voel net jou spiere.
Sjoe, dis ‘n mooi prentjie.

Daar is ʼn rede dat “baba” met ʼn B begin. Die meeste goed wat my aan die gang hou begin ook met ʼn B:

Bybel
Bid
Borsvoeding
Beste vriendin
Besoeke van my ma
Betroubare man
Die Baba self!

Kinders is ʼn vreugde, ʼn seën en ʼn gawe van God. Hulle helder ʼn huis op, hulle gee jou lewe (en mure) kleur.

Kinders bring hoop! Hulle het onvoorwaardelik lief.

Vul jou pylkoker met kinders, die Beeld van God!
Mag Hy julle almal nog hope snotneusies en vuilbekkies gee!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Ouerskap, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

P Britz ·

Die vrou het so ‘n fantastiese sin vir humor!! Ek kyk sommer met nuwe oe na “stout” kleintjies! Skryf ‘n boek, jy KAN!!

Nadine ·

Pragtig geskryf! Jy mag maar, Karyna! Vandag kyk ek sommer met meer geduld, ekstra dankbaarheid en tonne liefde na my spruite.

SNEL ·

Pragtig geskryf, laat n mens met ander oë kyk na al die dingetjies van kinders.

Adri ·

Hierdie Ma……..kén n kind! Pragtig geskryf. Ek, as Ouma het nou sommer heimweë en wens ek kon my kinders se kindertyd oorhê.

Tina ·

Dankie Karyna. Jy het ons weer herinner aan die seën en genade van kinders in ons huise!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.