Lesersbrief: Wat ʼn lekker plek!

French Toast in Standerton
Foto: Maroela Media

Maroela Media het vir die eerste keer besluit om ons lekker, eg Afrikaanse en kreatiewe produkte soos blikbekers, T-hemde, ketties en bordspeletjies, op ʼn rak in ʼn regte egte winkel te koop aan te bied. Dié produkte is gewoonlik net in ons aanlyn winkel, Die Koöperasie, beskikbaar. Nadat ons ‘n berig hieroor gepubliseer het, het Oom Doors uit Standerton vir ons dié brief aangestuur. -Red

Ek ry Vrydagmôre soos elke Vrydag op in Piet Retiefstraat (nou Beyers Naudestraat) om vir die kinders te gaan môresê voor ek vendusie toe gaan, soos ek die afgelope vyftig jaar al doen.

Vanoggend is dit reënerig, die robot op die hoek van Beyers Naude en Handelstraat is rooi, ek ry stadiger om te stop en my oog vang die winkelvenster waarop daar “French Toast” geskryf staan.

Dadelik gaan my gedagtes 20 jaar terug toe ek nog elke Vrydagoggend, voor ek vendusie toe gegaan het, by my vriend Kalie by Rex Kafee gaan kuier het. Hier het ek altyd boerebrekfis gaan eet saam met ʼn regte koppie boeretroos. Ná my verfrissende ete en goeie geselskap van die ander manne wat bygekom het, groet ek almal en ry stadig vendusiekrale toe. Die meeste van die strate was toe nog grondstrate sonder enige slaggate.

Só het dit vir jare aangegaan totdat Kalie nie meer die Rex Kafee kon hanteer nie, aangesien die ouderdom hom ook ingehaal het. Van daardie dag af het my Vrydagroetine heeltemal verander.

Op pad terug huis toe, terug vanaf die vendusie, ry ek weer verby die winkel en sien nou vir die eerste keer die tafeltjies op die stoep en besluit om te gaan kyk hoe dit binne lyk. My moed begewe my om alleen in te gaan en ek besluit om vir Marie te gaan haal. Dit het baie praat van my kant af gekos om haar te oorreed om saam te kom (want jy moet onthou vrouens gaan nêrens sonder dat hulle “gepaint en gepolish” het nie).

Gelukkig het ek reg voor die plek parkering gekry. Met die intrapslag het ek sommer geweet dat dit die soort plek is waarvan Marie gaan hou. Sy was nog al die tyd maar ʼn bietjie “upstairs” en het nie altyd saam met my na my plekke toe gegaan nie.

Ons het by ʼn mooi versierde tafeltjie gaan sit en is dadelik in Afrikaans welkom geheet en die spyskaart is voor ons neergesit. Die kos op die spyskaart was nie my kos nie, maar ek kon dadelik sien dat Marie baie beïndruk was met dit wat sy gesien het. Weet jy hoe lekker dit was om net ʼn tydjie saam met my vrou te kon sit en gesels en te kan sien hoe sy die atmosfeer van die plek geniet?!

Van daardie dag af het my Vrydagroetine weer verander. Elke Vrydagmiddag ná die vendusie het ek Marie gaan haal (sonder enige oorreding), reeds netjies aangetrek vir die uitstappie. Ons het Franse musiek geluister, lekker geëet en gesels oor die dae toe die kinders nog klein en ons nog jonk was.

Groete
Oom Doors

*As jy dus volgende keer deur Standerton ry, of dalk in die dorp of die omgewing woon, gaan loer gerus in by French Toast in Beyers Naudestraat. Drink ʼn koppie koffie, bestel een van die spesiale aanbiedings op die swartbord teen die muur, en snuffel deur die Koöperasie-rak om ʼn ietsie vir elkeen in die gesin aan te skaf voor jy huiswaarts keer.

  • French Toast is in Beyers Naudestraat in Standerton. Hulle is weeksdae van 07:00 tot 17:00 oop en Saterdae en openbare vakansiedae van 08:00 – 14:00 (die restaurant is egter gesluit op Sondae en Christelike vakansiedae). Die koffiewinkel hou een keer ʼn maand ʼn restaurant-aand, sluit gerus by die Facebook-blad aan vir meer inligting hieroor of stuur ʼn e-pos aan Jo-Ann by [email protected]. Alle Maroela-produkte wat in French Toast te koop aangebied word, is ook steeds op Maroela se e-winkel, Die Koöperasie, te koop.
  • French Toast verkoop ook plaaslike kunstenaars se werke en hulle is gereeld op soek na uitstallers van omliggende dorpe – kontak hulle gerus!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Esme ·

Dankie Maroela Media en Oom Doors. Buiten vir die mooi storietjie, is dit ook goed om te weet van nuwe, oulike plekkies. Ek is nie gaande oor al die franchise besighede nie en hou van iets met sy eie karakter, soos dit hier klink.

Amanda ·

Maroela Media, plaas asseblief gereeld vir ons sulke artikels oor koffieplekke, teetuine, restaurante en winkels wat deur ons lesers besit word of waar ons in Afrikaans bedien word. Dit sal ons help om mekaar te ondersteun.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.