Lesersbrief: Watter soort Christen is jy?

ds-kenneth-mckenzie

Ds. Kenneth McKenzie. Foto: Verskaf.

Kenneth McKenzie skryf:

Paasfees bestaan uit drie dae: Vrydag, Saterdag en Sondag. Hierdie drie dae stel drie verskillende soorte Christene voor.

Vrydag-Christene is mense wat kyk na Jesus se kruis, maar vinnig oplet dat daar soldate en ʼn oproerige skare is. Hulle herinner ons aan Petrus en die res van die dissipels wat die hasepad gekies het toe spykers onder hamerhoue gesing het. Hierdie gelowiges is ywerig en entoesiasties totdat die tekkie die teer tref. Met die eerste opslag van slegte nuus laat spaander hulle na die berge van vertwyfeling en maak hulle die heuwels van verloning hul woning.

Saterdag-Christene is vuisvoos gelowiges wat deur die werklikheid van Jesus se graf oorweldig word. Die reuk van die dood maak dit bykans onmoontlik om aan die hoop van God se beloftes vas te hou. Dit is hierdie ondraaglike reuk in ons eie konteks van korrupsie, ekonomiese agteruitgang, misdaad en politieke onstabiliteit wat maak dat hulle in sak en as wil gaan sit. Op moedverloor se vlakte kampeer hulle, steek braaivleisvure van onvergoedheid aan en verdrink hulself in verdriet.

Dan is daar Sondag-Christene wat Jesus se leëgraf-triomf sien. Sondag is die dag waarop die geur van lewe deur die oop graf bars. Dit is die dag waarop die waansin van wanhoop vermorsel word. Hierdie Christene is mense wat verbete sal veg vir ʼn beter toekoms omdat hulle die visie van die opgestane Here in die hart dra. Hulle kan nooit weer terugkeer na Saterdag-somberheid nie omdat Sondag-sielsjampanje uit hulle binneste vloei.

Vandag is vandag. Vandag sal jy moet kies wat jy van God glo. Ons kan kies om te vlug op Vrydag,  te sug op Saterdag of om die Seun te sien op Sondag. Die keuse is joune.

  • Ds. Kenneth McKenzie is die leraar van Rant en Dal Prisma in Krugersdorp.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

martie ·

Dis sooo mooi boodskap. Laat mens weer verder kyk en nuwe moed skep. Hy LEEF!

John ·

En nou is ‘n predikant aan die woord. En die kommentaar is skaars. Soos dit hoort, want almal skrik… en dink. Geen groot okasie. Stil en eg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.