Wie stap saam met my?

Judré (24) van El-Shalem, ʼn private leerinstelling vir mense met ernstige gestremdhede, in Centurion. (Foto: Verskaf)

In Desember word Internasionale Dag vir Persone met Gestremdhede gevier om die kollig op hierdie lede van die gemeenskap se uitdagings te plaas. Judré (24) van El-Shalem, ʼn private leerinstelling vir mense met ernstige gestremdhede, in Centurion skryf:

My naam is Judré.

Ek hou meer van honde as van katte en verkies rooibostee bo koffie. Ek is ʼn oggendmens en dié wat my ken, sal saamstem dat ek ʼn nul op ʼn kontrak is as ek ná 10 in die aand gaan slaap.

Ek doen dinge op ʼn ander manier. Ek lees met my ore en ek kyk met my hart.

Ek beweeg elke dag vorentoe alhoewel ek nie die vermoë het om een enkele tree op my eie te loop nie. Ek het genoeg redes om tou op te gooi, maar nietemin leef ek elke dag asof dit my laaste is. My liggaam ervaar konstante pyn en spasmas, maar my gees is koersvas en dapper.

Ék is nie serebraal gestrem nie, maar my brein is. Ék is Judré Swart en die serebrale gestremdheid wat ek met geboorte opgedoen het, veroorsaak dat dinge wat jy as vanselfsprekend aanvaar, vir my ʼn groot uitdaging is.

My gesonde siel en gees is vasgekluister in my gebroke lyf en mense verstaan my nie. Daarom wil ek graag hierdie sewe dinge, wat swaar op my hart druk, met julle deel:

  1. Ek kan agterkom wanneer julle na my staar. Wanneer dit gebeur, wens ek die aarde wil my insluk en onsigbaar maak. Oorkom jou nuuskierige vrese en waag dit om eerder met my te gesels. Nie met my ma nie, maar met MY. As jy te skaam is om met my te gesels, maak ten minste net oogkontak en glimlag.
  2. Omdat ek nie goed kan praat nie, beteken dit nie ek het niks om te sê nie. Dié wat geduldig is en moeite doen om my te verstaan, sê altyd ons geselsie was verrykend.
  3. Omdat my oë met tye nie goed werk nie, beteken dit nie ek sien nie dinge raak nie. My sesde sintuig (die Heilige Gees) is baie sensitief en ek sien dinge raak wat vir ander onsigbaar is.
  4. My rolstoel is my boesemvriend. Dit is ʼn integrale deel van wie ek is, want ek kan nie daarsonder beweeg nie. Moenie dat die koue staal wat my omring, jou weghou van die mens wat daarin sit nie.
  5. Om winkels toe te gaan is ʼn uitdaging. Ek raak woedend wanneer mense op die parkeerplekke stop wat vir gestremdes bedoel is. En dis ʼn groot verleentheid wanneer die publieke badkamers te klein is en nie behoorlik deurdink is nie.
  6. Somtyds dink mense ek is mal, maar ek is nie. Ek het ʼn dreineringspompie (VP shunt) in my brein wat oortollige breinvloeistof dreineer om te voorkom dat die brein swel en nog meer skade veroorsaak. Hierdie pompie druk op my senusentrum en veroorsaak dat ek nie altyd beheer oor my emosies het nie. Ek lag byvoorbeeld wanneer iemand vir my iets snaaks vertel én ek lag wanneer hulle persoonlike en hartseer dinge ook deel. Ek gee regtig om, al klink dit nie so nie. My lag sê “ek hoor jou” en “ek sien jou”.
  7. Mense neem my selde ernstig op en ek wens van harte die stigmas en etikette rondom serebrale gestremdheid kan aan die pen gery word.

Ek voel nou baie ligter. Dit voel of daar ʼn berg van my skouers af is. Dankie dat jy moeite gedoen het om te luister.

En vir dié wat gewonder het, die lewe is vir my lekker! Ek vat dit soos dit kom en lewe elke dag asof dit my laaste dag is. Ek weet nooit wanneer my draaitjie geknip word nie. Ek was hoeka al ʼn hele paar maal naby die hemelpoorte met al die operasies en dinge wat ek moes deurmaak.

Ek verstaan die lewe en besef hoe kort dit kan wees en daarom weier ek om rondgestamp te word deur my gestremdheid en probleme. Ek wil eerder agter die hoop en drome wat God in my hart geplaas het, aanstap.

Wie stap saam met my?

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Suzette

Wat ‘n pragtige artikel Judré – jy is ‘n soldaat vir Christus, stap die pad met trots!
Ek stap saam met jou al voel dit party dae of ek op een plek water trap, maar dan kom daar weer ‘n sagte golf en stoot my vorentoe. Laat ons stap….

Anel

Jy is ‘n baie dapper jong man, Judré. Ek glo baie sal saam met jou stap. Ek doen. En baie sterkte vir’ n mooi toekoms.

Vonnie

ek stap langs jou seun! my kind is op die autisme spektrum, en dinge is nie altyd soos ons dit wou he nie, maar ons stap sy pad ook saam, oor die harde klippe en die berge uit, maar ons doen dit, met liefde!

Michele

Wat n mooi man is jy nie! Ek sal verseker die pad met jou stap, jou positiewe uitkyk op die lewe is lekker om van te lees

Heinrich

Die Here seën jou, Judré. Jou artikel is ‘n inspirasie, ek stap graag saam.