Xenofobie: ’n Suid-Afrikaner in Nigerië se perspektief

Johann Jordaan. Foto: Verskaf.

Johann Jordaan skryf van Lagos in Nigerië:

Vanoggend het ek 6 500 naira vir ’n buffet-ontbyt by die Radisson Hotel in Ikeja, Lagos betaal. Teen die heersende wisselkoers is dit ongeveer R250 – genoeg om enige middelklas-Suid-Afrikaner in sy koffie te laat stik. Maar ek dink dis ’n winskoop. Eintlik ’n bargain! En om te dink xenofobiese aanvalle in SA was daarvoor verantwoordelik.

My Suid-Afrikaanse vriende het met ’n effens geskokte stilte gereageer toe hulle twee jaar gelede hoor ek trek Lagos toe. Om in Nigerië te woon en werk, is beslis nie ’n wandeling in die Vondelpark nie. Sensitiewe luisteraars, kykers en “ruikers” moet liefs tuis bly. Grilstories oor Nigerië is volop en menige vriend het my gewaarsku teen die weë van dié Wes-Afrikane.

Tot eergister, toe ek besef het Suid-Afrika is dalk in ’n effe benarder situasie as dié droewe land. Ons organisasie se hoofkantoor is net 40 km van my huis af, maar die rit neem my ’n volle drie uur. Die rede? Verkeersknope weens xenofobie in Suid-Afrika. By die Circle Mall op die Lekki-Epe Expressway staan ’n Prado dwars teen die heining – al sy ruite uitgeslaan. Was daar dalk Suid-Afrikaners in, of het die aanvallers dit net vermoed?

Brandende buitebande en geweerskote op ’n grinterige WhatsApp-video is latere getuienis van die chaos wat tot die verkeersknoop gelei het. Mense hol rond en gaan tekere. Suid-Afrikaanse besighede word aangeval weens aanvalle op Nigeriërs in Suid-Afrika. Shoprite moes dit ontgeld voor die geweld tot op die pad gespring het. En as hulle weet van dié sappige Suid-Afrikaner wat binnekort in die Nissan Qasqai sou verbyry, sou hulle sekerlik ook van my maalvleis wou maak. Die video wys hoe passasiers uit die voertuig spring en voor die skare vlug. Anargie om ’n rede: Xenofobie in Suid-Afrika.

Vir ’n oomblik flits beelde van een aand in April 2018 deur my kop. Ons rooi Honda Jazz word buite Worcester met klippe bestook. Drie mans spring in die pad voor ons en gooi om dood te maak. ’n Klip trek deur die syruit, deur die motor en uit by die agterruit. As dit 30 cm vorentoe was, was my kop in die pad. Die polisieman in die kantoor waar ons dit aanmeld, is effe nonchalant – vir my om te sê dis poging tot moord, is darem te erg. Hulle het nie nou ’n voertuig nie, maar hulle sal later gaan kyk…

Maar terug by die brekfis. Soms ry ek vroeg uit Ajah vir vergaderings op die mainland en geniet dan ’n vinnige Spur-brekfis by die Golden Eagles Spur in Isaac John Street, Ikeja. Die Spur is ’n welkome stukkie Suid-Afrika in Nigerië en al smaak die spek effe varklik, is die ontbyt teen N1 800 (± R70) nie regtig unreal nie, maar heel skaflik.

Maar vanoggend is die Spur se deur toe. En hy bly toe. Tot ’n Nigeriër kom verduidelik dat hulle instruksie gekry het om nie vandag oop te maak nie. Xenofobie in Suid-Afrika, jy weet. Aanvalle op Suid-Afrikaanse besighede, jy weet.

“Sorry, Sir.” Ek sê ek verstaan. Snaaks hoe vinnig ’n mens onwelkom en skuldig kan voel oor iets wat niks met jou te doen het nie. Net om hier te wees, voel amper soos ’n misdaad.

Maar ek is honger en ek het tyd. Ek soek-soek sonder om té Suid-Afrikaans te lyk. Ten einde raad ry ek by die Radisson Hotel se hek in. Ja, hulle het ’n restaurant en ja, hulle bedien ontbyt. Ek weet dit gaan duur wees, maar ek voel vanoggend roekeloos. Die buffet is voortreflik. Broodjies, mini-croissants met verskillende smere, kase en slaphamvleisies. Selfs gerookte salm, waaraan ek myself ruimskoots help.

Betogers gooi klippe en brand ‘n buiteband naby ‘n Suid-Afrikaanse onderneming in Abuja, Nigerië. Foto: (AP Photo)

Asof ek al my Afrika-vrese in hierdie Westerse ete wil verdrink, gee ek my oor aan spek en eiers, otwors, sampioene, en allerhande ongesonde lekker goeters. Die ou wat my touwys maak, wys na ’n bak met ’n bordjie waarop “liver” staan en verduidelik dat ek van dié “kidney” ook kan neem. Ek hou maar verby hierdie onsekere afvalgoeters. ’n Lang Duitse kokkedoor met ’n wit jas wens my ’n smaaklike ete toe. Sy naamkaart lees Jorg Schwalm (of so iets).

’n Nigeriese ouma met gilpienk hare kom kry ook haar sit saam met haar dogter en twee kleinkinders. By ’n lang tafel oorkant my lag ’n kosmopolitiese samestelling van mense vir ’n grappie. Lyk na ’n besigheidsete. Ek wonder onwillekeurig: hoe trek ’n mens hierdie moderne samelewing se spaghetti van mense uitmekaar omdat jy vir een stringetjie kwaad is? Die xenofobiese wysneuse leef beslis in ’n droomwêreld.

Ek eet om waarde vir my R250 te kry. Nóg ’n croissant, nóg kaas en nóg ’n stukkie ham. ’n Uur later is ek hikdik, soos my pa sou gesê het. En ek betaal daai N6 500 met ’n smaail.

Xenofobie het my net R250 gekos, maar in Suid-Afrika het mense met hulle lewens betaal vir ander se (s)otlikheid.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

schaun ·

Gee die afrikaners of boere soos daar na ons verwys word net een provinsie al is dit die noordkaap en ons maak dit n eerste wêreld land.

Nico K ·

Ek glo dat die aanvalle op buitelanders net ‘n verskoning is om te plunder. Buitendien is dit belaglik om mense aan te val net omdat hy ‘n buitelander is. Hoe weet jy of hy wettig of onwettig is en of hy betrokke is by misdaad? Maar as daar een land wie se immigrante ek niks vertrou nie, dan is dit Nigerië.

ChrisE ·

Die probleem dat die wêreld nou “oop” is, is die risiko groter dat jy elke jakkals en muishond in jou poorte kan ontvang. Dieselfde is ook waar dat ‘n ander “beskaafde land” die risiko loop om van ons jakkals en muishonde kan huisves. Ons het oor as genoeg van diesulkes wat ek graag na sekere lande sal wil stuur. Hulle wie se harte vir die onderdruktes in die verlede gebloei het. Ek wonder partykeer of daar nie ‘n land is wat met ons land ‘n bevolkingsgroep wil uitruil nie. Kom almal jul minderheidsgroep en bly hier by ons, en ons ruil met ons minderheidsgroep en gaan bly in jul land. Ek trek dan baie vinnig saam.

Charles ·

Ek wou die artikel lees; dit het immers oulik en vermaaklik gelyk, toe stuk ek aan die spreekwoordelike Engelse pap!
Dankie, maar nee dankie, ek eet eerder ONTBYT en begewe my na die ONWERKLIKE BO-LAND as om verder my tyd hier te mors met drogtaal.
ns: Wie eet nog by Spur?

Engelse Pap ·

Stadig ou Charles!!! Ek dink jy stik (ipv stuk) eerder aan jou eie onsekerhede wat jy op ander projekteer!!!! Leef en laat leef.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.