‘Zuma moet ʼn bietjie gaan hardloop’

Pres. Jacob Zuma (Argieffoto (Foto: GCIS)

Pres. Jacob Zuma (Argieffoto (Foto: GCIS)

Deur Kim Stephens

Ek dink Zuma moet bietjie gaan hardloop. Tekkies aan, opgewarm, op pad vir ʼn draffie, meneer. Een voet voor die ander, op die sypaadjies van jou land. Verby jou kiesers en nie-kiesers. Jy kan nie tussen hulle onderskei op grond van ras nie, meneer.

Voet in ʼn oop mangat? Jammer daaroor. Oppas vir die menslike uitskeidings van die haweloses. Hardloop voort. Gooi ʼn wye draai om die tikkop wat dalk jou R20 Coca-Cola -noodgevalgeld sal vat.

Hardloop. Hardloop verder. Verby die ondernemings wat sluitingsuitverkopings adverteer, die vervalle kantoorgeboue. Verby die huise met wasgoed wat oor gedeelde heinings hang. High five die babas wat in die stof speel. Oppas vir die kinders wat in die skool moet wees. Die skool met die puttoilet, geen handboeke nie en ʼn swak-betaalde onderwyser.

Hardloop, Zuma. Groet die dokters en verpleegsters wat leepoog strompel na openbare vervoer om huis toe te gaan na ʼn 48-skof vir ʼn karige loon. Haal diep asem wanneer jy verby die riool hardloop wat in die see gepomp word. Ruik jy dit?

Dis nou amper halfpad, Zuma. Sweet jy al? Hardloop nog verder. Die toegewyde blommeverkoper, die Big Issue-smous, die bedelaar. Nog ʼn bedelaar.

Roer jou, Zuma! Hou regs! Blouligbrigade wat verbykom. Groot motors, flitsende ligte. Iemand belangriker as die man wat vrywillig sy buurt patrolleer om sy kinders en bure te beskerm. Belangriker as die Big Issue-verkoper, die bedelaar. BBP in ʼn grootgat kar.

Hardloop verder. Verby die mans wat op omgekeerde bokse sit en wag vir hande-arbeid. Enige werk.

Om die slaggat. Klim hoër. Hardloop nou die bult uit. Meld die water aan wat uit ʼn verwaarloosde pyp spuit wanneer jy verby hardloop. Dink aan die boere wat ly onder die droogte terwyl jy dit doen.

Klim. Druk deur, verby die informele nedersetting wat wag vir behuising. Jy sal dalk hier jou gesig wil wegsteek, meneer, omdat jy hulle dienste belowe het vir hul stemme… Jare gelede.

Hou so aan. Kyk nou af van die kruin terwyl jy sweet. Kyk na jou mense, kiesers en nie-kiesers. Sien die groot kokkedoor sakeman raak wat stilletjies ʼn skoolprojek befonds. Sien die huisvrou raak wat skoolfonds betaal vir ʼn ander vrou se kinders. Kyk na daardie span wat die strand skoonmaak, die studente wat vrywillig in ʼn weeshuis werk en die kospakkies wat aankom van ʼn voorste kettingwinkelgroep. Jy het nie, toe het hulle.

Kyk na die gemeenskapsgees wanneer ʼn brand uitbreek en die plakkershutte van ʼn gemeenskap met min bronne verwoes. Of wanneer ʼn brand ʼn deel van ons kosbare natuurlike erfenis verwoes.

Kyk ver uit van jou uitsigpunt en sien die eenheid, gemengde huwelike, gemengde gesinne, studente van alle rasse wat saamstaan vir ʼn gemene saak. Kyk na die kleurblinde kinders van Suid-Afrika.

Neem die pyn en lyding van die armes ywerig waar, met hul tekort aan rolmodelle en ondoeltreffende onderwys.

Slaan ag op die groeiende mag wat teen jou opstaan om die armes op te hef en ware gelykheid teweeg te bring. Kyk hoe die bevoordeelde gemeenskappe bewus word van hul posisie en dit gebruik om die lewe van ander te verbeter. Jy het nie, daarom het hulle.

Hardloop nou huis toe, Zuma. Terug na jou twintigste kind. Terug na ʼn lewe van luuksheid en ʼn totale gebrek aan empatie. Oppas dat jy nie oor jou skoenrieme val wanneer jy oppad is nie.

Die rubriek is oorspronklik op Facebook gepubliseer. Maroela Media het dit met die skrywer se vergunning vertaal en gepubliseer. Die plasing is reeds meer as 7 700 keer op Facebook gedeel. – Red

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan 2 ·

Beter kon niemand dit stel nie. Net bedrog en sy salaris kort nog.

alida ·

Dink u nou regtig Zuma gaan die rubriek lees. Hy weet nie eens daarvan nie.

Hennie Theart ·

Baie mooi gestel.
Wie gaan dit aan Mnr Zuma oorhandig? As jy/julle dit nie oorhandig nie is dit doelloos en kan gebly het.
Ek stem saam…… Zuma must fall !! Nie omdat hy swart is nie maar omdat hy nie sy plig doen teenoor mede afrikaners nie.

Ockert ·

Ai as die kommentators nou kla oor die feit dat Zuma dalk nie die boodskap lees nie besef ek hoekom ons nie n menigte van saamstaanders kan raak nie. Daar moet altyd n os wees wat die wa na die anderkant wil trek.
Dankie dat die stuk wel geplaas is.

Pieter ·

Daar is maniere om Suid Afrika bewus te maak van hierdie skrywe. Vertaal is al 11 tale en plaas dit op alle koerante se voorblaaie. Miskien gaan daar iewers n liggie op en word dit net so n veldtog soos “Zuma must fall”

Jaco ·

FW de Klerk moet saam draf, en almal wat vir dit gestem het!

Meraai ·

PUIK! PUIK! PUIK!

“Zuma must fall”, is nie ‘n rasistiese inisiatief nie. Dit gaan bloot oor mense wat hartlik keelvol is vir die regering se onmag om na meer as 20 jaar se bewind die land behoorlik te laat funksioneer.
Die hartseerste is dat die mense vir wie daar die grootste beloftes gemaak is en voor wie daar die hardste gejive en t-hemde uitgedeel is, nou nog swaarder gebuk gaan onder armoede. Die wat het, prop hulle sakke elke dag net nog vinniger vol en gooi net nog ‘n bietjie meer sous op die vetterige, rykmansbestaan wat die soustrein op hulle voorstoepe kom aflaai.

Hoe kan jy met’n rein gewete mense aanmoedig om te staak, as dieselfde staking veroorsaak dat daar nie ‘n inkomste gegenereer word nie en daar dus nog minder fondse is vir salarisse, laat staan nog verhogings?

Hoe toon jy begrip vir mense wat ‘n dorp plunder en aan die brand steek oor swak dienslewering-juis omdat daar nie fondse is nie?

Hoe de hel stel jy nog ‘n onbekwame swaap ten duurste aan om nog ‘n instansie in sy kanon in te bestuur?

Hoe praat jy plaasaanvalle stil en sê jy het alles in jou vermoë gedoen om voedselsekuriteit te verseker in ‘n land waar jy die blinde oog draai op die droogte, terwyl jy etlike miljoene vir stakende studente vir onderrig bewillig?

Hoe word persone van ‘n spesifieke ras van hulle pos onthef as ‘n aanmerking wat hulle gemaak het’n rasistiese ondertoon het? Word hulle in die publiek uit mekaar uit getrek, teenoor ‘n skriftelike blinken waarskuwing vir ‘n amptenaar wat hom aan blatante, rassistiese haatspraak skuldig gemaak het!

“Zuma must fall” en so ook enige rassis, onbekwame swaap en dief wat ons land se toekoms wil steel!

Leone ·

ja nee, wat kan mens sê?? soos Zuma terreg sê, SA is die grootste kontinent!! die res vd wêreld pas daarin! Plaas dat hy bietjie draf, sit hy in Switzerland met ‘n swetterjoel amptenare wat maar net saamgaan vir die ??Kaas?? nee, seker die tjoklits! Sal te skaam wees om my gesig in die openbaar te wys!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.