Die aand van die bloed

Mariandra en Johann Heunis. Foto: Verska

Johann Heunis is in Oktober 2016 tydens ʼn aanval by die gesin se huis op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, doodgeskiet. Sy vrou, Mariandra, wat in die tyd swanger was, en hul drie dogtertjies het die aanval oorleef. Die egpaar se seuntjie is vyf dae ná Johann se begrafnis gebore.

Byna ʼn jaar later is die Heunis-gesin steeds besig om die stukke op te tel nadat hul eggenoot en pa so wreed van hulle weggeruk is. Niemand is nog in verband met Johann se moord in hegtenis geneem nie.

Mariandra het hierdie aangrypende brief na aanleiding van daardie tragiese aand geskryf en dit word met haar vergunning op Maroela Media gepubliseer.

Deur Mariandra Heunis

Vrees, verskrikking, hartseer, paniek, dood.

Dit was ʼn doodgewone Vrydagoggend. Ons het nog saam-saam by die hek uitgery die oggend. Toe hy verby ons ry met die motorfiets, het ek nog gedink … Sjoe, ek is lief vir daardie man.

Johann het laat gewerk, soos baie aande die laaste jaar of wat. Hy het by die huis gekom, ons het geëet, nog gelag oor iets wat die dag gebeur het. En toe raak ons aan die slaap op die bank voor die TV op die boonste verdieping. Mieks het ook voor die TV aan die slaap geraak op ʼn matras by ons.

So net voor middernag het ek wakker geskrik van die honde wat vreeslik blaf. Ek het Johann probeer wakker maak, maar hy was te moeg om te registreer. Ek het geloop en by al die vensters bo uitgekyk. Trappe af en by al die vensters en deure geloer. Seker gemaak alles is gesluit – iets wat ek nooit doen nie. Ek het weer op die bank gaan lê en aan die slaap geraak.

So ʼn uur later skrik ek weer wakker. Onrustig. Die honde blaf steeds. Weer het ek Johann probeer wakker maak, maar hy was net te moeg. Ek het onrustig gaan lê en moegheid het my weer oorval. Die volgende oomblik skrik ek wakker van geluide bo by ons. Ek het gedink dis Mischa wat dalk boontoe kom (sy en Majandré het onder in hul kamers geslaap). Ek loer oor die bank, maar sien niks. Die vreemdste gevoel. Ek gaan lê weer plat.

Toe hoor ek ʼn yster-op-yster-geluid, ʼn stamp. Ek skiet regop en by my voete staan die twee monsters. Dadelik op die aanval, geweer op my gerig. Ek het in angsgille uitgebreek, want dadelik besef mens, dit wat jy dink nooit kan gebeur nie, staan nou hier voor jou. Ek het Johann wakker geskree … Hy het nie eens regop gekom nie, net rustig met hulle gepraat.

Hulle dring aan op geld. Ons verduidelik om die beurt dat ons nie geld in die huis het nie, maar hulle kan enigiets anders neem, hulle moet ons net asseblief uitlos. Die een het gepraat, die ander een het net geskiet. Hy haak af: “This man is a killer. He will kill you!” Johann pleit. En toe klap die skote om ons. Ek het nie geweet waar om te keer nie.

Mieks het wakker geskrik. Haar angsgilletjies spook nou nog by my. Sy het heen en weer gehardloop. Dit het geruik soos klappers, geklink soos klappers … tot ek die skoot in sy arm sien, die bloed. Hy gryp na sy arm en sak na die vloer. My hart stop … Hulle moet nou loop. Ons moet hospitaal toe. Maar die besef dat dit nie klappers is nie – dis die ware Jakob wat so klap. Die grootste bedreiging in ons eie huis. ʼn Nagmerrie. Die skote het aanhou klap. Ook in Mieke se rigting. Ek wou van my kop af raak. Waar keer ʼn mens?

Toe is die twee by my. Pluk my aan my arm van die bank af op. Ek moet saamkom. Ek trek terug, skop vas. Pleit. Mieke steek haar handjie op en in perfekte Engels onderhandel sy met haar grootste nagmerrie: “I’ve got money. Please take my money.” Ek wou hê die vloer moet haar insluk … Johann staan sukkel-sukkel op. Gee twee treë vorentoe en pleit “please …”. Dit klink of hy huil. Dit breek my. En toe die woorde: “Ah, just kill him, brother.” Ek gil en probeer keer, maar hoe stop mens ʼn koeël in ʼn splitsekonde? Die skoot klap en tref Johann tussen die oë.

Die liefde van my lewe, ons alles, val vooroor op die grond. ʼn Laaste roggelende geluid soos hy die vloer tref. My lewe spat in skerwe. Hulle is weer by my. Ek wil net hê hulle moet loop. Die skade is gedoen. Wat nou? My kinders … my ongebore babatjie. Ons seuntjie … Ek koes, keer, krimp weg van die loop van die geweer. Wanneer trek hy weer die sneller? Wat word van my kinders?

“Where is the other two kids?” My keel trek toe. Ek praat dit weg. Bied hulle ALLES in ons huis aan. En toe, so vinnig soos dit begin het, so dodelik skielik stop als. Hulle draai om, sonder een woord. Met Johann se pakkie sigarette in die hand. Stap doodluiters die trappe af, sluit die voordeur oop en loop rustig uit.

Ek vries vir ʼn oomblik. Sak neer op die vloer langs Johann. Ek voel nie asemhaling nie. Die deur! Ek moet die deur sluit ingeval hulle wil terugkom. Dit moet hulle langer vat. Ons moet ʼn kans hê om weg te kom. Ek hardloop af, sluit die deur. Hardloop weer op. Ek moet bel. My foon is weg. Johann s’n ook. Wat nou? Ek moet my kinders hier weg kry. Maar hoe?

Ek besef ek moet seker maak van Johann … ek moet besluit. Ek moet hom alleen los. Dit was die moeilikste besluit van my hele lewe. Ek draai hom om, met hoop. Toe ek die kopwond sien, sy oë wat skeef trek, toe besef ek hy is weg. Leweloos moet ek hom alleen los.

Mariandra en Johann Heunis. Foto: Verskaf

Ek hardloop af om Mischa en Majandré te gryp. Hulle is al twee wakker. Verskrik. Bang. Mieke hardloop al agter my aan. Ons hardloop vir die spaarsleutel in die kas. Daar is nie tyd om te soek nie. Ek laat hulle in ʼn ry staan by die agterdeur. As die deur oopgaan, moet hulle hardloop soos nooit tevore nie, in die kar spring en op die vloer lê. Ek weet nie wat wag in die donker vir ons nie.

Ons jaag met ons hoofligte af daar uit, in die donker. Op die grondpad. So vinnig soos ons kan. Want waar is hulle? Tot by die naaste vulstasie en ek storm met my swanger lyf, nagklere en japon in. Ek moet die polisie bel. My man is geskiet. Ek dink hy is dood. Paniek slaan toe. Die petroljoggies bel die polisie en ambulans. Ek moet seker iemand anders ook bel, maar al die nommers is gestoor op my foon.

Wonderbaarlik onthou ek my pa se beste vriend se nommer. Hy antwoord. Binne ʼn halfuur is hulle daar. Ek lei die polisie huis toe. Ons loop op, ek wys hulle waar Johann lê. Kort-kort wil ek weet of hy dood is. Hulle moes dink ek is koekoes.

En dit was waar ons “ná dit” begin het. Ingegooi in ʼn nuwe lewe in sonder ons alles. Geen manier vorentoe nie. Ons broodwinner, ons rots, ons sekuriteit, man en pappa – met ses skote weggeruk van ons af. Ons vyf asempies wat agterbly, verward, verskrik, getraumatiseerd. Hoe kon dit gebeur? Hoekom? Hoe nou? Groot vrae, sonder antwoorde.

So het ons onmiddellik die huis ontruim … ʼn week later het vriende en familie die huis gaan oppak en gestoor. Ons kan nie teruggaan nie. Die bloed het deur die plafon gesypel na Mieke se kamer onder. So baie bloed. Orals. Die nagmerrie kleef aan alles. Die reuk van dood het tot aan my gordyne vasgesit.

Andre Johann se keiser is geboek vir my verjaarsdag. Die dokter wou dit skuif, maar Johann het gesê dat dit spesiaal is (omdat hy teen alle voorbehoeding vir ons gestuur is), want hy is ons geskenkie uit die Hemel. Ons Hemelkind. Ons kroonprinsie. Dis spesiaal om die geskenkie op my verjaarsdag oop te maak. AJ is gebore vyf dae ná die begrafnis. Ek moes alleen die geskenkie wat vir my en Johann gestuur is, oopmaak. Sonder finansies, sonder ʼn huis, sonder ʼn toekoms. Dis vernietig, verwoes. Uitmekaar geskiet. Vir twee fone. Dat ons nie kon bel vir hulp nie. En die kar se sleutels, dat ons nie kon ry nie.

Johann Heunis en sy vrou, Mariandra. Foto: Facebook

Ons moes koebaai sê vir liefde, vir stabiliteit, vir alles waarvoor ons lief is, ons ou lewe – dit wat was en nie weer kan wees nie … en hallo sê vir ʼn nuwe lewetjie, ʼn splinternuwe sieletjie, hoop – in tien dae … Trek, ou huis ontruim, nuwe huis, nuwe normaal. Nuwe skole, nuwe alles. Ons lewe is opgedeel in “voor dit” en “ná dit”.

Ons het nie gevra vir hierdie aaklige draai in ons lewe nie. Nie ʼn draai nie, ʼn doodstop. Want ons is neergespoeg in ʼn heel nuwe lewe. Maar, ek het besef dat ek ʼn keuse het. Net soos wat hulle die keuse gemaak het om die sneller te trek, het ek die keuse om te gaan lê, bitter te wees. Of ek kan opstaan, vorentoe beweeg. ʼn Nuwe lewe aanmekaarsit. ʼn Toekoms bou vir hierdie drie meisiekinders en ons kroonprinsie wat nooit sy pappa sal ken nie … ʼn lewe soos wat Johann sou wou gehad het. Want hulle verdien dit en net ek kan sorg daarvoor as hul mamma.

Baie mense vra vir my: Is jy nie kwaad vir God nie? Want hoe kan ʼn God van liefde so iets toelaat? Maar ek was nog nie vir ʼn oomblik kwaad nie. Want, Hy WAS DAAR. Dit was die Satan wat kom steel het, kom vernietig het wat mooi was. God het ingetree en ons beskerm. Ek sidder om te dink wat kon gebeur het. Hy het ons opgetel net daar, daardie oomblik, en gedra – mense oor ons pad gestuur wat engele sonder vlerke is. Hy het ʼn nuwe plan vir ons lewe. En ek weet dit is ʼn GROOT plan. Want Hy belowe om alles wat met mens gebeur, ten goede te laat meewerk. Ek hou aan daardie belofte vas. Dit dra my. Gebede dra my wanneer ek swak is. En ons het lang, diep gesprekke. Die hoe het ek hier gekom, die waarheen is ons op pad.

Die vrees klou. Die trauma klou. Elke dag raak dit bietjie beter – met professionele hulp – baie geduld. Om te leer om jou voete stewig te plant, dat die golwe van vrees, angs en terugflitse jou nie heeltemal van jou voete af slaan nie. Want ons moet aangaan. Die lewe staan nie stil nie. Die lewe is só kort. Ek kan nie bekostig om ingetrek of afgetrek te word nie. Ek moet so vinnig moontlik opstaan en die lewe vierkant in die oë kyk, want my kinders is geryg soos pêreltjies aan daardie einste tou wat my wil intrek. Ek kan nie skietgee nie. Ons moet aanhou.

Om ʼn weduwee te wees is ongemaklik … Die woord alleen is groot met groot implikasies. As jy terugkyk, en vorentoe, want ek het ʼn verskriklike verantwoordelikheid om hierdie vier kindertjies ʼn goeie lewe te gee. ʼn Gebalanseerde lewe vol liefde en hoop. Vol liefde. Vorentoe. ʼn Weduwee van 33 met vier klein kindertjies …

Ek wil weer gelukkig wees. Ek wil weer liefhê. Ek wil vir my kindertjies die voorbeeld gee van hoe mens lief is vir iemand. Hulle is te klein dalk om my en pappa se liefde vir mekaar te onthou. Hulle verdien ʼn gelukkige mamma. Finansieel is dit nou net ek. Geen ander insette nie. Vier kinders wat moet eet, skoolgaan, klere … aktiwiteite … studie, matriekafskeid, troues … Dis oorweldigend, maar doenbaar. En ons doen dit … stappie vir stappie. Asem vir asem. Ons werk daaraan. Bou stukkie vir stukkie ʼn pragtige lewe. Nie noodwendig beter nie, net so anders.

So ʼn verlies verander mens vir altyd. Jy kom nie oor dit of deur dit nie. Jy absorbeer dit, dit verander jou. Dit kan jou breek, of dit kan jou sterker maak. Ek kies om sterker te wees, want ek het die ergste beleef. Ek kan enigiets doen waarin ek glo, voor werk. “I can do this.” Ons bly in die lig. Op die pad wat God vir ons uitlê. Hy SAL vir ons sorg.

Intussen het mamma begin werk by Sonja Smith Begrafnisgroep, nie net om finansiële druk te verlig nie, maar ook vir die ongelooflike vervulling om ander mense te kan bystaan. Ek wil ʼn verskil maak. Daar is geen rede of logika vir dit wat gebeur het nie en niks kan dit regverdig nie. Maar ek probeer soveel grond wen as wat ek kan, want Johann se dood kan nie sinneloos wees nie. Ons lewe moet iets beteken. God het ons daardie aand beskerm, opgetel en dra ons nou nog. Daarin lê ʼn rede, ʼn doel. En ek gaan my doel vervul. Ek gaan weer gelukkig wees. Ek gaan in liefde lewe. Liefde moet wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

85 Kommentare

marous ·

Hartverskeurend! Die krag en genade wat sy onvang het om hierdeur te moet werk is net van Bo.

Corra ·

Ek was lanklaas so diep geraak, well done jy is n voorbeeld vir my en ek glo duisende ander mense wat deur bitter swaer tye gaan. Ek weet God sal jou elke dag sterker maak en jy gaan bo uitkom, want met so weggees kan jy net wen. Sterkte vir jou en die kinders .

Siestog ·

Sjoe Mariandra, wat ‘n verskriklike nag. ‘n Mens kan maar net hoop en bid dit word jou gespaar, maar geensins wens jy dit vir iemand anders toe nie. Mag jy en jou pragkinders van ‘n eens wonderlike liefdevolle en voltallige gesin, berusting vind, julle voete vind en ryklik geseën word. So dankie vir hierdie brief. Dit is hartverskeurend, maar nodig vir ons om te lees.

Neil ·

Sad!! Sterkte!
Vra maar net.Hoe het hulle geweet van die hoeveelheid kinders wat in die huis moet wees?

Corlia ·

Onthou hulle het onder ingekom en 2 van die kinders het daar geslaap. Was moontlik dat hulle die 2 kinders gesien het oppad na die boonste verdieping.

Miemie ·

Daar word duidelik gese hulle het gevra “we’re is the other 2 kids” hulle het nie geweet waar hulle is nie. Maar hulle het duidelik geweet dat daar nog 2 kinders was. Wonder hoe het hulle dit geweet so Neil ek sal graag ook wil weet hoe het hulle geweet. Dalk “inside info??” Baie sterke aan mamma en die 4 kleingoed bly net glo God stel nooit teleur nie.

Elsie ·

Sjoe…….. Daars nie woorde nie. Ek het groot respek vir jou as mamma wat deur al die dinge moes gaan en nogsteeds regop staan. Maar dis als te danke aan God want dis net Hy wat jou deur alles kon help.
Baie sterkte en. hou vas aan God se hand!

Rikku ·

Liefste Brawe Mamma “Mariandra”, ek haal my hoed af vir jou. Ek is nou so ontsettend hartseer, en kan nie my trane keer, om te lees wat met jou gebeur het. Mag Onse Vader jou en jou kinders styf vashou en met Liefde seen. Dankie dat jy gekies het om vorentoe te beweeg. Ek weet dit is nie maklik nie, maar jy gaan wen en weer Liefde in jou Lewe ervaar. Wees sterk, moet nie dat die gemorsgoed jou onderkry nie. Hulle moet eendag voor God gaan antwoord gee vir hulle dade.

Petra Bronn ·

Die dinge wat hierdie vrou deurgemaak het is verpletterend.Ek weet net dat geen mens na so iets kan opstaan en aangaan sonder dat daar ongelooflike krag van n genadige en Almagtige God oor daardie mens uitgestort word nie.
Staan sterk vriendin in Christus,Hy sal jou enduit sterk hou!

Pieter B ·

Ag so baie hartseer en dit vir 2 fone ag nee so kan dit nie aan gaan nie!!! Maar dis soos @Neil vra hoe het hulle geweet daar is meer as een kind in die huis?? Het hulle hul dopgehou of is dit weer een van die “inside job” verhaal???

Catryn ·

@Pieter @Neil

Dis ‘n feit – hulle het geweet daar is nog twee kinders, en ten spyte daarvan op hulle almal uitgestap – duidelik was die opdrag gewees om die hoof uit te haal – hulle weet meer as wat ons dink – hulle het kontakte in en rondom mens se huis – hulle ken jou bewegings – iemand werk daar en iemand gee inligting deur – hoeveel moet ons mense nie besef daar word vir lank op ons afgeluister voor hulle toeslaan op spesifieke persone wat uitgehaal word en soms almal – iemand wat opdragte gee …

Hoeveel keer word daar net kwansuis ‘n selfoon gesteel? dis moord en beslis nie diefstal nie omdat hulle honger is nie

Jack ·

Heel waarskynlik die familie gemonitor vir dae lank… of dalk n foto teen die muur gesien??

Catryn ·

Hoe vinniger ons padgee uit die misdaad en moordden uit hoe vinniger kan ons weer as volk ons koppe optel uit swart bemagtiging , moorde en aanvalle soos hierdie. Ons volk het ‘n reg tot ons eie gebied en verdien beter as wat ons tans deurmaak. Dis tragies dat ons bly sit terwyl ons opsies het om ons beter te kan beskerm.

Fokus asb waar jy hervestig en waar ons ‘n reg tot grondgebied het – dit is moontlik vir ons. Die wil van die volk is belangrik, en dit is beslis nie om te sit en wag om uitvermoor te word nie.

Ons het ‘n internasionale reg tot Selfbeskikking en om ons eie lewens beter te leef.

Dis so hartseer en glo maak baie se wonde oop –
niemand vergeet nie, al sê hulle wat … Geen mens kan so iets maklik agter hulle sit nie … … Sterkte aan die gesin, mag Hy julle elke oomblik dra en ook die ander gesinne wat soveel hartseer deur is. Daar is soveel duisende van ons mense wat so onskuldig moes boet – vir wat?

DINK: Selfbeskikking / Self determination – soewereine gebied.

donovan ·

Catryn, ek is n gebore Suid Afrikaaner. Was weermag toe en het hierdie land gedien of dit my eie is… wel om die waarheid te se… Afrika en insluitend Suid Afrika behoort aan Afrika… Ons voorvaders het hulle self hier kom vestig en die land kom op eien as ons land… Wel jy begin en se ons moet hier uitkom en ons is geregtig om ons eie stuk grond te kry… maar suster verstaan mooi, ons sit met die gemors omdat ons, ons wille wil af dwing en het mense geonderdruk vir jare vir ons gewin… En dit is ons wen resep wat ons nou mee sit… Ek dink jy moet soek waar jou voorvaders vandaan gekom het en daarna toe terug gaan want dit is waar ons behoort nie hier in Afrika nie…

Rupert Ashford ·

Stem saam Catryn. Donovan, jy kan jou hele lewe askies vra en niks goeds sal ooit daarvan kom nie. Wit mense wat in Suid-Afrika gebore is, is Suid-Afrikaners – hulle is van Afrika. Die selfbeskikkingsdeel geld ook onder internasionale reg hoewel dit erg selektief toegepas word. Daarby is ons witmense nog heeltemal te gemaksugtig – elke ou wil die selfbeskikking plekkie rondom sy eie huis he, of die destydse boererepublieke opeis of wat ookal. Die enigste manier om so-iets te laat werk is om te vra vir ‘n godverlate stukkie wereld soos by Orania en van vooraf te begin soos die voortrekkers gedoen het. Ons sal moet vra vir iets wat niks aantrekkingkrag het nie en onsself besimpeld werk (onsself nie Jonas en Meisie nie) om iets daarvan te maak. Voor ons nie by die punt kom dat ‘n wesenlike groep mense daardie besef het nie, kan ons die selfbeskikkingsdroom ook op ons magies skryf.

Jordaan ·

Ek ook, dit is aangrypend en mens kan net bid vir haar en haar kinders.

Verstom ·

Ek kry hoendervleis om as voorbeeld van hierdie vrou te hoor hoe sy op God vertrou selfs ten tye van haar beproewing. Ons Hemelse Vader is getrou en gaan nooit terug op Sy Woord nie, dit bly staan van ewigheid af tot in Ewigheid. Jy is ‘n groot inspirasie vir my om nog net meer aan God se Woord vas te hou en te bewaar.

Marie vd Berg ·

Mariandra, jy is ‘n besondere mamma! Om soveel ongelooflike gebeure deur te gaan en steeds vir jou kinders daar te wees en die lewe weer in die oë te kyk, verg absolute buitengewone eienskappe. In my hart huil ek saam met julle oor julle groot verlies ! God sal jou aanhou dra!

Mark ·

Mariandra, ek is so verskriklik jammer om te lees wat met julle gebeur het.
Weet net dat jy n insperasie is vir baie mense daar buite, bly altyd so sterk en positief soos wat jy is.
Sterkte vir jou en jou kinders en mag God julle elke dag ryklik seen.

Vivienne ·

Huil ek nou snot en trane en besef hoe dankbaar en bevoorreg ek is om my beste maat aan my sy te hê….dalk sê ek dit te min vir hom. Ek gaan hom nou dadelik bel. ……

Amanda ·

Wat ‘n wonderlike getuienis. Om aan God en Sy woord te kan vashou wanneer so iets afgryslik met julle gebeur het. Eks bly jy ken jou Skepper. Daar is soveel mense wat kies om nie die bybel te glo as God se woord nie. Ek bid dat God julle styf sal vashou elke dag.

Wilhelm ·

Het die tyd nie aangebreek om terug te baklei nie? Of dit of elders gaan woon is al oplossing.

Theresa ·

Mariandra, mag jy die kragtige liefdevolle genade en liefde van die Here elke dag beleef in die proses om jul kinders groot te maak. Mag jou nuwe beroep jou innerlike geluk laat ervaar. Mag jou vriende en geliefdes jou omvou met liefde en bystaan met die grootmaak van jou kinders. Die paragraaf wat my spesifiek opgeval het, is waar jy sê so ‘n verlies verander mens vir altyd. Dat mens dit absorbeer. Dis baie waar. Dis ongelooflik tragies dat daar duisende gesinne is wat dit tans so beleef.

Afrikaanse Knaap ·

Maar laat ‘n afro nou te groot wees of ‘n koloniale twiet’n bietjie aanstoot gee, dan is die land in oproer.
Kon een mens iets erger deurmaak as wat hierdie arme gesin moes deurmaak? Sonder ‘n boe of ‘n ba van die hoofstroom media.
Kan ‘n vrou, ma, kind van so insident herstel?
Ek hoop daai twee “brothers” maai wat hulle saai.

Hartgeroer ·

Mariandra, baie dankie vir die deel van jou ervaring. Dis absoluut oorweldigend en daar is nie woorde vir wat julle moet deurgaan nie. Jy kies die regte pad en die regte manier om dit te doen. Jou woorde is inspirerend en dit raak ‘n mens baie diep. Mag God julle baie styf teen sy borskas vashou, in die palm van Sy hand. Ek bid vir jou en vir jou kinders. My hart is seer vir julle part, maar daar is hoop soos jy self skryf. Kyk altyd na BO! Sterkte en God se rykste seen!

annie ·

Dankie, dankie vir jou brief. Mag duisende mense dit te lees kry en die diep geloof, sonder haat en woorde-moord daarin, besef. Almal wat altyd erger “moord pleeg” in die oë van ons Hemelse Vader, as die fisiese moordenaars, mag julle ook besef dis satan wat hierdie dinge aanvoor. Moet nie in haat en skel en vloek verander nie. Wens ek kon jou ontmoet en vriende wees met jou, liewe Mariandra. Mag God jou baie geleenthede gee om sy Evangelie in vergifnis uit te dra en mag Hy jou weer laat liefkry en iemand gee wat jou sal lief hê.

Michal Grobbelaar ·

Watter hartseerverhaal, maar n vrou van staal. Mag die Here jou en jou gesin onder Sy vlerke hou en jou behoed en bewaar vir die nuwe hoofstuk in jou lewe. Ek bid jou sterkte toe. Seenwense. Michal

Koekies ·

Alle eer aan Onse Hemelse Vader vir die bystaan aan hierdie vrou wat alleen was gedurende die nag van haar man se aanval, sy wou by hom wees ,maar weereens word dit weer bewys hoe sterk ons vroue in die lewe is. God is groot,hy sal daar wees vir jou en die kindertjies,vertrou op Hom, Hy’s altyd daar vir ons. Een groot vraag, hoe het hulle geweet hoeveel kinders daar in die huis was. Sterkte vrou God het jou life met jou kindertjies.

Michal Grobbelaar ·

Watter hartseer-verhaal, maar ‘n vrou van staal. Ek vertrou dat die Here jou en jou gesin onder Sy vlerke sal hou en julle weer oprig. Ek bid julle seen en sterkte toe.

Engela de Klerk ·

Waarom doodmaak! Ek sal dit so graag wou vra aan die moordenaar. Waarom moes hulle hom doodmaak. Mag hierdie pragtige vrou en dapper mamma ál die genade ontvang vir haar pad vorentoe.

Karen ·

Dis net genade as mens gehoorsaam kan wees aan die opdrag om jou vyande te seën en te vergewe. Want jou eerste reaksie is een van bitterheid en ń groeiende weersin. Here, wees ons asb genadig.

rike Wedderburn ·

dankie dat jy braaf genoeg was om jou storie met ons te deel. my Hart ruk soos ek verder Lees. as n mamma v 3 voel ek ook elke dag kwesbaar. jy is so braaf om die Lewe weer te kies, jou kop op te lig en terug Wille v jou kinders een voet voor die Ander een neer te sit. my Hart breek vir julle en ek bid opreg dat die Here elke dag tasbaar naby sal wees.

Theunissens ·

Ai Mariandra en daar gesels ons nou die dag voor die slaghuis met jou en jou pragtige engeltjies en ons weet nie eers van die pyn waardeur jy worstel nie. Hoop om jou weer raak te loop in ons area. Baie sterkte ons bid vir jou en jou engel kinders xxxxx

Tanya ·

Ek het lanklaas so gehuil soos vandag, na hierdie berig. Sterkte vrou, mag God jou en jou kindertjies dra en mag Hy al jou gebede verhoor.

Charlene ·

So sinneloos om iemand se lewe te neem. Maar ek glo dat soos sy se God is in beheer. Ek kan nie dink hoe moes sy voel om te sien haar lewensmaat word voor haar oe dood geskiet nie, en vir wat? Vir n selfoon of twee? Dis wraak moorde hierdie, dis al wat dit is. Maak my hartseer, ek moet my kinders in die land laat groot word? Die land wat ons so lief voor is, is nie meer lief vir ons nie.

HK ·

Mag God jou paaie gelyk maak, mag jy oorvloedig geseen word en mag die pyn elke dag meer draaglik raak. My hart gaan uit nou jou en jou kindertjies.

Japie en Eleanor van der Vyver ·

Mariandra, wat n aangrypende verhaal van geloof , moed en deursettingsvermoe. Hierdie is n inspirasie vir elkeen wat dit lees. Dit raak diep en wyd; n voorbeeld van ware Christen wees.
In jou kom die krag van die Heilige Gees waarlik tot volle werking. Ons bid dat Hy jou van dag tot dag sal dra en steeds sal versterk.

Didi ·

Ek is verskriklik jammer oor jou/julle verlies. Mag Johann in vrede rus. Mag God julle onder sy vlerk hou en beskerm en seën. Ek bid vir almal in Suid Afrika.
My gebede en wel wense gaan uit na jou en jou kindertjies. Xx

Tina du Toit ·

Kon hulle nie maar die goed gevat en gewaai het nie??? Hierdie is so hartseer en ek voel haar pyn, vrees en hartseer. Onskuldige mense se lewens wat verwoes is. Mag God met julle wees.

Pieter ·

Hartverskeurend en ‘n barbaarse optrede deur die moordenaars. Die HEL se vuur wag vir hulle, brother and all. Hulle gekerm en smeek gaan nie gehoor word nie en hulle sal vir ewig brand!! Geen genade vur so iemand nie.

Amanda Owen ·

Dit ruk my hart aan flarde, maar ek sien uit na die dag dat jy weer liefde vind! Dankie vir Vader wat jou soveel vrede gee Mariandra & stap vir stap lei om hierdie tragiese verhaal ten goede te laat meewerk! Baie sterkte vir jou dapper vrou!!

Anoniem ·

Die Voortrekkervrouens is kaalvoet die Drakensberge oor, maar die pad wat voor Mariandra se voete lê, is selfs nog moeiliker. In beide gevalle kan mens die pad nie alleen stap nie, mens kan dit slegs aanpak met die Here se hulp.

nettie ·

Mariandra
Wat jy nou beskryf het 2 en n half jaar terug met my seun gebeur. Ook koelbloedig doodgeskiet in n rooftog. Sy dogtertjie was 14maande en sy vroutjie 28. Hy ook net 28 gewees. Als wat jy beskryf…finansieel…alleen kind grootmaak…nie eens regtig kans om te rou want jy oorleef net terwille van jou kind, het my skoondogter en ons almal ook beleef. Elke dag moet jy jou aanskakel vir n nuwe dag…..en dan kom die vraag van my kleinkind…Ouma wanneer kom my pappa van die werk af? Ek na Bo …Jesus gee die antwoord en ek dra dit oor aan haar en sy aanvaar die antwoord. Baie baie sterkte voorentoe vir die pad met baie opdraandes. Baie liefde…

Henri du Plessis ·

Die Here het, aan die kruis, ‘n moordenaar aan sy sy vergewe. Maar eers toe die moordenaar bekeer. Die wraak kom God toe. Maar daar is niks verkeerd met selfverweer nie. En dit is my punt: Ons mense op die plase is eenvodig nie paraat genoeg nie. Nie voorbereid genoeg nie. Mens moet jou lewensstyl aanpas by jou omstandighede – ‘n man wie se familie op ‘n plaas/plot alleen woon, ver van bure af, kan nie bekostig om laat te werk nie, kan nie bekostig om te moeg te wees om waaksaam te wees nie. Mens kan dit net doen as daar ‘n ondersteuningstelsel is. ek is bevrees ons mense probeer steeds te veel eilande in die lewe wees, alleen teen die oormag van n see van bedreiging. As die landelike gemeenskappe beter gaan saamstaan word hulle vastelande teen die see van bedreiging. Komaan mense, voorbereiding, wakkerheid, paraatheid is uiters belangrik. Ons kan nie bekostig om so baie waardevolle mense soos Johann Heunis alleen te laat staan en te verloor nie.

Ironies ·

In Suid-Afrika was daar op ‘n stadium gemiddeld 49 mense per dag vermoor, dis heel moontlik nou al meer, amper 18000 per jaar. Dws 49 families per dag verloor ‘n geliefde deur sinnelose moorde, net soos dit wat Mariandra met ons gedeel het, elkeen met sy eie hartseer geliefdes wat agterbly, gesinne wat se bestaan ‘n omkeer maak, gesinne sonder inkomste. moordenaars wat nie gearresteer word nie en klein kinders wat daar onder lei. ‘n Lewe is niks werd in Suid-Afrika nie. Vir die Amerikaners was dit ‘n groot skok toe amper 3000 mense oorlede is in die 9/11 aanvalle, vir ons word dit alledaags en iets waaraan ons niks kan doen nie om 18000 mense per jaar sinneloos te verloor. As dit onder die regering se aandag gebring word voel hulle misdaad is onder beheer. Vertaal asb Mariandra se brief sodat ons vir die wêreld kan wys wat is aanvaarbaar vir ons regering in Suid-Afrika. Sterkte aan jou en jou gesin, Mariandra. Hoop julle vind gou berusting en nuwe hoop in julle situasie.

Lindi ·

Jy is ‘n pragtige dapper engel, die Here sal jou bewaar en beskerm, ek is ook ‘n weduwee was dit van 30 jarige ouderdom maar God is groot en gee krag waar mense nie meer hoop het nie.
Sterkte vir jou en daardie engeltjies by jou.

Ester ·

Mariandra, Jy is reeds ‘n sterk in spirerende mensie. Jy SAL en GAAN dit maak tesame met jou kindertjies. Ek weet dat jy hulle ook sal leer om net sterk te wees en die heel beste van hierdie onaanvaarbare situasie te maak. Dit is juis hierdie sterk eienskappe wat jy openbaar wat ons so nodig het in ons ou volkie. God’s rykste seënwense en genade wens ek jou toe! Jou pad SAL gelyk gemaak word. Ek wèèt! – Ester

Marinda ·

Wat ñ vreeslike ondervinding. Alle sterkte vir jou en die kinders.

DRIES ·

1 Petrus 5 vers 8-11. Mariandra, dankie vir die brief. Jy is voorwaar n voorbeeld van n Gelowige mens. Die Here sal jou vir altyd en ewig dra, vertrou op Hom, Sy trou is ewig!!

Estelle ·

Jy verheerlik die Here God al reeds so deur die voorbeeld wat jy vir ons as mede-gelowiges stel!!!!!So verskriklik trots op jou!!!Hy GAAN vir jou n wonderlike toekoms gee!!!Jy het die goeie gekies!!!Daardeur is jy reeds oorwinnaar!!Skryf weer en vertel hoe Hy jou in die toekoms seën, oorwinnaar van God!!!!

Carel O ·

Ek lees hierdie artikel en besef hoe kort die lewe is. Mariandra jy en jous kinders (en jou man) verdien nie om slagoffers van die sinnelose geweld te wees nie. Ongelukkig blyk dit die norm in SA te wees dat n lewe geneem sal word vir n cell foon. Ek wonder partykeer hoekom goeie mense sulke straf moet deurgaan. Baie sterkte met die moeilike pad vorentoe

Nita ·

Hulle haat ons witmense met n helse haat, wat die die agelope meer as 350 jaar in hul koppe ingeprent is. Net God kan ons red. Waar, wanneer en hoe, weet ek nie.

Ella du Preez ·

Mariandra jou verhaal is ‘n inspirasie vir baie gesinne wat deur so ‘n moeilike tyd is…Mag God jou die nodige krag en volharding gee vir jou wedloop voorentoe. Staan vas soos ‘n ribbok op vaste grond. Baie sterkte. sjoe…dit moet verskriklik wees. Mag jy regtig vrede vind in jou gemoed.

Maria ·

Mariandra sterkte. Jy maak die regte keuse deur te kies om nie te gaan lê nie. Jy is reg, God het dit nie veroorsaak nie. n God van liefde doen dit nie. Openbaring 21:4 Sal jou hoop gee.

Rinanda Trotter ·

Mariandra. Mag ek ‘n ietsie vir jou inbetaal.
Ek weet dit is nie die rede waarom jy jou brief geskryf en gestuur het nie. En ek dink jy is ‘n bitter sterk vrou. Weet dat God altyd daar saam met jou is. Baie sterkte.

Erika Theart ·

Ek wil net my mening gee, die oomblik wat jy in so n situasie beland, kry n mens krag , jy weet op daardie oomblik nie waar dit vandaan kom nie , maar jy het net krag, en as alles verby is na die begrafnis en almal gaan aan met hulle lewens, dan besef dink jy waar het ek die krag gekry , en daardie krag kom net van 1 persoon AF en dit is Onse Vader. En leef jou lewe elke dag op n slag

Dawie Theron ·

Ek is woordeloos, wat ek wel kan se , hou vas aan GOD want net HY kan jou deur jou storms dra. sterkte op jou pad vorentoe. jou keuse om aan te gaan is die regte een vir jou en die kinders.

Dries Theunissen ·

Jy is ‘n onderskraging en voorbeeld vir ons almal, Prys die Here o my siel daar’s ryke stof. Ons bid dat God jou sal krag en sterte gee voorentoe, dat jy in sy liefde sal bly. Jy het alreeds die grootste geskenk ontvang wat enige mens kan ontvang en dit is jou geloof in Hom. Dankie jou brief het my al klaar so baie gehelp en aan my getoon dat ons in God se diens staan en nie moet gaan le^ en vir onsself jammer voel nie en ek is seker dat jy ook ander gehelp het en no baie ander sal help. Mag God jou ryklik seen.

Gezina Uys ·

My woorde is op. Ek huil. maar is ook woedend! Dit kan/mag mos nie so aangaan nie!? Wat verwag ons Vader van ons? Wat is Sy wil met ons? Moet ons hierdie droewe land verlaat? Oorlog maak? Gedwee sit as prooi? Praat met ons, Vader. Ons het U nodig. Lei ons, ons hoop is op U.

David ·

Waar om te begin… eks so jammer vir wat jy moes deur maak.Mag die God van omhoog vir jou en jou kinders toe vou in Sy liefde.

JC ·

Ek is so jammer vir jou verlies en trauma. Ek was op 32 ook n weduwee met 4 kinders sonder enige finansiele ondersteuning, dit verg n vrou met murg in haar pype en vasklou aan God om hierin te oorleef. Trots op jou en bid dat Die Vader jou elke dag sal dra.

Marga ·

Wens ek kon jou net druk en alles raak beter … verskriklik

Elizabeth Rule ·

SJOE, wat ‘n hartseer verhaal . . . wat ‘n moedige VROU! Jy is ‘n wonderlike voorbeeld vir almal . . . God SAL jou en jou kinders seën as jy aanhou GLO . . . Sy weë is onverklaarbaar vir ons menslike breintjies. Mag jy aanhou liefde en vrede saai waar jy gaan . . .

Elsa ·

Mariandra ek sit hier in verwondering van God se genade en my hart is stukkend vir wat julle moes deurmaak. Die boodskap wat ek ontvang is dat jy ‘n boek moet skryf. Sterkte en seeninge vir jou en jou kindertjies. Ek hoop om jou boek binnekort op die rakke te sien.

Genieve ·

Die verhaal. ..jys n baie sterk vrou en ons bid en glo die Here gaan jou hierdeur dra

VT ·

Mense, hierdie storie gaan nie oor misdaad nie, dit gaan oor die oorlewing van ‘n mens, ‘n gesin, wat hulle “alles” verloor het… en TOG positief bly en TOG aangaan met die lewe en die Boodskap van God se liefde en genade steeds bly leef en oordra. Hoekom dit besoedel met ‘n bespiegeling oor hoe die misdaad gepleeg is en hoekom? Wie gaan dit help? Niemand. Nee, ek leef nie in Lala-land nie. Maar ek dink as mens so negatief is, trek jy negatiwiteit na jou toe aan.

Evanthe ·

Baie dankie dat jy hierdie hartseer stuk van jou lewe met ons deel. Jy is vir ons ‘n inspirasie soos kampvrou in die konsentrasiekamp wat alles verloor het en nogtans soos Habakuk die Here aanhou prys het. Mag die Here jou en jou kindertjies op hoe plekke laat veilig loop. Die hartseerste vir my is hoe goedkoop lewe in Suid Afrika geword het — twee selfone en ‘n pakkie sigarette… Ook die argeloosheid van die moordenaars wat net na hul gruweldaad doodluiters wegstap. Waar gaan dit eindig?

Carmen ·

Hartverskeurend en so braaf. Die arme kinders wat dit moes aanskou. Ek het ook nou al gedink die rede hoekom meestal van die mans in sulke aanvalle vermoor word is omdat so groot meerderheid van mense in die land sonder ‘n vader figuur groot word. Hulle het ‘n wrok teen Pa’s. Dit is ‘n groot epidemie dat die pa’s nie betrokke is by kinders nie. Sterkte vir julle ek hoop julle vind weer geluk.

BOLANDER ·

Shoe, hierdie het my hart geraak soos lanklaas!! Ek haal my hoed vir jou af. Jy is ‘n besonderse vrou. Baie, baie sterkte vir jou en die kinders.

Anoniem ·

Ek is so so jammer dat jy en jou kinders hierdeur gaan. Die letsels wat dit ook in jou en jou kinders se lewe agterlaat om te aanskou hoe pappa koelbloedig voor jou doodgeskiet is. Hoe gee ons hoop vir ons jeug wanneer die geweld in ons geliefde land so toeneem.

Ouma ·

Besef jy dat jy ‘n pragtige skryftalent het? Ontgin dit.

Ek gee vir jou hierdie gediggie (ek weet nie wie dit geskryf het nie), maar dit het vir my baie baie beteken toe ek ook my geliefde aan die dood moes afgee’n paar weke voor ons troudag.

Die wêreld die draai, maar hy draai altyd reg
Al ken ons hom nie, en verstaan ons hom sleg.
Ons Vader daarbo het Sy hand aan die rat,
en Sy oog op die uiterste draai van die pad.

Baie sterkte vir jou en jou kinders, familie en vriende, en word weer heel. Een dag op ‘n slag

Helien ·

Ja mens wonder net of dit werklik nodig was en wat is die doel van al die geweld in ons land.
Wat gaan regtig hier aan en wanneer gaan gaan alles stop. Sterkte vir jou en die kinders bid vir julle

Lientjie ·

Sjoe jy is sterker as baie. Baie mense se ek weet nie wat ek sal doen as dit ek is nie, maar ek kan getuig mens is sterker as wat jy dink. Ek is deur iets soorgelyk, ek was bitter kwaad vir God want hoe kon Hy dit aan my doen, hoe kon Hy dat dit met my gebeur. God het dard en duidelik met my gepraat ek het sy stem gehoor n paar dae na dit. God is ons anker ons kan op God staat maak al wat Hy vra is dat ons glo soos n kind. My gebeure is al 9 jaar later en ek is nog bang ek vrees nog.

Willem Visser ·

Baie sterkte Mariandra! Ek bid vir jou en jou vier juwele. Hoop geluk en liefde wag vir jou om die draai en sommer hope daarvan.

Petrus Potgieter ·

Hierdie “brief” en ÁL die kommentare tot dusver is ‘n grafiese illustrasie van HOE geestesiek die “Afrikaner” is.

Hoe julle nog enigsins in die Bedrog, Misleiding, Wanvoorstelling & Swendelary van die Joods-Christelik-Islamitiese Drie-Eenheidsgodsdiens kan glo, laat ‘n mens se vestand duisel…

Onbekende ·

Jong. Ek het ‘n 3 jarige seuntjie wat ‘n wonderwerk van God is. Ek kan niks minder sê as dit. Dis hartverskeurend en ‘n absolute breek in julle lewe. God sal julle hier deur trek. Dit is verseker. Jy as ouer is ‘n baie sterk persoon en my hoed af vir jou. Ek sal van my kop af gaan. Hoekom dit hoekom mense wat niks sleg aan ander doen, dit moet oorkom. Woede sal nie die enigste rus vir my wees nie, maar dis ek. Sterkte met alles. My gebede aan julle gesin.

Violy Viljoen ·

Nie die mooiste woorde kan ooit die verlies regverdig nie. Ek voel jou pyn letterlik. Warboel van gedagtes oor die sleg van dood.My dierbare pa Eddie is op 15 Augustus 2014 aangeval in sy huis. 82 jaar oud. Gesond wys en wonderlik. Oorlede op 6 Oktober in hospitaal agv nagevolg en dus vermoor. Niemand ooit gevang nie. My man is op 28 Oktober 2016..dieselfde maand as Johan..oorlede. 56 jaar oud. Hartaanval. Dood is die ergste skok vir my liggaam en siel. Niks kan ooit vir my weer mooi of lekker wees nie. My pa was ons rots en Gys en ek het 40 jaar die lewe op aarde gedeel. Ongekende vrae en verward.. Oudag saam was vir ons nie beskore nie. My maat is net weg. Die alleenheid te midde van mense en kinders laat my magteloos en hartseer nog elke dag. Ek doen alles wat ek moet doen en stoei wel voort ter oorlewing maar ek huil steeds elke liewe dag. Gister was dit presies 8 maande, soos Johan ook en dis steeds onwerklik. Ek wil my liewe man net gaan soek! Hy wou net werk en sorg en het ‘n ongelooflike onpretensieuse persoonlikheid met soveel omgee gehad. Liewer vir hom as ooit met soveel regrets oor verlore tye saam, onnodige nietige twis en verstaan nou 100% dat ‘n gebroke hart. kan doodmaak. Mis my man met intensie seer. Baie sterkte en liefde…ek stuur vir jou ‘n stywe druk x

Rupert Ashford ·

Dit is hartverskeurend. Mens besef nie wat ons landgenote deurmaak nie. Blessings vir jou Mariandra.

Nivea ·

Dit is so verskriklik hartseer my trane het geloop. Mag die Here jou en jou kinders dra in die tyd. Dus so onregverdig wat julle moes deur maak, maar ek weet God sal julle dra.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.