Brief aan tannie Yvette Montalbano

Deur Marisha Hermann

Julius Malema spreek die skare toe by die Moses Mabhida-stadion in Durban, tydens die bekendstelling van die EFF se verkiesingsmanifes. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Liewe tannie Yvette, met die van wat elke Afrikaner sal slag as hulle dit probeer uitspreek.

Ek groet jou as Tannie, want ek glo nog in my Afrikaner-norme en waardes. Ek glo in die Afrikaner-tradisie en -maniere. Nie omdat my ouers my so groot gemaak het nie, maar omdat ek die waarde daarvan verstaan om deel te wees van ʼn volk en ʼn kultuurgemeenskap.

In Tannie se video wat op Rapport se blaaie gepubliseer is, dra Tannie ʼn rooi keppie. Tannie praat met Tannie se vinger en vertel vir my hoe ek moet stem en daarby ook vir wie ek moet stem. Die rooi party wat Tannie ondersteun en waarvan Tannie ook lid is, is slim. Baie slim. Hulle gebruik ʼn tegniek genaamd: Manipulasie en hulle het dit reggekry om Tannie te breinspoel.

My oumagrootjie het na die oorlog opgestaan en aangegaan op die plaas. Sy het gedink aan my, al het sy nie geweet my bestaan gaan wees nie. Ek het hekellappies van haar gekry en ek beplan om my trourok daarvan te maak. Sy het ʼn impak op my lewe, al het sy net aan my gedink.

My oupas het beide suksesvolle besighede gehad, een in die melkbedryf en een in die pluimveebedryf. My ouma het linne in die strate verkoop vir inkomste. Sy het later ʼn kleuterskool oopgemaak. My ander ouma het haar man ondersteun, by Kleuterkasteel klas gegee en Heilbron se tuine onderhou. My ma leef haar roeping as maatskaplike werker uit en my pa as arbeidsverhouding-kenner.

Marisha Hermann (Foto: Verskaf)

Tannie Yvette, in hierdie lyn van werk is daar iets besonders wat Tannie moet raaksien. Verbond en roeping. Elkeen van my voorgangers leef hulle roeping uit en vorm deel van die verbond. My agterkleinkinders, wat ek moontlik nooit gaan ontmoet nie, vorm ook deel van hierdie verbond.

Omdat ek aan my kinders se kinders dink woon ek die bekendstelling van Gimnasium Pretoria, die nuwe Christelike Afrikaanse skool by. Die kans dat hulle daar gaan skoolgaan is groot. Ek studeer by Akademia en het op verskeie komitees gedien. Die kans dat my kinders se kinders daar gaan studeer is groot. Ek bou nou reeds tradisies in die universiteit in wat my kinders se kinders se toekoms gaan bepaal.

Omdat ek aan my kinders se kinders se toekoms dink, werk ek saam met menige jeugleiers. Maree van den Berg help studente oor die hekke klim tydens ʼn Tuks-staking sodat die studente by die klas kan uitkom. Shaun Christie staan op vir sy geloof by Potchefstroom. Frans de Klerk en sy span stig die FAK-jeug en beywer hulle daaraan om erfenis te bewaar en te beskerm. Megan Meyer werk onder studente en skep vir hulle ʼn toekoms in werk. René van der Vyver veg teen onreg. Beatha Groenewald staan op vir haar en ander se regte.

Net om enkeles uit te lig, want daar is nog baie meer. Wat Tannie hier hoor, is jong Afrikanerleiers wat sê: Ons sal nie uitgemoor word nie. Al skree die rooi party “kill the boer”. Net vir duidelikheid: Die rooi party is nou die einste een waarvan Tannie lid is.

Tannie praat in Tannie se video dat ons moet stem met ons kop en nie met ons hart nie. My kop sê vir my Tannie hoort nie by die rooi party nie en my hart stem saam. Tannie sê ons moet nie net dink aan ons kinders nie, maar aan ons kinders se kinders. Dis mooi. Dis wat my oumagrootjie ook gedoen het.

Aangesien ek in hierdie verkiesing aan my kinders se kinders ook dink, gaan ek om hierdie presiese rede nie vir die EFF stem nie.

Ek wens Tannie alle sterkte toe in hierdie onsekere tyd waar Tannie ʼn stryd het in Tannie-self. ʼn Stryd tussen Tannie se wit vel, moedertaal en die party wat “kill the boer” skree, die een wat Tannie ondersteun.

  • Marisha Hermann het BA kommunikasie en joernalistiek by Akademia studeer. Sy is passievol oor Afrikanerskap en so ook die jeug. Tans toer sy oor die land en is ‘n intern by verskeie organisasies.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Hoop die tannie met die rooi pet lees hierdie brief. Helaas die brein is gespoel.

Manie ·

Mooi gestel Marisha, maar ek vermoed daar is niks tussen haar ore wat dit sal kan inneem en verwerk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.