Oriëntering of indoktrinering?

Deur Megan Meyer

(Foto: NWU/ Facebook)

“Welkom by Universiteit! Hier is waar jy die volgende paar jaar van jou lewe gaan deurbring. Dis waar jy foute gaan maak, waar jy gaan kuier en leer… en waar ons ons links-gedrewe politieke idees op jou gaan afdwing! Maar moenie bekommer nie, ons gaan dit stilletjies inglip by eerstejaars-oriëntering en dit met die woorde ‘aanvaarding’ en ‘diversiteit’ versier.”

Waaroor moet eerstejaars-oriëntering eintlik gaan? Is dit nie veronderstel om ʼn bekendstelling te wees nie – hier is hoe jou klasse, toetse en die biblioteek werk, hier is al die klubs en verenigings wat ons het en waarby jy vrywillig kan aansluit, en ʼn baie welkom!

Deesdae, soos ons sien by die Noordwes-Universiteit (NWU), word kwessies soos ander se seksuele voorkeure, of LGBTQIA+, by oriëntering met jongmense pas uit hoërskool bespreek. Hoort sulke gesprekke in ʼn eerstejaar se oriëntering? Die antwoord tot die vraag sal dalk verskil tussen mense. Ek stel voor die eerstejaars word ʼn keuse gegun of hulle na die gesprek wil luister, sonder om hulle te beboet of met dissiplinêre stappe te dreig indien hulle nie so ʼn sessie bywoon nie.

Die Noordwes-Universiteit is tog welbekend met die Menseregtekommissie en al die reëls en regulasies wat hulle aanbeveel. Hulle ken tog die reg van assosiasie en van uitdrukking, so hoekom kan die senior geskorste student nie ook sy sê hê nie? Mag ander mense dan nie openlik van mening, ten opsigte van kwessies wat bespreek word, verskil nie? Ons is tog ʼn land bekend vir ons toyi-toyi, ons gees, ons harde stemme en standpunte en ons ontwrigting van klasse en vryheid by universiteite!

ʼn Skorsing vir iemand wat hulle regte uitoefen klink vir my belaglik.

Megan Meyer (Foto: Verskaf)

Duidelik is die ontwrigting van ʼn student se studies, wat besluit het om sy reg op vryheid van uitdrukking te gebruik, nie vir die universiteitsowerhede verkeerd nie. Is die toestaan van ʼn basiese mensereg te veel gevra? Is die reg net van toepassing as dit pas by die sienings van die NWU? Bestaan daar slegs een keuse – of sewe letters – vir eerstejaars daar?

Indien jy hulle dan nie ʼn ordentlike keuse gun nie, laat alle instellings en die ideologieë invloei! Nooi die hele alfabet om te kom gesels: Kommunisme en sosialisme is tog idees waarna hulle bereid sal wees om te luister. Mense wat identifiseer as ʼn kat of ʼn hond moet hulle sê kan sê of hoe? Dit is immers wat in die Westerse wêreld aanvaar word. ʼn Geblaf en ge-miaau van idees moet ook welkom wees. Die universiteit is immers divers en inklusief!

Die NWU verklaar dat die senior student wat tydens hulle eerstejaars-oriëntering opgestaan en gepraat het teen die LGBTIQA+-sessie die regte van ander studente geskend het, en gesorg het dat studente die saal verlaat. Die studente het heel waarskynlik die saal verlaat, omdat hulle ook nie na kwessies wil luister waarmee hulle eenvoudig nie saam stem nie.

Ek sê glad nie dat die studente wat die sessies oor LGBTIQA+ wíl luister dit nie moet doen, of verkleineer moet word nie. Glad nie! Elke student het die reg om te glo wat hulle wil. Ek sê wél die universiteit het nie die reg om studente te dwing om georiënteer te word met onvanpaste onderwerpe nie. Is die LQBTIQA+ se regte of gemeenskap belangriker as myne of joune, of as die studente s’n wat nie na die sessie wil luister nie?

Ons as Suid-Afrikaanse burgers verskil. Ons is uiteenlopend met baie ideologieë, gemeenskappe, gelowe en tale. As die NWU hulself as divers en inklusief wil bemark, moet dit oop wees om alle studente se sienings te hoor en hulle die geleentheid te gun om te besluit of hul sekere sessie wil bywoon of nie.

My vraag is aan elke leser; gaan studente opstaan vir hulle regte of gaan eerstejaars by die NWU se oriëntering voortaan só gegroet word:

“Baie welkom by die NWU+. Hier aanvaar ons almal en alle menings, tensy jy met ons verskil. Ons gaan nou met die oriëntering begin, ons eerste kwessie is die diversiteit-alfabet. Onthou net jou vryheid van spraak is nie hier welkom nie. Geniet jou volgende paar jaar by ons!”

  • Megan Meyer is ʼn intern by Solidariteit Jongwerkendes.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Maar julle is oraait as daar net een godsdiens herhaal word by orienteringsweek? Al wat gese word is pretty much, live and let live. Jy hoef nie deel te neem nie, net soos hulle nie hoef deel te neem aan hetro dinge nie.

skurweberg ·

Die woord “mensereg”bestaan nie in my lewens en wêreldbeskouing nie. In SA het dit ‘n woord geword wat die mens verabsoliteer, derhalwe word die mens tot ‘n “god” verhef Dit is n woord wat uit ‘n Liberalistiese lewens en wêreldbeskouing kom. Dit het niks met Christenskap te doen nie. Die mens het slegs voorregte en as jy jou voorregte misbruik is jy ‘n heiden en ongelowige. Die individu se “Grondwetlike reg” is ‘n mensgemaakte reg wat uit ‘n dokument kom wat hom of haar ‘n valse reg gee ‘n dokument wat nie eers die Drie enige God erken nie. God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Moenie die waarheid in ‘n tyd soos nou verbloem nie. Julle opstaan en uitloop uit die geleentheid was ‘n erkenning van julle geloof wat deur opvoeding en onderwys oor jare gevestig is. Dit het sigbaar deel geword het van julle oortuiging. Hou so aan, ongeag wat die gevolge ook al mag wees.

Andrew ·

“live and let live”. As jy nie van my Kerk se reels hou nie, moenie hof toe gaan of groot veltogte loots om dit te verander nie, gaan net na n ander Kerk toe of begin jou eie. NWU was vroer n Christen instansie, so lyk my dit is net Christine wat moet “live and let live” en hulle reels buig vir al wat n padda en n muis is.

Pieter ·

@Andrew Die universiteit word befonds deur die Suid Afrikaanse regering. Los geloof uit akademia en uit skole.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.