Trots sonder aanstoot

Deur Arno Schutte

Arno Schutte (Foto: Verkaf)

In die wêreld van vandag is dit belangrik om jou geluk te vier, om trots te wees op wie jy is sonder om ander te minag. Dit verg bewustheid en ʼn opregte waardering vir jouself, terwyl jy ook die ruimte skep vir ander om in hul eie lig te skyn.

Met al die goed wat op sosiale media gebeur, kan dit maklik wees om jouself met ander te vergelyk en onseker te voel. Maar as ons onsself regtig leer ken en ons eie waarde sien, kan ons daarteen veg en onsself opbou. Deur dit te doen, skep ons ʼn plek waar almal kan wees wie hulle wil wees sonder om bekommerd te wees oor wat ander dink.

Dit beteken om jouself te omring met ʼn gemeenskap wat jou ondersteun en aanmoedig om te groei, dit skep ʼn omgewing waarin elkeen se goeie eienskappe en prestasies gevier kan word. Dit is presies wat dit beteken om jouself lief te hê sonder om ander se lig te verduister.

Ek is regtig oortuig dat as ons ander se prestasies raaksien, dit ʼn groot impak het op die samelewing waarin ons leef en werk. Dit gaan nie net oor jouself nie, maar oor elkeen anders om jou wat die geleentheid kry om te wys wie hulle is. Dit skep ʼn atmosfeer van ondersteuning en gemeenskap, waar elkeen voel dat hulle bydrae belangrik is.

Dit maak ook die dae se harde werk ʼn bietjie meer werd, omdat jy besef dat daar mense is wat agter jou staan en jou ondersteun en vir jou omgee. Dit laat ons voel asof ons behoort, en nie hoef sleg te voel om ons suksesse met ander te deel nie.

As ons mekaar ondersteun en waardeer, dan bou ons ʼn kultuur van aanmoediging. Dit is ʼn plek waar jy jouself kan wees en waar jou sukses ʼn inspirasie vir ander kan wees. Dit is die soort omgewing waarin jy nie net kan floreer nie, maar waarin jy werklik jouself nog meer kan leer ken.

Diep binne jou, weet jy wat reg en verkeerd is. So moenie bang wees om die wêreld te wys wie jy regtig is en wat jy doen nie. Maar onthou ook, terwyl jy jou ding doen, is daar mense wat stilletjies opkyk na jou. Hulle droom dalk selfs om soos jy te wees, om jou sukses te hê. Dit wys net dat jou optrede en jou sukses ʼn groot impak op ander mense se lewens het. Dus, terwyl jy jou eie pad loop, onthou om ander aan te moedig om hul eie drome na te jaag.

Ons kan ʼn erfenis van inspirasie en samewerking vir die volgende generasies agterlaat as ons ander kan leer, kan laat groei, die vrymoedigheid gee om in hulle eie spasies te loop, maar te weet dat daar mense is wat hulle sal ondersteun al is dit ʼn vreemdeling.

  • Anro Schutte is ‘n 19-jarige met ‘n passie vir kreatiwiteit en kuns wat tans skryf aan sy eerste boek. Hy is ook die digter agter die Instagram-blad, Tydperk. 

#JongStemme is ‘n projek deur Maroela Media en Solidariteit se studenteaanbod wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek www.solidariteit.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan. 

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.