10 jaar ná Marikana: Agter die skerms

(Foto: AFP)

Dit was vandeesweek die tiende herdenking van die Marikana-voorval van 16 Augustus 2012.

Soos elke jaar die geval is, word daar verkeerdelik in die media berig dat “34 stakende Lonmin-mynwerkers” op dié betrokke dag deur die polisie doodgeskiet is.

In werklikheid is 25 mynwerkers doodgeskiet, en die ander nege oorledenes was individue vanuit verskeie dele van die land. Volgens die statistieke van die 78 gewondes en 250 wat gearresteer is, was nagenoeg ʼn kwart van die betrokkenes nié Lonmin-werknemers nie.

Tweedens was dit nie ʼn staking nie, maar in hoofsaak ʼn protesaksie. Derdens word daar meestal geswyg oor die tien onskuldige mense wat in die twee weke voor 16 Augustus wreedaardig deur die protesgangers vermoor is. Ek het die gruwelike foto’s gesien van die mense wat vermoor is, waarvan twee polisiemanne en twee veiligheidsbeamptes was. Van die slagoffers se geslagsdele en tonge is uitgesny, waarskynlik om deel te vorm van die moetie wat deur toordokters afkomstig van die Oos-Kaap voorberei is op die berugte koppie waar die nagenoeg 3 000 protesgangers daagliks gesit het.

Solidariteit het met die aanvang van die protesoptrede ons Lonmin-kantore aan die polisie beskikbaar gestel. So het ons heelwat interaksie met die polisie gehad en ook aanskou hoe daar berading vir die polisiemanne plaasgevind het wat aan die tien barbaarse moorde blootgestel was.

Wat die moetie betref, daar is geglo dat protesgangers wat met dié moetie besprinkel word, immuun sou wees teen die polisie se koeëls. Toe die inligting rakende hierdie toordokterrituele onder die polisie bekend geword het, het van die polisiebeamptes afkomstig vanaf die Oos-Kaap en wat dieselfde bygeloof gedeel het, baie bekommerd geword en aangevoer dat as daar ʼn oor-en-weer-skietery sou plaasvind, die protesgangers immuun teen hul koeëls sou wees. Van die ander polisiebeamptes het hul kollegas gerus gestel dat hulle ʼn plan sou maak as ʼn dag sou aanbreek waar daar op mekaar geskiet word. In elk geval, die res is geskiedenis.

Toe die polisie ná die Marikana-insident protesgangers se wapens op die toneel optel en in ʼn vraghouer plaas, het hulle vir ons gewys hoeveel van die wapens met bloed bevlek was – ʼn teken dat die wapens in ʼn stadium gebruik is om iemand ernstige leed aan te doen.

Regter Ian Farlam is aangestel om die Marikana-gebeure te ondersoek, en met die bestudering van die omvattende Farlam-verslag van 646 bladsye oor die Marikana-insident, is daar terugskouend leemtes in die verslag.

Die kommissie het myns insiens die bal misgeslaan met hul beredenering dat die polisie-offensief van 16 Augustus 2012 ʼn dag te vroeg plaasgevind het weens gebreke in hul taktiese plan. In teenstelling daarmee, is ek van mening dat die kragdadige optrede eintlik ʼn week te laat was. Die Marikana-insident is voorafgegaan deur ʼn onwettige byeenkoms op 9 Augustus waar die Wet op Oproerige Byeenkomste oortree is, sonder onmiddellike gevolge vir die wetsoortreders. Tydens die onwettige byeenkoms het die stakers teen laatmiddag op 10 Augustus 2012 besluit om hul stokke en knopkieries vir gevaarlike moordwapens te verruil, en hulle het begin om Lonmin-werkers en veiligheidsbeamptes met pangas en kapmesse aan te val. So is die Wet op Gevaarlike Wapens op dag twee en verder oortree, weereens sonder dat dit enige gevolge vir die oortreders ingehou het.

Die dag ná die Marikana-insident het die minister van minerale hulpbronne, Susan Shabangu, senior ministers en die leierskap van mynhuise en vakbonde byeengeroep.

Die uiteinde van die ministeriële gesprek was dat daar besluit is dat daar onmiddellik met die protesgangers onderhandel moes word. Om die plofbare situasie te ontlont, moes die onderliggende sosiopolitieke oorsake onderspeel word en die situasie wel as ʼn salarisgeskil benader word.

Die onderhandelaars het bestaan uit verteenwoordigers van al die erkende mynbouvakbonde, die drie grootste vakbondfederasies, die KVBA, Nedlac, die departement van arbeid, religieuse leiers, die Kamer van Mynwese (nou die Mineraleraad) en Lonmin.

ʼn Tussenganger het die protesgangers op die koppie genader en gevra dat hulle tien afgevaardigdes uit hul geledere moes aanwys wat hulle in die onderhandelinge sal verteenwoordig. Dit het drie dae geneem vir die tien afgevaardigdes om by Rustenburg se burgersentrum op te daag waar die onderhandelinge begin het. Dit was ʼn frustrerende begin omrede al tien afgevaardigdes aangedui het dat hulle nie Engels magtig was nie en dat tolke verlang word – dit is ʼn ou truuk wat, tydens onderhandelinge of wanneer getuienis in ʼn hof gelewer moet word, gebruik word om gedurende die vertolking tyd te kry om oor jou antwoord te dink.

Die eerste vraag aan die afgevaardigdes was uiteraard: “Wat is julle eis?” Tot ons verbasing kon hulle nie die vraag beantwoord nie, al het 34 van die groep hul lewens opgeoffer vir hul stryd. Nadat hulle lank gekoukus het en vele oproepe gemaak het, het hulle teruggekom met ʼn ferm antwoord dat hulle R12 500 eis. Ons opvolgvraag was dat hul moes verduidelik of dit betrekking het op ʼn totale kostepakket, basiese salaris of netto salaris. Hierdie vergoedingsbegrippe is herhaaldelik verduidelik totdat die afgevaardigdes ná ʼn lang gekoukus en weereens vele oproepe teruggekeer het en aangedui het dat hulle na ’n “basiese salaris” verwys het.

Die afgevaardigdes het egter kort daarna heelwat bykomende eise op die tafel begin plaas waarvan die meeste op byvoordele betrekking gehad het, wat vreemd was, want Lonmin-werknemers het toe reeds al die basiese byvoordele geniet.

Die onderhandelinge het egter in sirkels beweeg en die afgevaardigdes het nie oor enigiets standpunt ingeneem nie. Gedurende etenstye het ek waargeneem hoe biskop Jo Seoka van die Anglikaanse Kerk, wat die onderhandelinge as waarnemer bygewoon het, met die afgevaardigdes strategie bespreek het (in Engels nogal). Ná ongeveer ʼn week van totale onproduktiewe onderhandelinge het Lonmin ons meegedeel dat hulle foto’s van die afgevaardigdes geneem het en nadat hul mynvlakbestuur al die foto’s bestudeer het, hulle nie ʼn enkele persoon herken het nie. Hoewel effe van ʼn verleentheid vir Lonmin se senior afvaardiging wat in goeder trou onderhandel het, moes hulle toe by die afgevaardigdes verneem of enigeen van hulle in Lonmin se diens was, en inderdaad was geeneen van hulle Lonmin-werknemers gewees nie.

Die tien afgevaardigdes is toe met ʼn nuwe groep afgevaardigdes vervang wat dié keer eers as Lonmin-werknemers geverifieer moes word. Hierdie groep het onmiddellik vir Amcu by die onderhandelinge betrek.

Intussen het Lonmin se onderhandelaars ons vertroulik ingelig dat Simon Scott, hul waarnemende uitvoerende hoof, ʼn opdrag van hul maatskappy se direksie vanuit Londen ontvang het dat hulle niks mag sê of ontken wat die regerende party kan omkrap nie.

Die gevolg was dat Lonmin hulself amper geensins teen enige aantygings verdedig het nie en ʼn baie onderdanige houding ingeneem het. Lonmin se onderhandelaars het toe aan Solidariteit inligting begin lek, wat ons weer aan die media gelek het. Byvoorbeeld, toe die media berig het dat Lonmin se rotsoperateurs slegs R4 000 per maand verdien het, is ons voorsien van ʼn pak betaalstrokies van rotsbooroperateurs wat meer as R10 000 per maand verdien het. Daar was ook een operateur wat gemiddeld R18 000 per maand verdien het omdat hy nie gestop het sodra hy sy daaglikse kwota gate geboor het nie, maar tot aan die einde van die skof bly werk het en sodoende ʼn substantiewe produksiebonus verdien het. Die rede waarom enkele rotsbooroperateurs wel slegs R4 000 verdien het, was omdat hulle dikwels afwesig was van die werk, of dit was individue wat die vorige maand ʼn sogenaamde “verlofvoorskot” op hul salarisse ontvang het.

Die vyf weke lange onderhandelinge het elke dag om 10:00 aanvang geneem en op die meeste dae ná middernag geëindig. Omdat ons letterlik sy aan sy gesit het, is daar opgemerk hoe Joseph Mathunjwa, Amcu se president, wat nie by die onderhandelinge was nie, en biskop Jo Seoka, wat wel in die onderhandelinge ingesit het, deurgaans telefonies met mekaar in verbinding was.

ʼn Skikking is uiteindelik bereik toe Lonmin se finale aanbod so verpak is dat die afgevaardigdes en Amcu oortuig was dat hul ʼn 22%-verhoging vir die “stakende werkers” beding het. 18% daarvan is egter reeds in ʼn vorige meerjarige ooreenkoms vervat waarvoor die werkers reeds gekwalifiseer het, maar hulle het dit nie besef nie. Biskop Seoka en Mathunjwa het ná ondertekening die ooreenkoms rondgeswaai en dit as ʼn reuseoorwinning vir die werkersklas beskou. Nou, tien jaar ná Marikana, is Marikana-dag totaal deur Amcu en die EFF gekaap en beide Amcu en die EFF het Marikana as hul loodsing- en groeiplatform gebruik.

Gideon du Plessis.

Lonmin is egter nie so onskuldig nie, want onderliggend aan die protesaksie was werknemers en lede van die gemeenskap wat uiting gegee het aan hul frustrasies oor behuising. Lonmin is reeds teen die einde van 2008 deur Solidariteit gewaarsku dat hulle nie aan hulle sosiale- en arbeidsplan (SAP) se vereistes voldoen om 55 000 huise in die omgewing te bou nie. Die inhoud van ʼn mynmaatskappy se SAP, wat tesame met ʼn aansoek om ʼn mynlisensie aan die departement van minerale hulpbronne voorgelê word, bepaal of ʼn mynlisensie aan die aansoeker toegestaan word of nie. Lonmin se antwoord was dat as hulle aan die SAP-belofte moet voldoen, hulle nagenoeg 1 500 werkers sal moet aflê om die behuisingkostes te dek. Pleks hul maar net die huise gebou het.

Ben Magara, wat in 2013 as Lonmin se uitvoerende hoof aangestel is, het in ons eerste ontmoeting aan my genoem dat sy hooffokus sou wees om Amcu se Mathunjwa sy beste vriend te maak en so arbeidsvrede te bewerkstellig. Amcu het egter in 2014 vir vyf maande lank by Lonmin gestaak, wat die maatskappy se volhoubaarheid ernstig geknou het. Hierdie mynhuis op wie se voorstoep die Marikana-gebeure plaasgevind het, was in 2019 op die randjie van ineenstorting en dit is toe deur Sibanye-Stillwater oorgeneem.

Dit is treffend dat Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, in ʼn meningstuk wat op 16 Augustus 2022 in Business Day verskyn het, geensins na die oorledenes in die Marikana-gebeure as “mynwerkers” verwys nie. Dit is ook insiggewend dat Sibanye se Marikana-herlewingsprogram op die herstel en skep van plaaslike infrastruktuur en die lewering van munisipale dienste fokus. Laasgenoemde ontbloot die primêre oorsprong van en opbou tot die Marikana-gebeure, wat die gevolg van swak regering was.

Om nou jaarliks die dood van 34 mense te herdenk, is nie verkeerd nie, want dit was ʼn skokkende gebeurtenis. Dit kan egter nie gedoen word deur oor die wreedaardige moorde van tien onskuldige mense te swyg en ander feite rondom die tragiese gebeure vir populistiese gewin te verbloem nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Treurwilger ·

Vir iemand wat hierdie hele sage van baie ver beskou het, was dit in die twee weke voor 16 Augustus baie duidelik dat die situasie uiters swak hanteer is deur persone wat veronderstel is om in beheer van sake te wees nie.
Geen verrassing/skok dus dat ‘n treurmare gevolg het nie.

annie ·

Die meeste protesaksies gaan net oor geld… Geld… Baie geld… Geld wat stom is praat altyd die waarheid.

Miena ·

En nogsteeds word ons myners deur ons standaarde en prosedures gebriek om met ander mense te praat oor gebeure op die myn – wat nog te se van media of sosiale media: Hoekom? vra jy. Want dit gaan oor REPUTASIE!!! In hierdie geval is die reputasie ongelukkig in sy vloer in, maar nietemin. Die gebeure agter die gebeure en dit wat in die gange en in van die kantore gepraat word – Soms word ons kantore na die Wit huis genoem – omdat als wat daarin aangaan mos soos n staatsgeheim is. Nes dit wat op die koppie gebeur het. Uiterste swak(samekoms en oproerige byeenkomste) beheer toegepas van alle kante af en die situasie was verkeerd benader van die begin af. Desterjare sou dit as amper so iets gebeur het: pepperspray , waterkanon en dan word K9 ingestuur… Vandag is dit andersom – hulle bestook die mag met klip en wat nogal.

Philip ·

Die werklike feite van wat gebeur het word doodgeswyg deur gewetenlose sogenaamde regslui veral van sommige unies en oppesisie partye omdat die werklikheid verdraai word by elke geleentheid sodat later as die waarheid aanvaar sal word deur n groot aantal napraters.Dankie Mnr du plessis vir jou eerlike inset van gebeure.

Miena ·

Ja en oor n paar jaar is dit deel van die Geskiedenis in die onderwys kurrikulum wat hulle vir die kinders gaan leer. Verdraaide feite!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.