10 kommerwekkende aspekte van UV-hofuitspraak

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Deur Morné Malan

In die konstitusionele hof se uitspraak oor die taalbeleid by die Universiteit van die Vrystaat is daar beslis dat die universiteit se taalbeleid voortaan enkelmedium Engels sal wees in plaas van dubbelmedium met Engels én Afrikaans as onderrigtale.

Die uitspraak het verreikende gevolge vir Afrikaanse studente, Afrikaanse leerders op skool, sowel as die toekoms van Afrikaans as ʼn taal in geheel.

Gegewe die impak van die uitspraak sowel as ʼn skynbare onvermoë van baie Afrikaanssprekendes om die omvang daarvan te besef, is hier ʼn samevatting van die 10 kommerwekkendste aspekte van die uitspraak:

  1. Dit is oënskynlik onmoontlik om onderrig in die taal van voorkeur aan te bied sonder om op grond van ras te diskrimineer.

Hierdie opvatting is nie alleenlik van toepassing binne die grense van dié universiteit of selfs net universiteite nie, maar vind neerslag in die onderrigstelsel as geheel. Dit beteken dat alle vlakke van onderrig daardeur geraak sal word.

  1. Dit blyk dat die hofuitspraak nie die regte van Afrikaanssprekendes in ag neem nie.

In plaas daarvan dat die vraag op grond van Afrikaanssprekendes se ontneming van hul grondwetlike reg tot hul taal geformuleer word, word daar van hierdie mense verwag om hul aanspraak op hierdie reg in die hof te verdedig. Die hof vra nie: Is dit geregverdig om hierdie reg weg te neem? nie. Hulle formuleer dit eerder as: Afrikaanssprekendes moet verdedig hoekom hul aanspraak mag hê op hierdie reg.

  1. Die konstitusionele hof en die ministeriële beleidsdokument verwys telkens na die Gerwel-komitee se voorstelle, maar verwerp die idee dat Potchefstroom en Stellenbosch kan voortgaan as akademies Afrikaanse universiteite.

Waar die komitee die onderliggende ideologie van die ANC bevestig, word hulle as hoogs gesaghebbend aanvaar, maar waar dit in stryd is hiermee word geen ag geslaan op die voorstelle nie.

  1. Die sondes van die vorige geslagte se Afrikaanssprekendes word direk aan die taal en gebruikers daarvan verbind.

Afrikaans as taal word geheel en al binne die raamwerk van die voormalige rassistiese, nasionalistiese regering geplaas. Die taal word deur die hof inherent gekoppel aan die boosste sprekers daarvan. Dit word nie ontkoppel van die sprekers nie, behalwe waar dit betrekking het op die hedendaagse, goedgesinde sprekers daarvan.

  1. Daar is geen begrip vir die feit dat Afrikaans self ook ʼn stryd gevoer het teen die ingryp van ʼn koloniale taal – naamlik Engels – nie.

Dat die hof blind is vir dié ironie is belaglik. Afrikaans is feitlik die enigste taal wat in Suid-Afrika ontwikkel het en steeds as akademiese taal gebruik word, en tog word dit verwerp. Daar is straks geen ander taal ter wêreld wat nouer aan kolonialisme verbind word as Engels nie, en tog word dit bo alle ander tale in Suid-Afrika verkies.

  1. Die gebrek aan aandag wat aan konteks gegee word, beperk die hof en die ministerie se vermoë om inheemse tale te beskerm teen die totale oorheersing van Engels bo alle ander tale. Hierdie hofuitspraak is waarskynlik slegte nuus vir alle tale buiten Engels.

Soortgelyk aan die vorige punt, Sachs R het verduidelik dat alle taalregte eintlik bloot die regte is van tien amptelike tale teen die oorheersende versmorende impak van Engels. Die hof verleen hierdie beskerming aan geeneen van dié tale nie.

  1. Aldus die konstitusionele hof se uitspraak blyk dit dat die blote uitoefening van ʼn mens se konstitusionele taalreg geag kan word as ʼn vorm van onbillike rassediskriminasie.

Dit is verstommend dat die konstitusionele hof ʼn uitspraak sou lewer met hierdie implikasie sonder dat dit enigsins in ag neem hoe belangrik dié saak is. Die omvang word feitlik glad nie in hierdie konteks bespreek nie en word klaarblyklik nie as ʼn ingrypende opvatting gesien nie.

  1. Die hof wend geen poging aan om te bepaal of dit werklik die taalbeleid is wat tot rassespanning by die Universiteit van die Vrystaat lei nie, en aanvaar eerder onkrities die universiteit se samevatting van die oorsaak.

Daar is geen ondersoek of ondervraging gedoen om te bepaal of dit geregverdig is om die grondwetlike reg tot taal te ontneem nie. Die hof besef nie die erns van die saak nie, of ten minste, hulle ag die ontneming van taalregte so gering dat hulle van mening is dat dit lukraak weggeneem kan word sonder enige bewyslas vanaf die universiteit om dit te regverdig of in feite te begrond.

  1. Die hof bied geen ander voorstelle nie en vra nie of die universiteit ander, minder ingrypende, pogings aangewend het om die rassespanning aan te spreek nie. Dit aanvaar dat die eerste stap kan wees om mense van hul reg tot taal te ontneem.

Die hof ondersoek ook nie die stappe wat deur die universiteit gedoen is om te bepaal of hulle werklik ʼn poging aangewend het om die rassekwessie op kampus op te los nie. Alle geskille word deur die universiteit en die hof toegeskryf aan Afrikaanse lesings en die redelikheid van hierdie aanname word geensins getoets nie.

  1. Dit versterk net verder die idee dat Afrikaans onderdruk word en uiteindelik vernietig sal word, en dat Afrikaanssprekendes gemarginaliseer en gedisintegreer sal word.

As gevolg van dié uitspraak en dergelike hofuitsprake word die Grondwet deur Afrikaanssprekendes gesien as ʼn stuk gereedskap om “unfinished business” mee uit te sorteer. Sachs R waarsku teen die indruk wat geskep word dat Afrikaanssprekendes afgegradeer, onderdruk en vernietig word. Deur summier die aansoek te verwerp, versterk die hof dié indruk.

Gevolgtrekking

Hierdie kritiek is nie net deur myself uitgedink nie en dit is ook nie net ek wat so voel nie. Dié kritiek is geformuleer en vloei uit die afkeurende beslissing deur regters Froneman, Cameron en Pretorius. Die kommer word dus ook uitgespreek deur voortreflike grondwetkenners – trouens, deur van die individue wat belas is met die taak om ons grondwetlike regte en waardes te bevorder.

Wanneer van die voorste kenners op die gebied van grondwetlike reg sulke kommer verwoord, betaam dit ons almal om vrae te stel oor die toekoms van Afrikaans en die ingrypende ideologie wat dit bedreig. Dit lyk asof daar straks geen toekoms vir Afrikaans in openbare instellings is nie – ten minste nie oor die lang termyn nie. Dit is natuurlik moontlik dat mense nog hul kinders vir die volgende drie tot vier jaar in Afrikaans sal kan laat onderrig met minimale invloed, maar dat daar ingryping en uiteindelik verwerping van die taal sal wees, is myns insiens onafwendbaar. Indien ons hierdie regte wil beskerm, sal ons dit self moet doen, deur privaat instellings.

Ons kan nie voortgaan en verwag dat ander namens ons Afrikaans en die Afrikaner kultuur sal beskerm nie. Nie die presidensie nie. Nie die parlement nie. Ook nie die howe nie. Slegs ons.

  • Malan is ʼn navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Basson ·

Goed saamgevat.

Op grondvlak – ook geen konsultasie gehou met belanghebbendes oor so ‘n kritiese aangeleentheid ? Ek meen dit raak ‘n HELE volk en nasie! In watse plek bly ons??

JC ·

Baie dankie hiervoor.
Indiendaar enige twyfelwas oordie vraag ofdie howeNOUslegs dien as spreekbuis virdie ANC regering se toksiese enrassistiese beleidsrigting; isdaargeen twyfel meer oor nie.

Eiendomsreg volgende op die snyblok? Dit kan dalk net so ‘n dreigement neem om ons uiteindelik weer saam te snoer tot eenheid van denke.

Hierdie “meerderheidsuitspraak” is betreurenswaardig, en kry mens die gevoel dat die uitspraak ‘n “eiland” verteenwoordig in ‘n see van redelikheid en rasionalisme en ‘n slag isvir pogings tot versoening. Hierdie is NIEdieweldeurdagte meerderheidsuitspraak van ‘n Hof van Geregtigheid nie; en MOET met die minagting bejeen word watdit verdien. Het hulle al ooit gehoor van meerderheidsoorheersing (in Engels “majoritarianism)? SA is nie bloot ‘n “demokrasie” nie maar ‘n Republiek waar die minderheid behoort beskerm te word teendie meerderheid.Wend mens jou naUNESCO, gaandit ook seker nieveel helpnie.

DieGrondwet(en dus ons reg) isonderhewig aan internasionale reg, waar moedertaal onderrig ononderhandelbaar is. MoetAfriforumdiewegvolg? Dalkwerpditvrugte af?

Die uitspraak neem nie eers ditwat logies moetwees inagnie; naamlik dat DAAR OPOFFERINGS gemaak isdeur Afrikaners deur hierdie voorheen oorwegend Afrikaanse universiteit na dubbelmedium te verander, en so akkommoderend te wees. Is dit hoe ons beloon word? Die weergawe van die “universiteit” word sonder bevraagtekening aanvaar en word die indruk gewek dat “wraakneem” versluier word agter grondwetlike sanksie. Hierdie “uitspraak” is skandalig.

Ons is op ons eie, en hierdie “uitspraak” lei die Derde Taalbeweging in soos Regter Froneman gese het en meer van ons eie instansies word hopelik in die lewe geroep hiermee.

Fanie ·

Net soos Zuma lei al sy kaders aan minderwaardigheidskompleks teeoor Afrikaans.

Jerry ·

Stem saam dat die Afrikaner homself selfstandig en onafhanklik moet laat geld. Ek stem egter nie saam dat dit net in Suid-Afrika moet plaasvind nie, dit moet ook in die buiteland plaasvind in lande waar die Afrikaner welkom is en homself kan hervestig. Dit is nie net Afrikaans as taal wat geteiken word nie, die Afrikaner in sy geheel met normes, waardes en in alle bene van die samelewing word stelselmatig geteiken. Die strategie en taktiek van die ANC en EFF is geduldig, boos en dodellik. Wanneer die grondwet uiteindellik verander is dat dit meer soos die “Freedom Charter” lyk sal niks die regerende party stop om beslag te le op alle selfstandige en onafhanklike Afrikaner instellings in Suid-Afrika. Dit is uiteindellik die Afrikaner se voorland in Suid-Afrika, maar moenie bevrees wees nie, want die Afrikaners wat hulself hervestig in die buiteland, sal vir julle kos en water stuur.

Peet Schabort ·

Ek is tans in korrespondensie met twee banke oor ‘n onderwerp. Dit gebeur in AFRIKAANS van my kant en hulle antwoorde in engels. Skynbaar gaan dit maar so-so en weet ek nie of my navrae ten volle verstaan word. Sou dit so wees dan moet hulle maar plan sien om hulp te kry. Hierdie ‘harde koejawel’-houding van my is te danke aan hoe ons taal onderdruk word. Ek gaan nie bes gee en ook is die aangeleentheid van só ‘n aard dat ek nie geïgnoreer kan word.

Veritas ·

Mooi so Peet. Ek self doen al my korrespondensie, met groot maatskappye, in Afrikaans. Diegene wat dit nie so wil aanvaar nie moet maar verlief daarmee neem dat ek my besigheid elders kan en sal neem. As jy my taal minag, minag jy mos my geld ook. Of hoe?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.