101 dinge wat jy kan doen om ʼn verskil te maak

ʼn Onlangse interaksie met die ANC-jeugliga se leierskap het my opnuut laat besef dat hierdie land dit net sal oorleef as gewone Suid-Afrikaners inspring en betrokke raak. Daar is baie werk wat gedoen moet word en hoewel die groep mense wat bereid is om te help taamlik vinnig toeneem, is dit nog ver van voldoende af. Hier by AfriForum ontvang ons deurlopend telefoonoproepe, e-posse, Facebook-boodskappe en tweets van lede en voornemende lede wat wil weet wat hulle kan doen om hul kant te bring.

Dit is asof mense se ingesteldheid stelselmatig verander van een waar daar van ander verwag word om iets namens hulle te doen, na een waar raad gevra word oor hoe hulle betrokke kan raak. Ons ervaar dat die “julle moet” mense al hoe minder word en die “ons moet” al hoe meer. Is dit nie fantasties nie!

Die grootste uitdaging is telkens wat om vir sulke mense te sê. Dit is maklik om op ʼn platform te staan en ʼn beroep op die publiek te doen om betrokke te raak. So ʼn oproep sou egter sinneloos wees as dit nie met ʼn praktiese voorstel opgevolg word nie.

Met hierdie stuk (noem dit maar ʼn artikel, ʼn lysie of net ʼn “stuk”), is my bedoeling nie om een of ander politieke stelling te maak nie, maar om soveel as moontlik praktiese voorstelle te maak wat deur enige persoon uitgevoer kan word.

Wat jy kan doen hang af van jou beskikbaarheid en toewyding. Breedweg is daar vier noodsaaklike stappe wat jy sal moet doen. Die eerste is om jouself op te lei. Dit kan jy doen deur te lees, te kyk en te luister na dit wat rondom jou gebeur en om ʼn lewensingesteldheid van deurlopende groei aan te kweek. Die tweede is om in te skakel by ʼn organisasie, beweging, instelling of enige ander platform wat aan jou die geleentheid sal bied om jou deel te doen. Dit vereis geensins van jou om jou werk te bedank of om te verwag dat jy iewers op ʼn permanente basis aangestel moet word nie, maar bloot om te help wanneer jy kan. Die derde is om vir jouself ʼn platform te skep. Moenie verwag om vandag by ʼn organisasie in te skakel en more alreeds die toutjies te trek nie. Jy sal jou toewyding en bereidwilligheid om te help moet bewys. By AfriForum doen ons byvoorbeeld baie moeite om aan ons lede die geleentheid te bied om deur middel van ons plaaslike strukture betrokke te raak en hulleself so in die organisasie op te werk. Die vierde is om ondersteuning aan ander te bied. Hierdie vier stappe sal jou in staat stel om jou stempel op die samelewing af te druk.

Nou, wat die lys betref. Hierdie is ʼn lys met voorstelle wat jy kan doen. Baie daarvan is daarop gemik om jou te help om jouself te ontwikkel om ʼn groter bydrae te lewer. Hierdie lys is ook spesifiek opgestel vir mense wat betrokke wil raak, maar wat nie noodwendig by ʼn politieke party wil inskakel nie. Verder is dit belangrik om te noem dat die inskrywings op hierdie lys nie in volgorde van belangrikheid is nie.

1. Sluit aan by AfriForum (SMS net die woord “Forum” na 38655 en ons bel jou)
2. Sluit aan by Solidariteit (SMS die woord “lid” na 34388)
3. Sluit aan by die Solidariteit Helpende Hand (skakel 0861 25 24 23)
4. Bied hulp aan by jou plaaslike radiostasie
5. Kry kinders en maak hulle goed groot
6. Skakel in op AfriForum se Facebook en Twitter-bladsye
7. Begin jou eie Facebook-groep en werf steun daarvoor
8. Maak jou eie video en publiseer dit op YouTube
9. Lees koerant (lees die nuus, nie die skindernuus nie)
10. Kyk saans nuus
11. Luister radio
12. Kyk aktuele gesprekprogramme op TV
13. Lees op oor die geskiedenis
14. Lees politieke partye se beleidsdokumente
15. Lees iets oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting
16. Lees iets oor die Groenskrif op Grondhervorming
17. Kry die definisie van haatspraak in Suid-Afrika en verduidelik dit vir iemand
18. Vind uit wat die NDR en die “second transition” is en verduidelik dit vir iemand
19. Praat suiwer Afrikaans
20. Besoek ʼn Afrikaanse gedenkarea soos ʼn monument
21. Koop ʼn Afrikaanse CD of woon ʼn musiekkonsert by
22. Woon ʼn Afrikaanse kunstefees by
23. Herdenk belangrike geskiedkundige dae
24. Woon ʼn Geloftefees op 16 Desember by
25. Ondersteun besighede wat diens in Afrikaans bied
26. Skakel in by ʼn AfriForum-tak of stig een
27. Skakel in by ʼn gemeenskapsveiligheidsnetwerk of stig een (AfriForum kan raad gee)
28. Lees hoofstuk 2 van die grondwet en ken jou regte
29. Lees op oor die voordele van moedertaalonderrig
30. Plaas jou kinders in Afrikaanse skole
31. Dring aan op Afrikaanse onderrig vir jou kinders in skole
32. Dring aan op Afrikaanse onderrig en diens by universiteite
33. Gee ʼn goeie fooitjie vir ʼn kelner wat jou taal praat, self al probeer hy net
34. Leer nog ʼn taal (verkieslik ʼn Afrikataal)
35. Skryf ʼn brief vir ʼn koerant en lig jou mening
36. Woon ʼn protesgeleentheid, soos ʼn optog, by
37. Reël self ʼn protesgeleentheid (AfriForum kan raad gee)
38. Skryf ʼn brief vir die regering oor iets wat jou pla
39. Doen jou eie ondersoek as jy gerugte oor korrupsie hoor
40. Kontak jou munisipaliteit oor belangrike plaaslike kwessies
41. Begin ʼn petisie en oorhandig dit aan die owerheid
42. Maak ʼn donasie aan ʼn organisasie wat goeie werk doen
43. Rapporteer altyd enige misdaad waarvan jy hoor by die polisie
44. Kontak die Menseregtekommissie wanneer jou regte geskend word.
45. Kontak PANSAT as jou taalregte geskend word
46. Kontak die Openbare Beskermer oor wanadministrasie deur ʼn staatsdepartement
47. Begin ʼn blog of neem deel aan een
48. Begin ʼn klein besigheid en stel iemand aan
49. Ondersteun opkomende entrepreneurs in jou omgewing
50. Wys vir jou werknemers dat jy hul respekteer
51. Doen by die NYDA aansoek vir finansiële steun vir jou besigheidsidee (as jy jonk is)
52. Kontak AfriForum as die NYDA op grond van ras teen jou diskrimineer
53. Spreek mense aan wanneer hulle rassistiese uitlatings maak, ongeag wie hul is
54. Koop ʼn biografie van iemand uit jou geskiedenis, lees dit en praat daaroor
55. Vertel vir jou kinders van hul voorouers se geskiedenis
56. Koop die FAK-sangbundel en leer ʼn volksliedjie
57. Kyk ʼn inligtingsvideo op YouTube en stuur dit vir iemand aan
58. Eet aandete in die eetkamer, eerder as die TV-kamer
59. Lees jou Bybel, gaan kerk toe en praat daaroor
60. Reël ʼn uitreik na ʼn arm gemeenskap of ʼn kinderhuis
61. Stel jouself beskikbaar om in enige leiersposisie verkies te word
62. Stel jouself veral ook beskikbaar as kandidaat vir ʼn skool se beheerliggaam
63. Stem in die beheerliggaamverkiesing by jou kinders se skool
64. Lees op oor jou familiegeskiedenis. Jy sal nie spyt wees nie.
65. Raak betrokke by ʼn plaaslike klub of gemeenskapsorganisasie
66. Organiseer ʼn fondsinsameling vir ʼn goeie saak wat geld benodig
67. Skakel in by ʼn buurtwag of begin een
68. Koop ʼn buurt-radio en hou kontak met mense in jou omgewing
69. Ontmoet jou bure en ruil telefoonnommers uit
70. Besoek slagoffers van misdaad wat gehospitaliseer is
71. Kontak jou plaaslike polisiestasie om as polisiereservis te registreer
72. Skakel in op ʼn radio-gesprekprogram en lig jou mening
73. Nooi iemand wat geëmigreer het om in Suid-Afrika te kom kuier
74. Trek terug Suid-Afrika toe as jy geëmigreer het (besoek www.komhuistoe.co.za)
75. Hou kontak met Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon
76. Woon ʼn lesing oor ʼn onderwerp wat jou affekteer by
77. Studeer verder, al is dit net ʼn kort kursus
78. Maak ʼn punt daarvan om gesonder te leef
79. Presteer by die werkplek en maak jouself onmisbaar
80. Kry ʼn spreker om jou gemeenskap toe te spreek
81. Kry ʼn misdaadkundige om na jou huis se veiligheid te kyk
82. Neem ʼn kursus in paraatheid en selfverdediging
83. Koop produkte wat in Suid-Afrika vervaardig is
84. Sê vir ʼn boer dat jy dankbaar is vir alles wat hulle ter wille van voedselsekuriteit verduur
85. Woon ʼn openbare vergadering by en neem deel aan die gesprek
86. Gee insae wanneer die regering daarvoor vra, veral oor beleidsveranderings
87. Bied jou kundigheid aan vir iemand wat daarby sal baat
88. Skenk jou ou klere aan ʼn liefdadigheidsorganisasie
89. Koop ʼn ekstra stel warm klere en skenk dit vir behoeftiges
90. Borg ʼn arm kind se skoolgeld vir ʼn jaar
91. Maak ʼn bydrae tot ʼn beursfonds
92. Organiseer ʼn vullisverwyderingprojek in jou gemeenskap
93. Leer aan om water en elektrisiteit te spaar
94. Wees ʼn vrywilliger vir ʼn projek waar jou hulp van waarde kan wees
95. Moenie swak dienslewering as normaal aanvaar nie, maak beswaar daarteen
96. Belê geld vir jou aftrede
97. Restoureer ʼn monument of gebou wat van geskiedkundige waarde is
98. Reël ʼn boomplant-aksie op boomplantdag
99. Herwin ou papiere en vullis
100. Maak ʼn donasie vir die bou van Solidariteit se Afrikaanse Kampus
101. Stuur hierdie lys aan vir jou vriende en familie

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mike ·

En die belangrikste 102 de inskrywing wat eintlik eerste op die lys moes verskyn het en wat jy doelbewus vergeet het is om jou gewig in te gooi by organisasies wat hulle beywer vir die afrikaner se internasionale Godgegewe reg op selfbeskikking. Iets wat Afriforum in sy “Burgerregte Manifes” verkondig maar nie ondersteun nie.

Al hierdie goed is baie mooi en edel maar as die afrikaner hom nie self kan regeer nie is alles net strooi in die wind. Gesien teen die agtergrond van vandag se ekonomiese omstandighede en die onseker politieke toestand dink ek dit is ietwat buite orde om te vra vir meer afrikaner kinders en finansieele steun. Dit van ‘n organisasie wat openlik vir die DA voorspraak maak, ‘n party wat nie veel waarde heg aan dit wat jy hierbo van die afrikaner vra nie.

H J Bester ·

Mike, jy toon baie min geloof in die toekoms van Suid-Afrika in jou negatiewe opmerking dat dit ongehoord is om te vra vir meer Afrikaner kinders asook finansiële steun aan AfriForum. En jou afwysende opmerking oor die DA, laat my glo dat jy aan een of ander regse groepering behoort.

Dis juis die regse groepe wie baie lawaai maak, baie planne het maar min doen om enigiets tot uitvoer te bring. Dis ook hierdie groeperinge wie die meeste verdeeld is in kleiner sub-groepe elkeen met sy eie agenda vir die Afrikaner en ander edele planne het soos selfbeskikking en ‘n tuisland.

Almal weet dat daar baie voorwaardes is vir die verkryging van selfbeskikking, veral territoriale selfbeskikking en dat daar nog baie water in die see sal loop voordat dit sal realiseer. En intussen skel hierdie regse groepering op almal wie nie hul sentimente deel nie – self op hul mede-Arikaners. En omdat die tyd vanselfseprekend nie op hierdie stadium ryp is vir die verwesentliking van die selfbeskikkings-ideaal, is dit sekerlik gewens om minstens ‘n alternatief, al is dit dan net tydelik, op hande te hê. Dis sekerlik normaal om minstens intussen deel te neem aan die huidige politieke prosesse naamlik om te registreer en te stem vir ‘n party na jou keuse. Maar dit blyk dat vele regse burgers verseg om as kieser te registreer of te gaan stem. Stig ‘n party, stel ‘n kandidaat en neem deel aan ‘n verkiesing sodat jou stemkrag immers getoets kan word vir die ideale wat jy koester. En indien dit goeie ideale is, sal jy waarskynlik baie steun daarvoor werf. Indien jy dit nie wil doen nie, sien ek geen toekoms vir enige ideaal van die regses nie.

Mike ek steun steeds die ideaal van territoriale selfbeskikking vir die Afrikaner maar is bevrees dat ek my tans op geeneen van die regse groepering kan verlaat nie want nie een wend minstens ‘n poging aan om die Afrikaners te verenig nie en om met ‘n byderwetse plan na vore te kom waarby ingekoop kan word nie. Inteendeel hulle bly onderling twis en verder skep geeneen van die regse partye of groepe ‘n beeld wat prikkel nie buiten dat hulle uiters netatief is oor enigiets.

Mike ·

HJ Jy behoort tog te weet dat meer kinders ‘n groter verantwoordelikheid op jou skouers as ouers plaas, maar nog belangriker is dat dit ook ‘n enorme finansieele uitgawe te weeg bring. Nou verstaan ek nie hoe kan Afriforum in moeilikke ekonomiese omstandighede wereldwyd en ‘n al hoe groter las op krimpende natuurlikke hulpbronne vra dat mense meer kinders moet hê nie. Daar sit alreeds ‘n paar honderd duisend afrikaners in plakkerskampe waar hierdie kindertjies letterlik sterf van wanvoeding.

Ek stem beslis nie DA nie omdat ek lankal besef het dat die afrikaner net sal oorleef as hy toegelaat word om sy internasionale reg op selfbeskikking ongestoord kan uitoefen. Selfbeskikking is natuurlik nie DA beleid nie en daarom kan ek nie vir hulle stem nie. Jammer dat die links liberalisme besluit het om die afrikaner wat vry wil wees as “regse” te klasifiseer maar terselfdertyd self geen oplossing kan bied teen die ANC se wanbestuur van die land nie.

Dit is vir my immers beter om uitgeskel te word as ‘n “regse” as om deel te hê aan die politieke bestel in SA wat mense ‘n werk ontneem om aan sy daaglikse basiese behoeftes te kan voorsien, wat teen hulle diskrimineer, en wat hulle letterlik daagliks uitmoor. Regses as ons hulle nou maar so kan noem volgens julle oordeel het vir jare leuens en agterbaksheid ervaar vanaf linkse politici om hulle doel te bereik, dus kan ek die haat en agterdog binne afrikaner geledere volkome verstaan. SA behoort nie meer aan die afrikaner nie en daarmee saam word hulle alles ontneem, ook die geleentheid om oor hulle eie toekoms te mag besluit.

Die proses vir selfbeskikking sal tyd vat maar dit mag nie dien as rede hoekom daar nie daagliks gewerk moet word aan die proses om dit te verkry nie. Daar is organisasies soos OASE en Orania wat al groot werk gedoen het en al baie bereik het en nog baie gaan bereik om vir die afrikaner terug te gee wat van hom op bedrieglikke wyse ontneem is. Politieke partye is nie die antwoord op die afrikaner se vryheidsideaal nie, dit is immers ‘n politieke party wat die afrikaner sy vryheid gekos het. Politieke partye veroorsaak twis en verdeeldheid wat duidelik nie nou nodig is binne afrikaner geledere nie.

‘n Politieke party gaan nie met die ANC regime onderhandel vir vryheid nie, dit sal ‘n organisasie wees wat deur die afrikaner verkies is en wat die verantwoordelikheid gegee is om met die regering van die dag te onderhandel oor ons eis vir vryheid. HJ jy is duidelik ‘n DA ondersteuner wat natuurlik ‘n party is wat nie selfbeskikking sien as ‘n oplossing nie, dit terwyl die wereld al meer terugkeer na volkspolitiek. Isreal is besig om duisende swart vlugtelinge uit afrika terug te stuur na hulle lande van herkoms omdat hulle die Isreali’s se taal en kultuur bedreig om net een voorbeeld te noem.

H J Afriforum is ook besig om net soos FW de Klerk die afrikaner te bedrieg met goed soos selfbeskikking in hulle sogenaamde “Burgerregte Manifes” dit laat my dink aan die NP se beloftes van eie skole en woonbuurtes op hulle verkiesings plakkate. H J as jy oor en oor bedrieg kan word deur geveinsde afrikaner politici dan is ek jammer vir jou, die meerderheid afrikaners het gelukkig begin insien wie hierdie politici werklik is en daarom distansieer ons ons van enige van hulle planne. Soos wat die afrikaner uitgemoor word, van goeie skool opvoeding weerhou word, ekonomies verarm, teen gediskrimineer word, swak dienste aanskou en ervaar, en sy selfbeskikkingsreg ontneem word sal hulle outomaties die DA se politieke deelname aan die chaos begin verwerp. Die DA is dalk ‘n tydelikke oplossing, ook net totdat hulle leier moet verswart want dan sal die afrikaner vinniger padgee, hoekom dan deelneem aan iets tydelik en nie permanent soos selfbeskikking nie?

Menefrego ·

Sinvolle en verstandige lys Ernst (veral die deel oor meer kinders kry) maar die nommer een ding op die lys moes die opwekking van die ywer om Vryheid gewees het. Dit moes in sy verskeie aspekte eintlik sommer nommers een tot tien gewees het.

Sonder dit, reduseer jou lysie maar eintlik tot iets soos: voorstelle vir tydverdrywe terwyl jy wag vir die asteroïde om die aarde te tref.

….en hiermee lê miskien my al groter wordende probleem en irritasie met die Afriforum/Solidariteit/FW De Klerkstigting/DA alliansie – julle het julself skynbaar daarmee versoen om sterwensbegeleiding vir die Afrikanervolk te verskaf. Ons benodig nie sterwensbegeleiding nie. In ons donkerste uur, benodig ons visionêre leiers. Helde wat ons volk se Vryheid kan herwin, deur te doen watookal dit verg. Ons kort ‘n Afrikaner rennaisance en ‘n Afrikaner revolusie, nie tips vir hoe om die stelsel beter te speel nie. Dit verlig miskien die pyn op die korte duur, maar daar’s geen toekoms daarin nie.

Hoeveel energie en hulpbronne word by Afriforum in ‘n tipiese week op die kwessie van Afrikaner vryheid bestee? Praat julle groot drome in die gange, of begrafnispolisse?

N.S. HJ Bester, hier’s vir jou nog ‘n afwysende DA opmerking: Die onnosele ondersteuning deur Afrikaners, van ‘n party waavan die ganse geskiedenis intens Anti-Afrikaner was, en waarvan die ampsdraers openlik anti-Afrikaner is, wat liberaal-sosialistiese waardes en beleide ondersteum, ons plekname, taal, en kultuurgoedere minag, sal afgaan in die geskiedenis as een van die Afrikaner se grootste en dodelikste politieke foute. Die politieke malaise waarin ‘n on-gefundeerde en waansinnige hoop in die DA baie nie-denkende Afrikaners laat, is tragies verby woorde.

….en as jy my gaan regse, dan gaan ek jou sommer ver linkse.

Bets Joubert ·

My eie beskeie mening is dat ons Afrikaner Volk MOET TERUG BEWEEG NA GOD! dit moet jou eerste prioriteit wees en dan kan die res volg

Lienke Botha ·

Oom, ek is maar nog net 15 en het hierop afgekom opsoek na inligting vir ‘n taak… Vir my is oom baie groot inspirasie, ek is bly daar is nog mense wat steeds passievol Afrikaans is. Ek het nog nooit gehoor van die Afriforum, Solidariteit of FW De Klerkstigting nie. Ek het gehoop dat daar ook dalk so iets vir tieners gestig kan word? Nie die tiepise ‘fondsinsameling’ of ‘gaan na die ouetehuis toe en deel koekies uit’ goed nie, want ek is nou dood eerlik, tieners stel nie belang in dit nie. Die wat doen is regtig vir almal ‘n voorbeeld, maar ek sal dit nie graag in my vrye tyd wil doen nie. Op die oomlik is daar ‘n tiener organisasie, ‘RevoYouth’, dit is wel ‘n engelse naam maar daar is ook baie afrikaanse lede betrokke. Die organisasie is gehelp stig deur een van die leerders van ons skool. Hulle is baie passievol en waarlik opsoek na mense met dieselfde trots vir ons land as hulle! HUlle is nou nie ‘n Afrikaanse Organisasie nie maar hulle is stadig maar seker om mense se persepsie van ons land te verander. Die verskil begin by ons en die tieners is die volgende generasie van Suid-Afrika. Of u nou daarvan hou of nie, die minder bevoregde kinders in die land is ook deel van die jeug. Ons moet hulle ook betrek en vir hulle wys dat ons ook vir hulle omgee en hulle wil help. Meer mense as net die paar followers op twitter behoort van die organisasies te weet. Ons land is besig om ineen te stort ek, stem saam. Die pad gaan lank en swaar wees maar ons moet dit prober omdraai! Ek dink dit is tyd dat die jeug gehoor word. Die ouer generasies het geglo dat kinders en tieners se mening nie tel nie maar glo my dit het hulle teen die mure uitgeduif. Ek is vas oortuig dat die voortrekkes nie sal omgee om in silke organisasies deel te neem nie. ASB!! Ek wil iets beteken vir ons land en ek is seker u wil ok graag ‘n verskil in tonne mense se lewens maak. As ons saam werk kan ons dit doen! Die jeug probeer soek na iets om met hulle lewens te doen en daarom prober hulle daardie gat in hulle te vul met onheilighede. Hulle is die mense waarop ons moet konsentreer! maak die organisasie groot en betrek almal!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.