150 jaar van die stigting van die Duitse Ryk

Otto von Bismarck (derde van links). Foto: AFP

Presies 150 jaar gelede, op 18 Januarie 1871, is in die pragtige Spieëlsaal in die Paleis van Versailles die Duitse Ryk gestig.

Dat dit in Versailles naby Parys plaasgevind het en nie op Duitse bodem nie, het daarmee te make dat Pruise en sy bondgenote, die verskeie Duitse state, gesamentlik Frankryk kort tevore verslaan het en voor Parys gestaan het. Die gesamentlike oorwinning oor die ou vyand Frankryk was die katalisator om ook die kleiner state, wat skepties teenoor die Pruisiese oormag gestaan het, geesdriftig aan die verenigingstrewe te laat deelneem. Die stigtingsgebeurtenis op daardie dag was die proklamasie van koning Wilhelm van Pruise tot die Duitse keiser Wilhelm I. Reeds in November 1870 het ook die suidelike state van Duitsland (Baden, Württemberg, Beiere en Hesse-Darmstadt) deel geword van die Pruisies gedomineerde Noord-Duitse Statebond.

Die persoon wat algemeen as die argitek van die Duitse Ryk gesien word, was Otto von Bismarck, kanselier (vergelykbaar met ’n eerste minister) van Pruise en later Duitse rykskanselier. Onder historici is dit omstrede of hy werklik ’n verenigde Duitse staat wou hê, of eerder Pruise se oormag teenoor Oostenryk wou vestig en die Duitse Ryk vir hom ’n soort Pruise met aanhangsels was. Oostenryk was immers vir eeue die leier onder die Duitse state en die deelstaat waarvandaan die keisers afkomstig was.

In die oorlog van 1866 is Oostenryk egter deur Pruise verslaan en was die kwessie wie die leier van die Duitse state is, ten gunste van Pruise beslis. Verder was Oostenryk, oftewel die Habsburgse Ryk, altyd ’n veelvolkige, dinastiese staat, terwyl die Duitse Ryk van 1871, volgens die tydsgees van etniese nasionalisme, grootliks etnies Duits was (wel met sterk streeksverskille). Bismarck se tydsberekening, om die stigting op die hoogtepunt van triomf en eenheidsgevoel te doen, was reg.

Om die lappieskombers van Duitse state, van ’n streeksmoondheid soos Pruise oor middelslagstate soos Beiere en Sakse tot ministate en vrye rykstede te verenig, was ’n lang-gekoesterde ideaal sedert die middel van die 19de eeu. Die eerste Duitse Ryk, ook bekend as Heilige Romeinse Ryk – ’n oorblyfsel van die Middeleeue – is in 1806 deur Napoleon, wat die Duitse deelstate teen mekaar afgespeel het, tot niet gemaak. Hy wou self keiser wees en kon dus geen Duitse keiser langs hom duld nie. Ná die oorwinning oor Napoleon het die Duitse Bond in 1815 tot stand gekom, wat egter net ’n konfederasie was. In 1848 was ’n eerste poging deur vryheidsgesinde en burgerlik-demokratiese kragte om op ’n revolusionêre wyse die Duitse state te verenig. Dit is egter deur die monarge, by name Oostenryk en Pruise, wat toe nog bondgenote was, neergewerp en dit sou tot in 1918 neem tot die Duitse Ryk ’n demokrasie geword het.

Die Duitse Ryk van 1871 was dus ’n monargie met ’n sterk federale karakter, met die keiser as staatshoof, die rykskanselier as uitvoerende hoof en konings en vorste in elkeen van die deelstate. Daar was wel ook ’n verkose Reichstag (parlement) wat wetgewende gesag gehad het. Gemeet aan die 19de eeu was die Duitse Ryk ’n moderne en vooruitstrewende staat, wat die balans tussen die verskillende kragte in die ryk (adellikes en burgerlikes, ondernemers en werkers, die verskeie deelstate, ensovoorts) in balans kon hou, seker ook omdat dit darem etnies redelik homogeen was en daar ’n gesamentlike patriotisme bestaan het. Veral ekonomies het dit besonder goed ontwikkel en later die magtige Groot-Brittanje die loef afgesteek. Ook argitektuur, kuns en kultuur het ’n bloeitydperk beleef.

Die huidige beoordeling van die Duitse Ryk van 1871 is onder meningsvormers in Duitsland taamlik negatief, en daar vind ook geen amptelike gedenkprogramme plaas nie en in die openbare waarneming is dit feitlik vergete. Daar word nie eens ’n gedenkseël uitgegee nie. Dit word verbind met nasionalisme, kolonialisme, imperialisme, die monargie en alles wat teen die globalistiese tydsgees is. Sekere linkse historici trek selfs ’n lyn deur van Bismarck tot Hitler en sien die Pruisies-militaristiese aard van die Duitse Ryk van 1871 as die oersonde wat alles daarna besmet het.

Die moderne suksesvolle Duitsland, die sentrum van Europa en kultureel en ekonomies van rang in die wêreld, sou egter nie moontlik gewees het sonder die stigting van die Duitse Ryk nie. Die klein state op hul eie sou nooit dít kon bereik het wat die Duitse Ryk gesamentlik en tot voordeel van almal bereik het nie. Die Duitsers was nie meer die speelbal van moondhede soos Frankryk nie, maar ’n magsfaktor. Alhoewel die Duitse Ryk onder keiser Wilhelm II (regeer van 1888-1918) toenemend aggressief en roekeloos geword het, was die Duitse Ryk onder Bismarck en Wilhelm I na buite vreedsaam en het gepoog om deur die maksimum bondgenote en ooreenkomste juis oorloë te vermy.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.