16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders

Jaarliks is einde November, begin Desember vir my ʼn neerdrukkende tyd. Waarom? Omdat dit die tyd is wanneer die internasionale 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders ook in Suid-Afrika plaasvind.

In Beeld lees ek dat me. Jabulile Mogane van die Remmoho Women’s Forum vanjaar teenoor verteenwoordigers van die owerhede opgemerk het: “Elke jaar, by dié veldtog, hoor ek julle is besig met dié strategie, maar ek hoor nooit ‘ons het gedoen wat ons verlede jaar belowe het’ nie.”

Beter kan ek dit nie stel nie.

Geld word fluks spandeer aan byeenkomste tydens die 16 dae, maar wat gebeur dan tydens die ander 349 dae van die jaar?

ʼn Seun vermoor sy pa en tydens die verhoor raak dit bekend dat die seun sedert sy babadae mishandel is. ʼn Dominee wat in die saak getuig sê na bewering “Dit gaan maar so op die plase.” Hoe laat ʼn gemeenskap dit toe?

Willemientjie Potgieter word saam met haar ouers deur plaasmoordenaars tereggestel, maar die regerende party verdedig hulle jeugleier verbete as hy en sy volgers herhaaldelik “skiet die Boer” sing. Waar is die politieke wil dan om vergrype soos dié stop te sit?

ʼn Tukkie-student word met ʼn panga aan flarde gekap en verkrag deur ʼn man wat in dié tyd op borgtog uit is in ’n ander saak waarin hy van die verkragting van drie tieners van 13, 14 en 17 jaar oud aangekla word. Hoe kry iemand wat van die soort misdade aangekla word, borg?

ʼn Werker word vermoor en ʼn vrou verkrag in Centurion deur ʼn man wat op parool is. Hy word gewond, maar spot met die polisie oor hoe swak hulle skiet. Hoe kry so ʼn man parool?

Ek noem nou sommer so vinnig vier voorvalle wat in my geheue bly vassteek, maar elke dag is daar nog en nog sulke gevalle. As aktivisme teen geweld teen vroue en kinders sinvol is, moet dit hierdie vrae vra.

As gemeenskap kan ons nie ʼn blinde oog draai vir geweld in gesinne om ons nie, al gaan ons optrede ons ongewild by familie, vriende of bure maak. As gemeenskap moet ons druk op die regering toepas om die politieke wil te kweek om kragdadig teen geweld en misdaad op te tree. Ook nie net wat geweld teen vroue en kinders betref nie, maar teen ALLE geweld en misdaad.

As gemeenskap moet ons insette lewer oor wie borg en wie parool kry. Stelsels is feilbaar en wetgewing ontoereikend. Ons moet die gapings daarin identifiseer en maniere vind om dit toe te stop.

Verder moet ons as land besin oor die waardestelsels wat ons volg. As ons veelwywery toelaat en goedpraat, moet ons nie voorgee dat ons ernstig oor vroueregte is, of mans en vrouens as gelyk beskou nie. Nog minder as ons toelaat dat weduwees en kinders van hulle erfenis beroof word deur manlike familielede omdat dit die kulturele gebruik is na die afsterwe van ʼn man. Ook nie as ons die ontvoering van minderjarige meisies vir gedwonge huwelike as ʼn kulturele tradisie probeer goedpraat nie. Die bewaring van kultuur en tradisie is nie verhewe bo basiese menseregte nie.

Standpuntinname en optrede teen al die bogenoemde wanpraktyke is ʼn verantwoordelikheid van die staat, maar ook van die gemeenskap, en nie net vir 16 dae tussen November en Desember nie, maar vir al die dae van die jaar.

Raak ons nie betrokke nie, word die 16 dae net ʼn verskoning vir die uitdeel van goedkoop simpatie, eetgoedjies en ʼn paar T-hemde …

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannalie ·

Ja dis goed en wel om 16 dae vir vrouens en kinders te he, maar wat van al die mans wat ook mishandel word deur hul base by die werk, mede-kollegas, ens…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.