16 Desember 2015 – ‘Waarom is ons vandag hier?’

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus

Geloftedagtoespraak deur dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus in Kommandodrif, Bothaville op 16 Desember 2015.

Geagte Voorsitter; mede feesgangers:

Waarom is jy vandag hier?

  1. 16 Desember 2015.
  2. Waarom is ons vandag hier by mekaar?
  3. Kom ek vra meer regstreeks: Waarom is jy vandag hier?
  4. Waarom herdenk jy vandag ʼn gebeurtenis wat meer as 170 jaar gelede plaasgevind het?
  5. Is dit nog nodig om in die 21ste eeu die gebeure van 1838 te herdenk?
  6. Die dag gee aanstoot aan ander Suid-Afrikaners en moet liewer afgeskaf word, sê sekere koerantskrywers.
  7. Die dag moet nou verval ten gunste van Versoeningsdag, skryf ander koerant-redakteurs.
  8. Die dag word vir politieke doeleindes misbruik, daarom woon ek dit nie by nie, is die verskoning van ander.
  9. Glo jy regtig dat ons hier met ʼn gelofte aan God te doen het?
  10. ʼn Gelofte wat werklik bindend is?
  11. As dit in 1838 ʼn bindende gelofte was, kan dit sekerlik nie op my in vandag se tye van toepassing wees nie – miskien nog op die Voortrekkers.
  12. En so kan ek aangaan en vrae vra.
  13. Kom, probeer saam met my objektief en feitelik, in 2015, oor die feite redeneer.
  14. Alles moet mos vandag met feite bewys en beredeneer word.

Wat sê die Gelofte?

  1. “Waarom is ons vandag hier?”, was my eerste vraag.
  2. Om daarop en op al die ander vrae te antwoord, moet ons teruggaan na die Gelofte – soos dit hier voorgelees is.
  3. Dit is tog na alles waaroor dit gaan.
  4. Wat sê die Gelofte?
  5. As jy mooi geluister het en met die nodige respek teenoor God, kan ons dit ʼn kontrak noem. Soos ʼn kontrak het dit twee kante.
  6. Aan die een kant vra die Voortrekkers dat “As God hulle sal beskerm en die vyand in hulle hand sal gee,” die Voortrekkers aan hulle kant drie dinge uit dankbaarheid belowe dat hulle:
    • Elke jaar die dag as ʼn dankdag soos ʼn Sabbat sal deurbring;
    • ʼn Huis tot Sy eer sal oprig en
    • Dit wat gebeur het, aan hulle kinders en hulle kinders sal oordra, sodat God se naam so verheerlik kan word.

Mag nietige mense so ʼn gelofte met God sluit?

  1. Dit is wat die Gelofte sê.
  2. Die vraag is: kan ʼn mens so ʼn Gelofte aflê?
  3. Kan ʼn nietige mens sulke eise en voorwaardes aan God stel?
  4. ʼn Voorwaarde dat as God sy kant nakom, jy joune sal nakom?
  5. Miskien kan ʼn mens nog jouself bind met so ʼn gelofte, maar is dit billik om jou nageslag vir altyd aan so iets te bind?
  6. As u oor Sarel Cilliers, wat die Gelofte opgestel het, lees, sal u sien dat hy net so ernstig met al hierdie vrae geworstel het.
  7. Dit is duidelik uit die geskiedenisbronne en uit latere onderhoude met hom.
  8. Die idee van die Gelofte het by Andries Pretorius ontstaan nadat hy na preke van Sarel Cilliers geluister het wat oor Bybelse geloftes gehandel het.
  9. Hy het die idee toe met Sarel Cilliers bespreek wat daarna geworstel het of mens so ʼn gelofte mag aflê.
  10. Op soek na antwoorde het hy na die Bybel gegaan.

Wat sê die Bybel oor so ʼn gelofte?

  1. Kom ons kyk self in die Bybel na voorbeelde: Waarskynlik van die voorbeelde waarna Cilliers ook gekyk het.
  2. Genesis 28 (vers 20-22) (Jakob by Bet-el)
    “En Jakob het ʼn gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die Here my God wees.”
  3. Numeri 21 (vers 2-3). (Israel veg taan Kanaäniete.)
    “Daarop het Israel aan die Here ʼn gelofte gedoen en gesê: As U hierdie volk heeltemal in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref.
    “En die Here het gehoor na die stem van Israel en die Kanaäniete oorgegee. En hy het hulle stede met die banvloek getref…”
  4. Kan dit toevallig wees dat die Voortrekkers se gelofte ook op dieselfde wyse geskrywe is: “As Hy .. dan sal ons”
  5. Nog voorbeelde:
    • Samuel 1 (vers 10-11). Hannah wat as kinderlose vrou ʼn gelofte aan God doen dat as sy ʼn manlike kind (later Samuel) kan hê, sal ek hom aan U gee.
    • Ester 6 (vers 26-28).
      Dit gaan oor ʼn jaarlikse herdenking omdat die Jode en Mordegai gered is van Hamman wat hulle wou uitwis en dan in vers 28 word spesifiek oor die nageslag geskryf:
      “…dat die dae herdenk en gehou moet word in al die geslagte, families, provinsies en stede, en dat die Purim-dae onder die Jode nie afgeskaf mag word nie en die gedagtenis daaraan onder hulle nageslag nie mag ophou nie.”
    • Jefta se belofte wat droefheid vir hom en sy dogter gebring het (Rigters 11 vers 30).
  1. Die Bybel voorbeelde het Sarel Cilliers oortuig dat ʼn mens wel so ʼn gelofte teenoor God mag aflê.
  2. Maar hy was bekommerd of almal die ingrypende gevolge daarvan verstaan.
  3. Hy bespreek dit met Andries Pretorius en sê hy is bekommerd om so ʼn gelofte te sluit omdat mense feilbaar is en maklik hulle kant van die gelofte kan verbreek.
  4. Kom ek lees vir u hoe Sarel Cilliers dit bewoord teenoor Pretorius:
    “Ek is bekommerd dat ons die dag sal vergeet, en ook sal verwaarloos, en dat die woede van die Here dan teen ons sal ontbrand en dat ons dan groter oordeel teen ons kan kry.”

Bybel gee ook riglyne oor so ʼn Gelofte

  1. Sarel Cilliers het rede om bekommerd te wees.
  2. Ons kry nie net voorbeelde van geloftes in die Bybel nie, maar die Bybel het ook riglyne oor geloftes.
  3. Deuteronomium 23 vers 21-23:
    “As jy aan die Here jou God ʼn gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die Here jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.”
  4. Prediker 5 vers 3-4: (1983)
    “As jy ’aan God ʼn gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.”
  5. Ek is jammer maar ek kan nie met al die slim professore en kommentators saamstem, wat die Gelofte afmaak en as nie bindend beskou op die nageslagte van die wat die aanvanklike Gelofte afgelê het nie.
  6. Wat my persoonlik betref verwerp ek hierdie slim teorieë en glo ek absoluut dat ons hier ʼn bindende gelofte het wat ons moet nakom.
  7. Daarom is ek en my familie vandag hier.
  8. Daarom is dit belangrik dat elkeen van u hier is.
  9. Ons kom ons kant van die Gelofte na.
  10. As ek na die Afrikaner se geskiedenis kyk en na alles wat ons al deur is – ook die laaste twintig jaar – dan praat Sarel Cilliers se waarskuwing weer met my en met elke Afrikaner as hy sê:
    “Ek is bekommerd dat ons Afrikaners die dag sal vergeet en sal verwaarloos (dit gebeur tans) en dat die woede van die Here dan teen ons sal ontbrand.”

Maar God het nie sy kant van die gelofte nagekom nie.

  1. Nou argumenteer sommige mense dat Bloedrivier nie ʼn Goddelike ingrype was nie.  Willem van Centurion (altyd ʼn skuilnaam) skryf dapper in Beeld 9 Desember dat die Goddelike ingrype ʼn Afrikaner-mite is. Volgens die woordeboek is ʼn mite ʼn “storie sonder grond; ʼn leuen, onwaarheid, versinsel, liegstorie, dwaalstorie”
  2. God het met ander woorde nie sy kant van die kontrak nagekom nie. Daarom is die Gelofte nie bindend op ons nie.
  3. In die buiteland en in Suid-Afrika lag sekere mense vir die dom Afrikaners wat glo ʼn God het ingegryp by Bloedrivier en hulle beskerm. (Die boek The Covenant)
  4. Ander skryf die oorwinning toe aan:
    • die goeie strategie van Pretorius;
    • die gevegsterrein;
    • die moderne wapens van die Voortrekkers; ens.
  5. Daarom is die Gelofte nie bindend nie en was dit slegs ʼn goeie “truuk” van Pretorius en Cilliers om die Voortrekkers te motiveer vir die slag.
  6. Ek wil sê die Gelofte is nie net bindend nie, maar ons het hier ʼn duidelike voorbeeld van hoe God in die geskiedenis van ʼn volk ingryp as deel van sy raadsplan.
  7. Maar kom oordeel vir uself: Wat is die feite?
  8. Kom ons probeer weer onemosioneel en feitlik kyk:
  9. 12 000 tot 15 000 Zoeloes, verdeel in die Swart Skilde (die jong en onervare manne) en die Rooi- en Wit Skilde (die ervare manne) teenoor 464 Voortrekkers en nog meer as 300 bruin en swart werkers wat amper 100 Zoeloes insluit.
  10. In die slag is 3 000 tot 4 000 Zoeloes dood.
  11. Nie een Voortrekker of iemand in die laer is dood nie – drie is lig gewond.
  12. Vergelyk dit met die gevegte 40 jaar later tussen die Britte en die Zoeloes by Rorkesdrift en Isandlwana.
  13. Met baie beter en moderner wapens is 850 hoogs opgeleide Britse soldate in daardie gevegte deur minder Zoeloes uitgewis.
  14. Die Zoeloes het gewoonlik in die nag aangeval – vergelyk Bloukrans en Boesmansrivier.
  15. Om een of ander onverklaarbare rede wag hulle egter tot dit lig word.
  16. Daar was later ʼn Zoeloe-weergawe van die slag wat vertel het van die lanterns rondom die laer wat in die mis gelyk het asof die bonatuurlike die Voortrekkers beskerm.
  17. Die digte mis wat in daardie tyd van die jaar in daardie dele van Natal in die oggend voorkom, het die Voortrekkers bekommer.
  18. Die nat mistigheid het ʼn uitwerking op die kruit van hul outydse voorlaaiergewere gehad. Dit het ook gemaak dat jy niks kon sien nie.
  19. Tog – toe die dagbreek – was daar daardie oggend geen mis nie.
  20. Elk van die 57 of 64 waens het 10 tot 12 osse gehad en die 464 trekkers en werkers het perde gehad wat beteken het dat meer as 1000 stuk vee en lewende hawe binne die laer was. Met die geskreeu, skote wat afgeskiet word, die kanonvuur en die Zoeloes se waldhorings, was dit ʼn wonderwerk dat hulle nie uit die laer gebreek het nie.
  21. Die jong Zoeloe-krygers wou die ou manne wys wat hulle kan doen. Daarom val die Zoeloes, anders as gewoonlik, nie almal gelyk aan nie. Die jonges wou die oues beïndruk deur sommer alleen die taak af te handel; ensovoorts.
  22. As dit nie die ingrype van God in ʼn volk se geskiedenis is nie – dan weet ek nie – al sê die sogenaamde “slimmes” ook wat.
  23. Die Gelofte is daarom bindend.

Wat maak ons hier? Ons kom ons kant van die Gelofte na.

  1. Wat maak ons dan vandag hier?
  2. Ons kom ons kant van die Gelofte na – ons drie punte:
    • Ons is hier om die dag as ʼn dankdag soos ʼn Sabbat deur te bring. Ons het reeds ʼn diens gehad;
    • Daar is ʼn huis tot God se eer gebou – ʼn kerkie in Pietermaritzburg;
    • Ons dra derdens dit wat gebeur het, aan ons kinders oor asook dit wat ons as Afrikaners uit daardie gebeure moet leer. Nie om op die oorwinning as ʼn Voortrekker-prestasie te roem nie maar om “die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.” (Gelofte se woorde)
    • U doen dit elkeen individueel – maar ek sien dit ook as my taak om te help om hierdie derde deel na te kom — naamlik om ons kinders hiervan te vertel en so te verseker dat die Gelofte van geslag tot geslag oorgedra word. Daarom is ek dankbaar oor al die jongmense teenwoordig.

(Hierna het die toespraak oor die huidige toestande in Suid-Afrika gehandel en veral die kwessie hanteer dat ons geskiedenis tans eensydig en negatief aangebied word. Afrikaners het foute in die verlede gemaak, maar ook baie prestasies behaal en ʼn groot bydrae gemaak om Suid-Afrika ʼn ekonomiese reus in Afrika te maak.  Dit moet genoem en erken word. Tans word Afrikanergeskiedenis en helde as net sleg uitgebeeld om so ʼn verlamming en skuldgevoel onder veral jongmense te veroorsaak, soos die hele debat oor die verwydering van sekere standbeelde.)

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Maggie ·

Ek kan maar net saamstem en AMEN se op Dr. Pieter Mulder se toespraak.
As ons Afrikaners weer gehoorsaam word sal ons land weer normaal word. Ons het afvallig geword. Hoeveel kinders weet vandag van die gelofte?
Dit word nie meer in skole geleer nie. Waar moet hulle dit dan leer. By die ouers. Vertel ons ouers nog ons kinders van ons wonderlike God wat tot alles in staat is?

Hennie Kuit ·

Ek glo dat daar met die gebeurtenis waarna ons verwys in 1838 ‘n Goddelike ingryping was. Daar was ‘n gelofte aan God gemaak. Die Voortrekkers was die oorwinnaars deur God se toedoen. ‘n Gelofte aan God is verseker bindend.
Egter die Zoeloes is nog altyd in ons midde, hulle is nie uitgewis nie, ook dit was God se wil. Dieselfde God aan wie die Gelofte gedoen is het ons ‘n opdrag gegee om te versoen, moenie die versoeningsgedagte verkleineer nie.
Matteus 43 tot 45:

43.Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat.’ 44 Ek sê egter vir julle: Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; 45. sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is, aangesien hy sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges.

GES ·

Dit was nog nooit die bedoeling van die meeste mense om die versoeningsgedagte te verkleineer nie. Wat egter soos ‘n paal bo water staan is dat die geloftedag NIE met ‘n versoeningsdag vervang kan word NIE. Daar is plek vir beide as daar ‘n behoefte vir ‘n versoeningsdag is. 16 Desember is ONONDERHANDELBAAR !!

Izzy ·

Wonderlik om nog te hoor hoe ‘n leier (Vryheidsfront) sy (en sy nasie) se afhanklikheid van God, erken.

Frik Lotz ·

Ons mag nooit die Gelofte vergeet nie en moet dit getrou herdenk. Die Afrikaner moet net op God vertrou, n Godvresende volk bly en leef soos God vir ons sê in Sy Woord. Wie kan teen ons wees as God vir ons is! Ons sal wel weer ons vryheid herwin. Staan sterk, staan saam my volk!

Shannon ·

Dottor Muller – beroeps polliekus, kommunikasie akademikus, verteenwoordiger van alle minderhede, en nou ook amateur domini.

Pssssst ! In die tyd voor die senotaaf het die Zoeloes honderde trekkers vermoor, in die tyd na hierdie plegtige onderneming van die god vresende voorouers staan die syfer op derduisende.

Wat het fout geloop ? Straf die almagtige ons ? Kort ons `n vars nuwe gelofte ?

Werner van Vuuren ·

Dr Moulder, ‘n baie mooi toespraak. Eerstens moet ons historikuste nader getrek word en moet die ware Gelofte weer in ons midde kom, want die betekenis van die Gelofte wat julle Afrikaners aan ons Boere voorhou is VALS!
Ek verwys overgesetsynde na die Joernaal van Jan Gerritse Bantjes. Wanneer ons daardie Joernaal wat deur Sarel Cilliers, Andries Pretorius en Kommandant Landman gedikteer was ter plaatse aan die heer Bantjes juis vir die doel van die nageslag sou lees, sal ons die waarheid ken…
Ek verwys in spesifiek na die uittreksel; ” ..EN DAT WIJ EEN TEMPEL TOT ZIJN EER STICHTEN, ZULLEN WAAR HET HEM ZOU BEHAGEN…”
Met ander woorde, DIE VOLK HET ONDERNEEM OM ‘N TEMPEL VIR GOD TE WEES! NIE ‘N KERK TE GAAN BOU NIE! Dan moet ons verder verstaan wat die agtergrond van hierdie Boere was, hulle was STOERE PROTESTANTSE LUTHERANE, nie Calviniste nie! Die Calviniste wou nie eers SA toe gekom het nie, want hier was geen “Kerk” nie, daar het nie eens 1 predikant, dominees of wat ookal ‘n mens die professie behoort te noem bereid gewees om saam met die Boere te trek nie, NEE MY VOORVADERS HET MET ‘N STATE BYBEL IN DIE WAKIS GETREK, WANT HULLE WAS GELOWIG GENOEG, HULLE HET DIE WOORD GEEET, SLAAP EN DRINK, DIT WAS HULLE ALLES! KINDERS IS DAARUIT GELEER LEES EN SKRYF, DAARVOLGENS IS GEBOER EN GETREK.
Dan vra ons Boerevolk waarom dit met ons gaan soos dit gaan, oom Pieter ek is nie ‘n Afrikaner nie, ek was onlangs by ‘n vergadering wat deur oom toegespreek is hier op Potgietersrus, en dit gee my ‘n kramp op plekke wat ek nie eens geweet ek het nie, wanneer julle politikuste en die kerk alles wat vir ons Boere iets beteken “hi-jack” tot julle veelvoudige voordeel! Dit is tyd dat daar verstaan moet word, om ‘n kerk te gaan bou, ‘n tempel op hoogtes vol heidense simboliek en dit aan ons Boere voor te hou as ons tradisie moet ‘n dringende einde kry. Die Here straf ons Volk omrede ons nie ons deel van die kontrak nakom nie, ons Volk is lankal nie meer vir Hom ‘n Tempel nie, ons is so deur die Kerk en politiek opgeslurp dat ons, ons verantwoordelikheid teenoor ons God gerieflik vergeet, want die Boere het mos 177 jaar die Zoeloes reeds oorwin. Die grap van alles is, ons het nou weer ‘n Zoeloe oor ons. Ons Volk kort ‘n ware leier, met respek gese!
die daarsulkes wat die Joernaal van Bantjes wil bekom, asook ons Volksgeskiedenis soos goed nagevors is welkom om jou e-pos adres aan my te stuur, ek versend graag, dit tyd het aangebreek dat die wereld die waarheid moet leer ken!
[email protected]

Frik Lotz ·

Werner van Vuuren, dr. Pieter Mulder is n goeie en opregte mens met hope integriteit en hy gee om vir sy mense en veg vir ons regte en belange. Afrikaners en Boere is in elk geval dieselfde volk en ek is n trotse Boere-Afrikaner!

Shannon ·

Frik, die doktor is soos sy pa – polities opportunisties en loopbaan gerig.
Volgens hom was “verteenwoordiging” van kardinale belang vir die Afrikaner tydens die eerste nasionale verkiesings in die 90’s toe hy en die generaal die regering binne gestorm het namens alle Afrikaners.
Dit gaan lankal nie meer oor sy besondere goedheid, integriteit en opregtheid nie.
Die vraag is : Wat het hy in meer as 2 dekades dus bereik ?

Gerrie ·

Wanneer na die inhoud van die gelofte gekyk word is dit duidelik dat die Voortrekkers besef het God is soewerein. Hy kan doen wat hy wil. Hy kan die oorwinning gee of nie. Hy is nie afhankIlik van ‘n gelofte nie. Die gelofte kom nie as ‘ voorwaarde nie. Die gelofte is nie in die 2de persoon ekv gedoen nie. Nie “as U……….” nie, maar in die 3de persoon ekv, “as Hy………. ” Dit lyk vir my, uit die gelofte, dat die Voortrekkers onder mekaar ooreengekom het, dat “as Hy ” die oorwinning gee, hulle Hom sal eer soos die gelofte dit verder aandui. Die ooreenkoms het ‘n gelofte geword, met die oorwinning. Die oorwinning was God se soewereine genade.

Gert ·

Piet hou op praat en doen iets daad werklik nou oor mense wat elke dag op plase en in stede vermoor word .

Flippie ·

Ek gaan nie meer na geloftefees herdenkingds nie. Want daar word net oor versoening gepraat.

Dit is nie nou tyd vir versoening nie. Dit is tyd dat ons om vergifnis smeek omdat ons, ons Godgegewe erfnis vir minder as ‘n pot lensiesop verkwansel het. Dan kan ons weer ‘n verbond met ons God herstel.

Hy sê elke dat vir ons wat sy wil is. Ons wil net nie hoor nie.

GES ·

Daar was ook ‘n engelse landdros uit die Kaap en groepie bruin mense saam met hom in die laer tydens die slag van Bloedrivier. Hierdie betrokke mense wou egter nie die gelofte aflê nie en het die laer direk na die slag verlaat en hulle eie koers ingeslaan. Hulle almal is na ongeveer ‘n maand vermoor en hulle lyke is deur verkenners gevind. Die gelofte het meer betekenis as wat ooit besef sal word.

Ouboet ·

Ek is ‘n Afrikaner met voorsate wat in die “Kolonie” gebly het met die Groot Trek want hulle was te arm om saam te gaan. My voorsate was nie by Bloedrivier nie en het geen Gelofte afgelê nie. Ek dink nog altyd dat dit baie aanmatigend is van Afrikaners om ons almal te bind aan ‘n gelofte wat deur ‘n handjievol mense gemaak is toe hulle bedreig gevoel het. Nee, ek en my mede Afrikaner familie vier nie Geloftedag nie. Hieroor word ek verguis, maar ek dink die Vrymesselaars sit agter die hele storie. Piet Retief was een en op ‘n missie vir die beweging. Daar is meer politiek en geraamtes in die kas oor die Groot Trek, Gelofte ens. as wat enige Afrikaner wil erken

GES ·

Ouboet, daar is baie stories oor Piet Retief. Daar word onder andere ook beweer dat hy bankrot was en die groot trek hom die geleentheid gebied het om van sy skuldeisers weg te kom. Maar daar gelaat. Ek persoonlik kom uit ‘n skotse familie (1820 britse setlaars). Volgens sommige mense is ek net ‘n Suid-Afrikaner en nie ‘n Boere Afrikaner nie. Ek beskik ook nie oor voldoende bewyse dat enige van my voorsate aan moederskant in die laer van Bloedrivier was nie. Ek kon seker ook geredeneer het dat die gelofte nie op my van toepassing is nie. Ek het baie jare gelede reeds ‘n besluit gemaak soos Rut van die Bybel dat die Boerevolk my volk is en ek hulle God sal dien, hulle taal sal praat en deel sal word van hulle kultuur. Ek was nog nie ‘n dag spyt nie en ek het my kinders ook so opgevoed. Hierdie besluit het my ook genoop om die gelofte te aanvaar en te onderhou asof ek dit self afgelê het. Die rede waarom ons volk in so ‘n toestand is, is omdat ons ankers uitgepluk is en ons identiteitloos rondploeter.

Henry ·

Als goed en wel.
En so kan mens die Bloedrivier Gelofte as een van die talle ‘ankers’ van Afrikanerdom ervaar. Soos die Rebellie, Konsentrasiekampe, ABO, Verengelsingsbeleid, ens ens.

My mense en ek deel ook Ouboet se oortuiginge wat die Gelofte betref.

Andere en ekself het by verskeie geleenthede allerlei geloftes en beloftes gemaak, wanneer die nood druk en lewensgevaarlike omstandighede die hoof gebied moes word. Nie een van ons verwag nou of iewers vorentoe dat enige ander siel – insluitende familie – hulself daaraan hoef te vebind nie.

Is maar hoe dit is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.