16 Desember – ʼn dag om te onthou of ʼn dag om te vergeet?

Die bydrae is saamgestel deur Douw Kruger.

voortrekkermonumentIn Suid-Afrika lok die datum 16 Desember ʼn geweldig positiewe óf geweldig negatiewe reaksie uit, wat daartoe lei dat party mense die dag in herinnering wil hou en ander dit wil vergeet. Talle mense gedenk die dag deur byeenkomste in die vorm van kerkdienste landwyd te hou, terwyl die meeste mense dit soos ʼn gewone vakansiedag deurbring of Versoeningsdag vier. Vir sommige mense is 16 Desember as Geloftedag ʼn dag van besondere betekenis, maar vir baie ander is dit ʼn dag wat aanstoot gee.

Die vraag ontstaan of dit werklik ʼn dag is om te onthou en of dit eerder ʼn dag is om te vergeet?

Miskien is dit sinvol om op dié vraag te reageer vanuit ʼn historiese vertrekpunt.

Traktaat in ʼn leersak

So vroeg as 1830 het verskeie Voortrekkergroepe uit die Kaap na die binneland en noordelike dele van Suid Afrika getrek om weg te kom van die Britse oorheersing. Die doel van dié Groot Trek was ook om ʼn beter heenkome te vind en in vrede te kan voortbestaan. Talle ontberinge het die Trekkers in die gesig gestaar: Daar was riviere en die Drakensberge om oor te steek met ossewaens; daar was ysige winters sonder veel beskutting; dae sonder genoeg kos; siektes soos malaria; daar was roofdiere en aanvalle van inheemse stamme asook die onsekerheid van waar hulle ʼn vreedsame tuiste sou vind.

Een van hierdie trekgroepe onder leiding van Piet Retief het koers gekies na Natal met die doel om te gaan onderhandel vir ʼn grondgebied. Retief, 69 wit Trekkers en 30 swart werkers het in Januarie 1838 Dingaan, koning van die Zoeloes, ontmoet om te onderhandel vir grondgebied.

Dingaan wat sy halfbroer Shaka vermoor het en die koningskap oorgeneem het, was nou in beheer van die Zoeloe-koninkryk wat ʼn groot gebied noord en suid van die Tugelarivier ingesluit het. ʼn Ooreenkoms is aangegaan dat Retief en sy manskappe eers 300 beeste wat van die Zoeloes gesteel is deur opperhoof Sikonyela moes terugbring as toets van hul lojaliteit en betroubaarheid. Nadat die beeste wel teruggebring is, is daar ʼn akte van oordrag geteken, ook genoem die traktaat, vir ʼn gebied suid van die Tugela-rivier tot by die Umzimvubu-rivier suid van Durban of Port Natal soos dit toe bekend was.

Ná die ondertekening op 4 Februarie 1838 het Dingaan aangedring dat die Trekkers en hul werkers saam moes feesvier. Tydens hierdie viering is die hele groep Trekkers en die werkers op 6 Februarie 1838 wreed vermoor by KwaMatiwane, ʼn koppie buite die Zoeloestad Umgundgundlovu, en hul lyke is by die kranse afgegooi. Eerwaarde Francis Owen wat destyds sendingwerk onder die Zoeloes gedoen het, het die gebeure deur sy teleskoop gade geslaan toe hy die angswekkende gille en geskree gehoor het. Hy het uit vrees vir sy lewe gevlug en is terug na Engeland. Die traktaat is later deur die Trekkers in Retief se leersak by sy lyk gevind.

Daarna is intensiewe aanvalle deur die Zoeloes geloods op verskeie Trekkergroepe en meer as 280 Trekkers en meer as 250 swart werkers is gedood terwyl 25 000 stuks vee gebuit is. In Port Natal is meer as 600 mense vermoor. Hierdie agressiewe gebeure het die oorblywende Trekkergroepe genoodsaak om hulself te verdedig en teenaanvalle te loods om hulself en hul werkers se voortbestaan te verseker.

ʼn Gelofte wat die hele laer insluit

Die oorblywende gesinne van Piet Retief se groep en ander Trekkerlaers is te hulp gesnel deur Andries Pretorius wat die leier was van ʼn kommando. Aangesien die Trekkers gelowiges was wat uit hul wakis-Bybels en vertroue op God geleef het, het hul ook gepas ʼn geestelike leier, Sarel Cilliers, gekies om hulle geestelik by te staan. Daar is daagliks oggend- en aandgodsdiens gehou waartydens alle mans moes kniel in gebed. Cilliers het in hierdie angswekkende en lewensbedreigende omstandighede dit goed gedink om ʼn gelofte saam te stel, waarin die hulp van God dringend en smekend ingeroep is. Hierdie gelofte herinner sterk aan dié van Jakob in Genesis 28:20-22.

Die gelofte is van 9 tot 15 Desember 1838 elke aand tydens huisgodsdiens voorgelees en as ʼn gebed ernstig aan God opgedra om sy beskerming op die hele laer af  te smeek.

Op 15 Desember 1838 was dié groep Trekkers in die omgewing oos van Dundee, naby die Ncome-rivier, toe die verkenners aangejaag kom met die tyding dat ʼn baie groot Zoeloemag op pad was na hulle. Daar is dadelik ʼn laer met die 64 ossewaens in ʼn vorm van ʼn D getrek, in ʼn hoek wat gevorm is deur die Ncome-rivier aan die een kant en ʼn diep donga aan die ander kant. Dit was die enigste beskerming in hierdie boomlose en skuilinglose vlaktes.

In die laer was daar 464 Trekkers, drie Britte, ongeveer 100 Zoeloes en ongeveer 220 swart werkers. Saam met al die mense was daar ook ongeveer 650 osse en 750 perde in die laer wat ongeveer die omtrek van ʼn atletiekbaan gehad het.

Die wapens tot hulle beskikking was drie kanonne wat swaar op kruit en stadig te laai was, voorlaaiers as gewere wat moeite geverg het om te laai en wat dikwels nie gewerk het in vogtige omstandighede nie, en veghekke. Die veghekke, wat soos houtlere gelyk het, is aan die buitekant van die laer tussen die wiele van die waens vasgebind sodat niemand onder of tussen die waens kon deurkruip nie.

In die donker maanlose nag van 15 Desember 1838 is die laer omsingel deur 16 000 tot 20 000 Zoeloes, wat hul aanvalsuksesse gebou het op nagaanvalle en die briljante bulformasie wat deur Shaka uitgedink en geïmplimenteer is. In hierdie formasie het twee groepe soldate van 4000 tot 5000 elk die horings van die bul gevorm, terwyl nog 4000 tot 5000 soldate die kop was en nog 4000 tot 5000 soldate die lyf van die bul voorgestel het. Werpassegaaie is deur die horinggroepe van die formasie gebruik waarvan elke soldaat ongeveer drie gedra het en tot 50 meter ver daarmee kon gooi. Daarna het die kop- en lyf-groepe van die bulformasie, steekassegaaie gebruik om die vyand finaal af te maai.

Geen aanval het die nag van 15 Desember plaasgevind nie en dit word toegskryf aan die beskermende hand van God as gevolg van die volgende redes. Die digte mis wat die nag op die laer toegesak het, het die sig en beweging van die aanvallers in die veld, deur die rivier en die donga belemmer, terwyl die dowwe ligskynsel van die lanterns op die sweepstokke in die mis ʼn onheilspellende en onsekere gevoel by die bygelowige  aanvallers gewek het, soos later vertel deur oorlewende Zoeloes. Daar was verder geen geluide van die diere wat hul presiese posisie sou veraai het nie. Toe die mis op die Sondagoggend 16 Desember 1838 teen 06:30 skielik ooptrek, het die son helder geskyn en die gewere het gewerk ten spyte van die nattigheid. Tydens die geveg van ongeveer vyf uur is slegs drie Trekkers gewond terwyl 3 000 aanvallers gesterf het en die res gevlug het.

Daar is dieselfde middag, op 16 Desember 1838, ʼn dankdiens gehou waarin alle eer aan God gegee vir sy redding van die ganse laer met al sy mense. Twee jaar later, in 1840, is die kerk wat die Trekkers in die gelofte onderneem het om te bou, tot eer van God gebou in Pietermaritzburg om hierdie wonderwerk te gedenk. Daar is jare later in die gees van liefde en vergifnis ook sendingstasies, skole, hospitale en kerke vir die Zoeloes gebou in die omgewing.  

Die gelofte

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde,

om ’n gelofte aan Hom te doen;

dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee,

ons dié dag en datum elke jaar as ’n dankdag,

soos ’n sabbat sal deurbring

en dat ons ’n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag

en dat ons ook aan ons kinders sal sê

dat hulle met ons daarin moet deel

tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte,

want die eer van sy Naam sal verheerlik word

deur die roem en die eer van die oorwinning

aan Hom te gee.

Opmerkings

  1. Die gelofte is deur gelowiges in nood aan God gedoen.
  2. Die gelofte sluit almal in die laer in God se beskerming in (die laer met al die mense daarbinne se lewe was in gevaar)
  3. Daar word belowe dat ʼn dankdag elke jaar, soos ʼn sabbat, gehou sal word ter ere van die beskermende hand van God.
  4. Daar word belowe dat ons hierdie wonderdaad in ons geskiedenis met ons kinders sal deel sodat daar ontsag vir Hom sal wees en Hy verheerlik sal word.
  5. Die roem en eer word aan God gegee.
  6. Die gebeure en gelofte gaan nie oor ʼn rassestryd nie. Die hele gemengde laer was bedreig deur moordenaars en is gered deur God.

Bybelse opdragte

Ons groot opdrag as Christene om dissipels te maak van alle nasies en hulle te leer om alles te onderhou wat God voorskryf (Matteus 28:19,20) is geskoei op die openbaring van God as Skepper, Beskermer, Versorger en Verlosser deur sy Woord, deur die natuur en deur die geskiedenis. Die skeppingsverhaal, die verlossing, versorging en beskerming van Israel in die Ou Testament sowel as die lewe van Jesus op die aarde en die verlossingsplan is deurspek van wonderdade wat alles deel vorm van ʼn besondere evangelie waarvan ons moet getuig.

Opdragte om van sy wonderdade te getuig vind ons onder meer in:

Deuteronomium 4:9: Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak.

Deuteronomium 5:15: En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ʼn slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ʼn sterke hand en ʼn uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.

Josua 4:21: En hy het met die kinders van Israel gespreek en gesê: Wanneer julle kinders later hulle vaders vra en sê: Wat beteken hierdie klippe? Dan moet julle dit aan julle kinders bekend maak en sê: Op droë grond het Israel deur hierdie Jordaan getrek, deurdat die HERE julle God die water van die Jordaan voor julle uit laat opdroog het, totdat julle deurgetrek het, soos die HERE julle God gedoen het met die Skelfsee wat Hy voor ons uit laat opdroog het, totdat ons deurgetrek het; dat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die HERE sterk is, sodat julle die HERE julle God altyd mag vrees.

Psalm 96:2: Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag.

Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders. Want die HERE is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode.

Psalm 105:1: Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend.

Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.

Exodus 9:16: Maar juis hierom het Ek jou (Farao) nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle (Israel) my Naam op die hele aarde kan verkondig.

God het van Israel, wat ʼn gemengde laer was (Exodus 12:38), verwag om die pasga gereeld te vier ter gedagtenis aan die wonderbare verlossing uit skynbaar onmoontlike situasies van Egipte tot Kanaan. Dit moes hulle doen al het daar duisende Egiptenaars gesterf en ten spyte daarvan dat daar Egiptenaars in hulle eie laer was wat kon aanstoot neem!

Soos dit van Israel verwag was om te getuig van die wonders in hulle geskiedenis, so het ons ook ʼn verpligting om van die wonders in ons eie geskiedenis en eie lewens te getuig in opdrag van God, sonder om dit uit te buit vir politieke gewin of enige ander redes.

Laat ons nie vergeet nie

Dit is duidelik uit die Skrif dat God nie wil hê dat ons sy wonderdade moet vergeet of verswyg nie en ʼn deeglike studie van Psalm 78 bevestig die erns van hierdie gedagte.

Psalm 78 : 3-7  (Lesse uit die geskiedenis)

(3)  Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het,

(4)  sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.

(5)  Hy tog het ʼn getuienis opgerig in Jakob en ʼn wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het – om dit aan hulle kinders bekend te maak,

(6)  sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders,

(7)  en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar,

Dit blyk ook verder dat om van sy wonders te vergeet en te verswyg daartoe lei dat God se eer gekrenk word en dat dit sonde is.

Psalm 78:10: Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet.

      (11)  En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het.

Psalm 78:32: Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie.

Psalm 78:41: en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk.

   (42)  Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander

verlos het nie; (43) toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die

veld van Soan.

Geloftes word gewoonlik gemaak in tye van nood en raak ook die toekoms en voorspoed van nageslagte. Dis ’n ernstige saak en daarom verwag God dat dit betaal moet word ter erkenning van sy verlossingsdade en genade. Om dit te vergeet is sonde!

Psalm 50:14,15: Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste … en roep     My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.

Deuteronomium 23:21: As jy aan die HERE jou God ʼn gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.

16 Desember, Geloftedag, is veronderstel om ’n gedenkdag te wees tot eer van God om dank en lof te betuig vir sy beskerming en redding aan ’n gemengde laer wat verskeie kulture verteenwoordig het en wat hulle en hul nageslagte se voortbestaan aan Hom te danke het. Dit is nie die Trekkers wat ons aan hierdie dag bind nie, maar God. Dit is tyd om die skade wat deur politiekery aan die doel van die dag aangerig is te herstel – dis ’n dag om te herdenk tot eer van God.

“In ’n oorsig van ons geskiedenis en in die nagaan van elke tree vorentoe tot waar ons nou staan, kan ek sê: Prys die Here … Ons het niks te vrees vir die toekoms nie tensy ons vergeet hoe die Here ons gelei en onderrig het in ons geskiedenis.” (EGW, Life Sketches p. 196)

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

20 Kommentare

Sarel Strydom ·

” Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die kag ,o Here,om te handhaaf en te hou –
Dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste,teen die hele wereld vry.

Soos ons vaad’re vertrou het,;leer ons ook vertrou o Heer:
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer”
(Laaste strofe van ons Volkslied soos geskryf deur C.J.langenhoven: Het ons hierdie Gebed vergeet?

Johann Marx ·

‘n Dag om te onthou, of ‘n dag om te vergeet? ‘n Dag om te vergeet as jy net bereid is om in jou kampstoeltjie onder ‘n boom te sit, en die verlede (verkeerd ook nog) in herrinnering te roep, en te kla oor alles wat jou nie geval nie. ‘n Dag om te onthou as jy opstaan waarvoor jy gebid het, glo dat God jou gebed verhoor het, en opstaan vir dit waarvoor my en voorvaders hulle lewe gegee het, en hierdie land terug vat by die massas wat duidelik bewys het oor 20 jaar, dat hulle GEEN idee het hoe om ‘n land suksesvol te regeer nie…..laat staan nog vooruit te laat boer. Jy kan kies wat jy van hierdie dag wil maak………..

Toffie ·

Geloftedag was nie deur my ouers of húlle ouers, vriende of familie gehuldig nie. Dit was maar net nog ‘n vakansiedag. Vir my is dit baie belangrik en dit sal nie reg sit in my hart om dié dag te vergeet of ontheilig nie. Dis net iets wat ek moet doen. Dankie vir die puik artikel.

antonie ·

Ek vra vir Maroela, hoekom kan ek nie ‘Copy’ op hierdie blad nie.
Ek sou graag wou n kopie van die blad en ‘replies’ wou gehad het
vir n geskiedenis en politieke ding wat ek saamstel, n hmtl vat so
baie ‘bytes’

Gerhardt ·

Dis my keuse om te sê; “Alle eer aan God”. Ek wens soms ons mense het gedurende die Anglo-Boere Oorlog ook ‘n ernstige gelofte gemaak.

marianne ·

MY VOOROURS AAN MOEDERS KANT HET VIR SUID AFRIKA GESTERF. My oupa groot Eerwaarde Erasmus Smith na wie my broer vernoem is het die Gelofte afgele. EK SAL NIE VERGEET NIE EK MAG NIE VERGEET NIE! Eendag sal my kind ook sy voorouers en hul trots ken. DIS ONS EER DIS ONS REG – ONS MAG ONTHOU EN ONS MAG HERDENK. DIE GELOFTE WAS NIE POLITIES GEMORIFEER NIE!!! DIT WAS ‘n PLEIDOOI AAN GOD.

Ronnie ·

Een van die mees gesagshebbende persone oor die geskiedenis van Suid Afrika, die destydse Professor van Geskeidenis aan die Pretoria universiteit, Floors van Jaarsveld, is deur die regerende Nasionale Party gevra om die omstandighede van die Slag van Bloed Rivier na te vors, reeds agv verwarrende teensprake in die destydse literatuur. Hy het openhartig en onpartydig die beskikbare feite (let wel – nie opinie nie) aan die NP oorgedra en is deur hulle veroordeel, vergruis en agteraf intelektueel en persoonlik gesaboteer. Ook later deur Eugene Terblanche in die openbaar geteer en geveer (en ons almal weet hoe Terblanche se lewe verloop het). En vir die wat van die heup af wil skiet, ek probeer nie die belangrikheid van Bloed Rivier misken of verminder nie. Dir bly ‘n mylpaal in ons geskiedenis! Ek wonder egter nou net – wat was in die studie stuk wat so ontstel het. Weet ons werklik die volle waarheid soos deur die feite weerspieel, of verlaat ons, ons op romantifisering van die gebeurtenis? En belangriker nog, wil die meeste van ons dit regtig weet?

Frik ·

Dit is iets om oor te wonder…in die geval wat dit waar is. Maar dit is wel gedokumenteer dat die aanval wel plaasgevind het. Die enigste plek vir “romantisering” in Die geskiedkundige gebeurtenis, lê(soos altyd, met merkbare gebeurtenisse) in die nommers en die gebruik daarvan. En ek glo meeste Afrikaners sal heel tevrede wees sou die nommers n totale ander storie vertel waarin net 50 Zoeloes gesneuwel het en net 5000 aangeval het as n eenvoudige voorbeeld…dis nogsteeds n oorweldigende mag wat hulle te si gestaar het. Al was die nommer 3000 of 2000 sal dit steeds n dag bly om te herdenk, punt is hulle kon nie reg kry wat hulle wou nie, en dit was n totale oorwining oor die laer. Alhoewel almal van ons seker is dat die mag wat aangeval het heelwat groter was en meer as 100 Zoeloes moes sterf vir n taktiese terugval om te gebeur het…anders maak niks van dit sin nie en die hele dag het nie gebeur nie. Daar is sekere minimum vereistes wat n gebeurtenis soos dit benodig om aandag te trek en te behou deur die eeue, en daar is n punt waarby enige argument teen dit uit mekaar val omdat die “natuurlike, sosiale, geskiedkundige”vereistes wat geboorte aan die gebeurtenis gegee het, nie teengestaan kan word nie anders sou dit tog nooit aan die gebeurtenis geloofwaardigheid gee in die eerste plek nie….dink aan n paradoks. En kom ek sê jou, ek is tevrede met die minimum soos bo aangedui. Al het 50 van hulle gesterf en 10 van ons bly dit n goeie dag.

marianne ·

Ronnie my vriend..
Liewe dierbare Ook Eugene het sy eie sieninge gehad min het van hom gehou maar hy was ook gelowig. My hele familie was – is en sal altyd gelowig wees en God in alles ken. Net Hy sal ons lei en ons dra. Ons Afrikaner nasie het reg om trots te wees en Hom te eer. ONS MOET GELOFTE DAG BEWAAR EN RESPEKTEER.

Francois ·

Dit verbaas my dat mense allerhande ni-godsdienstige konnotasies en verduidelikings aan die Gelofte gee. Sekerlik was hulle nognie by Geloftefeesvieringe en ook reeds by Bloedrivier tydens die vieringe daar nie, ek woon Geloftedienste by die afgelope 20 jaar met een keer by Bloedrivier en die res by die voortrekkermonment. Elke keer kom ek tot die besef dat enige vernuf of geluk aan die boere se kant niks met die ooewinning te doene gehad het, slegs God se genade. Daardie paar trekkers kon op geen manier soveel Zulus met die wapentjies tot hul beskikking oorwin nie. En dine gebondenheid aan die gelofte?, as jy nie so voel om dt te eer ne s dit jou saak en nie nodig om af te kraak en met kinders se koppe teen rotse slaan-stories te kom nie. Die agtergrond en milieu waarin daarde vers geskryf is, het betrekking op ‘n ander situasie wat God aan primitiewe Isrealiete wou wysmaak met beeldspraak. Ek en my kinders sal die Gelofte eer want dit is wat die Afrikaner nodig het om weer genade van God te ontvang in hierde land.

Onthou ·

Ek is n jong man en het eers so twee jaar gelede uit gevind waaroor gelofte dag gaan. As kind is dit nooit in ons huis geken of gevier nie. Dit is ‘n besonderse belangrike deel van ons geskiedenis wat nooit vergeet mag word nie en waartoe ons getrou moet bly. Miskien is dit dalk een van die redes waarom ons vandag onderdruk word; ons het ons gelofte vergeet!

Kleinmiertjie ·

Liewe Oom Kallie. Jou woorde laat my wonder… beteken dit om Afrikaner te wees is dié groot voorvereiste dat jy ook christen moet wees. Dis nogal eng sou ek sê. Jy kan liefde in jou hart, trots vir jou kultuur en respek vir ander hê, ongeag wat hulle sienswyse mag wees al is jy nie christen nie. Sterkte vir Oom.

Lynet ·

Alle eer aan GOD ons VADER en VERLOSER. Dankie vir die skrywe ek dink ons almal vergeet soms. Mag elkeen van ons die fees tyd in GOD se skoot wees.

Avril-Pretoria Noord ·

Ons voorouers het ‘n heilige en bindende belofte aan die Almagtige God en Skepper gemaak, en beloof om daardie dag te gedenk as n sabatdag tot in lengte van dae. Wat het ons as nasate gedoen, God en die belofte op sy geskuif. Hoe kan ons as volk nou wonder hoekom dt gaan soos dit gaan. God het ons teen die Zoeloe oormag beskerm en die oorwinning gegee. Nou is daar n zoeloetjie in beheer. Dink julle regtig hulle sal dit vergeet en die witman en sy Almagtige God vergewe ??? Nee nie in n duisend jaar nie. Ons MOET terug draai na God en dan sal Hy ons weer die oorwinning gee.

BoereBikerBaby ·

Solank ek lewe sal ek dit ken as gelofte dag. Dit is deel van ons erfinis en geskiedenis. Dis ‘n dag wat ons eer bring aan die Here, die almagtige.

Ek deel graag die geskiedenis vd boer siende dat vandag se geskiedenis in skole nie die helfde van ons land vertel nie. My kinders moet weet waar hul vandaan kom en trots wees om ‘n “boertjie” te wees en saam die dag te fier en lof aan die Here te eer want deur HOM is ons als in staat, nes die boere teen die zoeloes.

Mense moet mekaar se gelowe, geskiedenis en mekaar respekteer. So sal die land ook meer suksesvol wees want op die oomblik is die antichrist in bewind van die land en dis hoekom hy in sy dinges is.

Maga ·

Kleinmiertjie glo jy gaan genoeg tyd aan jou Kant ontvang om INGELIGTE en WYSE lewensbelangrike keuses in jou lewe voorentoe te kan maak. Sterkte

Frik Lotz ·

Dis die plig van die Christen Afrikaner om Geloftedag te onthou en te eerbiedig. n Gelofte aan God mag nie verbreek word nie. Laat ons sterk staan in ons geloof en vertrou op God.

GES ·

@Kleinmiertjie – Ek meen om ‘n Suid-Afrikaner te wees is die spesifikasie wyd en jy hoef nie ‘n Christen te wees nie. Om deel van die Boere Afrikaner volk te wees is die spesifikasies baie spesifiek. Die Boere Afrikaner volk is ‘n gelofte volk en dit is immers tog hoe die volk sy beslag gekry het. Die volk is homogeen in die sin van Godsdiens, kultuur, taal ens.

Marius ·

Baie van die rassisme op dié forum is nie eers subtiel nie. “Die Zoeloe oormag teen die witman en sy Almagtige God”. Dis sommer reguit rassisties. God is vir alle mense. As ek na Afrika se geskiedenis kyk sien ek bitter min Afrikaners wat die Evangelie met opregte bedoelings gebring het aan die mense van Afrika. Ek sien wel Andrew Murray, ‘n Skot, David Livingstone, ‘n Brit en baie ander, maar nie veel Afrikaners nie. Self Emily Hobhouse wat deur Afrikaners so hoog geag is het gekom om hierdie “Agterlike volkie” soos hy gesien is deur die Britte, te kom help. Die groot rede vir wat sy gedoen het was haar Christelike oortuigings. My punt is dat as ek na die trant van die reaksies hoor dan lyk dit nog steeds of dit Christene teen ‘n nie- Christen oormag is, en die Christene is almal Afrikaners. Ek dink dis nog altyd die Afrikaner se probleem. Hy het as gevolg van vervolging en oorlewing (wat beslis deur God se hand teweegebring is), nie die kopskuif gemaak en met dieselfde ywer sendingwerk onder ander volke kom doen nie. Ek weet dat een van die gereformeerde kerke nog steeds nie ‘n duit geld gee vir sendingwerk nie. Die meeste ingryping om die verdraaide “Christelike” leringe soos voorvaderaanbidding gemeng met die Christengeloof, teë te staan kom uit Amerika, terwyl ons die kultuur baie beter verstaan. Ware Christene is nie eksklusief blank nie mense. Afrika is op die oomblik die kontinent wat die meeste sendelinge Europa toe stuur omdat daar so min Christene oor is. Ja ook na die mees welvarende lande soos Denemarke, wat proporsioneel die hoogste ateïstiese bevolking op aarde het. Hulle ervaar geen bedreiging nie. As ons werklik goeie veranderinge wil sien dan sal ons die Gelofte moet aanpas in Suid Afrika, en alle bevoklingsgroepe met ware Christene bymekaar roep en bid vir die redding van ons land. Ek dink persoonlik dis hoe God dit sou wou sien in 1838 ook, want Hy het nog nooit verander nie. Ons taak is nie net behoud van ons geloof nie, maar ook die uitdra van die Goeie nuus. Een van my kollegas se eggenote is ‘n predikant in een van die susterskerke. Van die kerkraadslede het duidelik laat blyk dat hulle die kerk sou verlaat as daar enige anderskleuriges die kerk sou besoek. Ek persoonlik dink God het met permissie gesê lankal onttrek van ‘n kerk wat dit goedkeur. Dis die een plek waar gelowiges van alle kleure welkom behoort te wees, maar dis waar baie van ons Afrikaners nog steeds is. As dit nie gaan verander nie sal ons altyd gesien word as mense wat dink God het hulle meer guns bewys as ander mense. Die gevaar van sulke retoriek is dat elke ou met baie diep rassistiese gevoelens sentimente soos dié ondersteun en dit op die ou end ‘n forum vir regse elemente, wat dink dat die Afrkaner eksklusief God se volk is, word. Ek sien dit al klaar gebeur.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.