1968 – Die jaar wat alles verander het (Deel 2)

1968-mej-amerika-protes

ʼn Protes teen Mej. Amerika-skoonheidskompetisie in 1968. Betogers het gevoel dié skoonheidskompetisie ondersteun die oorlog in Viëtnam omdat die wenner troepe daar moes gaan besoek en bemoedig. Foto: Janet/Thinglink.com

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks oor 1968 – die jaar wat alles verander het, deur Sebastiaan Biehl. Lees Deel 1 hier.

Die nagevolge

Die generasie van 1968 beweer dat hulle op die voorpunt van ʼn beweging was wat ʼn verkrampte, onderdrukkende era, wat amper ʼn voortsetting van die tyd voor die Tweede Wêreldoorlog was, afgesluit het en ʼn nuwe een van beywering vir gelykheid, vrede, vryheid en billikheid ingelui het.

Hulle het dit gedoen wat hulle ouers versuim het om te doen, naamlik om af te reken met militarisme en nasionalisme wat die oorloë veroorsaak het, om hulle te beywer vir ʼn konsekwente oopvlek van die Nazi-gruweldade, om vir wêreldwye solidariteit, gelykheid en bevryding van onderdrukking te werk en om onderdrukte groepe soos vroue en gekleurdes tot hulle reg te laat kom.

Inderdaad het die 1968-onluste sekere politici genoop om in die 1970’s en 1980’s allerhande “progressiewe” besluite te neem wat die 1968-generasie se eise, in ʼn sagter vorm, tegemoet gekom het, soos gelyke regte vir mans en vroue, beter werksomstandighede, gratis hoër onderwys, meer seggenskap vir werkers, seksuele opvoeding, anti-outoritêre opvoeding, vergemakliking van aborsie en egskeiding, ontwikkelingshulp en solidariteit met onderdrukte volke en vele meer. Van dit was sinvol en nodig, van dit vernietigend.

Sonder om die meriete al dan nie van die sogenaamde progressiewe politieke besluite te bespreek, het die student van 1968 geen hervormingsprogram gehad nie, maar emosionele en vernietigende reflekse teen die samelewing uitgeleef. Die oproerige studente het ook nie gestaan vir universele waardes soos vrede, vryheid en gelykheid nie, maar hulle was baie selektief waarvoor en waarteen hulle betoog het.

Hulle het byvoorbeeld sterk teen die Viëtnam-oorlog en die VSA se “imperialisme” betoog, maar oor die brutale onderdrukking van die “Praagse lente” in Tsjeggo-Slowakye deur troepe uit die Sowjet-Unie, het hulle stil gebly. ʼn Romantisering van die Derde Wêreld, kort na dekolonisering, en die onkritiese oorname van die anti-koloniale narratief was ook kenmerkend van die gees van 1968. Regs-outoritêre bewinde soos in Griekeland, Portugal, Spanje, Iran, Suid-Afrika of Suid-Viëtnam is verdoem, maar erger kommunistiese regimes en valse helde soos Ho-Chi-Min, Mao Tse-Dong en Fidel Castro is verheerlik. Ook Links-ekstremistiese terreurgroepe, soos die RAF (Rote Armee Fraktion) in Duitsland of Brigade Rosso in Italië, met rooi as die kleur van kommunisme in hulle naam, was produkte van die 1968-beweging. Die afrekening met die Nazi-era was ook nie ʼn verdienste van die 68’s generasie nie, dit is reeds in die vroeë 1960’s met verskeie hofsake begin en die oproerige studente het sommer alles as Nazi’s gebrandmerk wat teen hulle sin was, maar nie belang gestel in historiese navorsing nie.

Die generasie van 1968 se ware invloed lê nie in die kortstondige proteste en die uitdaag van alle burgerlike waardes nie, maar in die geleidelike insypeling van hulle verwronge denke in die samelewing. Eerder as om die samelewing op kommunistiese manier te wil omverwerp, het hulle die samelewing op strategiese plekke, soos skole en universiteite, die media, dinkskrums, vakbonde, partye en nie-regeringsorganisasies geïnfiltreer om dit te omvorm. In dié opsig was hulle soos die Broederbond, al was hulle ideologie heel verskillend. Hulle siening het oorheersend geword en het die stempel van “progressief en morel regverdig” gekry, sodat min waag om dit te bevraagteken. Die gees van 1968 het so deurgesyfer dat dinge en sienings wat destyds revolusionêr was, vandag as hoofstroom gesien word.

Suid-Afrika is gewoonlik dekades agter die Weste wat kulturele strominge betref, en die golf van die linkse meningsmonopolie het die Afrikaanse universiteite en media eers redelik onlangs met mag getref. Die Broederbond-dosente en meningsvormers het afgetree en selfverklaarde progressiewes swaai die septer.

Vyftig jaar is egter ʼn lang tyd, en min regimes (in die geval nie polities nie, maar sosio-kultureel) bestaan nog langer as dit. Die val van die 1968’er bewind is nog nie in sig nie, maar dit word reeds toenemend uitgedaag deur nuwe generasies wat danksy die internet die meningsmonopolie van die hoofstroommedia kan omseil, wat nie meer alles glo wat onderwysers of dosente verkondig nie en wat hulle ook al hoe minder steur aan die gewone skelwoorde wat hulle trefkrag weens oorbenutting verloor het. Belangriker nog, die appèl op jongmense, dat links “cool” is, vervang nie meer nie. As jy polities met jou ouers saamstem is jy mos nie “cool” nie?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Ek kan verstaan dat outokrasie en gebeure soos die Viëtnam en Koreaanse oorloë teenkanting kan ervaar. Wat egter vir my steeds onbeantwoord bly is wie die katalisator agter die veranderings was. Dit ontstaan nie spontane nie, maar word baie deeglik beplan en n fyn strategiese word gevolg ten opsigte van kritiese massa, taktiek, tydslyn, uiteindelike doelwitte ensovoorts. Wie is die die gesigte agter die massamobilisering?

Casper Labuschagne ·

@Eish, jy is doodreg, daar is ‘n brein en ‘n strategie hieragter asook ‘n breë filosofiese denkrigtig wat vandag by die teenstaanders daarvan bekend staan as kultuurmarxisme. In die eerste deel van hierdie storie het ek ‘n kommentaar gelewer oor die Frankfurtskool se marxistiese akademici wat gedurende die Nazi era na Amerika toe uitgewyk het en daar die denke en bloudruk gevorm het wat tot die beweging van 1968 gelei het, iets wat vandag nog voortduur.

Casper Labuschagne ·

Iets wat duidelik uit bogenoemde artikel blyk en sekerlik vorentoe ook in diepte aandag benodig, is die alternatiewe sienings van elke nuwe geslag. Dit was duidelik waarneembaar onder die 1968 generasie wat kinders was van diegene wat die oorlog meegemaak het en wat lynreg van hul ouers verskil het. Van die begin van die mensdom af was daar sekerlik die wisseling tussen ‘n behoudende geslag en ‘n revolusionêre geslag.

Die wisseling tussen geslagte is vandag merkbaar (en uiters onrusbarend) onder swartmense waar daar ‘n geslag was wat Apartheid self aanvaar het en opgevolg is deur ‘n “Born-Free” geslag wat lynreg van die ouer geslag verskil. Kortweg, waar die ouer geslag hul bevryding as hul hoofdoelwit gesien het, en ook waar die ANC lede wat in die buiteland was eerstehands die verval van ‘n post kolonialisme ondervind het en dit geensins in SA wou herhaal nie, sien die “Born-Free” geslag vergelding en revolusionêre regstelling as hul doelwitte.

Dieselfde verskynsel kom voor onder Afrikaners na die Anglo-boereoorlog waar dit eers die daaropvolgende geslag na die oorlog was wat vergelding en haat teen Britse imperialisme intens nagestreef het, en sodoende die grondslag gelê het vir die Afrikaners se politieke toekoms vir die res van die vorige eeu.

JC ·

Perfek,briljant~! Die 1968 “liberalisme”,waarvan die mees destruktiewe neweproduk definitief die verskynsel van verstikkende politiese korrektheid is; hetsynadirbereik, en die gety is besig om onteenseglik en onomkeerbaar terug te draai na meer behoudende, konserwatiewe en “vars” denke.Die kultureleoorlog is egternogver vanverby,enwaar Fukuyama souvoorspel dat dit met verwysing nadie westers geinspireerde liberale demokrasie en die waardes wat dit inhou “die einde van geskiedenis is”isdit egter nog net die begin!Groot rolspelers in verband met die voortsetting van die 1968 agenda is natuurlik Soros maar hy kry nou teenkanting van alle kante af, vernaam die Oos-Europese lande,Oostenryk en die VSA.Wat vreemd is, is dat die westerse liberale demokrasie ‘n monster geword het wat homself van binneaf opvreet,en dat hy deur hipokrasie en dubbele standaarde besig is om die einste waardes waarvoor hy kwansuis sou staan,te ignoreer in die vernietigende en alles-oorheersende uitvoering vansy liberale agenda,wat teenstand wek!Soos gese, die omdraai punt is egter nou volstoom,onder andere (baie belangrik) omdat die sg. “generasie Y” met nuwe oe en waardering na hulle erfenis en geskiedenis begin kyk,en nie meer hulself gebonde voel aan die liberalisme nie, in teenstelling met Gen X en die sg. “millennials” wat blyk vasgevang te wees in ‘n doolhof van denke- die sogenaamde “eggo-kamer”.

Dank die Here vir die omwenteling want dit is bitter nodig om die (wat voorheen onafwendbaar gedink is) verval van die westerse samelewing te stuit,en sodoende ‘n westerse renaissance in te lui.

Casper Labuschagne ·

@JC Ek hoop van harte dat alles wel sal verloop soos wat jy sê. Die Westerse beskawing is nou vergelykbaar met die punt waar die Romeinse beskawing was na die emansipasie van die slawe as Romeinse burgers en die bevolking van Rome met daaglikse brood en die brutale skouspel van die Romeinse sirkus vermaak moes word bloot om daaglikse opstande te verhoed. Argeoloë bestudeer ou beskawings wat meestal tot ‘n skielike val gekom het, en daar is geen argeoloog wat twyfel dat dit nie ook die uiteinde van die westerse beskawing sal wees nie.

Jacobus ·

Goed gestel, en stem volkome saam.

Ek is gereeld op internet forums waar die marxistiese internet trolle (mit) soos ek hulle noem met alle mag probeer om die gesprek en die waardes van die gesprek te beinvloed en hulle skroom nie om leuns te vertel en die waarheid te verdraai om hulle denkwyse af te dwing nie.

Die trolle kom gewoonlik in ‘n span en terwyl een of twee jou besig hou met opervlakkige en ontwykende andwoorde en vrae sal hulle maatjies navorsing doen, webwerwe stig met verdraaide waarhede en dit dan opdis as die waarheid.

As jy eers die patroon kan agterkom kan jy hulle maklik uitvang en ontbloot vir dit wat hulle is; hulle los die web forum maklik as hulle sien hulle word uitgevang en kan nie ‘n strik vir jou stel om iets verkeerd te sê/skryf op die forum.

Dit is nie maklik as jy alleen is nie want jy kan nie navorsing doen en tik op die selfde tyd nie omdat die trolle net lank genoeg aktief is om hulle stempel af te druk en dan weer te verdwyn.

Die internet gee aan die marxiste ‘n geweldige voorsprong omdat hulle waarheid in die kuber ruim die waarheid word en bly.

Ek hoop maar dat die waarheid sal seevier.

John ·

Soms kom daar mense by jou voorhekkie aan en hulle dwing jou met die smartlikste uitdrukking in hul oe om hul traktate asseblief tog te vat… anders gaan jy nooit, nooit weet watter dag die einde van hierdie smartlike aarde gaan aanbreek nie, en jy weet net, jy moet toegee anders gaan jy nooit weer hierdie voorhekkie kan verlaat nie. Hierdie 1968 moes 1984 gelees het.

TDW ·

Dis soos ‘n vorige kommentator genoem het, hierdie reuse optogte word gewoonlik gefinansier deur iemand wat agter die deur staan. Ek dink enige optogte wat die land onregeerbaar probeer maak word gefinansier deur ‘n groep wat wins daaruit sal put in die lang duur. Volg net die geld.
Net so vir interessantheid. Ons soekenjin (google) word ook beheer om ons denke te verander. Indien jy soek vir iets soos anti-homoseksualiteit of homofobie, word die eerste paar bladsye vorentoe gestoot om jou denkwyse te verander na pro-homoseksualiteit. Indien jy opsoek oor bv Holocaust myths, word die eerste bladsye gegee oor die werklikheid van die Holocaust en die teen bewys van hierdie “myths” voordat jy kan uitvind wat die bewyse is van hierdie “myths”
Ek het my soekenjin verander na duckduckgo, en vind baie meer relevante goed vir my soektogte. Ek het byvoorbeeld die anti-apartheid propaganda gegoogle en uitgekom op apartheid propaganda. Met duckduckgo het ek die resultate gekry wat ek wou hê.
Die media speel die grootste rol in wat ons glo. Die ding is net, google het besluit om webblaaie te verwyder van ‘n soektog wat, volgens hulle, verkeerd of onsensitief is. Die vraag is net; hoe besluit hulle en teen watter riglyne meet hulle dit. Gewoonlik hoef jy net die geld te volg. En google is pro-links.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.