1968 – die jaar wat alles verander het

Protes teen die oorlog in Viëtnam in Vancouver, Kanada in 1968. Foto: John Hill/Commons.wikimedia.org

Deel 1: Aanloop en afloop

Sekere jare word as waterskeidings gereken waarna niks meer dieselfde is nie en waar ʼn era afgesluit word en ʼn nuwe een begin. 1918 was so ʼn jaar, waar met die einde van die Eerste Wêreldoorlog ʼn hele nuwe dispensasie wat in Europa ontstaan het. Ook 1945, waar die Tweede Wêreldoorlog geëindig het en waar die Koue Oorlog en ontwaking van die Derde Wêreld ingelui is, was so ʼn beslissende jaar. Meer onlangs was 1989, waar die kommunisme in die Sowjet-Unie en Oos-Europa tot ʼn val gekom het, ook ʼn waterskeiding en dalk ook 2001, waar die konfrontasie tussen die Weste en radikale Islam die oorheersende tema geword het.

1968, 50 jaar gelede, was ook ʼn waterskeiding. Vir sommige was dit die begin van ʼn bevrydende en belowende nuwe era, vir ander die jaar waar die verval van die Weste onstuitbaar geword het. Die gees van 1968 is in die Weste nog steeds bepalend.

Natuurlik het dit al ʼn paar jaar vantevore begin gis onder jongmense en die idees van die hippie-beweging van hedonisme, vrede en uitdaging van die gevestigde orde en van outoriteit het bygedra tot die studenteonluste van die lente van 1968. Die hippie-beweging was egter eerder spiritisties as polities, en veral grootliks vreedsaam. Die 68-studenteonluste daarteenoor het verder gegaan, hulle wou die samelewing met geweld verander. “Vernietig dit wat jou vernietig” was een van hulle slagspreuke. Provokasie en om alles te bevraagteken was deel van hulle taktiek, maar ook rou geweld, selfs moord, en hulle aansluiting by kommunisme was nie toevallig nie.

In 1968 het verskeie gebeure in verskillende lande saamgevloei om die studenteopstande en alles wat daarop gevolg het, voort te bring. Die Viëtnam-oorlog was al geruime tyd aan die gang en het meer gewelddadig en omvattend en daarmee saam ook toenemend ongewild geraak. Studente het veral in die VSA maar ook elders teen die oorlog begin betoog en in Berlyn was daar reeds in Februarie die internasionale Viëtnam-kongres, met simpatie vir die kommunistiese Noord-Viëtnam. Interessant is ook dat die 1960’s ʼn tyd van voorspoed en modernisering was en dat die proteste veral deur burgerlikes gedra is en net selde oor brood en botter sake gegaan het. Mense raak nie opstandig as hulle niks het nie, maar as die ekonomiese en tegnologiese vooruitgang te vinnig is vir die samelewing om by te hou.

Radikale idees was prominent onder studente in die meeste Westerse lande, en in April en Mei het dit tot uitbarsting gekom. In die VSA was dit veral die burgerregtebeweging wat meer radikaal geword met die sluipmoord op dr. Martin Luther King in April. Eerder as gelykheid tussen die rasse, wat dr. King se ideaal was, het swart rassebewussyn en haat op blankes na vore gekom. In Brasilië was daar studenteonluste teen die outoritêre bewind. Die hoogtepunt was egter in Frankryk en by name in Parys in April en Mei. Aanvanklik het dit oor solidariteit met geskorste studente gegaan, maar dit het vinnig in algehele protes teen die bewind van president Charles de Gaulle en die “verkrampte stelsel” oorgegaan. Gelyktydig met die protesterende studente het linksgesinde werkers op groot skaal gestaak, en talle intellektueles en kunstenaars wat hulle met die studente vereenselwig het, het die nodige agtergrond-ondersteuning gegee. Groot dele van Frankryk was in Meimaand lamgelê deur die grootskaalse proteste en stakings waaraan miljoene mense deelgeneem het. Gewone burgers het ʼn burgeroorlog gevrees, maar dinge het weer bedaar en De Gaulle het die vervroegde verkiesing duidelik gewen. Die generasie van 1968 was egter gevorm en sou hulle duidelik onderskei van hulle ouers (die oorlogsgenerasie) en het alles verwerp waarvoor hulle gestaan het.

In Duitsland was, nes in Frankryk, talle studente in opstand oor ʼn verskeidenheid griewe, van ondemokratiese universiteitsbesture en ʼn tekort aan studentebehuising oor die “Nazi-generasie” wat in beheer was tot “Westerse imperialisme en kapitalisme”. Die verlinkse terroristiese groep Baader-Meinhoff Gang (later RAF) het aanslae op kommersiële geboue en later ook sluipmoorde op verteenwoordigers van “die stelsel” uitgevoer. In Italië was studente in opstand teen ʼn stelsel wat nie met die modernisering tred gehou het nie. In Skandinawië, ʼn baie voorspoedige streek met progressiewe regerings, was die woede veral gerig teen die “rassistiese regimes” in Suid-Afrika en Rhodesië. In Spanje het werkers teen die Franco-diktatorskap in opstand gekom, maar dit is vinnig onderdruk. In Noord-Ierland het die links-nasionalistiese gewelddadige stryd teen Britse teenwoordigheid, wat dekades sou aanhou, begin.

Ook in Oos-Europa was daar proteste, by name in Tsjeggo-Slowakye (Praagse lente), waar die verligte staatsleier Alexander Dubcek hervormings begin het en proteste teen die kommunistiese bewind en die onderdrukking deur die Sowjet-Unie toegelaat het. Dit is bloedig deur die Sowjet-Unie se troepe onderdruk en Dubcek is verwyder. Ook in ander lande in die Oos-blok was daar klein weerstandsbewegings.

In Suid-Afrika, destyds op die hoogtepunt van die NP-bewind, was die klimaat heel anders en die 1968’s-storm kon net as ʼn flou briesie gevoel word. Eers in die 1980’s het die gees van 1968 meer prominent geword, maar dit was nooit ʼn wesenlike faktor op Afrikaanse kampusse nie en het die Afrikaners nooit diep beïnvloed nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Rupert Ashford ·

Verkeerd, die Groot Verandering het eers in 1969 begin toe klein Rupertjie hom by die wereld gevoeg het…:-)

Ek is bly jy noem dat opstand meestal eintik gedryf word deur mense wat nie genoeg probleme van hulle eie het nie, dan maak hulle maar hulle eie om oor kwaad te wees.

Sebastiaan, ek dink jy onderskat ook die heersende gees van die 80’s en vroee 90’s op RSA Universiteitskampusse. Dit het tot ‘n groot mate die nuwe bedeling en veral die “ja” stem in die 92 referendum gedryf.

Nico K ·

Ek glo die opstand gesindheid was sterk onder Engelse universiteite. Baie persone wat daar gestudeer het, het die ANC ondersteun. Sprekers van die Nasionale Party is verhoed om op die kampus te praat.
Maar ‘n ander punt wat my nog al die jare pla is die groot teenstand wat daar in die wêreld teen die VSA se betrokkenheid in Vietnam was. Dit word afgemaak as ‘n groot fout van die VSA. Presies dieselfde is in Korea gedoen en wat het die VSA daarmee bereik? Hulle het gesorg dat Suid Korea een van die vinnig groeiendste ekonomie was, met demokratiese regte en algemene voorspoed. In Vietnam was die stryd teen die VSA en dit het Vietnam vir dekades in chaos gedompel. Dit is eers nou wat die land vooruitgaan. (En hul ekonomie groei astronomies.) As die VSA nie uit Vietnam onttrek het nie, sou Vietnam veertig jaar terug al ‘n ekonomiese krag geword het.

Eish ·

Die uiteindelike draaipunt van enige liberale verandering is altyd dat die grens van fatsoenlikheid by verre oorskiet word. Dit maak die bestuur daarvan gevaarlik aangesien vandag se samelewing nie meer homogeen is ten opsigte van kultuur, geloof, ras en ander beginsels van binding nie.

Casper Labuschagne ·

Vandag kan ons die gevolge van 1968 wel orals om ons waarneem, waar die “ideologiese klaskamer van 1968” vandag orals oor die Engelssprekende wêreld amper volle beheer oor akademiese instellings asook beduidende mediagroepe verkry het. Die fondasie van kultuurmarxisme wat die huidige westerse denkwyse beduidend bepaal, is gevestig deur die denkers van die Frankfurtskool wat die ideologie vir 1986 verskaf het, naamlik Marcuse, Adorno, Habermas et al, en ook filosowe soos Sarte wat feitlik al sinoniem is met Parys se studenteopstande van ’68.

Ons hele beheptheid om polities korrek te wees, vanaf rassisme, feminisme, seksuele losbandigheid, LGBTQ regte, die postmodernisme, die afkraak van behoudende simbole en instellings, die transformasie van ‘n Bybelse eng Christelike geloof na ‘n polities korrekte vorm kan alles teruggelei word na die ideologie van ’68 en wat vandag eerder bekend is as kultuurmarxisme.

Koos1 ·

Kom ons hoop dat die geskiedenis boeke ook gaan aandui dat 2018 die keerpunt (ten goede) was vir SA.
Ek is nog steeds oortuig dat, jare van nou af, dat ons in SA gaan praat van voor 1994 en na 1994, en ook voor Zuma en na Zuma.

Therese van Schalkwyk ·

So lekker gelees aan die interessante artikel!

Kan getuig van die sielsgeluksalige onbewustheid van opspraakwekkende wêreldgebeure tydens die laat 70’s en vroeë 80’s op kampus.
‘n Skoolvriendin het uit Londen gevra wie hierdie Eschel Rhoodie dan is en daar was nog nie Google waar vinnig geloer kon word nie. Ai, waar’s die dae …

Casper Labuschagne ·

@Therese ek was in dieselfde tyd op skool, maar het elke dag die Johannesburgse The Star koerant aandagtig gelees. My Pa het die koerant net gekoop omdat hy perde gespeel het, maar toe hy sien hoe ek koerantlees, het hy ook op die Newsweek tydskrif ingeteken. Maar die deursnee persoon was (en is vandag steeds) oningelig. Die SAUK het ‘n groot aandeel gehad in mense se gebrek om te weet wat in die wêreld aangegaan. Vandag dra die Internet net soveel daartoe by dat mense ingelig is as wat mense deur die algoritmes van Google en Facebook in kokonne van slegs hul eie eng beskouing toegespin is. Bygesê, ek kom middeljarige tannies in hierdie dorpie tee wat nooit koerant koop nie, maar danksy Facebook weet hulle alles wat aangaan in die land. Dit is sekerlik iets wat ‘n ongekende verskynsel is in die bestaan van die mensdom.

Therese ·

Heeltemal reg, Casper.
“kokonne van eie eng beskouing” … sal dit onthou en waak daarteen!
Die oorweldigend linksgesinde hoofstroommedia is egter skuldig in hierdie verband, daarvan getuig die tsunami negatiwiteit oor president Trump. Verstommend pateties.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.