2019 ʼn silwer randjie aan 2018 se donker wolk

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Thobile Mathonsi/ANA

Die president se belofte van ʼn “nuwe dagbreek” in Januarie 2018 het ná ʼn ekonomiese en politieke “perfekte storm” vinnig in ʼn vroeë sonsondergang geëindig. Die blitsige verandering vanaf “Ramaphoria” na “Rampa-SA” was duidelik uit die dubbele resessie, die internasionale opslae van onteiening sonder vergoeding (OSV) en die val van die aandelebeurs.

Die krisis is ʼn kombinasie van regeringstoegediende wonde en ʼn perfekte storm van buite. Die regering het die land ondermyn met OSV, planne vir ʼn onbekostigbare nasionale gesondheidsversekeringstelsel (NGV), die verval van sleutelinstellings soos Eskom, en die voortslepende gevolge van die staatskaping van die Zupta-jare wat die land nagenoeg ʼn triljoen rand gekos het. Terselfdertyd het ʼn stortvloed ander teenslae die land getref. Die regeringskrisis en hierdie teenslae het gesamentlik tot só ʼn omvattende krisis in die land gelei, dat baie mense ʼn permanente donker toekoms begin sien het.

Dit is so dat die donker wolke van 2018 nog swaar oor die land hang, maar daar is wel ʼn groeiende silwer randjie sigbaar aan die begin van 2019. Waar 2018 goed begin maar swak geëindig het, is dit moontlik dat 2019 swak begin maar beter kan eindig. Optimiste wen immers nie omdat hulle altyd reg is nie, maar omdat hulle positief bly. Daarom is dit nodig om eers kortliks na die stormwinde van 2018 te kyk, en daarna die silwer randjie van 2019 te belig.

2018 se perfekte storm

Argieffoto: ANA

ʼn Perfekte storm is wanneer alle moontlike teenslae gelyktydig toeslaan en ʼn rampspoedige storm meebring. Dit het begin in Desember 2017, met die ANC se aanvaarding van OSV as regeringsbeleid, en die ineenstorting van die sakereus Steinhoff. Hierdie dubbele politieke en ekonomiese krisis was voortekens van wat in 2018 sou gebeur.

Die ANC het sy OSV-aanslag op die land opgevolg met die aankondiging van ʼn reeks onbekostigbare beleidstukke soos die NVG, minimumlone, gratis universiteitsopleiding, staatsdiensverhogings en die inpomp van miljarde rande in vrotbestuurde staatsondernemings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

Terselfdertyd het ʼn reeks buitelandse storms die land getref. Oliepryse het rekordhoogtes bereik, die dollar het die rand benadeel, die swakker Europese en Chinese ekonomieë het ons uitvoere benadeel, en die handelsoorlog tussen die VSA en China het ons getref.

Die aandelebeurs (JSE) het in 2018 gesteier onder opeenvolgende slegte nuus, en die val van talle grotes se aandelepryse het die hele beurs getref met die swakste dubbelsyferval in ʼn dekade. Enkele voorbeelde hiervan was:

  • Swaargewigte soos Naspers het met sowat 20% geval na aanleiding van die swak vertoning van sy Chinese filiaal Tencent.
  • Ander internasionale reuse soos Richemont het met 17% geval, MTN met 35% as gevolg van ʼn megaboete in Nigerië; British American Tobacco en Tiger Brands elkeen met 40%; Aspen met 46% en talle ander soos Vodacom, Remgro, Sanlam en Bidcorp het met dubbelsyfers geval.
  • Die negatiewe sake- en verbruikersvertroue in ʼn swak ekonomie het die dekade lange swak vertoning van huispryse voortgesit.
  • Die land was vir twee termyne in ʼn resessie, met die swaard van verdere afgraderings van graderingsagentskappe wat steeds oor die land hang.

2019 se silwer randjie

Dis nietemin nodig om ook na die silwer randjie van die donker wolk te kyk, anders word die toekomsprentjie skeefgetrek.

Politiek:

malusi-gigaba-ANA

Malusi Gigaba. Foto: ANA

Daar was ʼn paar positiewe politieke verwikkelings soos die uitskop van die korrupte premiers van Noordwes en die Vrystaat, asook die bedankings van ministers Gigaba en Nene. Daarmee saam is die voormalige ANC-voorbok in die Noordkaap, John Block, uiteindelik vir jare tronk toe weens korrupsie. Die EFF se probleme kon ook nie op ʼn beter tyd kom nie. Projekte soos AfriForum se samewerking met die Zoeloe-koning help ook om rassebetrekkinge te verbeter en radikales te isoleer.

Regsorde:

Dit lyk of die wiele van die regsorde uiteindelik weer stadig begin draai. Shawn Abrahams, die vorige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag is uitgeskop en vervang, en dit lyk of die staatskapers vervolg begin word. Die Zondo-kommissie na staatskaping begin vrugte oplewer, die Nugent-kommissie na korrupsie by die SAID het reeds die kop van die hoof, Tom Monyane, geëis, en regter Lex Mpati se ondersoek na die staatspensioenfonds het reeds tot senior afdankings gelei. Daarby het Solidariteit se suksesvolle hofsake gekeer dat Brian Molefe R30 miljoen by Eskom se pensioenfonds kry, en is die fonds se hoof, Sibusiso Luthuli, nie meer daar in diens is nie. Dieselfde geld vir Solidariteit se saak teen Hlaudi Motsoeneng van die SABC.

Ekonomie:

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: ANA

Die goewerneur van die reserwebank, Lesetja Kganyago, se bekwame bestuur van die land se monetêre beleid is ʼn belangrike teenvoeter van enige Zimbabwe-styl wegholinflasie. Sy onverbiddelike aandrang op die sentrale bank se onafhanklikheid skep verdere ekonomiese vertroue, veral omdat hy gesteun word deur die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni. Hoewel Mboweni homself nog moet bewys, stuur sy sterk standpunte teen voortgesette staatswaarborge van swak bestuurde staatsondernemings soos die SAL ʼn betekenisvolle waarskuwing uit. Pres. Cyril Ramaphosa se onlangse beleggingsberaad was minstens ʼn belangrike aanduiding van sy verbintenis tot die markekonomie, veral omdat hy sterk standpunt ingeneem het teen slagspreuke soos “wit monopoliekapitaal”. Die voortgesette waghondrol van buitelandse graderingsagentskappe en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) help ook om die sterk sosialistiese neigings in die ANC teen te hou. Dan is die land nou amptelik weer uit die resessie, wat ekonomiese vertroue kan verbeter.

Internasionaal:

Die 30% val in die olieprys is ook welkome nuus, en is ʼn groot inspuiting vir die SA ekonomie. Daarby is die “skietstilstand” in die handelsoorlog tussen die VSA en China goeie nuus vir Suid-Afrika. Die groeiende steun wat Afrikaners vanuit Amerika en Europa kry behoort in 2019 verdere momentum te kry, en die kans is daar dat dit op groter praktiese steun uitloop vir plaaslike projekte.

Aandelebeurs (JSE):

Johannesburgse Aandelebeurs (JSE)

Gesiene ekonome voorsien dat die JSE in die komende vyf jaar beter as die hoë Amerikaanse beurse kan doen. ʼn Paar redes word aangevoer. Pryse op die JSE is die goedkoopste in jare, wat gesien kan word in die hernude invloei van Amerikaanse beleggingsfondse wat die pryse kan opstoot. Die bekende ekonomiese blad Bloomberg en die Bank van Amerika Merrill Lynch verwag ʼn verbetering in SA maatskappye se verdienste, terwyl RMB Morgan Stanley’s se hoofanalis in die land ook positief is. Dit bly ook insiggewend dat maatskappye ten spyte van swak aandeelpryse oor die afgelope vyf jaar hulle dividendbetaling aan aandeelhouers jaarliks met 8% verhoog het. Die laer aandelepryse help ook lede van pensioenfondse om met hul maandelikse bydraes goedkoper aandele te koop.

Suid-Afrikaanse maatskappye se langdurige kostebesnoeiings het ekonomiese herstel in 2018 bemoeilik, maar terselfdertyd die tafel gedek vir hoër winste in 2019, wat weer tot ekonomiese groei en hoër indiensneming kan lei.

Opsommend is ekonomiese siklusse nog altyd ʼn werklikheid, en kan die JSE en die SA ekonomie ná jare van swak prestasie in 2019 weer opleef.

Risikobestuur

Argieffoto: GCIS

Natuurlik is daar steeds groot interne risiko’s wat verreken moet word, soos die komende verkiesing, regeringsbeleid oor OSV, Eskom en hoë staatskuld. Daar is ook nog min tekens van grondliggende hervormings soos die besnoeiing en verbetering van die staatsdiens, die afskaling van rassewette wat die ekonomie kniehalter, die prestasie van openbare ondernemings en die verbetering van onderwys. Gelukkig het die globale ekonomie ʼn groter invloed op die JSE as die plaaslike ekonomie, omdat die grootste deel van die meeste sakereuse se inkomste vanuit die buiteland kom.

Solidariteit Beweging

Daar is nog twee laaste positiewe verwikkelings wat in 2019 vinnig verder gaan versnel. Die eerste is die positiewe invloed van die private sektor en nuwe tegnologie wat onder meer alternatiewe elektrisiteitsverskaffing al beter en goedkoper gaan maak, en die impak van ʼn sukkelende Eskom al kleiner gaan laat raak. Tegnologie en die private sektor help mense om al meer staatsbestand te raak.

Die tweede is die groeiende impak van die Solidariteit Beweging, wat ʼn al groter rol speel in veiligheid deur AfriForum se Buurtwagte, opleiding deur Akademia en Sol-Tech, goeie werk deur Solidariteit, maatskaplike versorging deur die Helpende Hand, die bevordering van Afrikaans deur gemeenskapsmedia, Afrikaanse onderwys deur die Skole Ondersteuningsentrum, en die vennootskappe om eiendomsreg te verdedig onder leiding van die sakeregtewaghond, Sakeliga.

Die sleutel tot sukses in 2019 lê gevolglik in die bestuur van die grootste risiko’s aan die een kant, en die benutting van die geleenthede aan die ander kant. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie verdwyn nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie. Kom ons pak in 2019 dus die bul by die horings en laat dinge gebeur!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.