2020: Die jaar waarin die wêreld byna tot stilstand gekom het

(Foto: pixabay)

Die jaar 2020 is op sy rug en volgens mense se inskrywings op sosiale media is baie mense, oor die hele wêreld, dankbaar dat hierdie moeilike en deurmekaar jaar verby is. Die rede daarvoor is nie oorlog, terreur of ʼn globale finansiële krisis nie, maar eerder die algehele chaos wat ʼn virus oor die wêreld heen veroorsaak het.

Dit het dekades laas gebeur dat een enkele wêreldgebeurtenis die politieke, ekonomiese en sosiale wêreldorde soveel versteur het, soos wat die Covid-19-pandemie in 2020 veroorsaak het. Geen verkiesing, groot ekonomiese besluit of veiligheidstrategie is nie deur die pandemie geraak nie. Sport, toerisme, omgewingsbewaring, onderwys, armoedeverligting en duisende ander dinge wat ons normaalweg as alledaagse aktiwiteite beskou, is regstreeks deur die pandemie geraak.

Daarom is die Covid-19-pandemie ongetwyfeld die enkele grootste nuusstorie van 2020. Die wêreld het byna tot stilstand gekom, maar dit het nie en baie ander dinge het ook gebeur. Hier is belangrike internasionale gebeure en kwessies wat in 2020 uitgestaan het en waarvan ons almal kennis moet neem.

Pandemie

(Argieffoto: Unsplash)

Die pandemie het die globale beweging van mense en goedere erger ontwrig as enige enkele wêreldgebeurtenis sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Die komplekse, hedendaagse stelsel van globale interafhanklike bewegings van mense, dienste en produkte is sodanig ontwrig dat ernstige vrae oor die toekoms van die globalistiese stelsel wat die afgelope paar dekades handel, dienste en die beweging van mense laat toeneem het, en ekonomiese groei oor die wêreld help dryf het, gevra is.

Namate mense in Februarie siek geraak en die wêreld toenemend van die nuwe koronavirus bewus geword het, het dit duidelik geraak dat ernstige stappe gedoen sou moes word om die verspreiding van die virus te beperk. Wat daarna gevolg het, en steeds vandag afspeel, is nou aan ons almal bekend. Inperkingsmaatreëls, die dra van maskers, groter fisieke afstande, asook die was van hande en spuit van ontsmettingsmiddels op ons hande orals waar jy gaan, het deel van ons lewe geword. Netso het oorsese reise, die bywoon van sportbyeenkomste, kinders se skoolkampe en soveel ander aktiwiteite skielik tot ʼn einde gekom.

Intussen is ekonomiese hulppakkette aangekondig en entstowwe ontwikkel, maar wat duidelik is, is dat ons nog vir lank met die virus en sy gesondheids-, ekonomiese en maatskaplike gevolge opgesaal gaan sit. Ook in 2021 gaan ons lewe nog ernstig hierdeur geraak word. Op medium tot langer termyn is die vraag tot watter mate die pandemie tot ʼn herskikking in globale politieke, ekonomiese en veiligheidstelsels aanleiding sal gee. Intussen sal dit lank vat vir die ontwrigting van 2020 om herstel te word en moet ons nie hoop dat 2021 maar net die jaar van die groot terugkeer tot ʼn ou normaal gaan wees nie.

Amerikaanse verkiesing

Donald Trump en Joe Biden. (Foto: Patrick Semansky/AP)

Die Amerikaanse verkiesing wat op 3 November plaasgevind het, was die belangrikste politieke gebeurtenis van 2020. Geen Amerikaanse president sedert Richard Nixon was so omstrede soos pres. Donald Trump nie. Tog het Trump oor die afgelope vier jaar ʼn groot aanhang onder miljoene Amerikaners wat moeg was vir die politieke spel wat die Demokrate en Republikeine in Washington D.C. gespeel het, gekry. ʼn Amerikaanse verkiesing het laas in die 1800’s soveel oor die persoonlikheid van een enkele kandidaat gegaan. In praktyk was die verkiesing op 3 November nie ʼn keuse tussen Trump en Joe Biden, die Demokratiese party se kandidaat, nie, maar eerder ʼn referendum oor Trump.

Terwyl Trump se ekonomiese en buitelandse beleid wye steun onder Amerikaanse kiesers geniet het, het sy persoonlikheid en styl die grootste mobilisasiefaktor teen hom geword. Die Republikeinse Party en eintlik die hele Amerikaanse politieke agenda is deur Trump verander en ʼn eenvoudige terugkeer na die tydperk voor Trump sal nie sommer plaasvind nie. Trump se fokus op Amerikaanse belange, die beskerming van Amerikaanse werkers en industrieë en sy internasionale beleid wat deur onderhandeling en gestroop van ou, gevestigde praktyke gekenmerk is, is hier om te bly. Die vraag is of Republikeine die momentum wat Trump geskep het deur sy ongelooflike uitbreiding van die Republikeinse Party se steunbasis sal kan voortsit deur die Trump-manier van politiek beter te verpak en daardeur selfs die steunbasis daarvan verder uit te brei.

Chinese aanslag op Hongkong, Taiwan en gebiede in Suid-Chinese See

Veiligheidsmagte staan gereed tydens betogings in Hongkong. (Foto: AP Photo/Vincent Yu)

China se toenemend aggressiewe optrede in Asië, jeens buurlande en ook die spesiale administratiewe streek Hongkong, het in 2020 toegeneem soos wat pres. Xi Jinping ʼn ekspansionistiese buitelandse beleid begin beoefen. Hongkong het langer as 150 jaar aan Brittanje behoort, maar is in 1997 aan China oorhandig op voorwaarde dat die Chinese vir minstens 50 jaar sal toelaat dat Hongkong sy groot mate van politieke en ekonomiese outonomiteit bly behou.

Dit het egter oor die afgelope drie jaar toenemend duidelik geraak dat die Chinese nie vyf dekades gaan wag om Hongkong volledig by China te laat inskakel nie. Vroeër vanjaar is sogenaamde nasionale veiligheidswette vir Hongkong ingestel en is daar met die vervolging van demokraties-gesinde politici in Hongkong begin. Die langtermyngevolge hiervan is nog onseker, maar ʼn mens kan verwag dat Hongkong toenemend sy status as vryste ekonomie in die wêreld gaan verloor en dat heelwat maatskappye en individue wat daar sake doen mettertyd hulle bedrywighede elders sal verskuif. Brittanje se onwilligheid om sterker standpunt teen China in te neem is ʼn bewys van talle Westerse lande se onvermoë om teen Chinese aggressie op te tree.

China het ook vanjaar meer aggressief teenoor Taiwan begin optree. Hoewel Taiwan ʼn onafhanklike land is, dring die Chinese steeds daarop aan dat Taiwan eintlik deel van China is. In ʼn beginsellose poging om China nie te vervreem nie, is baie lande dus onwillig om bande met Taiwan aan te knoop. Chinese vegvliegtuie vlieg gereeld naby Taiwan verby en daar bestaan vrese in Taiwan dat China met die huidige opbou van die Chinese weermag, en veral die Chinese vloot, al hoe meer aggressief teenoor Taiwan sal optree.

China het ook in 2020 verskeie grensgeskille met onder meer Indië en Nepal laat heropvlam en aansprake op beheer oor dele van die Suid-Chinese See het ook tot spanning met ander buurlande gelei. Wat duidelik is, is dat pres. Xi Jinping en die Chinese regering vol vertroue is dat China gereed is om sy magsposisie in Asië te versterk en dat min lande oor die vermoë of wil beskik om die Chinese te probeer keer. Meer Chinese aggressie kan dus oor die volgende paar jaar verwag word.

Brexit

Boris Johnson. Foto: (Lindsey Parnaby/Pool via AP)

Vir die afgelope vier jaar, sedert ʼn meerderheid van Britte ten gunste van uittrede uit die Europese Unie gestem het, is daar tussen die regering van die Verenigde Koninkryk en die Europese Unie onderhandel oor presies hoe die verhouding tussen die VK en die EU ná Britse uittrede sou lyk. Daar is gereeld uitgestel en uiteindelik het die Britse premier Boris Johnson ná ʼn verkiesingsoorwinning in 2019 daarin geslaag om ʼn finale afsnydatum van 31 Desember 2020 te bepaal. Die tussentydse reëlings tussen die VK en EU moes êrens tot ʼn einde kom.

Ná jare lange onderhandelinge is ʼn ooreenkoms uiteindelik bereik en hoewel heelwat ontwrigting steeds verwag word, is dit ook duidelik dat die ooreenkoms wat bereik is, ʼn groot verligting vir die Britte en die meeste Europese lande, en in besonder die leierskap van die Europese Unie, beteken.

Die vraag is nou hoe Brittanje vanaf 1 Januarie gaan funksioneer. Die land se mense en ekonomie sal heelwat minder beperkings en regulasies hê om aan te voldoen, maar daar sal ook heelwat korttermyn-uitdagings wees omdat die VK tot nou deel was van die talle handels- en ander ooreenkomste wat die EU met ander lande oor die wêreld heen gehad het.

Argieffoto (Foto: CHRIS J RATCLIFFE / AFP)

Die eerste prioriteit sal waarskynlik ʼn handelsooreenkoms met die VSA wees met baie Britte wat hoop dat dit steeds kan gebeur voordat pres. Trump op 20 Januarie die Withuis verlaat omdat Trump waarskynlik makliker tot so ʼn ooreenkoms sal instem as die aangewese Amerikaanse president, Joe Biden.

Die belangrikste gevolge van Brittanje se uittrede uit die EU sal wees dat die land se ekonomie vryer sal wees en sake-ondernemings in die VK nou makliker met hulle eweknieë in Europa sal kan meeding. Op die politieke terrein moet die onafhanklikheidsbeweging in Skotland dopgehou word. Steun vir Skotse onafhanklikheid het die afgelope paar maande skerp toegeneem. Daar is ook ʼn groeiende beweging in Noord-Ierland, veral onder jongmense, dat Noord-Ierland deel van Ierland moet word. Hierdie politieke bewegings in Skotland en Noord-Ierland sal oor die volgende paar jaar heelwat uitdagings vir die politici in Londen skep.

Terwyl Boris Johnson ʼn onkonvensionele politikus is en daar heelwat geldige kritiek teen sy leierskap gelewer word, moet hy heelwat erkenning kry vir die suksesvolle deurvoer van Brexit en die onderhandeling van ʼn billike ooreenkoms met die EU. Dit versterk Johnson se politieke aansien, wat veral weens die pandemie die afgelope paar maande baie skade gely het.

  • In deel twee van die internasionale oorsig vir 2020 word daar onder meer gefokus op die oorlog tussen Armenië en Azerbeidjan, die Black Lives Matter-beweging en terreur en massa-immigrasie in Europa.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.