2020 is jaar van bou en beskerm

flip-buys-2017-11-02

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Dis die begin van ’n nuwe jaar, wat nie gekenmerk word deur die opgewonde vooruitsigte wat gewoonlik die aanbreek van ’n nuwe dekade kenmerk nie. Die rede vir hierdie taamlike swaarmoedigheid is alombekend: die ANC het die land tot by die rand van die afgrond in regeer, en daar is geen teken dat hulle ’n ander rigting wil en kan inslaan nie.

Tog help dit nie om in moedeloosheid te verval nie. Die Harvard ekonomiese historikus prof. David Landes, het in ’n studie oor die wêreld se geskiedenis (oor vyf eeue) bevind dat die geheim van suksesvolle mense en gemeenskappe hul optimisme was. Soos hy dit gestel het: “In this world, the optimists have it, not because they are always right, but because they are positive. Even when wrong, they are positive, and that is the way of achievement, correction, improvement, and success. Educated, eyes-open optimism pays; pessimism can only offer the empty consolation of being right”.

Daarom is die strategie van die Solidariteit Beweging om eerder te doen wat ons kan, in plaas van om te kla en onsself te bekommer oor dinge waaraan ons nie iets kan doen nie. Ons moet mekaar besiel oor dit wat ons kán regkry, eerder as om mekaar te verlam met alles wat verval.

Natuurlik is daar genoeg om oor bekommerd te wees – soos die elektrisiteitskrisis. Eskom het die simbool geword van alles wat in die land skeefgeloop het: grootskaalse wanbestuur, massiewe korrupsie, dawerende verval, gebrekkige instandhouding, onbillike rassewette, onbekostigbare sosialisme, ’n onbevoegde regering, onwerkbare sentralisasie, wydverspreide wanbetalings, en besluitelose leierskap wat die krisis verduur in plaas van oplos.

Daar is gelukkig nog duisende hardwerkende Solidariteitlede en andere wat hard werk om die land se ligte aan te hou.

Ons beweging se strategie kan in twee woorde opgesom word: beskerm en bou – wat uitgebeeld kan word as ’n skild en troffel. Dit beteken dat ons soveel moontlik teen verdere verval moet beskerm, en terselfdertyd so vinnig as moontlik aan vooruitgang bou. Dit is in ’n neutedop ons strategie vir 2020.

Beskerm:

  • die markekonomie teen sosialiste wat dit saboteer;
  • die regsorde teen wetteloosheid en strafloosheid;
  • die demokrasie teen staatsinmenging en magsentralisasie;
  • die werksmag teen beleidsrigtings wat tot werkloosheid lei;
  • ons kinders se onderwys teen die Lesufi’s wat ons skole wil kaap;
  • hardwerkende mense se belasting teen plunderaars wat dit mors en steel;
  • ons gesondheidsorg teen nasionalisasie;
  • ons pensioene teen politiek voorgeskrewe “beleggings”;
  • ons dorpe en stede teen “regeerders” wat dit laat verval;
  • die land se water teen diegene wat dit vermors;
  • die omgewing teen amptenare wat dit bevuil en besoedel;
  • ons lewens teen geweldenaars en rampokkers;
  • ons eiendom teen vandale wat dit wil afvat;
  • die armes en weerloses teen ellende;
  • Afrikaans teen kulturele vandale;
  • ons geskiedenis teen kriminalisering;
  • ons vryheid teen heersers wat ons wil verdruk;
  • gelykheid teen magsugtiges wat ons wil onderwerp;
  • ons menswaardigheid teen haatdraendes se wraaksug;
  • ons kinders se toekoms teen diegene wat dit wil vernietig;
  • ons instellings waardeur ons leef; en
  • ons kultuur, waardes en idees wat ons suksesvol gemaak het.

Bou:

  • ’n nuwe kampus vir Sol-Tech;
  • aan Akademia tot ’n wêreldklas-universiteit in Afrikaans;
  • landwye veiligheidstrukture en buurtwagte;
  • ’n wêreldklas-skoolstelsel saam met onderwys-vennote;
  • loopbane vir jongmense en werkendes;
  • kulturele selfbestuur as gevolg van die mislukking van staatsbestuur;
  • ’n gildestelsel om werknemers volgens hul beroepe te organiseer;
  • 30 landwye ankergebiede waarna mense reeds trek;
  • verhoudinge met ander gemeenskappe en die owerhede;
  • vennootskappe tussen Afrikaanse kapitaal en kultuur;
  • aan Afrikaans tot ’n volle funksionele taal;
  • aan Afrikaners se kulturele selfvertroue;
  • ’n studiefonds sodat almal wat wil, kan studeer;
  • wêreldwye bande om steun te werf;
  • ’n kulturele infrastruktuur sodat ons saam in Afrika kan leef;
  • ’n landwye maatskaplike netwerk; en
  • ’n vrye, veilige en voorspoedige toekoms.

Hierdie tweebeen-strategie van “bou en beskerm” is die goue draad wat deur al die organisasies van die Solidariteit Beweging se werk loop. Dit is die strategie agter al die uiteenlopende aksies soos hofsake teen staatskapers soos Brian Molefe, die sakeredding van die SAL, AfriForum se buurtwagte, die verdediging van juffrou Elana Barkhuizen, adv. Gerrie Nel se private vervolging, Solidariteit se Boufonds wat Sol-Tech se nuwe kampus finansier, die Helpende Hand se Studietrust en Kosblikkie-projek, die klagte teen rassediskriminasie by die VN, die veldtogte teen die Nasionale Gesondheidsversekering, en projekte om Afrikaans te bevorder.

Ons kan nie altyd keer dat staatsbestuur misluk nie, maar ons kan aan groeiende selfbestuur bou. Daarom gaan ons in 2020 met nuwe ywer bou aan ons beweging van helpmekaar-gemeenskapsorganisasies wat dienste lewer wat die staat nie wil of kan lewer nie.

Laat ander maar hul eie toekoms afbreek as hulle dan wil. Ons beweging bou aan ’n toekoms waar ons blywend vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan.

Dit is ons plig, ons reg en ons voorreg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

André André ·

Dankie Flip, jul skrywes is altyd ‘n inspirasie om te lees, julle is vol werkbare idees, mens skop teen die prikkels, dis hoe diut moet wees, julle neem die mense saam op jul tog die toekoms in, julle is fiks in jul gedagtes en in die kop, vir ander van ons raak die tyd op.

Andre ·

Sterkte, maar wees ook realisties. Optimisme help ook net tot by ‘n sekere punt, daarna is jy op jou eie. Die ekonomie sal net met harde werk opgebou word, nie met mooi woorde nie. Die land is in ‘n krisis en die Afrikaner sal saam met die res sink. Ons kan nie groen eilande bou in ‘n see van armoede nie, dis wensdenkery. Ek het pas deur die platteland getoer in ‘n paar provinsies en die verval daar is skokkend.

Julius ·

André dis jammer jy kyk net na die verval, gaan kyk na al die opbou deur ons land wat deur blankes vermag word en jy sal anders dink oor die saak. Besoek gerus die 30 ankerdorpe en die verskil is duidelik.

Petrus ·

Julius, blankes se standaarde is al so laag dat ‘n opgevulde slaggat lyk na ‘n massiewe verbetering. Maar ek sal ook maar teer op die optimistiese blankes se arbeid. Die regering vat steeds my belastinggeld vir weinige dienste, dus kan ek nie ‘n bydra lewer nie.

Sterlig. ·

Ek stem Petrus.Ek sal graag wil weet hoe hardwerkende mense se belasting beskerm gaan word teen plunderaars soos mnr Buys dit stel.Ons almal betaal belasting wat in ‘n bodemlose put val.As dit nie op een of ander manier weerhou gaan word nie sien ek finansiering wat net gaan aanhou sonder die nodige resultate.

Kerneels ·

Baie van daai ankerdorpe val uitmekaar, soos die eens pragtige Rustenburg, Bloem, Secunda en die in Limpopo. Oor dorpies langs ankerdorpe kan mens nie eers praat nie, al woon daar steeds blankes. Dan is van die ankerdorpe ook al onder administrasie, insluitend Bloem, of op die punt om onder administrasie geplaas te word, soos Pretoria. Die hoofstad is ‘n hool. Goed en wel om gras te sny, vullis te verwyder en slaggate te herstel, maar op makrovlak is dit nag. Wittes is werkloos, verloor hul werk en besighede, en word binne 6 jaar uitgelewer aan NGV. Om optimistieste bly is goed, maar Andre is reg, wees ook realisties.

Sarie ·

Als goed en wel, en dis prysenswaardig wat solidariteit en afriforum alles doen en al bereik het, maar ek vermoed dat die regering is net so dankbaar want nou hoef hulle niks te doen nie en daar is meer geld tot hul beskikking om te vermors.

Koos ·

“2019 (MMXIX) is the current year, and is a common year starting on Tuesday of the Gregorian calendar, the 2019th year of the Common Era (CE) and Anno Domini (AD) designations, the 19th year of the 3rd millennium, the 19th year of the 21st century, and the 10th and last year of the 2010s decade.”

Dit word aanvaar dat bogenoemde korrek is volgens ons kalenders in gebruik.
Indien 2019 die 19de jaar van die 21ste eeu is – wat heeltemal korrek is –
DAN IS die jaar 2020 tog sekerlik die laaste jaar van die 2de dekade van die 21ste eeu!!!

Let wel: 2020 is net die eerste jaar van 2020’s dekade soos ook duidelik uit die aangehaalde deel hierbo blyk te wees.

Verduidelik hierdie teenstrydigheid eerder, moenie sommer net verwyder nie, asb.

Breytie ·

Dit hang seker af van waar ‘n mens begin tel. As jy by nul begin, kom jy by 20 uit. Ek onthou in die jaar 1999 was daar ook soortgelyke redenasies oor die ware begin van die nuwe milennium: nie 2000 nie, maar 2001.

aj ·

Suid Afrika is nie ‘junk’ nie …!

…dis net die ANC wat ‘junk’ is!

Isoleer hulle!

… en GEE HULLE HEL!

B-man ·

Dankie tog, ons het nog mense wat kan dink. Dit maak my positief.
Ons is nou eers aan die begin van die 20ste jaar van hierdie millenium. 19 volle jare is verby.
Dit sal dalk makliker verduidelik as mens dink aan ‘n rugbywedstryd waar die wendrie teen 78min en 23sek gedruk is – dus in die 79ste minuut, maar 79 minute is nog nie verby nie.

Koos ·

wie kan vir my se waar is die ankergebiede? Veral in die Oos Kaap – dankie

Leonard van der Dussen ·

Kultuur en kurrikulum – dit wat op skool en elders geleer word – is verwant. Die huidige situasie is dat die staat se kurrikulum en die beginsel van gesentraliseerde voorgeskrewe onderwys aanvaar word. Ook deur Afrikaners. Daar is dringende noodsaak vir vrye onderwys wat nie uitgelewer is aan staatsvoorskrifte nie.

Andries ·

Stem saam dat ‘n mens positiewe benadering moet hê en dat jy nie vooraf kan besluit dat ‘n situasie nie gaan werk nie. Vir my lê die postiewe daarin dat die vernietiging van die land juis ‘n geleentheid is vir ons skep om met ‘n bouproses te begin van alternatiewe strukture.
Die Staat se finansies is besig om op te droog en ‘n Moody afgradering gaan plaasvind in Februarie wat hoër rentekoerse vir die staat en individue gaan beteken. ‘n Reddingspakket van IMF wat eksterne finansiële disipline sal afdwing, sal die beste ding wees wat met SA kan gebeur. Geprekke moet nou deur belangegroepe gevoer word met IMF om voorbereiding te doen vir die die voorwaardes van die reddingspakket.
Die realiteit is dat 3 milj belastingbetalers nie ‘n welsynstaat van 57 mil mense kan onderhou nie. Belasting is die lewensaar wat die korrupte regering in stand hou.
Beheer moet oor die belastingproses verkry word hetsy deur die IMF of deur belastingverset deurdat belasting steeds betaal word maar aan ‘n onafhanklike instansie sodat die regering tot die onderhandelingstafel gedwing kan word vir ‘n gesprek oor selfbestuur en ‘n federale stelsel waar die meeste mag afgewentel word tot die vlak van plaaslike regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.