30 jaar gelede: die Duitse monetêre unie

In die foto van 13 November 1989 staan wagte voor dele van die Berlynse Muur. Foto: (AP Photo/John Gaps III, File)

Die jaar 1990, dertig jaar gelede, was die jaar van Duitsland: Ná die val van die Muur in November 1989 het een gebeurtenis op die ander gevolg wat die kommunistiese Duitse Demokratiese Republiek (DDR) – wat alles behalwe demokraties was – in ’n rekordtyd in ’n vrye, werklik demokratiese Westerse land verander het wat dan aansluiting by Wes-Duitsland oftewel die Duitse Bondsrepubliek gesoek het. ’n Mylpaal op die pad na politieke vereniging was die finansiële en ekonomiese vereniging deur middel van die monetêre unie.

Die twee dele het wel albei die Mark as geldeenheid gehad, maar met heel ander simbole en veral met ’n heel ander waarde. Die Wes-Duitse Mark was ’n internasionaal gesogte en stabiele geldeenheid, maar die Oos-Duitse Mark was internasionaal niks werd nie en die bron van spot en verleentheid, en dit was tekenend dat die munte van aluminium gemaak was omdat ander metale te duur was.

Die probleem was dat die Oos-Duitse Mark nie in Wes-Duitse Mark geruil kon word nie, of net teen ’n baie swak wisselkoers. Die Oos-Duitsers het, omdat daar so min was om te koop in Oos-Duitsland, heelwat geld gespaar. Hulle het ’n groot honger vir Wes-Duitsland se produkte gehad nadat hulle vrylik tussen Oos en Wes kon beweeg ná die val van die Muur, maar kon dit nie met hul geld koop nie. Al wat hulle kon hoop, was dat Wes-Duitse vriende of familie dit vir hulle sou koop.

Die politici van beide kante, by name die ministers van finansies, moes onderhandel hoe om die twee dele ekonomies te verenig, veral op monetêre gebied. Feitlik niemand in Oos-Duitsland wou vashou aan die Oos-Duitse Mark nie, maar die vraag was hoe die Oos-Duitse Mark in Wes-Duitse Mark omgeruil moet word voor dit afgeskaf sou word.

Op aandrang van die destydse bondskanselier Helmut Kohl is daar toe op die omruilkoers van 1:1 besluit, wat baie goed vir die Oos-Duitsers was en die gewildheid van Kohl verder verhoog het. Toe die monetêre unie en die omruilkoers 1:1 bekend gemaak het, was die mense in Oos-Duitsland amper net so opgewonde soos ná die val van die muur sowat ’n halwe jaar tevore.

Om die miljarde Mark orals in Oos-Duitsland betyds by banke en ander verspreidingspunte te kry, was ’n geweldige logistieke oefening. Oos-Duitsland het ook oor min bankfiliale beskik en daar was nog nie elektroniese tellers soos vandag nie. Op 1 Julie 1990 het massas mense orals by banke tou gestaan om hul geld om te ruil of om die nuwe Wes-Duitse Mark uit hul rekeninge te trek en uiteindelik die gesogte produkte te koop.

(Foto: Pixabay)

Ekonomies was die omruilkoers 1:1 egter ’n groot las vir die Wes-Duitse ekonomie, want skielik moes miljarde se harde Wes-Duitse Mark wat vir waardelose Oos-Duitse Mark gegee is, iewers verkry word. Die Reserwebank moes uit hul wins die rekening vereffen en die regering moes skuld maak wat jare later nog nie afbetaal was nie. Die maatreël het daarom ook tot kritiek gelei, byvoorbeeld deur die destydse president van die Reserwebank, Karl-Otto Pöhl.

Dit was nie net spaargeld wat omgeruil is nie; ook die fabrieke in Oos-Duitsland, wat dikwels reeds onwinsgewend gewerk het, moes hul werkers se salarisse nou in Wes-Duitse Mark betaal en het mense afgelê of bankrot gegaan. Die produktiwiteit in Oos-Duitsland was laag, maar weens dieselfde geldeenheid was die produksiekoste hoog. Kohl en ander het egter, seker tereg, daarop gewys dat mense op nóg groter skaal as wat dit reeds die geval was, van Oos- na Wes-Duitsland sou trek as hulle in Oos-Duitsland nie koopkrag gehad het nie. Verder sou dit die gevoel van tweedeklas-status versterk het.

Oor die algemeen het die geslaagde monetêre unie tussen die twee Duitse state later as voorbeeld gedien vir die instel van die Euro as gesamentlike geldeenheid vir die (meeste) state van die Europese Unie. Ook hier was Duitsland (en by name Kohl) die drywer, en ook hier was daar kritiese stemme wat egter geïgnoreer is. Die verdere verloop van sake het egter gewys dat die hap te groot was om te verteer en dat die ekonomiese verskille binne in die Eurosone nog veel groter is as tussen die twee dele van Duitsland.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JohanR

Ek was in 1988 op vakansie in Europa, en terwyl ek in Berlyn was besluit om vir die dag Oos-Berlyn te besoek. Ek het deur Checkpoint Charlie pad in Oos-Berlyn toe gevat, en vir ‘n paar uur lekker rondgewandel. Ek moes 35 Deutsche Mark ruil vir 35 Ost Mark. As ek nog kan onthou was die wissel 1:35 soe daai 35 Ost Mark was niks werd in Wes-Berlyn nie, maar in Oos-Berlyn het ek middag ete geniet, met soe twee biere, en toe die res op sjokalade en Oos-Duitse lekkers spandeer. 1988 is nou vir my ver weg, maar ek… Lees meer »