30 jaar gelede: die eerste vrye verkiesing in Oos-Duitsland

In die foto van 13 November 1989 staan wagte voor dele van die Berlynse Muur. Foto: (AP Photo/John Gaps III, File)

Op 9 November 1989 het die Berlynse Muur geval en die kommunistiese bewind in Oos-Duitsland, oftewel die Duitse Demokratiese Republiek (DDR), is daardeur heeltemal onkant gevang.

Dit is moontlik gemaak deur vreeslose betogers en ’n verdeelde en leierlose bewind. Daarna het gebeure baie vinnig ontwikkel en die verhouding tussen die Wes- en Oos-Duitse regerings het al hoe nouer geword.

In Wes-Duitsland, oftewel die Bondsrepubliek van Duitsland, was die Christen-Demokratiese Unie (CDU) van Helmut Kohl in beheer. In die DDR het die hervormingsgesinde deel van die regerende Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (SED) oorgeneem. Die burgers het egter aangedring op vrye verkiesings en ’n legitieme regering. Gesprekke en onderhandelinge tussen die SED en verskeie buiteparlementêre opposisiegroeperinge het plaasgevind (in die kommunistiese lande bestaan geen opposisie in die parlement nie).

17 Maart 1990 is toe vasgestel as verkiesingsdatum en die partye het gereed gemaak en alliansies het begin vorm. Daar was vier groot blokke: Ten eerste natuurlik die SED, wat sy naam na Party van Demokratiese Sosialisme (PDS) verander het (en wat vandag as Die Linke voortbestaan en in die Duitse parlement verteenwoordig is) en wat die DDR as onafhanklike staat met sy sosialistiese stelsel wou behou, natuurlik met ʼn paar aanpassings. Hulle het die groot voordeel van baie geld en sterk organisatoriese strukture gehad, maar was ongewild omdat hulle die jare lange onderdrukkers was.

Al die ander partye was politieke nuwelinge en amateurs, maar is wel sterk ondersteun deur hul vennote in Wes-Duitsland. Verder was daar die Sosiaal Demokratiese Party van Duitsland (SPD) wat in Oos-Duitsland nuut gestig is, as sustersparty van die SPD in Wes-Duitsland. Hulle wou ’n stadige pad na uiteindelike hereniging volg en die vrye mark temper, maar die SPD (Wes-Duitsland) se destydse leier Oskar Lafontaine was teen hereniging gekant.

Dan was daar, aan die sentrum-regse kant, die Alliansie vir Duitsland, bestaande uit die CDU van Oos-Duitsland met twee kleiner konserwatiewe vennote. Die Alliansie vir Duitsland wou spoedige hereniging hê, met die nalatenskap van sosialisme wegdoen, die Duitse mark as geldeenheid invoer en was met die CDU van Wes-Duitsland verbind. Veral Helmut Kohl, alhoewel ’n Wes-Duitser, was baie aktief in die verkiesingsveldtog en is ook in Oos-Duitsland as die gesig van die Alliansie waargeneem, al was hy nie verkiesbaar nie.

Dan was daar die klein liberale groep, Bond van Vrye Demokrate, vennote van die Wes-Duitse Vrye Demokratiese Party (VDP). Laastens was daar nog die verskeie burgerregtebewegings, saamgesluit as Bündnis 90, wat met hul betogings die bewind tot ’n val gebring het en die verkiesing moontlik gemaak het. Hulle wou ’n eie, onverbonde koers vir die DDR hê en geen hereniging vir nou nie, en het ’n “derde weg” tussen sosialisme en die Westerse vryemarkstelsel voorgestaan.

Voor die verkiesing is algemeen verwag dat die gematigde linkse SPD goed sal vaar, omdat die mense in Oos-Duitsland nie drastiese veranderings wou hê nie en hul eie pad wou gaan. Die verkiesing self het die mense ongelooflik opgewonde gemaak. Vir meeste was dit die eerste vrye verkiesing ooit, as ’n mens dink dat Oos-Duitsland direk van die Nazi-diktatorskap oorgegaan het na ’n kommunistiese diktatorskap, en die laaste vrye verkiesing dus in 1933 was! Deelname was met 93% ongelooflik hoog, die hoogste ooit van enige vrywillige verkiesing.

Die uitslag het almal verras: Die Alliansie vir Duitsland het ’n wegholoorwinning behaal, met 48% van die stemme, terwyl die SPD teleurstellend gevaar het met 22%. Die PDS het 16% gekry en die Liberales 5%. Die burgerregte-organisasies het die grootste teleurstelling beleef nadat hulle slegs 3% gekry het.

Die goeie resultaat vir die Alliansie was veral ʼn pluimpie vir Helmut Kohl en sy goeie leiding ná die val van die Muur en sy steun vir spoedige en konsekwente hereniging asook vir die beginsels van die sosiale markekonomie. Die uitslag was ’n mandaat vir hereniging en vir die Wes-Duitse politieke en ekonomiese suksesmodel. ’n Breë en verteenwoordigende regering is gevorm uit die Alliansie, die Liberales en die SPD, met Lothar de Maizière van die CDU as eerste minister.

Sy hooftaak was om die DDR se ontbinding en die hereniging tot een Duitsland saam met Kohl te bewerkstellig. Intussen moes Kohl ook die buiteland se ondersteuning vir Duitse hereniging verseker. Alles het in ’n ongelooflike kort tyd gebeur en reeds op 3 Oktober 1990, minder as ’n jaar ná die val van die Muur, was die twee dele van Duitsland herenig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

En sommer kort na hereniging het baie mense na die DDR begin verlang. Selfs vandag nog wens baie ouer mense dat die DDR langer moes aangehou het.

Jack ·

Ja Jaco, dit is so. As jy jou hele lewe van iemand of iets afhanklik was, dan is vryheid vreesaanjaend. Ewe skielik moet jy self verantwoordelikheid vir jou eie heil aanvaar . Jy moet self besluite neem en die gevolge daarvan dra.

Maar , dis of “grootword” of vir altyd ‘n slaaf bly. Die voormalige “Ossies” moes kies en hulle het oorweldigend vir vryheid gekies. Ek twyfel of self die angstiges wat wou dat die DDR langer moes aanhou, vandag weer na die DDR sou wou terugkeer.

Duitsland is weer tot sy vorige glorie herstel, die magtigste land in Europa. Sy ekeonomie oorskadu die van Brittanje, Frankryk, Italie en Rusland. Dis die vierde grootste na die VSA, China en Japan.

Ongelukkig het Angela Merkel, n voormalige “Ossie” groot skade aan Duitsland veroorsaak met haar toegeeflike beleid ten opsigte van vlugtelinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.