40 jaar gelede: die oorlog oor die Falkland-eilande

‘n 40 jaar herdenkingsgeleentheid in Argentinië rakende die oorlog vir die Falkland-eilande (Foto: Alexis DELELISI/AFP)

Die oorlog in Oekraïne trek so uitermate baie aandag, nie net weens die Russiese brutaliteit nie, maar omdat dit ʼn taamlik ongewone verskynsel is, naamlik die “klassieke” oorlog tussen twee state, meer nog, waar een groot staat ʼn kleiner een binneval om geen ander rede behalwe om sy eie grondgebied te vergroot nie.

Sulke oorloë was algemeen in vorige eeue, maar het na 1945 eerder die uitsondering geword. In die afgelope sowat 30 jaar was daar eintlik net die Irakse aanval op Koeweit in 1990 en die bevryding in 1991 wat met die huidige oorlog vergelyk kan word. Die meeste ander onlangse oorloë soos in Sirië, Libië, Afghanistan, om nie eens te praat van die talle oorloë in Afrika nie, was of is eerder faksieoorloë, gewapende revolusies of terroristiese insurgensies. Die staat was eerder die slagoffer as die veroorsaker van die oorloë.

40 jaar gelede het daar ook onverwags ʼn klassieke oorlog plaasgevind, naamlik die een tussen Groot-Brittanje en Argentinië oor die Falkland-eilande. Die Falkland-eilande is ʼn klein, afgeleë eilandgroep in die Suid-Atlantiese Oseaan, sowat 1 500 km van die kus van Argentinië en derduisende kilometers van Brittanje af.

Vir Argentinië het dit veral oor prestige gegaan: die eilandgroep op hulle voorstoep is van geringe ekonomiese waarde, maar is soos ʼn doring in die vlees. Beide kante kan argumente voorbring vir die historiese aanspraak op die eilande, maar dit is ʼn internasionaal erkende Britse besitting met Britse burgers wat ook verskeie kere duidelik gemaak het dat hulle hulleself as Britte sien. Vir meer as honderd jaar was die eilande vir beide lande vergete, maar vanaf die tweede helfte van die 20ste eeu het Argentinië op die eilande aanspraak gemaak.

Met die toenemende druk op die Argentynse militêre bewind in die vroeë 1980’s was ʼn buitelandse sukses die aangewese resep om die bevolking te verenig en patriotisme aan te blaas, wat die regering van generaal Leopoldo Galtieri sou versterk. Galtieri het gereken dat Groot-Brittanje, verswak deur sosialistiese wanbestuur in die 1970’s en lankal op die afdraande pad as moondheid, niks meer as diplomatieke protes sou aanteken nie. Op 2 April 1982 het ʼn Argentynse valskermbataljon, ondersteun deur die vloot en lugmag, naby die eilandhoofdorp Port Stanley met sy sowat 2 000 inwoners geland en dit beset, dit sonder ʼn oorlogsverklaring.

Die klein Britse garnisoen kon geen noemenswaardige weerstand bied nie. Slegs ʼn dag daarna is die onbevolkte eiland Suid-Georgië, wat ook onder Britse beheer is, beset en nog ʼn dag later is die Falkland-eilande onder die naam, Malvinas, tot ʼn Argentynse provinsie verklaar, met Spaans in plaas van Engels as amptelike taal.

Argentinië het hom egter misreken met die Britse eerste minister, Margaret Thatcher, wat vasberade was om Brittanje se soewereiniteit te verdedig − al was dit vir ʼn klein buitepos aan die ander kant van die aarde en ten enorme koste en lewensverlies, gemeet aan die klein bevolking van die Falkland-eilande. Thatcher het dadelik ʼn Britse vlootverband na die eiland, wat meer as 12 000 km ver geleë is, gestuur.

Leopoldo Galtieri (Foto: Carlos VENTURA/TELAM/AFP)

Die twee lande was in die tyd van die Koue Oorlog eintlik in dieselfde kamp, as bondgenote van die VSA en deel van die breë Westerse alliansie teen kommunisme. Die VSA het dus ook probeer om Argentinië te oortuig om die aanval te staak, maar sonder sukses. Op 1 Mei het Britse lugaanvalle op die Argentynse posisies begin en op 2 Mei het die eerste seegeveg plaasgevind, toe Britse duikbote die slagskip General Belgrano gesink het. Op 21 Mei het die fisiese herowering van die eilande begin met ʼn landing van Britse troepe en op 14 Junie is Port Stanley bevry waarmee die oorlog feitlik beëindig was, al het Argentinië nooit sy nederlaag aanvaar nie.

Vir Brittanje het die oorlog 258 gesneuweldes beteken en £2,5 miljard gekos. Verskeie skepe en vegvliegtuie het ook in die slag gebly. Vir Brittanje se patriotisme was dit egter van groot belang en dit het gehelp om Thatcher se gewildheid tot nuwe hoogtes te vat. Dit het haar ook in staat gestel om haar ekonomiese hervormings deurgevoer te kry en verskeie kere herkies te word, sodat die 1980’s die Thatcher-dekade geword het en vir Brittanje goeie jare was.

Vir Argentinië het dit die teenoorgestelde uitwerking gehad. Afgesien van heelwat hoër verliese van 649 gesneuweldes en meer verliese in skepe en vliegtuie, het dit die einde van die diktatorskap verhaas.

Galtieri, asook die hoof van die weermag, het kort na die oorlog bedank en die militêre bewind is beëindig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Twallie

Baie goeie artikel. Ou Maggie was ‘n yster.

annie

Nee. Rusland het geensins ‘n plan om Oekraïene weer terug te neem nie. Hulle wil bloot die opbou van Navo keer. Brittanje is steeds die baas van Valkland.

Marthinus

Met soveel grade agter sy naam behoort die eerste paragraaf meer regverdig en gebalanseerd te wees. NBC het vandag berig dat die CIA erken dat hulle sekere berigte geskryf het en as disinformasie versprei het [bv die een dat Poetin se raadgewers hom nie alles vertel nie].

Oor die Falklands: Thatcher sou nie so suksesvol kon wees sonder die hulp van die Withuis [Ronald Reagan] nie, omdat hulle mos die Monroe-doktrine het – wat ook maar subjektief toegepas word.