50 jaar ná die moord op dr. Verwoerd

dr-hf-verwoerd-standbeeld-orania

Die standbeeld van dr. HF Verwoerd is verskuif van Pretoria na Orania in die Noord-Kaap. Foto: Keyword-suggestions.com

Vandag, op 8 September 50 jaar gelede, sou die Verwoerdfamilie verjaardag gevier het. Dr. HF Verwoerd sou 65 jaar oud gewees het, op die kruin van sy loopbaan, gesond en vol planne.

Dit het egter nie so gebeur nie, want twee dae tevore is hy dramaties in die parlement vermoor en is nie net die familie nie, maar “die hele Suid-Afrika”, soos die grootste deel van die blanke bevolking destyds na hulleself verwys het, in rou gedompel. (Interessant dat die datums vanjaar op dieselfde weeksdae as in 1966 val; die moord het op Dinsdag die 6de plaasgevind; hy sou op Donderdag die 8ste verjaar het en is op Saterdag die 10de begrawe.)

Ten spyte van die trauma, of juis as antwoord daarop, het die Verwoerdfamilie in die jare daarna eerder rondom hulle pa en oupa se verjaardag as sy dood byeengekom om sy graf te besoek en saam te eet. My eie ervaring daarvan was ook nie dat dit ooit in die teken van óf wraakgedagtes, óf nostalgie gestaan het nie. Wat wel gebeur het, is dat dr. Verwoerd se denke as ’n aanknopingspunt vir die beoordeling van eietydse politieke verwikkelinge gedien het en dat baie uiteenlopende standpunte ontwikkel en uitgespreek is.

Op die politieke toneel het daar in die jare ná dr. Verwoerd se dood twee goed gebeur waarvan nie een reg aan sy nalatenskap laat geskied het nie. Die een was dat sy opvolgers, ten spyte van hulle voornemens om dit te doen, nie in staat was om sy beleid dinamies verder te voer nie. Hulle was toenemend op die verdediging eerder as om, soos dr. Verwoerd, hulle probleme vooruit te wees. Mnre. Vorster én Botha word vandag as sekurokrate getipeer en nie as visioenêr soos hulle voorganger nie.

Die ander was dat die HNP, wat kort ná sy dood gestig is, hulleself as dr. Verwoerd se “ware” erfgename geprojekteer het, maar nie sonder om hom in ’n eensydige regse lig te stel nie. Daarvoor was hy te ’n komplekse figuur, maar met sy opvolgers se afnemende verbintenis en sy ou vyande se stereotipering van ’n onversetlike rassis, het sy sigbaarste aanhangers eintlik gehelp om sy openbare beeld vir die volgende dekades in ’n hoek vas te verf. Hy het onder soveel slegte publisiteit en halwe begrip deurgeloop dat ek my pa, wat sy skoonseun was en seker een van sy beste vertolkers, meer as een maal hoor sê het dat hy die oordeel oor dr. Verwoerd maar aan die toekoms oorlaat, want hy is nie in staat om dit eiehandig te verander nie.

Intussen het daar twee dinge gebeur wat dié toneel verander het, en ek is dankbaar dat die meeste van die Verwoerdkinders dit wel nog beleef. Daar het ’n herwaardering ingetree aan die hand van twee faktore. Eerstens het die teenoorgestelde van dr. Verwoerd se visie uiteindelik in vervulling gegaan en hoewel die oorgang vreedsaam en versoenend was, het die magsdinamika van ’n veelvolkige land in Afrika voelbaar genoeg geword dat ons toenemend besef het waarom hy ’n alternatief daarvoor wou vind. Tweedens het daar genoeg tyd verloop dat sy woorde en denke op sigself weer herontdek en beoordeel kon word, veral deur dié geslag Afrikaners wat die meeste onder transformasie en regstellende aksie ly.

In sy tyd het dr. Verwoerd ’n geweldige begeestering teweeg gebring; hy was kennelik self ’n idealis en het Suid-Afrika (in die sin waarna vroeër verwys is) tot idealisme aangevuur. Baie van sy ondersteuners wat hulle later by nuwe omstandighede en beleidsrigtings moes aanpas, het soms die indruk gelaat dat hulle skaam-kwaad is vir hulleself; hulle was óf vroeër, óf later verkeerd en wou die stof van hulle vroeëre entoesiasme van hulle voete afskud.

’n Nuwe geslag denkers het egter die toon begin aangee en nuwe omstandighede het op ’n ironiese manier die ou insigte en waarhede waarmee dr. Verwoerd gewerk het, weer aan die lig gebring. Dit kan in een woord saamgevat word: selfbeskikking. Hy was selfs bereid om die opkomende Suid-Afrikaanse staat en die belange en instrumente wat dit behels het, aan die strewe na selfbeskikking van sowel swart as wit Suid-Afrikaners ondergeskik te stel. Dit sou die verdeling van Suid-Afrika meebring en nie almal wie se belange daarby op die spel geplaas sou word, was daarmee gediend nie. Die ANC, byvoorbeeld, se vooruitsigte om ’n onverdeelde Suid-Afrika met al sy rykdom te bekom, sou nooit in vervulling kon gaan nie – daarom dat hulle hom én sy herinnering so hewig moes en moet beveg, veral toe sukses die waarskynlikste gelyk het.

Die era van Verwoerd behoort onomkeerbaar tot die verlede en die moontlikhede wat dit ingehou het, is onherhaalbaar verby. Desnieteenstaande voel Afrikaners steeds die behoefte om oor hulle eie sake te besluit en is die middelpuntvlietende kragte wat ’n veelvolkige staat so dikwels kenmerk, steeds aan die werk in Suid-Afrika. Dalk is ’n Suid-Afrikaanse gemenebes of statebond van volke steeds die vreedsaamste waarop ons vir die toekoms kan hoop. Dit is in elk geval duidelik dat sy visie vandag nog deel van ons denke moet wees.

  • Boshoff is ook ‘n kleinseun van dr. HF Verwoerd.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

wynand ·

Ek soek nog steeds selfbeskikking sodat ons nie onder al die korrupsie en onregverdigheid lei nie.

Hendrik ·

Ons het opgehou soek na selfbeskikking en werk positief daar die doel. Ek voel dit is belangrik om bewus te wees avn tans gebeur in die lan , maar jouself nie blind te staar daarna en jouself mismoedig maak nie. Dinge verander in ‘n oogwenk in die land en dan moet ons gereed wees..

JC ·

Uitstekende artikel. Briljant!
Selfbeskikking is duidelik die antwoord.
Vraag is net gaan: gaan die rykes en veral die Pretorianers alles opgee wat hulle het, om hulself in die Kaap te gaan vestig saam met ander Afrikaners in ‘n onafhankilike gebied?
Artikel 235 v/d GW is tot ons beskikking

Hendrik ·

Orania/ Kleinfontein is ‘n goeie voorbeelde van gebiede wat na selfbeskikking toe werk maar dit is nie te se dit moet daar wees nie. Ek glo daar kan ander gebiede ook wees in die land wat prakties is. Neem bv Kleinfontein waar die meeste mense in Pta/Jhb en omliggende gebiede werk. Daar is werk skepping binne maar dit gaan ‘n rukkie neem voordat daar bv ligte industrie gevestig kan word. Orania/Kleinfontein/…/Rome is nie in eendag gebou nie

wynand ·

Ek hoop baie. Die kinders sal sorg dat hulle ouers helde word.
Selfs die kinders kan helde word in hierdie geval want hulle is nie bang vir die toekoms nie.

TTh ·

Dr Verwoerd is uitstaande voorbeeld van uitmuntende staatsmanskap vir die ganse wereld. Ongelukkig is sy doen en late as landsleier so verdraai en beswadder deur die vyande van die Afrikaner volk dat selfs Afrikaners nie weet of wil weet wat hy vir sy land se mense bereik het nie. Dit is vandag amper ondenkbaar dat daar ooit weer ‘n intelligente, etiese, morele en bekwame persoon soos Dr Verwoerd vorendag sal kom en aanvaar word as leier van die groter Suid Afrika met al sy volkere. Ons beleef vandag die antitese van Dr Verwoerd in die ANC en hul leiers – sela.

Popeye ·

Gee Dr. Verwoerd wat hom toekom, dus het die wiel begin afkom na sy leierskap.

Merkur ·

Dit is inspirerend vir my om hier te ervaar hoe wydsigtig Dr. Hendrik Verwoerd was en wat ‘n mooi persoonlikheid hy gehad het. Ons kan bly wees dat ons hom ten minste vir die kort tyd gehad het wat hy vir Suid-Afrika gedien en gelei het.
Dankie vir die presiese artikulasie oor hoe die meeste van ons streef na selfbeskikking. Ons moet hierop bou en sy werk voltooi.

Merkur ·

… of Verwoerd se werk verder voer en op die fondament bou wat hy gelê het. Nasie bou en land opbou kan seker nooit voleindig wees nie.

Meraai ·

Ek is gebore die dag toe dr Verwoerd dood is en is so spyt dat ek hom nooit kon leer ken het as politieke reus en formidabele leier nie!

Dirk Kruger ·

Daar is geen hoop vir die Blankes in Suid afrika nie. Wanneer jy die kommentaar oor Dr. Verwoerd lees, dan besef ‘n mens weereens dat afrikaans sprekende blankes geen idee het wie hulle ware vyande is nie. Dr. Verwoerd is nie vermoor vir die feit dat hy afsonderlike ontwikkeling bepleit het nie maar omdat hy op die punt was om ‘n “federale stelsel”, aan die kabinet voor te stel, soortgelyk aan die VSA. Hy het reeds Rhodesia, Mosambiek, Angola, Botswana en Suid Wes Afrika aan boord gehad. Die “square mile of London” sou dit nooit toelaat nie want hulle beoefen sedert 1 Mei 1776 n “divide and conquer” beleid. Die hartseer van die verhaal is dat blanke afrikaners hom vermoor het vir geld. Dit bring my by ‘n ander saak wat ek graag wil noem, die sogenaamde “Vader van Apartheid” titel. Wanneer is die ANC gestig om Apartheid te beveg? 1911 nie waar nie?. Dr Verwoerd het ongeveer 1960 op die politieke toneel verskyn. Jy moet breindood wees om die titel van “Vader van Apartheid” aan hom toe te dig.

Theuns ·

Carel jou Oupa was ‘n held en voorbeeld wat in ons gedagtes leef. Die hoop beskaam nooit nie en moontlik sal ons ons self weer eendag kan regeer. Die moord of jou oupa was’n goedbeplande “Staatskaping deur moord”. John Vorster se opdrag is deur “Rooi Rus” van Berg uitgevoer deur Stafendas met ‘n opdrag in daardie situasie te plaas, sonder polisie keuring, waar hy die moord kon pleeg! Daar is nooit volgens my wete ‘n gesondheids evaluasie van laasgenoemde gemaak nie. Hy is summier ‘n pasient van die staat gemaak en toegesluit? Gewoonlik word ‘n sielsieke persoon na ‘n plek gestuur waar hy vir maande lank ondersoek word. Die evaluasie het in die tydperk van ‘n paar dae gebeur.

Theuns ·

Kobus, ek is oortuig dit was Lang Hendrik van den Berg alhoewel Theuns Swanepoel ook betrokke was by die veiligheids polisie. Onthou jy die Eloff Straat beleg in JHB. Rooi Rus was ook daar betrokke. Ek sal omverskoning vra as ek verkeerd is! Groete.

Rupert Ashford ·

Theuns, genl Lang Hendrik van den Berg was betrokke by die inligtingskandaal in 1978. Weet nie van voor dit nie…ek was nog net ‘n twinkle in 1965. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.