94 en 1994: Psigiatriese pasiënte se sterftes ’n druppel in ANC-emmer

verwaarloosde-hospitaal-bed

Foto: Pixabay.com

Die dood van 94 psigiatriese pasiënte word tereg met reuse-verontwaardiging, woede en media-aandag begroet. Nog sterftes word verwag en dit is ’n yslike klad op die ANC se post-1994 bewind.

Die feit dat die Gautengse departement van gesondheid soveel pasiënte oorgeplaas het na nieregeringsorganisasies (NRO’s) sonder geldige lisensies, getuig van growwe nalatigheid en hardvogtigheid. Op die oog af is die pasiënte nie dood weens opsetlike optrede van die staat nie, maar wel weens uiterse onbevoegdheid en nalatigheid. ʼn Mens kan dit eintlik as ongeërgdheid bestempel omdat die aanvanklike sterftes wel onder die owerhede se aandag gekom het, maar hulle steeds toegelaat het dat die pasiënte van als behalwe hul sielkundige kwale sterf.

Die Gautengse departement van gesondheid het ook nagelaat om die situasie en die pasiënte se welstand te monitor. Hulle is dus nie minder aanspreeklik as wat hul direkte optrede tot die sterftes bygedra het nie.

Qedani Mahlangu, LUR van gesondheid in Gauteng, het die regte ding gedoen en bedank (iets wat ook min in ons regering gebeur) en David Makhura, Gautengse premier, is nou in ’n politieke storm gedompel. Hoe tragies en hartseer hierdie storie ook al is, is dit egter net ’n breukdeel van die sterftes oor die laaste 23 jaar wat regstreeks sowel as indirek aan die ANC-regering toegeskryf kan word.

Altesaam 244 mense is in die 2014/15-jaar in polisie-aanhouding dood en 396 het weens polisie-optrede (soos tydens arrestasies en betogings) gesterf – altesaam 640. In 2013/14 was hierdie totaal 624 en in 2012/13 was dit 706. Tussen 2000 en 2015 het amptelik nagenoeg 2 900 mense in polisie-aanhouding gesterf.

Die syfers oor sterftes in aanhouding moet gekwalifiseer word met die feit dat natuurlike oorsake ook ʼn oorsaak kon wees, maar dit is onomstootlik dat beserings wat tydens aanhouding opgedoen is, tot ’n groot deel van hierdie sterftes bygedra het. Luidens statistiek deur die polisiewaghond Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraal (Opod) is 91 van die bogenoemde 244 sterftes tydens 2014/15 deur beserings tydens aanhouding veroorsaak – bykans soveel as die onlangse psigiatriese sterftes. Al het heelwat aangehoudenes gesterf weens natuurlike oorsake en beserings wat voor hul aanhouding opgedoen is, het hulle steeds in polisie-aanhouding gesterf en daarvoor moet die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) pa staan – al was dit slegs nalatigheid.

Tewens, van hoeveel onskuldige mense het ons nie al gelees wat doodgeskiet is omdat ’n swak opgeleide polisielid blindelings en roekeloos hul polisiehoofde, soos Bheki Cele, se opdragte om “dood te skiet” uitgevoer het nie? Die dood van Andries Tatane in 2011 en die Marikana-slagting lui ’n klokkie. Die voormalige en geskorste polisiekommissaris Riah Piyega is nou juis weer in die nuus oor haar betrokkenheid by die 34 sterftes by Marikana.

Voorts is 3 711 aanrandingsake sowel as 145 aanklagte van marteling teen polisielede in 2014/15 aanhangig gemaak. Altesame 66% van alle klagtes teen polisielede handel oor aanranding en marteling – die meeste van al die soorte klagtes – en slegs 2% oor korrupsie. Hierdie syfers en omvang toon hoe wydverspreid hierdie optrede voorkom en die verband tussen dít en lewensbedreigende beserings wat die dood van aangehoudenes kan lei, is duidelik.

Dis ook nie net wat die polisie doen wat gevaarlik is nie – wat hulle nié doen nie is selfs gevaarliker. ʼn Mens bel byvoorbeeld nie meer in die algemeen die polisie as daar gewapende rowers by jou is nie, maar eerder bure, vriende of jou private veiligheidsmaatskappy.

Luidens die polisie se amptelike syfers (wat feitlik altyd ’n onderskatting is en nie ’n ware weerspieëling van misdade is nie) is daar in 2014/15 17 805 moordsake by die polisie aangemeld en 17 537 sake van poging tot moord. Hierdie syfers lyk al vir die laaste sewe jaar min of meer dieselfde en voor dit was dit veel hoër. Ongeag hoeveel skuldigbevindings hieruit spruit, bly dit kolossale syfers en wys net die mislukking aan staatskant om enersyds sigbare en responsiewe polisiëring te verskaf en straf toe te meet en andersyds om werk te skep en ons aansienlike sosiale euwels doeltreffend hok te slaan.

Dan word die ander geweldsmisdade – wat soos aanrandings en marteling weliswaar nie altyd op sterftes uitloop nie, maar wel groot leed en trauma veroorsaak – nog nie eens bygetel nie. En húl syfers is veel hoër.

Op gesondheidsvlak het hierdie tragedie ook epidemiese afmetings aangeneem. Die gesondheidsektor is so getransformeer, onderbefonds en wanbestuur dat dit nie in staat is om enige behoorlike dienste te lewer aan die publiek nie. Die 94 psigiatriese pasiënte se lot en emigrerende dokters is klinkklare simptome daarvan. Volgens ramings deur die Wêreldbank sal slegs 40,2% van seuns wat in 2013 in Suid-Afrika gebore is, lewe om 65 te word – omtrent dieselfde wat dit in die erbarmlike Demokratiese Republiek van die Kongo is. Selfs in die problematiese Libië is hierdie syfer 80% en in Uganda is dit 54%.

Weer eens hoef jy net die media dop te hou om dikwels oor volwasse pasiënte en babas wat in openbare hospitale sterf, te lees. Onder meer het drie babas in 2014 in Bloemhof, Noordwes, gesterf weens diarree omdat die munisipaliteit se water weens swak bestuur ondrinkbaar was. En hoeveel geld is nie al by provinsiale staatsdepartemente wanbestee en vermors nie, eerder as om nog hospitale en klinieke te bou en mediese personeel aan te stel? Hierdie gevalle is dalk nie een groot onthulling soos die een oor psigiatriese pasiënte nie, maar as ’n geheel gesien is sulke indiwiduele voorvalle niks minder nie as ’n krisis.

Ons almal kan begrip hê daarvoor dat die polisie, staatshospitale en munisipaliteite heelwat arm mense met relatiewe klein begrotings moet dien. Maar hul korrupsie, nalatigheid, opsetlike vergrype en weiering om kritieke poste te vul en meriete-aanstellings te maak, is onvergeeflik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Daar is so ‘n erge magspel aan die orde van die dag dat mense wat hierdie dinge sien gebeur, uit vrees vir afdanking of selfs erger doodstil bly en hul oe sluit. Hierdie probleme is wydlopend en al die rasse is betrokke, nie net een groep nie. Totale verval vind plaas in die meeste staatshospitale en oorvol tronke en onder sulke omstandighede verander die menslike spesie in iets waarteen Sigmund Freud gewaarsku het, nl. wrede gevoellose wesens, wat self nie sou kon glo dat hulle tot sulke wreedhede in staat nie. Die vraag is net, hoe keer mens die situasie om met ons land gesneeubal in ‘n logge arm nagmerrie aan’t aftol….?

Ou Bosvark ·

Die groot vraag is: “Wat is die bronoorsaak (“root cause”) dat die menslike spesie verval in “wrede gevoellose wesens” en die wêreldwye massale verhuisings? Na my beskeie mening is die bronoorsaak die ongebreidelde wêreldbevolkingsaanwas en gepaardgaande stryde om oorlewing op die beperkte onvolhoubare natuurlike hulpbronne en geleenthede. Lees gerus Robert Hughes se “The Fatal Shore – The epic of Australia’s founding”. Welke reg het ‘n man of vrou om ongebreideld kinders voort te bring wetend dat hulle nie daardie kinders na behore kan of wil versorg nie? Die natuurlike reg, die goddelike reg, die Grondwet, Die Handves van Menseregte? Raai wat gaan van die mensdom word?

Ampie ·

Ja, die regering verkondig sedert 1994 gereeld Ubuntu (naasteliefde) en Batho Pele (mense eerste) as hul empatie met landsburgers. Vir die wat al in enige staatsdepartement se rye gestaan het of in staatshospitale was weet dat die twee begrippe die grootste grap van die nuwe Suid-Afrika is. Alles is ‘n klug. Onthou ook dat Mbeki eiehandig verantwoordelik was vir sekerlik honderd duisende se ontydige dood omdat hy nie anti-VIGS medisyne wou uitdeel nie, maar VIGS as ‘n fabel gesien het. Die ANC-regering is op sigself ‘n misdaad teen die mensdom.

Jip ·

Soos gewoonlik kies hulle EEN persoon om te sacrifice en die scape-goat te wees en volgende jaar stem ALMAL weer ANC!

Jaydee Jaguar ·

Ou Bosvark tref die kern. So min word daaroor gepraat. Is dit omdat dit so onreguleerbaar is? Sjina het dan tog beperkings afgedwing op gesins aanwas. Of is dit die regerendes alhier se manier om demokraties te oorleef? Die tragiese gevolge is egter dat dit juis die demokrasie genivelleer het tot onder die verantwoordbaarheid- en beskawingsnorms. En hierdie onopvoedbares se stemme het die damokrasie verander in `n `oglokrasie`: beheer deur die laagste orde/kastes van `n samelewing. En daardie `beheer` het tot gevolg dat met staats psigiatriese pasiënte gebeur wat nou hoofnuus is. Maar wat sal `n kommentaartjie soos die van hierdie idividu nou beteken, tensy hy en Ou Bosvark en ander daaraan struktuur gee deur iets soos Solidariteit/Afriforum betrokke te kry. Miskien sal Gerrie Nel nou die dilemma eers in die skeidsregtersgreep nader trek en dan met `n grasieuse `supplé` teen die mat vasdruk.. Mag God hom/hulle seën.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.