Aan Piet Croucamp: Afrikaners ís ‘n etniese groep

Piet Croucamp is geen ernstige denker nie. Trouens, hy neem nie sy opponente ernstig op nie en maak hulle gewoon as “onintelligent” of “regses met ’n “lae IK” af. Boonop is dit moeilik om te bepaal uit watter ideologiese hoek sy stellings oor “regses”, konserwatiewes”, ensovoorts gemaak word. Hy roem homself blykbaar daarop dat hy ’n linkse of neomarxis is, maar watse soort neomarxis? Is hy ’n Hegeliaan na die Frankfurt-skool of ’n meer strukturalistiese tipe in die styl van Louis Athusser, Etienne Balibar, Dominique Lecourt en ander?

Roodt Dan

Roodt Dan

Aan die een kant wil dit lyk asof Croucamp bloot dinge sê om polemiek te bedryf of om mense die harnas in te jaag. Eintlik beledig hy Afrikaners en verwag dan een of ander reaksie van ons. Ek dink Gustav Venter het hom reeds ‘n week of wat gelede op hierdie vlak geantwoord in Nou wie’s nou dom, hû?, asook Manfred Delport in Kaptein Piet Croucamp se spekskietery.

My eie indruk van Croucamp is dat hy graag namens die heersende ideologie praat. Op dié manier verskil hy nie veel van Nasionale-Party-Afrikaners van die verlede nie, wat ook graag die heersende diskoers nagepraat het.

Blykbaar is hy egter geen Afrikaner nie, al lyk hy soos een en praat hy soos een. In elk geval sal niemand Croucamp vir ’n Engelsman uit die stad van Londen aansien nie. Hy het, soos Koos Kombuis, alias André Leroux du Toit, uit die Afrikanerdom “bedank”. Só maklik is dit egter nie, om in ‘n komplekse, veelvolkige (multinasionale) staat soos dié van Suid-Afrika jouself anders te begin etiketteer. Soos die vrou wat destyds tydens die Soweto-onluste uitgeroep het, “I’m English!” mag dit dalk nie genoeg wees om jou van ander te distansieer nie, aangesien jy nog steeds etnies as blanke, Westerling en, les bes, Afrikaner, ervaar mag word.

Hierdie mag ‘n futiele oefening wees. Soos ek reeds gesuggereer het, wil Croucamp nie hê dat ons hom ernstig opneem nie. Hy sê maar net enigiets wat in sy kop inkom en gee nie eintlik om as dit aanvegbaar is nie, solank dit een of ander reaksie in die geledere van “die volk” veroorsaak. ’n Mens bespeur dieselfde soort houding by Max du Preez wat sy lojaliteit teenoor Engelse, swartes of wie ook al betuig deur Afrikaners te beledig, te stereotipeer en te verguis. Dis ’n soort hensopperdiskoers, want eintlik is die toehoorder altyd die ander, die nie-Afrikaner wat goed gaan voel omdat hy “slimmer”, “linkser” of “meer bevry” as die gemiddelde Afrikaner sou wees.

Nietemin wil ek enkele van die stellings (teses) wat Croucamp maak, ernstig opneem en aan ’n ligte ondersoek onderwerp om te sien of hulle waar of vals is. Verskoon my as dit na ’n soort matriek- of eerstejaarsopdrag klink, maar siende dat ons hier met heel basiese begrippe werk, kan dit nie anders nie.

Croucamp sê byvoorbeeld: “Die konsep ‘Afrikaner’ het waarskynlik lankal nie meer die nominale inhoud van ’n etniese groep nie.” Nou vra ek: Hoe waar is dit en op watter gesag berus hierdie stelling?

Let op die gebruik van die woord “waarskynlik”. Eintlik ondermyn Croucamp sy eie stelling, want hy wil sê dat hy self nie seker is nie. Beroep hy hom op ’n vae soort openbare mening, die Zeitgeist wat Naspersjoernaliste in hul onkunde vir ons konstrueer?

Elke woordeboek ter wêreld bevat ’n definisie van die begrip “Afrikaner”. Laat my byvoorbeeld die Nederlandse Van Dale aanhaal: “Afrikaner… vooral in Zuid-Afrika gebezigde aanduiding van een in Z.-Afrika geboren blanke, m.n. van Boerenafkomst.”

Met ander woorde, daar is wel “nominale inhoud”. “Nominaal” kan hier twee dinge beteken: “volgens die naam” en “gering”. Die eerste betekenis is semanties van aard en die tweede dui op ‘n “geringe etniese inhoud” as ek hom reg verstaan. In albei gevalle is sy stelling dus vals: Die semantiese inhoud van “Afrikaner” is bewese en algemeen aanvaar, soos die meeste woordeboeke in ’n groot verskeidenheid tale op aarde bewys en ten tweede kan die etniese aard van die begrip “Afrikaner” ewe min ontken word. Die huidige president van Suid-Afrika het reeds by verskeie geleenthede die bestaan van Afrikaners as ’n etniese groep erken deur na ons as “inheems” te verwys.

Maar afgesien van hierdie soort “staatkundige erkenning” deur die staatspresident van Suid-Afrika, is daar ook ander, meer objektiewe – noem dit volkekundige of antropologiese – maatstawwe. Die “Afrikanergeskiedenis” is reeds in honderde boeke, asook waarskynlik duisende proefskrifte en tienduisende artikels in allerlei tale geboekstaaf. Die hele Suid-Afrika is besaai met monumente en simbole wat elemente van daardie geskiedenis gedenk. Iewers het ek gelees dat 90% van alle monumente in Suid-Afrika deur Afrikaners opgerig is. Tot in China weet mense van die Voortrekkermonument, want dit is die monument in ons land wat die meeste besoek word en dan veral deur Mandarynse Chinese.

Voortrekkermonument1Benewens geskiedenis, watter ander merkers van etnisiteit is daar? Taal, kookkuns, tradisies, godsdiens, kleredrag, danse, ens. Standaardafrikaans is ’n skepping van die Afrikaner, nogal die Genootskap van Regte Afrikaners. Daar is iets soos Boerekos en Afrikanerkookkuns, Boerewors, sosaties, poedings, koeksisters, noem maar op. Trouens, die res van die mense in die land spot met ons omdat ons sulke kenmerkende etniese eetgewoontes het, terwyl hulle aan Amerikaanse hamburgers smul. Selfs Woolworths, wat nie Afrikaans as taal erken nie, verkoop Boerewors, asook ’n variant wat Grabouw-boerewors genoem word. Toe ek op skool was, het ons volkspele gedoen en ek weet daar bestaan nog vele volkspelegroepe in die land waar mense tradisionele danse beoefen wat toeka se tyd in die Kaap ontstaan het en saam met ons die binneland ingekom het en tot vandag toe beoefen word. Selfs RSG, die radiostasie wat hom by monde van sy hoof, Magdaleen Kruger, téén Standaardafrikaans uitgespreek het, saai Boeremusiek uit!

Die term “Afrikaner” druk dus beslis ’n etniese begrip uit. Ironies erken iemand soos prof. Wannie Carstens van die Noordwes-universiteit dit ook as hy sê dat ons die term “Afrikaner” anders moet defininieer: “Ek is van oordeel ons moet eerder die term ‘Afrikaner’ herdefinieer as dat dit almal wat Afrikaans praat, insluit. Dan beweeg ons weg van die assosiasie met kleur. Want die assosiasie met kleur vind ek diskriminerend.”

Dit wil dus voorkom asof sowel Croucamp as Carstens ’n ongemak met die begrip “Afrikaner” ervaar, wat moontlik daarmee te make het dat albei universiteitsdosente is. Sedert Kader Asmal die akademiese vryheid wat in die land bestaan het, beëindig het, weet ons dat akademici besonder gevoelig is vir enige vorm van politiek wat van die heersende ideologie van “nasiebou” en die ontkenning van etnisiteit afwyk. Dieselfde persoon wat Afrikanerskap ontken of, les bes, “anders wil definieer”, het egter geen probleem daarmee om na “Jode”, “Palestyne”, “Franse”, “Nederlanders” of selfs “Vlaminge” te verwys nie. Hy drink steeds “Skotse” whiskey en probeer nie die bestaan van Skotland as ’n etniese gebied binne die Verenigde Koninkryk ontken nie.

Die gemiddelde Afrikaner daarbuite het egter vrede met die institusionele probleme van universiteitsdosente wat vir aanvaarding en bevordering van ’n polities korrekte onderdanigheid teenoor die owerheid afhanklik is. Daarom gaan ons ons nóg “herdefinieer” om Carstens te pas nóg om Croucamp se valse stellings waar te maak.

Die gewraakte onderwerp “rassisme” word elke dag tot vervelens toe in Suid-Afrika aangeroer. Omdat Croucamp iemand is wat graag die stroom volg, doen hy dit ook in sy stuk deur te sê:

“Afrikaners wat hulself as polities regs (‘n veronderstelde ideologiese konsep) identifiseer, verskil in minstens een – of net een – belangrike opsig van hul mede taal-en kultuurgenote en dit is dat hulle kru rassisties is op ’n wyse wat met lae intelligensie geassossieer kan word.”

Hier doen Croucamp ten minste twee dinge: hy veronderstel dat alle “regses” (ons weet nie presies wie of wat dit is nie, maar dis seker almal wat nie marxiste of sosialiste is nie) en alle “rassiste” oor ‘n “lae intelligensie” beskik.

Hoe waar is dit? Kom ons begin by die rassiste. Daar bestaan geen samehangende definisie van “rassisme” nie, maar kom ons veronderstel dat daardie intellektuele, skrywers, denkers en wetenskaplikes wat in die onlangse verlede deur die meer liberale media as “rassiste” uitgekryt is, wel rassiste is. Indien Croucamp korrek is, sal hulle almal dom wees, of oor ’n “lae IK” beskik. “Hoe laag is ’n ‘lae IK’?” is die volgende vraag. ’n Normale IK in Westerse lande is 100, dus moet dit laer as 100 wees. So ’n persoon sou nie in staat wees om byvoorbeeld ’n universiteitskwalifikasie te verwerf nie, wat nog te sê ’n nagraadse kwalifikasie. Hy sou ook nie in staat wees oorspronklike wetenskaplike navorsing te doen nie. Wat van ’n Nobelprys in die medisyne, spesifiek vir ontdekkings in die molekulêre biologie?

So ‘n beroemde – en vermoedelik intelligente – rassis is James D. Watson, een van die vaders van die moderne genetika. Soos almal weet, het hy en sy kollega Francis Crick die “dubbele heliks” van ons DNS ontdek. Daarvoor het hulle in 1962 die Nobelprys in die medisyne ontvang. Watson het hom sy lewe lank met genetiese navorsing besig gehou, totdat hy in 2007 tydens ’n boekpromosietoer die volgende gewraakte opmerking teenoor ’n Britse joernalis gemaak het:

“…there is no firm reason to anticipate that the intellectual capacities of peoples geographically separated in their evolution should prove to have evolved identically. Our wanting to reserve equal powers of reason as some universal heritage of humanity will not be enough to make it so.”

Die implikasie van dié stelling is natuurlik duidelik: dat verskillende rasse gemiddeld nie oor dieselfde intellektuele vermoëns beskik nie. ’n Geweldige skandaal het losgebars; Watson moes die res van sy toer kanselleer en hy is ook gedwing om uit sy pos as hoof van ’n navorsingslaboratorium te bedank.

Dit raak nog erger, ten minste vir Croucamp se teorie dat alle rassiste dom is. Nog ’n wetenskaplike, William Shockley, het die transistor uitgevind en daarvoor in 1956 die Nobelprys vir fisika ontvang. Hy word as die vader van die sogenaamde “Silicon Valley” in Kalifornië beskou en sonder hom sou ons seker nie vandag op rekenaars gesit en tik het nie. Miskien is rekenaars ook “rassisties” want later in sy lewe, nadat hy professor aan die Stanford-universiteit was, het Shockley ’n oortuigde voorstander van eugenetiek geword. ’n Groep van 30 van sy kollegas het egter gesê: “Shockley is the man who brought silicon to Silicon Valley.”

Aan die einde van sy lewe is Shockley geteister deur joernaliste wat sy sienings oor ras en intelligensie belaglik wou maak en hy het ook ’n lastersaak gemaak waarin die hof hom gelyk gegee het, maar slegs $1 aan vergoeding toegestaan het.

Volgens die liberale media en die hoëpriesters van politieke korrektheid was beide Watson en Shockley “rassiste”. Een was die uitvinder van die transistor en die vader van “Silicon Valley” en die ander die mede-ontdekker van die DNS-heliks. Albei het die Nobelprys in wetenskaplike dissiplines ontvang. Ons kan baie dinge van hulle sê, maar nie dat hulle “dom” was nie.

Die vader van moderne rassisme word allerweë as die Franse skrywer, Graaf de Gobineau, beskou. Benewens romans en ander geskrifte, het hy ’n boek met die onvergeeflike titel, Die ongelykheid van menslike rasse, gepubliseer. Nietemin word hy steeds as klassieke skrywer in Frankryk erken. Was hy ook “dom”?

ikDie skrywers van die boek The Bell Curve, Herrnstein en Murray, is insgelyks deur die liberale media as rassiste uitgekryt, dog geen van hul joernalistieke en akademiese kritici kon tot dusver die sentrale punt van die boek, dat IK ’n groot rol in die samelewing speel, weerlê nie. Die omstredenheid van die boek draai rondom ’n enkele hoofstuk waarin IK-verskille tussen rasse bespreek word. Ook daardie hoofstuk is tot op hede nie verkeerd bewys nie. As dit so maklik is om die geskrifte van bekende en “dom rassiste” te weerlê, waarom doen die hordes links-liberale joernaliste en akademici dit nie?

Enkele jare gelede het dr. Leopold Scholtz, die bekende Naspers-kommentator, belowe dat hy wetenskaplike artikels uit erkende vaktydskrifte sou voorlê wat onomstootlik bewys dat “rassistiese” sielkundiges en navorsers verkeerd is en dat alle rassegroepe oor presies dieselfde gemiddelde IK beskik. Gegewe die linkse obsessie met hul “hoë intelligensie”, teenoor die geestelike gestremdheid van rassiste, is dit nie tyd dat Croucamp, Scholtz en ander met die getuienis vorendag kom dat swartes, blankes en Asiërs oor presies dieselfde gemiddelde intelligensie beskik nie?

’n Navorser wat hom insgelyks op die onderwerp van ras en IK toegespits het, was die Kanadees J. Philippe Rushton. As professor aan die Universiteit van Wes-Ontario in Kanada was hy sekerlik nie verstandelik vertraag nie en hy het allerlei aanvalle, betogings, asook ’n vier jaar lange hofsaak en pogings van die Ontario-provinsie om hom afgedank te kry, getrotseer om met sy navorsing oor IK voort te gaan. Op ’n stadium is sy klasse dermate deur betogers ontwrig dat die universiteit nie meer sy veiligheid kon waarborg nie en moes hy deur middel van video-opnames klas gee.

Croucamp se teorie dat “rassiste” noodwendig dom is, moet in die lig van bogaande getuienis, afgewys word.

Kommerwekkend van linkse denkers is hul ontvanklikheid vir groepsdruk en onverdraagsaamheid teenoor diegene wat van hulle verskil, wat gewoonlik doodgeskree, met geweld gedreig of selfs fisiek aangeval word.

Volgens Croucamp, is alle “regses” dom. ’n Groot aantal intellektuele, skrywers, digters, filosowe, komponiste en natuurlik politici deur die geskiedenis kan as “regs” of nasionalisties beskou word. Nietzsche, Wagner, Heidegger, Ezra Pound, T.S. Eliot, Céline, N.P. van Wyk Louw, C.M. van den Heever, Alain de Benoist, Enoch Powell, Kurt Vonnegut, Anna M. Louw, Jaap Steyn, Jean Raspail, Peter Sloterdijk, W.F. Hermans, Houellebecq en vele ander het op een of ander manier hulself as “regs” of ten minste nie-links geposisioneer. Heidegger word as een van die grootste filosowe van die Twintigste Eeu beskou, indien nie dié grootste nie. Prins Charles van die Verenigde Koninkryk het op ’n stadium “alle moderne argitektuur as… fascisties” beskryf en moontlik was hy reg. Daar is niks prolataries aangaande hoë geboue, glas en staal, asook die aandrang op sulke “regse” ideale soos skoonheid, suiwerheid en funksionaliteit nie.

Die linkse aandrang op “gelykheid ten alle koste” het vir ons die Sowjet-goelag gegee. Daarmee saam kan ons sien dat die voorstanders van gelykheid juis die onverdraagsames is wat mense se klasse ontwrig, ander wil sensureer, wetenskaplike navorsing wil belemmer en boeke en geskrifte verbied wil sien.

Kan ons hoegenaamd Croucamp se volgende stelling ernstig opneem: “Soos dit is, het Afrikanerskap ’n baie lelike ideologiese konstruk geword; daarom is ek geen Afrikaner nie… Diegene wat haat en nyd koester as ’n politieke identiteit is die skuim van die Afrikanerdom, die room ploeg die lande, skep werk en word burgers van ’n baie groter en interessanter prentjie.”

Ek weet nie of Croucamp as wêreldburger of Brit of wat ook al self-identifiseer nie, maar kennelik is hy nie in staat om aan ons te verduidelik waarom Afrikanerskap ’n “lelike ideologiese konstruk” sou wees nie. Immers is Afrikanerskap gegrond op vrye assosiasie, terwyl die huidige Suid-Afrikanerskap van dwang en selfs sadisme afhang. Elkeen kan kies of hy ’n Afrikaner wil wees hoewel vreemdelinge selfs vir Croucamp as Afrikaner mag sien, ongeag sy “bedanking uit die volk”. Aan die ander kant word ons eenvoudig in die nasionale staat van Suid-Afrika ingedwing, waar ons met wetteloosheid, korrupsie en sadistiese geweld vir lief moet neem. Is Suid-Afrikanerskap nie eerder die “lelike ideologiese konstruk” waarvan Croucamp praat nie? Ons word gevange gehou in ’n stelsel wat ons nie wil hê nie, waarvoor ons nie stem nie en wat ons op allerlei maniere verdruk. Tydens plaasmoorde, motorkapings en huisaanvalle word ons vroue verkrag en ons almal aangerand, beseer en vermoor. Die aaklige geweld wat ons ervaar, stem al hoe meer ooreen met die linkse utopieë van die twintigste eeu wat een en almal as “misdade teen die mensdom” verwerp is.

Goelag Suid-Afrika, tuiste van die terroriste en sadiste.

Is dit die mense met wie Croucamp, die verloopte Afrikaner en desnoods verraaier, identifiseer? Praat hy namens die totalitêre linkse tradisie van die 20ste Eeu? Die “haat en nyd” waarna hy verwys, is eerder aan die kant van die nie-Afrikaners te vinde. In vele opsigte is Suid-Afrikanerskap op Afrikanerhaat gegrond, omdat die “Suid-Afrikaner” nie in staat is om sy eie identiteit te skep nie en daarom slegs na ’n soort anti-identiteit kan aspireer, wat die ontkenning van die Afrikaner sou wees. Deur ons te ontken, word ons ook desnoods vermoor. Op sy minste word daar teen ons taal en kultuur gediskrimineer, wat geheel en al teen internasionale norme indruis.

Ek verbeel my Andries Treurnicht het destyds ’n boek, Credo van ’n Afrikaner, geskryf. Dit is nogal deur die Naspers-uitgewery, Tafelberg, gepubliseer. Ek het dit nie gelees nie, maar ek dink dit is tyd vir ’n meer positiewe, bevestigende siening van Afrikanerskap. Wat is ons credo?

Ongelukkig moet enige definisie van Afrikanerskap vandag by lyding begin. ’n Afrikaner is bowenal iemand wat ly. Ons het onder die Britte gely, tydens dít wat Smuts in ’n gelyknamige boek ons “Eeu van onreg” genoem het. Tans ly ons steeds onder die huidige imperialiste wat veel meer gewelddadig en onregverdig as die Britte is.

’n Afrikaner is ’n jong meisie wat koelbloedig doodgeskiet word. Iemand soos Danielle Esterhuizen, Willemientjie Potgieter of Alyssa Botha. Vanuit die suiwer sadisme van daardie groteske daad, moet ons voortaan ons identiteit bedink, as magteloos en blootgestel aan die “haat en nyd” waarna Croucamp so ironies verwys.

Croucamp se ontkenning van Afrikanerskap loop parallel met die ontkenning van ons menswees deur hierdie linkse stelsel: die goelag, die gelykheidsmasjien wat uit die totalitêre maag van die 20ste eeu ontsnap het om ons te kom teister.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae