Aanhouer wen: Blý hamer teen die toe ANC-poorte!

slot-hek

Foto: Pixabay/Pexels.com

In my rubriek verlede week het ek ʼn bietjie oor die demokrasie gesels. Ek het afgesluit met die idee dat die probleem in ons land nie primêr by die Grondwet lê nie, maar by die ANC, wat dit nie nakom nie.

My laaste paragraaf het gelui: “Dus, die probleem lê veral by die ANC. Hoe pak jy hóm aan? Kom ons gesels aanstaande week verder.”

Sedert daardie rubriek verskyn het, het sake natuurlik in ’n stroomversnelling geraak met die gebeure in Zimbabwe. Kom ons kyk dus watse implikasies dít vir ons eie omgang met die ANC en die demokrasie kan hê.

Zimbabwe is in sekere sin ’n Suid-Afrika in kwadraat: ’n Afrika-populis aan die mag wat nie skroom om te lieg, te intimideer, skaamteloos korrup te wees en selfs te moor om eerste met sy snoet by die trog te wees nie.

Nou ja, ek het nog nêrens gehoor dat Zuma mense “permanent uit die samelewing verwyder het” nie, maar al die ander dinge het hy wel gedoen. Die twee boeke wat pas kort op mekaar se hakke verskyn het – Jacques Pauw se The President’s Keepers, en Adriaan Basson en Pieter du Toit se Enemy of the People – wys in groot detail presies watse groot skurk Zuma is.

Daar is natuurlik ’n paar verskille tussen Zimbabwe en ons land.

Ten eerste het ons ’n Grondwet wat aan die burgerlike samelewing ’n instrument bied om Zuma-hulle in die bek te ruk. Maar selfs die beste grondwet is uiteindelik slegs ’n stuk dooie papier as dit nie gepaardgaan met ’n basiese infrastruktuur om dit af te dwing nie.

Dit is waar die tweede verskil inkom.

Suid-Afrika het ’n baie lewendiger burgerlike samelewing as Zimbabwe. Dáár het Mugabe (en, heel ironies, Emmerson Mnangagwa, die man wat waarskynlik nou by hom gaan oorneem) die burgerlike samelewing min of meer platgetrap.

Éérs moes Mugabe van sy troon val; pas tóé kon die grashalms van die Zimbabwiese burgerlike samelewing heel versigtig weer orent kom.

By ons doen organisasies soos AfriForum, Right2Know, Outa en die FW de Klerk-stigting waardevolle werk om die Grondwet in te span in die howe – wat oorwegend steeds baie onafhanklik is – en die ergste misbruike te keer of minstens aansienlik moeiliker te maak. Hulle het reeds talle taktiese suksesse behaal, ofskoon hulle nog nie daarin kon slaag om die oorkoepelende gang van korrupsie, magsmisbruik en staatskaping om te keer nie.

Uiteindelik hang dit egter nie net van sulke organisasies af nie; hulle kan wel die speerpunt wees, maar jy het ’n veel groter gewig ágter daardie speerpunt nodig. Dit kan slegs deur die groot gros van die kiesers gelewer word – en in Suid-Afrika is daardie kieserskorps oorweldigend swart.

Die geskiedenis van die 20ste eeu in Suid-Afrika wys dat etnisiteit as faktor om kiesers se stemgedrag te verklaar so taai soos stroop is. Dekades lank was dit byna vanselfsprekend: Afrikaners stem vir die NP (of later die HNP/KP); die Engelstaliges vir die VP/PFP.

Immers, vir die Afrikaners was die NP die bevryder van die Britse koloniale polities-kultureel-ekonomiese imperialisme.

Iets soortgelyks geld vir die swart Suid-Afrikaners. Uit húl oogpunt was die ANC die bevryder van wit oorheersing en verdrukking. En, nes die Afrikaners die NP dekades lank deur dik en dun bly steun het, is dit ook die geval met die swartes en die ANC.

Die vraag is: Is dit nog so? Dis ’n taamlik ingewikkelde vraag.

Enersyds wys ’n meningspeiling van Ipsos, ’n gerespekteerde marknavorsingsmaatskappy, dat die ANC se steun in die bevolking vir die eerste keer onder 50% gesak het (47%). In 2014 het die party nog 62% van die stemme getrek.

Natuurlik moet ’n mens baie versigtig met sulke metings wees. ’n Kwart van die ondervraagdes het aangedui dat hulle in dié stadium géén party verkies nie, en bowendien lê die volgende verkiesing nog daar ver aan die horison. Enigiets kan intussen gebeur.

Desember se ANC-leiersverkiesing – ás dit plaasvind – kan ook ’n groot invloed hê. In dié stadium is sake te vloeibaar om enigsins vaste verwagtings uit te spreek.

Tog, een uitspraak van Mbuyiseni Ndlozi, ’n woordvoerder van die EFF, het my nogal geprikkel, al het dit, streng gesproke, nie soseer oor die ANC gehandel nie.

Hy het daarop gewys dat Robert Mugabe nog nêrens ter wêreld aan enige menseregte-oortredings skuldig bevind is nie, en luidens ’n nuusberig vervolg: “Pres. Mugabe bly een van ons, ondanks baie foute wat hy as president van Zimbabwe gemaak het.” Dus moet Mugabe die kans gegun word om in Suid-Afrika af te tree en daar politieke asiel te kry.

Dit wys dat etniese en ideologiese gom, altans by sommige mense, ’n baie kragtige politieke faktor is. Dit maak nie saak dat Mugabe verantwoordelik is vir die afslag van tienduisende onskuldige mense nie; dat hy homself en sy vrou skaamteloos verryk het terwyl miljoene Zimbabwiërs van armoede en honger krepeer nie; hy is “een van ons”.

Nou ja, dis menslik, al kan dié houding nie prinsipieel verdedig word nie.

Intussen bly die vraag: Hoe moet ons met die ANC omgaan?

Natuurlik moet ons hom beveg. Maar hoe? In die afwesigheid van ’n Afrikaner-volkstaat as praktiese alternatief moet ons baie goed nadink presies hoe ons te werk gaan.

Die massale betoging van Swart Maandag het ’n paar belangrike lesse ingehou.

Een: Getalle is belangrik. Hoe meer mense jy op die been kry, hoe beter luister die maghebbers. ’n Betoging van 100 000 mense laat hulle hul ore spits; as net 100 opdaag, neem hulle nie eens kennis nie. Dus is swartes se deelname noodsaaklik.

Twee: As jy teen plaasmoorde wil betoog (wat ’n goeie saak is), moenie die indruk wek dat jy slegs teen wit moorde is nie. Maak dit – op jou plakkate, in toesprake, noem maar op – duidelik dat dit óók gaan om die moorde en mishandeling van plaaswerkers.

Drie: Betrek swartes en bruines by jou protes. Wys dat dit nie net wittes is wat ontevrede is nie.

Vier: Vermy simbole soos die ou Republiekvlag. Reg of verkeerd, vir baie swartes is dit aanstootlik.

Uiteindelik kom dit eenvoudig hierop neer: Moenie jou teenstanders ’n argument op ’n skinkbord gee nie. Wees takties slim.

Ten slotte: Die demokrasie, ook in Suid-Afrika, verg deursettingsvermoë en ’n lang asem. Moenie sukses op kort termyn verwag nie.

Blý hamer teen die toe poorte. Aanhouer wen!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

jan_alleman ·

die probleem in die land is dat ons nog altyd te liberaal was , selfs in die apartheidsjare was ons te liberaal , te gewillig om te deel , te gewillig om ander te akkommodeer

Hendrik ·

Ek sien dat ‘n volwasse demokrasie ook federale state en natuurlike eie onafhanklike state waar kultuurgroepe hulself kan regeer. Maar vir oogklap mense wat net staar dat die huidige grondwet, met al sy gebreke (onperkbare magte aan die president) sal dit natuurlik nie aanvaarbaar wees nie. Die feit bly staan is dat S.A se grondwet sal moet verander anders sal S.A net nog ‘n mislikte Afrika demokrasie word.

Jerry ·

Ek stem saam dat daar gehamer word teen die poorte om die ANC verder te ontbloot. Wetstoepassing bly egter die groot uitdaging en moet meer aandag kry. Ek stem nie saam met optogte teen plaasmoorde nie want daar is te veel teenwigte, te veel strategies en takties wat op n skinkbord aan die regeerders gegee word. Hou byeenkomste, nie optogte nie en sodoende bots jy nie met die regeerdes se wetstoepassers nie en ook nie met ander groepe nie, behalwe as konflik dalk deel van Afri-forum se strategie is. Glo my, Afri-forum plus al die burgerregte organisasies is nie opgewasse vir konflik, op watter skaal ook al. Sou gedink het dat julle teen die tyd daardie lesse geleer het, dit lyk egter nie so nie. Soos die skrywer tereg se, tree slim op, nie arrogant nie. Tree op in die beste belang van boere, afrikaners en Suid-Afrikaners en hersien sommer ook julle plaasbeveiligingsplan want dit werk duidellik nie.

Therese van Schalkwyk ·

‘n “Optog” is ‘n “byeenkoms” van mense … wat sterk oor ‘n saak voel en in ‘n groep saam stap om solidariteit te toon. Om in hierdie stadium hare te kloof oor die twee is geensins van hulp nie.

Dit is meer as 20 jaar en honderde moorde later en die “wetstoepassers” van wie melding gemaak word, pas nie die wet toe nie en reageer op geen petisies nie. Wanneer gaan daardie “les geleer” word?

Afrikaners word met ‘n hoofletter gespel.

Robert ·

Word wakker Jerry. Swartmaandag is een vd beste dinge wat met die Afrikaner gebruik het sedert “die klerk” se oorgawe.

Boerseun ·

Teen wigte? Jy moet Aus toe, jou teenwigte idees is juis wat die gruwel moorde op ons kinders en ouers gebring het. Jy het duidelik geen benul wat n Boer deurgaan elke dag en nag nie.

Eish ·

Daar is n groot waarheid in die artikel opgesluit. Dit laat my onwillekeurig dink aan die Engelse spreekwoord; ” When in Rome, do as the Romans do.”
Persoonlik hou ek vrek baie van roomys, maar wanneer ek gaan visvang, dink ek nie aan wat ek van hou nie, maar wat die visse gaan lok. So, al stink die aas naarsleg, dis wat aan die hoek gehaak gaan word, selfs al ruik my hande vir dae na die aas.

Persoonlik verspes ek optogte, maar gemeet aan die onlangse resultate, moet ek toegee dat die Burgerregte organisasies en die hooggeleerde rubriekskrywer wel n punt beet het. Die toeloop van selfs politieke partye na die groepering se saak, bewys dat die stelling korrek is.

Dus, dalk maar hoog tyd om uit die gemaksone te kom en met passie en emosie die pad na die geslote deure te bewandel. Die VLU dus, sal moet herbesin tensy hul met werkbare alternatiewe kom. Hul onlangse standpunt het hul vervreem van die momentum van die saak wat hul direk raak.

Die geheim van getalle is dus soos deur rubriekskrywer uitgewys, deur die saak se raakpunte met die res van die bevolking se brandpunte te vind en dit in die spiespunt te omskep.

Henry ·

Die Leipzig optogte wat elke maandag vir bykans drie jaar vanaf die St Nicholas kerk met volgehoue en groeiende ondersteuning deur die “gewone burgers” plaasgevind het, was ‘n belangrike instrument waarmee die destydse DDR regering en die Berlynse Muur uiteiondelik vernietig is.
Dit is ‘n redelik onlangse voorbeeld van optogte deur ons, die “gewone burger”, asook die invloed van so ‘n poging, indien dit met dieselfde toewyding en volgehoue oortuiging, uitgevoer word.

Reinhardt ·

100%. As ek reg onthou, al wat die burgers gedoen het is om met kerse voor die muur te staan vir n paar uur. Geen geweld, geen ou vlae, geen teenargumente vir hul teenstaanders nie. Bloot eenvoudig gewone burgers wat saamstaan vir hul toekoms.

Henry ·

Regstelling.
Alhoewel die aanloop tot hierdie optogte/byeenkomste sy ontstaan voor die val van die Muur gehad het was dit vir seker nie drie jare lank nie. Dit het wel as aansporing tot soortgelyke byeenkomste in Berlyn, Erfurt, Dresden asook ander “DDR” dorpe en stede gelei, wat uiteindelik die val van die Berlynse Muur op 9 November 1989 bespoedig het.

Jammer vir die fout wat aan onverdunde bewondering/ waardering gewyt moet word. Soveel so dat die uwe en my eggenote sedert 1989 gereëlde besoekers aan Dresden, Erfurt en Leipzig is en wat veral “ou Duitsland”, oftewel die voormalige DDR en veral sy mense, grootliks geniet.

Ou Achilleshiel Vlakvark se pa se seun se pa se seun ·

Ons as landsburgers moet voortdurend identifiseer wat en waar die regerende party se Achilleshiel (haksening) is en dan moet ons die doring in die Achilleshiel van daardie regerende party wees om te verseker dat die regerende party regeer in belang van die hele Suid-Afrika. VOLGEHOUE demokrasie en selfbeskikking moet verdien word, dit val nie uit die lug nie. En dit verg burgerlike betrokkenheid op alle terreine. En elke burger is die oog en oor van die joernalistiek. Kriminele floreer in die donker en in enige apatiese gemeenskap. Bly hamer op die spyker in die regerende party se Achilleshiel. Met elke hameraksie, dink aan geregtigheid en selfbeskikking. Anders gaan die kriminele oor ons regeer en alleen by die varktrog seëvier.

Reinhardt ·

Leopold, weereens uitstekend. Jy redeneer ongelooflik goed, ek wens net meer van ons kommentators kan dit op hierdie wyse doen.

Plaas van kerm en moun moet ons takties wees, slim wees, absoluut geen foute maak nie. Dit is die enigste manier. Soos jy sê, moenie vir jou vyande n teenargument gee nie.

Therese van Schalkwyk ·

Reinhardt,

Hierdie saak is ernstig genoeg dat dit nodig is om jou te vra wat presies jy met “kerm en moun” bedoel.

Wie “kerm en moun” volgens jou? Is dit die twee landbou-unies wat nié gaan deelneem aan die bewusmakingsoptog nie, of is dit die mense wat daaraan deelneem en iets daadwerkliks en sigbaars doen?

Verneem graag van jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.