Aanhouer wen: Blý hamer teen die toe ANC-poorte!

slot-hek

Foto: Pixabay/Pexels.com

In my rubriek verlede week het ek ʼn bietjie oor die demokrasie gesels. Ek het afgesluit met die idee dat die probleem in ons land nie primêr by die Grondwet lê nie, maar by die ANC, wat dit nie nakom nie.

My laaste paragraaf het gelui: “Dus, die probleem lê veral by die ANC. Hoe pak jy hóm aan? Kom ons gesels aanstaande week verder.”

Sedert daardie rubriek verskyn het, het sake natuurlik in ’n stroomversnelling geraak met die gebeure in Zimbabwe. Kom ons kyk dus watse implikasies dít vir ons eie omgang met die ANC en die demokrasie kan hê.

Zimbabwe is in sekere sin ’n Suid-Afrika in kwadraat: ’n Afrika-populis aan die mag wat nie skroom om te lieg, te intimideer, skaamteloos korrup te wees en selfs te moor om eerste met sy snoet by die trog te wees nie.

Nou ja, ek het nog nêrens gehoor dat Zuma mense “permanent uit die samelewing verwyder het” nie, maar al die ander dinge het hy wel gedoen. Die twee boeke wat pas kort op mekaar se hakke verskyn het – Jacques Pauw se The President’s Keepers, en Adriaan Basson en Pieter du Toit se Enemy of the People – wys in groot detail presies watse groot skurk Zuma is.

Daar is natuurlik ’n paar verskille tussen Zimbabwe en ons land.

Ten eerste het ons ’n Grondwet wat aan die burgerlike samelewing ’n instrument bied om Zuma-hulle in die bek te ruk. Maar selfs die beste grondwet is uiteindelik slegs ’n stuk dooie papier as dit nie gepaardgaan met ’n basiese infrastruktuur om dit af te dwing nie.

Dit is waar die tweede verskil inkom.

Suid-Afrika het ’n baie lewendiger burgerlike samelewing as Zimbabwe. Dáár het Mugabe (en, heel ironies, Emmerson Mnangagwa, die man wat waarskynlik nou by hom gaan oorneem) die burgerlike samelewing min of meer platgetrap.

Éérs moes Mugabe van sy troon val; pas tóé kon die grashalms van die Zimbabwiese burgerlike samelewing heel versigtig weer orent kom.

By ons doen organisasies soos AfriForum, Right2Know, Outa en die FW de Klerk-stigting waardevolle werk om die Grondwet in te span in die howe – wat oorwegend steeds baie onafhanklik is – en die ergste misbruike te keer of minstens aansienlik moeiliker te maak. Hulle het reeds talle taktiese suksesse behaal, ofskoon hulle nog nie daarin kon slaag om die oorkoepelende gang van korrupsie, magsmisbruik en staatskaping om te keer nie.

Uiteindelik hang dit egter nie net van sulke organisasies af nie; hulle kan wel die speerpunt wees, maar jy het ’n veel groter gewig ágter daardie speerpunt nodig. Dit kan slegs deur die groot gros van die kiesers gelewer word – en in Suid-Afrika is daardie kieserskorps oorweldigend swart.

Die geskiedenis van die 20ste eeu in Suid-Afrika wys dat etnisiteit as faktor om kiesers se stemgedrag te verklaar so taai soos stroop is. Dekades lank was dit byna vanselfsprekend: Afrikaners stem vir die NP (of later die HNP/KP); die Engelstaliges vir die VP/PFP.

Immers, vir die Afrikaners was die NP die bevryder van die Britse koloniale polities-kultureel-ekonomiese imperialisme.

Iets soortgelyks geld vir die swart Suid-Afrikaners. Uit húl oogpunt was die ANC die bevryder van wit oorheersing en verdrukking. En, nes die Afrikaners die NP dekades lank deur dik en dun bly steun het, is dit ook die geval met die swartes en die ANC.

Die vraag is: Is dit nog so? Dis ’n taamlik ingewikkelde vraag.

Enersyds wys ’n meningspeiling van Ipsos, ’n gerespekteerde marknavorsingsmaatskappy, dat die ANC se steun in die bevolking vir die eerste keer onder 50% gesak het (47%). In 2014 het die party nog 62% van die stemme getrek.

Natuurlik moet ’n mens baie versigtig met sulke metings wees. ’n Kwart van die ondervraagdes het aangedui dat hulle in dié stadium géén party verkies nie, en bowendien lê die volgende verkiesing nog daar ver aan die horison. Enigiets kan intussen gebeur.

Desember se ANC-leiersverkiesing – ás dit plaasvind – kan ook ’n groot invloed hê. In dié stadium is sake te vloeibaar om enigsins vaste verwagtings uit te spreek.

Tog, een uitspraak van Mbuyiseni Ndlozi, ’n woordvoerder van die EFF, het my nogal geprikkel, al het dit, streng gesproke, nie soseer oor die ANC gehandel nie.

Hy het daarop gewys dat Robert Mugabe nog nêrens ter wêreld aan enige menseregte-oortredings skuldig bevind is nie, en luidens ’n nuusberig vervolg: “Pres. Mugabe bly een van ons, ondanks baie foute wat hy as president van Zimbabwe gemaak het.” Dus moet Mugabe die kans gegun word om in Suid-Afrika af te tree en daar politieke asiel te kry.

Dit wys dat etniese en ideologiese gom, altans by sommige mense, ’n baie kragtige politieke faktor is. Dit maak nie saak dat Mugabe verantwoordelik is vir die afslag van tienduisende onskuldige mense nie; dat hy homself en sy vrou skaamteloos verryk het terwyl miljoene Zimbabwiërs van armoede en honger krepeer nie; hy is “een van ons”.

Nou ja, dis menslik, al kan dié houding nie prinsipieel verdedig word nie.

Intussen bly die vraag: Hoe moet ons met die ANC omgaan?

Natuurlik moet ons hom beveg. Maar hoe? In die afwesigheid van ’n Afrikaner-volkstaat as praktiese alternatief moet ons baie goed nadink presies hoe ons te werk gaan.

Die massale betoging van Swart Maandag het ’n paar belangrike lesse ingehou.

Een: Getalle is belangrik. Hoe meer mense jy op die been kry, hoe beter luister die maghebbers. ’n Betoging van 100 000 mense laat hulle hul ore spits; as net 100 opdaag, neem hulle nie eens kennis nie. Dus is swartes se deelname noodsaaklik.

Twee: As jy teen plaasmoorde wil betoog (wat ’n goeie saak is), moenie die indruk wek dat jy slegs teen wit moorde is nie. Maak dit – op jou plakkate, in toesprake, noem maar op – duidelik dat dit óók gaan om die moorde en mishandeling van plaaswerkers.

Drie: Betrek swartes en bruines by jou protes. Wys dat dit nie net wittes is wat ontevrede is nie.

Vier: Vermy simbole soos die ou Republiekvlag. Reg of verkeerd, vir baie swartes is dit aanstootlik.

Uiteindelik kom dit eenvoudig hierop neer: Moenie jou teenstanders ’n argument op ’n skinkbord gee nie. Wees takties slim.

Ten slotte: Die demokrasie, ook in Suid-Afrika, verg deursettingsvermoë en ’n lang asem. Moenie sukses op kort termyn verwag nie.

Blý hamer teen die toe poorte. Aanhouer wen!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
jan_alleman

die probleem in die land is dat ons nog altyd te liberaal was , selfs in die apartheidsjare was ons te liberaal , te gewillig om te deel , te gewillig om ander te akkommodeer

Hendrik

Ek sien dat ‘n volwasse demokrasie ook federale state en natuurlike eie onafhanklike state waar kultuurgroepe hulself kan regeer. Maar vir oogklap mense wat net staar dat die huidige grondwet, met al sy gebreke (onperkbare magte aan die president) sal dit natuurlik nie aanvaarbaar wees nie. Die feit bly staan is dat S.A se grondwet sal moet verander anders sal S.A net nog ‘n mislikte Afrika demokrasie word.

Jerry

Ek stem saam dat daar gehamer word teen die poorte om die ANC verder te ontbloot. Wetstoepassing bly egter die groot uitdaging en moet meer aandag kry. Ek stem nie saam met optogte teen plaasmoorde nie want daar is te veel teenwigte, te veel strategies en takties wat op n skinkbord aan die regeerders gegee word. Hou byeenkomste, nie optogte nie en sodoende bots jy nie met die regeerdes se wetstoepassers nie en ook nie met ander groepe nie, behalwe as konflik dalk deel van Afri-forum se strategie is. Glo my, Afri-forum plus al die burgerregte organisasies is nie opgewasse… Lees meer »

Eish

Daar is n groot waarheid in die artikel opgesluit. Dit laat my onwillekeurig dink aan die Engelse spreekwoord; ” When in Rome, do as the Romans do.” Persoonlik hou ek vrek baie van roomys, maar wanneer ek gaan visvang, dink ek nie aan wat ek van hou nie, maar wat die visse gaan lok. So, al stink die aas naarsleg, dis wat aan die hoek gehaak gaan word, selfs al ruik my hande vir dae na die aas. Persoonlik verspes ek optogte, maar gemeet aan die onlangse resultate, moet ek toegee dat die Burgerregte organisasies en die hooggeleerde rubriekskrywer wel… Lees meer »

Henry

Die Leipzig optogte wat elke maandag vir bykans drie jaar vanaf die St Nicholas kerk met volgehoue en groeiende ondersteuning deur die “gewone burgers” plaasgevind het, was ‘n belangrike instrument waarmee die destydse DDR regering en die Berlynse Muur uiteiondelik vernietig is.
Dit is ‘n redelik onlangse voorbeeld van optogte deur ons, die “gewone burger”, asook die invloed van so ‘n poging, indien dit met dieselfde toewyding en volgehoue oortuiging, uitgevoer word.