Aanslag op die regspraak of aanslag van regbank op grondwet

Argieffoto.

Die onlangse meerderheidsuitspraak oor Kovsies se taalbeleid waar die grondwethof AfriForum en Solidariteit se aansoek om appèl teen die uitspraak van die hand gewys het, het ’n ongekende stroom kritiek ontlok. Die minderheidsuitspraak wat deur die enigste drie wit regters op die bank opgestel is, het daarenteen groot lof ontvang.

Die kritiek het van ’n mederegter, van gerespekteerde regsgeleerdes, van mense wat hul merk in ander vakgebiede gemaak het, en talle ander instansies gekom.

Met die uitspraak is boonop ’n rits internasionale verdrae wat Suid-Afrika onderteken en geratifiseer het, in die tande geskop.

Die kritiek op die regbank is nie heeltemal nuut nie. Tydens die appèl van die Reitz-vier het dit geblyk dat die hooflanddros hulle selfs gevonnis het vir iets waarvoor hulle nie eens aangekla is nie. Daarna het soortgelyke gevalle met onder meer die leeukamp- en doodskisverhore opgeduik.

Kritiek is volop en snydend.

Is die hof geminag? Iemand kan immers net verkeerdelik geminag word as hy verdien om geag te word.

Met die betogings oor die Hoërskool Overvaal word die indruk geskep dat die molesmakers geen snars omgee of die regter se uitspraak korrek was volgens die Grondwet nie, en dat die grondwetlike regte van leerders só beskerm word. Hulle glo blatant dat hul ideologiese aspirasies swaarder weeg as die grondwet. Trouens, dit lyk of hulle die saak wil verpolitiseer om Afrikaans en Afrikaanssprekendes mee by te kom – hulle maak geen geheim daarvan nie.

Die regspraak is nie veronderstel om so onvoorspelbaar te wees nie, al is die Grondwet só ontwerp om vir uitlegdoeleindes so wyd te wees dat die spreekwoordelike wa en span osse daarin kan draai. Maar wat ook al die uitspraak, dit durf nie die beginsel van natuurlike geregtigheid in die tande te skop nie. Dis nie die plek om oor historiese kwessies wraak te neem teen mense wat niks daarmee te make gehad het nie.

Dit moet ’n hoë kwaliteit van tegnokrasie handhaaf, en daarvoor gerespekteer word.

Ongelukkig is dit duur, en internasionaal word verskeie pogings aangewend om regspraak bekostigbaar toeganklik te maak. In Nederland het die sogenaamde e-hof byna ’n dekade gelede tot stand gekom, en in sekere dele van die land ’n toeloop gehad. Maar die werklike regbank is bekommerd oor onder meer die ondeursigtigheid van hierdie stelsel, wat dit moeilik maak om kwaliteit te monitor.

Mag dit nooit gebeur dat Suid-Afrika se regspraak wat eens baie hoog aangeslaan was, so in ’n gebrek aan kwaliteit wegsink, dat al ons howe sogenaamde “e-howe” word nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Dit het reeds plaasgevind, praat met jou plaaslike prokureur wat gereeld in die hof kom.

Jerry ·

Dieselfde saak en argumente kan more verskillend geintepreteer word teenoor hoe dit gister geintepreteer was. Verskillende faktore speel n rol en beinvloed n saak waarvan verskillende ideologiee seer sekerlik n rol speel soos in die geval van UV uitspraak. Afrikaner regsspanne sal in hulle saak voorbereiding die voorsittende beamptes se ideologiee en oortuigings moet bestudeer. Die Afrika beskouing staan presies teenoorgesteld van die Westerse beskouing. Kommunisme, sosialisme en Marxisme staan teenoorgesteld van kapitalisme. Die denkwyses van die Afrikaner en die ander ideologiee is baie ver verwyder van mekaar.

Nico ·

Zuma het gedemonstreer hoe hy in die verlede die regstelsel in die RSA gespyker het. Hy is briljant al het hy geen skoolopleiding gehad nie behalwe dat hy as ‘n klonkie ‘n knap bokwagter op die walle van die Tugelarivier was. Die laaste tyd het hy egter wel ‘n paar goeie opstoppers gekry, maar sy fut is nog nie uit nie!! Taai kêrel !!
Maroela sal seker nie hierdie kommentaar plaas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.