Wanneer die politieke aanspreeklikheid wat aan die orde van die dag is (of eerder die gebrek daaraan) ter sprake kom, dink ’n mens terug aan die integriteit van leiers soos adv. JG Strydom. Dit word vir my vertel dat sy seun, wat met sy fiets skool toe gery het, by geleentheid sy pa se motorbestuurder geskakel het om hom by die skool te kom haal, aangesien dit gereën het.
Toe adv. Strydom dit uitvind, het hy die kilometers wat gery is, bereken en die tarief waarteen staatsvoertuie gery, het in ag geneem en bereken hoeveel dit die staat gekos het om sy seun vir privaat doeleindes te vervoer. Die bedrag is van sy seun se sakgeld afgetrek en in die staatskas inbetaal. Waar is die dae toe ons nog daardie integriteit by politieke leiers ervaar het?
TLU SA het vroeër ’n skrywe aan die minister van landbou gerig oor openlike en blatante korrupsie wat in haar departement met die aankoop van maskers en seep plaasgevind het. Geen reaksie is van haar ontvang nie. Sy is versoek om ’n forensiese oudit oor die aangeleentheid te doen en die skuldiges aan die pen te laat ry. Dit is opgevolg deur ’n mediaverklaring en steeds geen reaksie van haar kant af nie. Die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat korrupsie deur haar gekondoneer word.
Dit laat ’n mens wonder waar die aanspreeklikheid lê indien dinge in ’n departement skeefloop? Tradisioneel moes die politieke hoof die verantwoordelikheid aanvaar vir wat in ’n departement verkeerd gaan. Is daar nog enige aanspreeklikheid by enige van die politici wat aan die hoof staan van staatsinstellings? Uiteraard is daar diegene wat nog ’n eerlike administrasie nastreef, maar hul pogings verdwyn in die korrupsieput wat deur die res gegrawe word.
Wanneer sogenaamde leiers alle moontlike maniere gebruik om die kake van die reg te ontduik, soos wat met Ace Magashule en Jacob Zuma die geval is, kan ander burgers in die land met reg vra of hulle ook 30 dae grasie sal kry indien hulle aan die verkeerde kant van die gereg beland.
Ongeag statutêre regsprosesse ignoreer Jacob Zuma dit en gaan doodgewoon aan. As hy dan volgens hom onskuldig is, behoort hy mos niks te vrees om te gaan getuig nie. Die ANC laat toe dat daar verskillende spelreëls in die land geld, waar dit vir verskillende mense op verskillende maniere van toepassing gemaak word. Ons Grondwet bepaal dat almal gelyk is voor die reg, maar duidelik is sommige ’n bietjie meer gelyk.
Dit is hierdie soort optrede wat daartoe bydra dat vertroue afgebreek en geleenthede versmoor word om Suid-Afrika ’n suksesvolle land te maak. Doeltreffendheid in bestuur op alle vlakke is van kardinale belang om suksesvolle instellings te verseker. Die dilemma wat ontstaan, is dat dit al amper die norm geword het en dat die land se mense al begin wegkyk wanneer daar korrupsie plaasvind.
Die regstel hiervan moet by elke individu begin. Ons moet dit ontbloot op elke vlak waar dit plaasvind. Wat dit egter kompliseer, is dat ons vandag met ’n SAPD sit wat in baie gevalle deel van die probleem is en ongelukkig nie deel van die oplossing nie. Om klagtes te gaan indien by die deler, bring nie noodwendig ’n uitkoms nie.
Dit is onaanvaarbaar dat baie goeie SAPD-lede die klad van ’n klomp vrot kolle in die diens ook met hulle moet saamdra. Vir diegene wat steeds uit hul pad gaan om die publiek eerbaar tot diens te wees, kan ons nie genoeg dankie sê nie.
Die situasie wat destyds in Georgië die geval was ná die kommunistiese tyd onder die Sowjetunie, waar hul seker die korrupste polisiemag denkbaar gehad het, begin vir ons ’n werklikheid word. Toe Mikheil Saakashvili president geword het, was een van die eerste dinge wat hy gedoen het om die hele polisiemag af te dank en van vooraf te begin.
Sy woorde was dat geen land suksesvol kan wees indien die polisie korrup is nie. Ongeveer ses jaar later het ek die land besoek en in dié tyd het Transparency International in ’n verslag gemeld dat Georgië nommer een ter wêreld was met die bekamping van korrupsie. Daar het ’n mens besef dat dit by die regering begin.
Indien die Suid-Afrikaanse regering voortgaan om dit te kondoneer en beweegruimte daarvoor te laat, sal ons land gewis nie op enige wyse suksesvol kan wees nie. Die burgers van die land moet hul stem in vele opsigte laat hoor deur hul woord, optrede en selfs ook by die stembus om in belang van elke inwoner van Suid-Afrika korrupsie nek om te draai. Leiers behoort rekenskap te gee vir dit waarvoor hulle verantwoordelik is.
Indien hulle nie in staat is daartoe nie, of selfs deel is van die probleem, moet hulle ontbloot en vervang word. Ons land verdien baie beter as dit wat tans die geval is.
Goeie skrywe.Die bestuursbeginsels soos ons dit ken wat verantwoordelikheid insluit word eenvoudig nie gebruik in SA nie.Ek dink nie die regering heg enige waarde daaraan nie.Enige situasie kan met korrekte bestuur omgekeer word,en is al oor en oor bewys.Die werksprosesse word ook nie vir nuwe aanstellings geleer nie wat die begin van swak diens is.Dit sluit al drie vlakke van regering in.
Verantwoordelikheid en integriteit is hoër menslike funksies. Diegene om ons is tans net op basiese funksies ingestel.
Hoeveel keer gaan ons nog die leeu mooi vra, verduidelik, berispe en roskam omdat hy alweer, steeds, oor-en-oor sulke bloedige karkaste laat waarop die aasvoèls… aasdiere toesak en later die wurms en vlieè. Hoekom wil hulle nie luister nie. ons vra so mooi. Aaitog vriende. As ons net hande-kan-vat soos Rapport weereens of is dit weer eens vandag so mooi pleit… en dominee en pres Biden en…. Waar lè die fout?