Abiy Ahmed ontvang Nobelprys vir Vrede

Foto: Aron Simeneh/Flickr.com

Die besluit om vanjaar se Nobelprys vir Vrede aan die Ethiopiese eerste minister, Abiy Ahmed, toe te ken is op die keper beskou ’n goeie een. Die Nobelkomitee het hom nie laat meesleur deur die reuse mediagolf wat tans die klimaatverandering tot die grootste probleem van die mensdom verklaar en wat in Greta Thunberg ’n ikoon gevind het nie.

Voor die toekenning is daar reeds bespiegel dat sy die aangewese persoon in hierdie tye is. Wel, die toekenning aan haar sou die Nobelprys van Vrede se geloofwaardigheid net verder verlaag het. In die verlede het die Nobelkomitee hulle laat mislei deur nuusgolwe soos die Obama-“hype” in 2009. Dit is goed dat dit hierdie keer nie weer gebeur het nie.

Ahmed is maar sowat ’n jaar en ’n half aan bewind. Sy vader is ’n Moslem en sy moeder ’n Christen, en hy behoort tot die Oromo etniese groep, wat wel die grootste enkele volksgroep in Ethiopië is, maar tradisioneel afgeskeep en onderdruk is. Hy is ook met 42 jaar betreklik jonk vir ’n leier in Afrika.

Sy hoofprestasie en hoofrede vir die toekenning is dat hy die oorlog met die buurland Eritrea beëindig het. Die twee lande het vir dekades oor ’n waardelose stuk grond baklei, omdat Eritrea se grens, ná die afskeiding van Ethiopië in 1994, nooit behoorlik vasgestel is nie. Ahmed het, anders as sy voorgangers, die nasionale ego op die agtergrond geskuif en sy land se troepe uit die omstrede grensgebied onttrek. Die verhoudinge tussen die twee lande is weer genormaliseer. Mnr. Ahmed het ook ’n rol gespeel om in ’n baie onstabiele streek tussen konflikpartye te bemiddel, by name in die buurland Soedan tussen die weermag en die burgerlike protesbeweging, wat op ’n magsdelingsooreenkoms uitgeloop het.

Wat Ethiopië se interne politiek betref, het Ahmed belowe om werklike demokrasie te bring en regverdige verkiesings voor te berei. Tans is die land nog ’n eenpartystaat met outoritêre magstrukture, maar die eerste minister het al heelwat liberaliserings op weg gebring. Politieke gevangenes is vrygelaat en opposisiepersoonlikhede is toegelaat om uit ballingskap terug te keer en die mediasensuur is verslap. Vroue het, nogal merkwaardig in patriargale Afrika, talle magsposisies gekry.

Die liberalisering en groter vryhede het egter ook tot groter etniese konflik aanleiding gegee. Sodra die ystervuis van die staat effens ligter op mense druk, bars onderdrukte konflikte weer uit. Ethiopië is dig bevolk met sowat 100 miljoen mense, en die bevolkingsgroei is yslik. Dit plaas ook druk op die natuurlike hulpbronne.

As punt van kritiek op die toekenning, kan genoem word dat Ahmed leier van ’n diktatorskap is (alhoewel hy self nie as diktator optree nie) wat een van sy voorgangers, Meles Zenawi, opgerig het, en dat hy nog relatief kort aan bewind is en die prys dalk voortydig gegee is. Veral die konflik met Eritrea is nog nie verby nie. Die ooreenkoms is wel onderteken, maar groot dele daarvan is nog nie geïmplementeer nie. Soos dikwels in Afrika, is gebare en woorde belangriker as die stiptelike uitvoering van ’n ooreenkoms.

Verder is hy as politieke leier reeds in ’n posisie van mag en aansien. Die Nobelprys behoort eintlik aan persone toegeken te word wat min geld en mediablootstelling kry en vir wie die prys dan ’n groot hupstoot is. Verlede jaar was dit die geval met die toekenning aan Nadia Murad en Dennis Mukwege, en ook met Kailash Satyarthi en Malala Yousafzai (2014) en Liu Xiaobo (2010), almal mense wat as gewone enkelinge ’n verskil gemaak het.

Afrika is geen onbekende as dit kom by Nobelpryse vir Vrede nie, wat seker ook saamhang met die talle konflikte op dié vasteland. Dennis Mukwege uit die Kongo (DRK) was die medewenner verlede jaar. In 2011 was dit Ellen Johnson-Sirleaf en Leymah Gbowee van Liberië, en in 2004 Wangari Maathai uit Kenya, om maar die meer onlangses te noem.

Suid-Afrika self het self met FW de Klerk en Nelson Mandela in 1993, Desmond Tutu in 1984 en Albert Luthuli in 1960 ’n paar Vredespryswenners opgelewer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet ·

Prys voortydig? Niks meer as dié van Obama wat niks anders as ‘n politieke skuif was.
Sal maar sien. Obama was ‘n hoë profiel leier en eintlik niks gedoen het behalwe om sy land erg te verdeel. Iewers sit iemand wat baie “clout” het wat geskiedenis probeer forseer.

Nico K ·

Wel sy pogings klink goed. As hy iets regkry sal dit ‘n eerste in Afika wees. Maar dan lees ek weereens “etniese konflik”. Dis die probleem. Solank daar meer as een etniese groep in ‘n land is, dan is daar konflik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.