Abraham Maslow en opvoeding

abraham-maslow

Abraham Maslow. Foto: Famouspsychologists.org

Deur Dr Attie Louw

It is not true, as is sometimes said, that man can organize the world without God. What is true is that, without God, he can ultimately only organize it against man. Exclusive humanism is inhuman humanism. Henri de Lubac[1]

Ek het onlangs na my graad 7-seun se werk gekyk en op die volgende in sy handboek vir “Ekonomiese en Bestuurswetenskappe” afgekom. Ek haal aan:

Abraham Maslow, ʼn sielkundige wat navorsing gedoen het oor hoe mense optree, het vyf soorte behoeftes geïdentifiseer wat alle mense het. Hy noem die primêre behoeftes laer-orde behoeftes en hulle sluit in fisiese behoeftes, die behoefte om veilig te voel en die behoefte vir liefde. Hy noem die sekondêre behoeftes hoër-orde behoeftes en dit sluit in die behoefte om belangrik te voel en die behoefte om groot hoogtes in die lewe te bereik. Mense kan nie sonder die primêre behoeftes oorleef nie. Sonder kos, water, skuiling en ontspanning sal mense sterf. Sekondêre behoeftes is nie nodig vir oorlewing nie, maar help om mense se lewensgehalte te verbeter.[2]

Maslow-se-hiërargie

Foto: Wikipedia.org

Hier word Maslow se hiërargie van behoeftes volgens Wikipedia grafies voorgestel:[3]

Ons sien hier dat Maslow se selfverwesenliking deur my kind se graad 7-leerplan gedefinieer word as die behoefte om belangrik te voel en om groot hoogtes te bereik. Hierdie gedagte definieer ons tyd in baie opsigte en het al so deel van ons denke geraak, dat ons nie twee maal daaroor dink nie.

Tog behoort ʼn oomblik se nadenke ʼn mens tot stilstand te ruk. Hierdie definisie van selfverwesenliking, volgens die graad 7-leerplan, raak aan die hart van ons Christelike Westerse tradisie. Elke samelewing het ʼn storie of ʼn narratief, wat nie net die oorsprong van die samelewing vertel nie, maar ook die hoofkenmerke van so ʼn samelewing na vore bring. Ons huidige narratief in die postmoderne Suid-Afrika, is dat daar geen sentrale narratief is nie. Die hoogste goed is individuele selfverwesenliking, waar elkeen vry is om sy eie storie te vertel. Hiervoor moet daar dus geen beprkings, soos godsdiens, op die individu gelê word, wat vrye selfkeuse en dus die kies van ʼn eie persoonlike narratief, aan bande lê nie. Die ironie is dat die ontkenning van ʼn sentrale narratief in wese steeds ʼn narratief is, omdat agter die fasade steeds ʼn narratief van ʼn struggle, met hoofkarakters en medekarakters skuil. Die graad 7-leerplan se interpretasie van Maslow se behoefte-hiërargie is ʼn verwoording van hierdie hoofdoel van die selfverwesenliking as radikale individuele vryheid.

Die idee van selfverwesenliking van die individu as die hoogste goed, staan lynreg teenoor ons tradisionele Westerse Christelike beskouing waar nie selfverwesenliking nie, maar selfgawe aan ander en aan God, die hoogste goed en hoofdoel is. Dit is slegs in selfgawe dat die self verwesenlik word. Selfgawe is die hoogste goed, omdat die self, soos die res van die skepping, ʼn geskenk of ʼn gawe van God af is en die goedheid van God weerkaats. Selfgawe is die hoogste uitdrukking van die feit dat ons handel en wandel ʼn dankbare gepaslike respons is op die geskenk, nl. die werklikheid, wat die self insluit.

Die Weste is tot en met die Verligting van die 18de eeu gekenmerk deur twee narratiewe, waar die tweede narratief die eerste een bevestig, uitbrei en verdiep.

Die eerste narratief kan gevind word in die karakter van Aeneas. Aeneas het na die val van Troje die opdrag van die gode ontvang om na Italië te seil en die stad Rome te stig. Hy het dit gedoen, ten spyte van vele ontberinge en die liefde van die Kartaagse koningin, Dido. Aeneas het die regte ding gedoen, nie net omdat die gode dit van hom verwag het nie, maar omdat die werklikheid dit van hom vereis het. Die tweede narratief is die inkarnasie van God, wat Homself aan die kruis geoffer het. Jesus Christus het hierdeur die motief van Aeneas tot sy volledige konsekwensie deurgevoer. Hierin is die mite van Aeneas nie net voltooi nie, maar is dit ook verwerklik.

Selfgawe vir die ander, tot die dood toe, is die hoogste offer wat enigeen kan bring. Selfgawe is die diepste vlak van die werklikheid, soos CS Lewis dit stel in The Lion, the Witch and the Wardrobe. Aslan het sy eie lewe in ruil vir Edward se lewe geoffer. Hy het egter die volgende dag uit die dood opgestaan. Hy stel dit daarna as volg aan die vier kinders:

“It means,” said Aslan, “that though the Witch knew the Deep Magic, there is a magic deeper still which she did not know. Her knowledge goes back only to the dawn of time. But if she could have looked a little further back, into the stillness and the darkness before Time dawned, she would have read there a different incantation. She would have known that when a willing victim who had committed no treachery was killed in a traitor’s stead, the Table would crack and Death itself would start working backward.[4]

God se selfgawe geskied omdat Hy die absolute Goeie en Liefde is. Alles is deur Hom ex nihilo, oftewel uit niks uit, geskape. Elke ding word deur Sy hand deurlopend van oomblik tot oomblik van die Niks weggehou, waarvandaan elke ding oorspronklik kom. Die totale skepping, insluitend elke ding, is in teenstelling met God, die enigste Noodwendige en is dus voorlopig en ʼn geskenk in liefde. Die mees basiese wese of aard van die skepping, met elke ding in die skepping, is die van ʼn geskenk in goedheid. Die totale skepping weerkaats as ʼn geskenk, Sy goedheid as ʼn glans, deurdat aan elke ding in die skepping, volgens elke ding se aard, ʼn bepaalde goedheid toebedeel is. Ons ervaar die glans as skoonheid, wat ons heenwys na die goedheid daarvan en na die Bron daarvan, naamlik God. Die totale skepping en elke ding is goed, omdat dit ooreenstem met die bedoeling wat God daarvoor het. Die gevolg is alles wat is soos hulle moet wees, is waar. Daar is ʼn duidelike onverbreekbare band tussen elke ding en die goedheid en skoonheid wat aan elke ding, volgens sy maat, toegeken is en dus die waarheid van elke ding.

Die totale skepping is ʼn geskenk, ʼn manifestasie van die goedheid en liefde van God in die skoonheid daarvan. Dit beteken dat die grondstemming van die skepping een van dankbaarheid is. Danie Goosen stel dit baie goed:

Geskenke wat ons ons vanuit die hand van ʼn gewer ontvang, ontlok in die eerste plek dankbaarheid. En juis dit gebeur in die tradisie. Trouens, dit stempel die tradisie se ervaring op ʼn grondige wyse. Dankbaarheid is ʼn grondstemming van die tradisie, omdat die geheel nie bloot as ʼn gegewe werklikheid nie, maar as ʼn geskenkte werklikheid ervaar word. Alles wat is, van die geringste tot die belangrikste, is ʼn geskenk. Daarom ontlok alles ook dankbaarheid.[5]

God is nie net die Bron van alles wat is nie, Hy vergader ook alles in Homself, beide as die Onderhouer en as die Eindpunt van alles. Ons het daarom ʼn ingebore sug en heimwee na God. Augustinus het die sug goed saamgevat toe hy opgemerk het dat die hart rusteloos is totdat dit rus in God vind.

Selfverwesenliking kan net geskied teen die agtergrond van die twee gegewes, naamlik eerstens die feit dat ons mees grondige heimwee na God is en tweedens die feit dat alles wat is, insluitend ons eie self, ʼn geskenk van God is. Die mees grondige modus waarvolgens ons dankbaarheid moet geskied, is ʼn totale selfgawe aan God, nie net onsself nie, maar ook met alles wat ons het en alles wat ons doen. Ons dade moet ʼn korrekte respons op die werklikheid wees, met ander woorde dit moet deugsaam wees, gegrond in selfgawe.

Die graad 7-leerplan het dit geheel en al verkeerd. Die hoogste goed is nie in selfverwesenliking en selfwaarde geleë nie. Hierin is die groot paradoks geleë. Selfverwesenliking is slegs moontlik met selfverloëning en selfgawe aan die ander en aan God, sodat God alles kan wees. Slegs dan kan die self in God rus vind.

Die werklikheid maak aanspraak op die mens om in die eerste plek te onderskei tussen die goeie en die slegte en in die tweede plek toepaslik volgens die onderskeiding te handel. Om toepaslik te kan handel, soos die werklikheid dit vereis, vereis ʼn regte ingesteldheid, ʼn gewoonte of habitus van die gees. Die individu moet met ander woorde oor karakter beskik. Hiervoor is nie net kennis of wysheid nodig nie, maar ʼn vermoë om skoonheid, goedheid en die waarheid raak te sien. Die individu moet nie net daarvolgens kan handel nie, maar ook in staat wees om die gees daardeur te voed en om God daardeur te eer.

Karakter word deur deugsaamheid gekenmerk. Die vermoë om die goeie en die skone raak te sien, is in die hart, die setel van die emosies, gesetel, terwyl wysheid in die verstand gesetel is. Volgens CS Lewis[6] lê die hart tussen die verstand en die buik, die setel van die drange. Die hart moet altyd die verstand gehoorsaam, maar die buik kan die verstand slegs via die hart gehoorsaam.[7]

Ons kan die saak uit ʼn ander hoek beskou. Volgens die tradisie is daar vier klassieke deugde, naamlik wysheid, dapperheid, matigheid en geregtigheid en drie teologiese deugde, naamlik geloof, hoop en liefde. Wysheid is gesetel in die verstand, dapperheid in die hart en matigheid in die buik of die lewer. Geregtigheid geskied wanneer wysheid, dapperheid en matigheid ʼn eenheid vorm. Die verstand, hart en buik moet dus ʼn samehangende eenheid vorm. Die drie teologiese deugde is die geopenbaarde lig van God wat op die vier klassieke deugde skyn en dit voltooi.

Die wese van opvoeding in die Westerse Christelike tradisie is karakterbou, met ander woorde, om deugsaamheid in die kind te ontwikkel. Hiervoor moet die hemelse en aardse werklikheid, in sy goedheid en skoonheid, vir die kind ontsluit en oopgemaak word. Dit is nie net die verstand wat ontwikkel moet word nie, maar belangriker nog die hart, sodat die verstand, hart en buik ʼn samehangende eenheid kan vorm. Dit is, soos CS Lewis dit genoem het, wanneer ʼn ma-voël haar kleintjies leer vlieg.[8]

Die Westerse Christelike tradisie staan lynreg teenoor die beeld van die werklikheid wat deur die graad 7’s se Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-handboek voorgehou word. Die beeld wat hier voorgehou word, is ʼn werklikheid sonder God. Die werklikheid het in wese geen goedheid of skoonheid nie, behalwe dit wat deur die mens aan dinge toegeken word. Die mens word hierdeur die waardegewer en dus per implikasie, die skepper van alles. Die mens se hoogste doel is dus noodwendig blote selfbevrediging.

Die inherente waardeloosheid van die werklikheid ten opsigte van die goeie en dus die skone en die ware, is die belangrikste kenmerk van beide die modernisme en die postmodernisme. Anders gestel, die een groot kenmerk van die modernisme en die postmodernisme is atrofie van die hart. Volgens CS Lewis lyk moderne en postmoderne mense net so slim omdat hul borskaste so klein is, nie omdat hulle so baie verstand het nie.[9]

Waar die stemming in die tradisie een van dankbaarheid teenoor die werklikheid as ʼn geskenk en ʼn gawe van God is, is die stemming in beide die modernisme en die postmodernisme een van angs. Die hoogste beginsel in die werklikheid, gestroop van alle goedheid en skoonheid, is die noodlot. Daar moet nou ten alle koste beheer oor die werklikheid verkry word om die angs en die noodlot van die deur weg te hou. Die gevolg is dat elke mens nie net vir homself leef nie, maar ook in opposisie met elke ander mens verkeer. In die proses om selfverwesenliking te bereik, verloor die mens nie net homself nie, maar ook die werklikheid in sy volheid en goedheid. Die graad 7-leerplan se idee dat selfverwesenliking die hoogste beginsel is, is nie die pad na geluk nie, maar die voorpoort van die hel.

Sekerlik die opvallendste kenmerk van beide heidense en sekulêre gemeenskappe is ʼn doelbewuste en naïewe hardvogtigheid. Daar is altyd gevalle van ʼn doelbewuste ignoreer van die bose en selfs ʼn regverdiging daarvan. Daar is ook altyd gevalle van ʼn blote onvermoë of blindheid om die bose raak te sien. Daar is ook, vanweë die atrofie van die hart, ʼn kenmerklike onvermoë tot enige deugsaamheid in die aangesig van die bose, al word die ding as boos herken. Die een kenmerk in hierdie verband is ʼn hardvogtigheid teenoor kinders. Dit was so in antieke Rome toe ongewensde pasgeborenes tot die stad se Cloaca Maxima of rioolafvoer verdoem is. Dit is ook so in vandag se tyd met aborsie op aanvraag, waar ongebore kinders as mediese afval beskou word. In Suid-Afrika is dit ook die geval van slagoffers van BEE, Afrikaners se kulturele erfenisse, gemeenskappe soos boere, ensovoorts.

Geen wonder CS Lewis praat van men without chests[10] en Danie Goosen praat van monsters teenoor mense[11] nie. Ons, as ouer mense vanuit ʼn vorige bedeling, het hierdie kondisionering, as deel van die modernisme, glad nie vrygespring nie. Flannery O’Connor stel dit baie goed in een van haar briewe, geskryf in 1955:

The notice in the New Yorker was not only moronic, it was unsigned. It was a case in which it is easy to see that the moral sense has been bred out of certain sections of the population, like the wings have been bred off certain chickens to produce more white meat on them. This is a generation of wingless chickens, which I suppose is what Nietzsche meant when he said God was dead.[12]

Die kind moet in die modernisme en postmodernisme letterlik gekondisioneer word om ʼn spesifieke “goeie” en / of “absolute” te aanvaar, wat ook al op daardie tydstip in die mode is. So is kinders op ʼn tydstip in die ou bedeling “opgevoed” om burgers van ʼn geslote gemeenskap te wees. In die nuwe bedeling word kinders “opgevoed” om burgers van ʼn oop gemeenskap te wees, waarin sake soos rassisme en homofobie die hoogste kwaad is.

Opvoeding is in die modernisme en postmodernisme nouliks opvoeding, maar kondisionering en indoktrinasie, waarin deugsaamheid tot ʼn verwaterde moralisme gereduseer word. Dit het met karakterbou niks te doen nie.

Die feit dat ons almal vandag produkte van beide die modernisme en postmodernisme is, vind onbewustelik neerslag in ons pogings om ons kinders se onderwys te red. Ek het waardering vir pogings soos die CVO-skole en Akademia. ʼn Mens kry egter die indruk hulle word deur pragmatisme gelei. Dit is verstaanbaar, veral gesien in die lig van die beperkte hulpbronne wat beskikbaar is. Die feit is dat hierdie pogings onder die huidige denkraamwerk waarskynlik sal misluk, tensy ons werklik die probleem van die monsteragtige in onsself aanspreek en besliste pogings aanwend om ons kinders en onsself op die regte pad te bring.

Bronnelys:

[1]  Henri de Lubac, The drama of atheist humanism.  Ignatius Press. San Francisco. 1995.  Vertaal deur E. M. Riley, et al. Bl. 14.

[2] M.L. Evans, et al. Shuters Top Klas Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Graad 7 Leerdersboek.  Shuter & Shooter. 2013.  Bl. 14

[3] Bron: https://commons.m.wikimedia.org/wiki/File:MaslowsHierarchyOfNeeds.svg

[4] C.S. Lewis. The Lion, the Witch and the Wardrobe.  Harper Collins Childrens Books.  2001. Bl.   176.

[5] Danie Goosen.  Oor Gemeenskap en Plek.  Anderkant die Onbehae. F.A.K. Pretoria. 2015. Ble. 158-159, e.v.

[6] C.S. Lewis.  The Abolition of Man, or, Reflections on education with special reference to the teaching of English in the upper forms of schools.  Amazon. Kindle uitgawe. Ligging 185

[7] Ibid. Ligging 185.

[8] Ibid. Ligging 168.

[9] Ibid. Ligging 189.

[10] Ibid. Ligging 188.

[11] Danie Goosen. Oor Gemeenskap en Plek. Bl. 93, e.v.

[12] Flannery O’Connor. The habit of being. Letters of Flannery O’Connor. Ferrar, Strauss and Giroux. New York. Bl. 90.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan Retief ·

Ja, as alle ouers maar soos Dr Attie hulle kinders se opvoeding in ons skole wil oudit en ernstig nagaan, sal hulle geskok word. Maslow het sy eie persoonlike behoefte hierargie suksesvol aan ‘n naiewe post moderne geslag “verkoop” en roem (en rykdom) daarvoor ontvang. Vandag betaal ons die prys deur te “lewe” in ‘n post Christen era, ‘n era sonder God in ons opvoedingkundige instellings.

Theuns ·

Stem saam dat die skrywe baie insigewend is. Die driehoek van Laslow is self later aangepas om die organisasie struktuur van werkers en bestuur van ‘n maatskappy aan te dui. Die ongeletterde en lae besoldigde werkers was die grootse groep in die breer basis van die driehoek, die middel bestuur bokant die onderste groep en die aan die bokant die top bestuur. Wat vandag gebeur in ‘n maatskappy, skool, universiteit is dat almal base is met min dissipline en respek vir mekaar! (die selfverwesenliking wat Dr. Attie van praat) Name van posisies in die maatskappy word bv ook verander om die belangrikheid (waardigheid) van ‘n person te belemtoon. Die vrou wat die tee maak word ‘n “Beverage manager”, ‘n helper word ‘n “Engineering Aid”, ,n voorman ‘n “production consultant” en top bestuurder ‘n “Know all”.

Jan ·

Ek glo dat Christene slegs ander help om sodoende hulself te help om in die koningkryk te eindig. Dis mos die toppunt van selfsug / selfgawe wat dan lei tot die ingang na die poorte?

Dark.O ·

Na my mening is bogenoemde ‘n eng vertolking van Maslow se teorie. Ek is glad nie ‘n doktor of dokter van enige aard nie, maar ek dink mens moet wyer as Wikipedia en ‘n mens se kind se voorgeskrewe skoolboek lees om Maslow se teorie werklik te verstaan. Godsdiens, van watter oorsprong ook al, is juis deel van selfverwesenliking. God sê byvoorbeeld, in die raamwerk van die Christelike godsdiens, wees heilig soos Ek heilig is. Dit is tog die toppunt van selfverwesenliking vir iemand wat die Christelike geloof aanhang? En dan kan die Christen dit so aan sy kind oordra, nadat dit met sy skoolboekteks in verband gebring is.

Alida ·

Nee, Dark O, ek en daardie Alida is nie dieselfde persoon nie. En ek stem saam met gerrit – die punt van die stuk was juis die wyse waarop Maslow aan gr 7’s oorgedra word…dus was ‘n dieper ontleding van die teorie deur Dr Attie nie van toepassing nie

Alida ·

Dark O. Dis jammer as jy die stuk as eng ervaar. Dalk moet jy die stuk bietjie dieper lees en dan sal jy verstaan en insien dat daar op baie dieper vlak as Wikipedia en skoolboeke geredeneer word ( die verwysingslys dui dit mos ook duidelik aan?!) Die punt van die stuk is juis ook dat heiligmaking nie in blote humanistiese selfverwesenliking gevind word nie, maar in selfgawe. En Jan, wanneer mens werklik gered is, sal jy verstaan dat selfgawe en selfsug beslis nie verwant is nie- dis ‘n ongelukkige uitspeel wat mens net kry by humanistiese filantrope.

Dark.O ·

Alida as jy mooi lees, sal jy sien dat ek baie duidelik gesê het die vertolking van die Maslow se teorie is na my mening eng, nie die hele stuk nie. Kyk ook mooi na die bronnelys. Dan sal jy duidelik sien dat slegs die skoolboekbron en Wikipedia na Maslow se teorie verwys. Ander aspekte word in die ander bronne onder die loep geneem. (Is jy nie dieselfde Alida wat gewens het dat univesiteite tot op die grond afgebreek moet word nie en nou met heiligmaking-stories vorendag kom? Ek is nie ń Christen nie, alhoewel ek die meeste van hulle waardes respekteer, maar as ek reg onthou, waarsku Paulus teen dit wat by die mond uitkom. Heel moontlik sal jou wens bewaar word…)

gerrit ·

Baie goed gestel! Dark O, die klem van hierdie artikel (soos ek dit verstaan) is nie op Maslow se teorie as sulks nie, maar eerder op die wyse waarop dit oorgedra word aan die gr.7 leerling. Die verlating van die gemeenskap en bevordering van hiper individualisme word as uitskomste gesien van hierdie leerplan. Dit is juis dit wat lynreg teenoor die Christelike tradisie staan.

Dark.O ·

Ek was/is nog altyd onder die indruk dat die Christelike godsdiens individualisties en nie kollektivisties is nie:
EK is in sonde ontvang en gebore. EK moet my sondes bely. EKmoet tot bekering kom. EK moet Jesus aanneem, want Hy het vir MY sondes gesterf. EK moet ń heilige lewe lei. EK het JOU by die naam geroep, JY is myne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.