Absa-ondersoek: OB doen mee aan Zuma se politiekery

absa 01

Argieffoto.

Die nuwe openbare beskermer, Busisiwe Mkwhebane, se dringendheid om beweerde bank-korrupsie uit die apartheidsera te ondersoek, kan nie net as nog ʼn roetine-ondersoek afgemaak word nie.

Daar is uiteraard groot bedrae geld en ernstige misdade ter sprake en dit is in die openbare belang, maar daar is te veel wanklanke en allerlei konteks ter sprake om dit as een van die nuwe OB se grootste prioriteite te beskou. Om die motiewe agter hierdie ondersoek te begryp en ontleed, moet daar vanuit verskillende hoeke na ʼn reeks gebeurtenisse en ook die algehele politieke konteks in Suid-Afrika gekyk word. Ek gaan my bes doen om dit so bondig moontlik te probeer ontraaisel.

Konteks van die ondersoek

Mkwhebane het aanbeveel dat pres. Jacob Zuma ʼn kommissie van ondersoek na vermiste apartheidsbuit aanstel. Uit ʼn gelekte voorlopige verslag hieroor, vra die OB alvorens dit kan gebeur, die Reserwebank glo regstappe teen Absa moet doen om R2.25 miljard te verhaal vanweë die voordeel wat dié bank uit die Bankorp-skandaal van 1992 geput het, toe die Reserwebank ʼn betaling van R3.2 miljard aan Bankorp gemaak het. Bankorp was een van die banke wat uiteindelik Absa gevorm het.

ʼn Koverte Britse intelligensie-agentskap genaamd Ciex, gelei deur die MI6-agent Michael Oatley, het van 1997 tot 1998 forensiese ondersoeke insake hierdie apartheidskorrupsie namens die Suid-Afrikaanse regering gedoen en terugvoer via die veiligheidsdienste daaroor gegee. Die Reserwebank, Absa, Sanlam, Rembrandt en die NG Kerk is almal in ʼn vertroulike verslag uitgewys, waarna dit in 1999 aan die Mbeki-administrasie oorhandig is. Die Bankorp/Absa-ondersoek het ook soortgelyke betalings aan Nedbank en die voormalige Trustbank aan die lig gebring.

In dieselfde jaar het ʼn kommissie van ondersoek, gelei deur oudregter William Heath, ook bevind die betalings aan Bankorp en Sanlam was onreëlmatig, maar geen aanbevelings ten opsigte van die terugbetaling deur die bank of sy beleggers is gemaak nie. Daar was vrese dat dit die bankbedryf groot skade sou berokken.

Die Davis-ondersoek van 2002 het ook tot dieselfde gevolgtrekkings gekom: Die betalings was onwettig. Die Davis-ondersoek was ook nie ten gunste van die invordering van die geld nie, weens die feit dat Sanlam-polishouers voordeel uit die betalings getrek het en dit uiteraard moeilik en sensitief sou wees om die onskuldige polishouers, waarvan sommige buitendien intussen tot sterwe gekom het, met die probleem op te saal.

Niemand kan ontken dat hierdie aangeleentheid en bevindinge nie heelwat meriete bevat nie. Die onkreukbare adv. Paul Hoffman het hierdie kwessie met goeie reg op die spits gedryf. Hennie van Vuuren, die voormalige hoof van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) se korrupsie- en regeringsafdeling, het die omvang van apartheid-korrupsie in ʼn omvattende en gesaghebbende 2006-studie van 113 bladsye. getiteld Apartheid Grand Corruption: Assessing the scale of crimes of profit in South Africa from 1976 to 1994, uiteengesit.

Hoffman het in 2011 die vorige OB, adv. Thuli Madonsela, genader met die Ciex-verslag om sodoende ʼn ondersoek daarna aan die gang te sit. Enige OB het die diskresie, ingevolge die Openbare Beskermerswet, om ʼn klag wat ouer as twee jaar is, te ondersoek.

Madonsela het erken dit is ernstige aanklagte, maar dat sy nie oor die hulpmiddele beskik om dit grondig en na behore te ondersoek nie. Dit is ʼn baie aanvaarbare rede, aangesien die OB se kantore met baie vars klagtes oorval word en die luukse van als ondersoek geensins bestaan nie.

Hoffman het begrip daarvoor uitgespreek en Van Vuuren het homself as volg hieroor uitgelaat: “The Public Protector has done some solid work under difficult circumstances and has her plate full with current matters. To investigate (apartheid corruption) at this stage would require a massive injection of resources.” Oupa Segalwe, Madonsela se woordvoerder, het dit, met verwysing na die betrokke ondersoek, as volg in 2011 aan die nuusdiens IOL gestel: “In this case she has concluded that the investigation is not likely to yield much as she does not have resources.”

Sy het wel later ʼn ondersoek geloods, maar haar finale verslag is nie voor die einde van haar termyn afgehandel en onderteken nie en die ondersoek en verslag is aan Mkwhebane oorgelaat. Mens kan haar nie kwalik neem nie want sy was OB gedurende die Zuma-era, wat omtrent emblematies van die korrupsie-kanker geword en dus heelwat klagtes opgelewer het.

Motiewe

Al hierdie feite laat my wonder waarom Mkwhebane juis nou hierdie saak so naarstiglik najaag, veral aangesien haar voorgangers, wat absoluut niks het om te baat uit die weerhouding van sulke bevindinge nie, dit nie as ʼn prioriteit gesien het nie. En R3.2 miljard, as deel van ʼn moontlike R28 miljard, se moontlike reparasies is in wese onvergelykbaar met die hoeveelhede geld wat nou elke jaar wegraak en wanbestee word.

Die ouditeur-generaal het verlede jaar bevind R46.8 miljard is slegs in die laaste boekjaar in die plaaslikeregeringsfeer onreëlmatig bestee. Haar voorlopige verslag dui ook aan dat Absa reeds die kapitaalbedrag van R1.5 miljard voortspruitend uit die Bankorp-sage terugbetaal het en dus is slegs die rente ter sprake.

Dan is daar ook nog die kwessie van uiteindelike geslaagdheid omdat die gebeure al taamlik oud is en dit moeilik is om te ondersoek. Daar is bowendien ernstige vrae oor hoe geldig die bevindinge in haar voorlopige verslag is en die publiek het nog nie toegang daartoe nie.

Die mees voor die hand liggende motief is om die ANC en veral die Zuma-administrasie, se huidige onreëlmatighede en sondes in die media en die openbare oog te oorskadu. Nkandla, die staatskapingsverslag, die Guptas, die Wapenskandaal en Zuma se 783 korrupsieklagtes bly verbete aan Zuma, sy regering en sy party vasklou en vanjaar is juis ʼn deurslaggewende jaar vir hom, die ANC en die land. Om ou Apartheidsondes nou skielik weer nuwe lewe te gee, is immers een van die maklikste maniere om Suid-Afrikaners van die ANC se meer onlangse en baie meer aansienlike, ongerymdhede te laat vergeet.

Tewens buit Zuma en sy handlangers (en ek sluit Mkwhebane onteenseglik hierby in) die feit dat die Mandela- en veral die Mbeki-administrasies niks met die Ciex-verslag se bevindinge gemaak het nie, nou behoorlik uit. Deur geld wat tydens apartheid verduister is, nou met mening te ondersoek en dit aan die groot klok te hang (en moontlik op terugbetaling aan te dring) wys dat hierdie administrasie wil voltooi, of ten minste oënskynlik voltooi, wat sy voorgangers in gebreke gelaat het om klaar te maak. Dit lyk nou asof die korrupte Zuma met weergalose forsheid en dringendheid ʼn bepaalde soort korrupsie takel. Dit is dus nie slegs die uitskakeling van negatiewe publisiteit nie, maar ook die skep van positiewe publisiteit.

Derdens gaan dit oor politiekery, wraak en magsvertoon. Absa se uitvoerende hoof, Maria Ramos, is juis nou by die Davos-beraad in Switserland saam met ʼn afvaardiging wat heelwat van Zuma se vyande en kritici insluit (maar nie vir hom nie!).

Absa was sover die enigste van die vier groot banke wat uitgespel het waarom hulle  bande met die Zuma-gesinde Gupta-familie verbreek het. Volgens hulle was daar groot en verdagte transaksies aan die gang en dit het natuurlik grootliks tot die Wysigingswetsontwerp op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica), wat Zuma sover geweier het om te onderteken, aanleiding gegee.

Fica gee die banke wyer magte om die bankrekeninge van hooggeplaastes te monitor en dit is uiteraard slegte nuus vir Zuma en sy kornuite. Nadat Zuma verlede jaar aangedui het hy gaan nie Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, se versoek om ʼn kommissie van ondersoek na die banke se besluit, om die Guptas die rug toe te keer, toestaan nie, het ek al vermoed iets anders is wel in die verskiet. Die nuutste verwikkelinge maak derhalwe baie sin.

Bowendien word slegs Absa uitgesonder terwyl daar vele ander vermeende sondaars betrokke was. Hoffman het reeds sy misnoeë met hierdie toedrag van sake te kenne gegee.

Staatsbeskermer of openbare beskermer?

ʼn Belangwekkende kwessie wat sterk in hierdie ondersoek na vore tree, is dat Mkwhebane se wittebrood nou verby is en sy reeds in haar kort termyn as OB haar geloofwaardigheid erg ondergrawe het. Van die verpligte stel van haar kantoor se TV’s na Gupta-beheerde kanale, tot die onbenullige ondersoeke na Madonsela (wat buitendien niks opgelewer het nie) tot die doelbewuste mors van parlementslede se tyd, tot die nuutste kwessie oor Apartheidsbuit, bewys waarom sy Zuma se voorkeurkandidaat was.

Sy is pal besig met sy vuilwerk en slenterstreke terwyl veel belangriker kwessies haar aandag verg. In Oktober verlede jaar het ek en vele ander kommentators haar sterkte toegewens en haar die voordeel van die twyfel gegee toe sy sopas met haar gewigtige taak begin het. Drie maande later kan daar geen verdere twyfel oor haar lojaliteite en bedoelinge wees nie.

Ek twyfel wel of hierdie ondersoek enigsins tot ingrypende en grootskaalse optrede en vervolging gaan lei. Soos met die versinde klagtes teen Pravin Gordhan verlede jaar, is dit belangriker vir Zuma om eerder net die indruk te skep dat daar opgetree gaan word. Hy wil myns insiens net die banke skrikmaak en dreig met straf eerder as om tot werklike optrede oor te gaan en sy beeld verder in die publiek se oë te skaad. Die boodskap is: Maak soos ek sê en bly uit my pad uit, of anders . . .

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jan ·

En soos ‘n perd wat op sy laas te is, al besig is om asem uit te blaas, pomp hulle hom nog vol hawer en water.

Leendert ·

Dankie vir die inligting. Soos jy sê, ten minste gaan sy probeer om die vuur die res van die jaar van Zuma weg te hou. Dan, wat my verstand tebowe gaan, is dat Julius en sy span, wel wetend wie en wat sy is, hulle het dieselfde inligting as die DA gehad, het teen die DA, saam met die ANC vir MB gestem. Wat verder insiggewend is, is dat Julius-hulle nog nie boe of ba gesê het dat sy so ooglopend vir Zuma skerm en die weerlig probeer aflei nie, al is dit hoe ooglopend, storm sy net voort. Sy is soos Baleka Mbete.

JC ·

Vergeet van die EFFers Leendert, hulle is ‘n spul “ignoramuse” en beteken letterlik niks vir die Republiek se toekoms nie.

Leendert ·

JC, Julius was destyds verantwoordelik daarvoor dat ons vandag met Zuma opgeskeep sit. Hy het intussen van die ANC weggebreek en sy eie party gestig. Hy is van daardie tyd af ‘n rots in Zuma se skoen. Nou einde verlede jaar was sy/die EFF se stemme weer daardie wat BM laat verkies het, so al is hy ‘n watookal, het hy ‘n kollosale uitwerking op die werking van die nuwe OB gehad, wel wetend dat sy ‘n besem vir Zuma gaan wees. Dat die EFF wel niks vir die Republiek se toekoms mag beteken nie, mag so wees, maar kyk wie is nou tot OB verkies en dit deur hulle toedoen alleen.

JC ·

Dankie Leendert, hulle beteken net moeilikheid vir ons pragtige land.
Oenskynlik is die meerderheid kiesers darem hiervan bewus, en stem hul in ooreenstemming met DIE kennis, as gekyk word na die uitslag van die afgelope munisipale verkiesing:-)

Leendert ·

Reg so JC, kyk ‘n donkie stamp twee maal sy kop, maar Julius is mos nou nie ‘n donkie nie, het hy dan nie die eerste keer geleer nie, nou speel hy jou waarlik weer in Zuma se hand. Hy en Zuma sit dan juis nie langs dieselfde vuur nie.

Henry ·

Kyk, ek wil nou nie soos die Imbongi van hierdie artikel se skrywer klink nie, maar hy sorg elke nou en dan vir uitstekende, vars inligtingstukke wat tot groot en nuttige voordeel van MM se lesers strek.

Dankie vir ‘n uitstekende en kort beskrywing van gebeure wat ten nouste verband hou met die regime se nuutste poging om die aandag van hul eie en oorbekende geraamtes, wat in verskeie kaste hang en vrotter word, af te lei.

Ek sien ook dat Johan Rupert wat indertyd die voorsitter van Rand Merchant Bank was, ‘n deeglike ondersoek sal verwelkom. Volgens hom is die ganse gedruis ‘n “work of fiction”.

JC ·

Dankie Eugene, “awesome” artikel!
Solidariteit/Afriforum=BEVONK!!

Jan ·

Ek sien elders die ANC klim nou op die vorige OB af, dus gebruik hulle dit as ‘n slaansak en probeer haar ook nou diskrediteer.

vonnie ·

Mooi man die nuwe OB gaan nog vir ons die Kruger miljoene ook opspoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.