Advies aan die ANC oor minderhede

Dit het reeds in laas jaar se munisipale verkiesing geblyk dat nie slegs die wittes en veral Afrikaners afwysend is oor die party nie, maar ook die bruines, Indiërs en groot getalle Xhosas.

Mantashe het toe reeds peinsend gesê die party sal moet uitvind hoekom minderhede nie vir hom stem nie. Sy nuutste stellings, byna twee jaar later, bevestig weer eens dat hierdie proses van introspeksie nog nie veel gevorder het nie. “The starting of the work is to ensure that those communities rid themselves of being a minority and acceding that they are part of the majority that was excluded and exploited,” het Mantashe in Business Day gesê. Volgens hierdie logika moet minderhede hul “ou self” (die huidige minderheidstatus) afskud en terugkeer van die “nuwe self” (die onderdrukte meerderheid).

Daar is egter talle wesenlike probleme met hierdie stelling, in ‘n semantiese sowel as politieke sin. Eerstens gooi hy die meerderheidstatus oor die boeg van die verlede en roep weer die ou apartheidsverdelingslyne op om sodoende ‘n onvoltooide meerderheid te vorm. Die paradoks in die ANC se denke duidelik dog verwarrend: Die “nuwe self” is eintlik ‘n verouderde skepping en die “ou self” is die moderne status van die etniese minderhede in Suid-Afrika. Ek noem dit ‘n onvoltooide meerderheid want wittes is klaarblyklik nie volgens hom deel van die “onderdrukte meerderheid” nie. Indien hy ernstig oor ‘n meerderheid was, hoekom nie hedendaagse politieke beelde oproep nie? Hoekom nie bloot praat van ‘n pan-Suid-Afrikaanse nasionaliteit of Suid-Afrikanisme nie? Hoekom praat van ‘n onderdrukte meerderheid wat slegs in die verlede bestaan het? Hoekom nie sy hand uitstrek na alle indiwidue wat die ANC nie goedgesind is nie – ongeag ras, geloof en politieke voorkeur – en van daar ‘n appèl op steun maak nie?

Die antwoord op hierdie vrae is dat Mantashe en sy party Apartheid as die alleenstaande verwysingspunt vat en uit daardie era ‘n soort lojaliteit probeer skep wat dan teen die “uitbuiters” (synde die Afrikaners, maar eintlik alle wittes) gebruik kan word. Dus, ons ly saam, so kom ons lei saam. Mantashe se meerderheid is eintlik ‘n meerderheid-binne-‘n-totaliteit, wat impliseer dat daar minderhede is.

Ewenwel, dit is waar die ANC sy tweede kardinale fout begaan in sy flankering met etniese minderhede: Hy vra lojaliteit in ‘n historiese sin wat hy nie met huidige dade en beleide (en selfs met woorde) rugsteun nie. Die beste voorbeeld hiervan is sekerlik demografiese verteenwoordiging. Deur die hele land te orden volgens die demografiese samestelling daarvan – en dit nog boonop op grond van ras en nie ander onderskeidende kenmerke soos geloof nie – perpetueer die ANC juis die onderskeidende eienskappe van groepe en die idee van minderhede. Volgens Mantashe sal Indiërs in KwaZulu-Natal, Afrikaners en bruinmense in die Wes-Kaap welkom wees om vir die ANC te stem en deel te wees van die meerderheid, maar solank hulle net nie oorverteenwoordig is in die werksplek, ekonomie of politiek is nie.

Solidariteit se hofsaak teen die polisie namens kapt. Renate Barnard en bruin werknemers teen die departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap dien as sprekende voorbeelde van hierdie kontradiksie in die ANC se denke. Regstellende aksie in teorie nie nodig gewees het as daar werklik geen minderhede bestaan het nie. Groepe wat in die verlede onderdruk is en met groot getalle in ‘n spesifieke geografiese gebied kan spog, sou teoreties en logies tog baie van die werknemers in daardie streek kon uitmaak, of hoe? Dit sal immers regstelling op ‘n natuurlike en spontane manier wees. In die geval van die bruines in die Wes-Kaap word die ANC se sentralistiese denke egter tot die uiterse blootgelê. Daar het die ANC bepaal dat demografiese verteenwoordiging volgens die nasionale demografie, maar op ‘n provinsiale grondslag, toegepas moet word. Dit beteken dat duisende bruinmense moet plek maak vir swart werkers al is laasgenoemde eintlik ‘n minderheid in die Wes-Kaap en eersgenoemde die natuurlike meerderheid.

Nie net word ‘n etniese minderheid (boonop ‘n voorheen benadeelde een) ekonomies benadeel heirdeur nie, maar ly sy ganse identiteit daaronder. Afrikaans as primêre omgangstaal in die Wes-Kaap word sodoende ondergrawe. Terselfdertyd word die Afrikaanse en Westerse karakter van die provinsie uitgerangeer. En iets wat ondergrawe en uitgerangeer word, word altyd deur iets anders ondermyn en vervang. In hierdie geval sal dit ‘n amptelike “neutrale” verengelsingsbeleid in die owerheidstrukture en andersins wees wat Afrikanaans en sy sprekers ondermyn, terwyl Xhosa en die Afrika-kultuur die de facto plaasvervangers sal word. Derhalwe word die bruinmense sowel as Afrikaners daarom eintlik vreemdelinge in hul eie provinsie. Dit beteken nie dat Xhosas nie ook in die Wes-Kaap, waar hulle byna 20% van die bevolking uitmaak, kan werk of hul taal nie welkom is nie. Maar hoe sal die meerderheid Zoeloes in KwaZulu-Natal voel as Xhosa of Afrikaans skielik die de facto taal oral in Durban en die provinsie se plattelandse dele word omdat daar oral mense aangestel word wat nie Zoeloe magtig is nie?

Gedagtig hieraan kan die ANC gerus iets by pres. Barack Obama gaan leer. Of jy van hom hou of nie, en of sy opregtheid weliswaar eerlik bedoel word, het hy dit reggekry om ‘n diverse groepering agter hom in die 2012-verkiesing te verenig. Hy het daadwerklik voelers na Latyns-Amerikaners, swart Amerikaners, gays, feministe en ander minderheidsgroepe uitgesteek deur te vra wat hy vir hulle kan doen. Hy het daarom nie bloot gevra dat hierdie groepe sy visie geredelik moet sluk en daarby aanpas nie. Hy het ‘n aanbod vir hulle gaan skep. Hy het dus nie net aangeneem hy gaan hul stemme kry nie, maar daarvoor meegeding deur beloftes te maak of sy rekord oor uitgevoerde beloftes op te haal. Nou moet hy aanhou (of begin) resultate lewer om te bewys hy maak nie net beloftes nie, maar steun dit met dade.

Die ANC vervul nie een van hierdie vereistes nie. Terwyl hy etniese minderhede se stemme soek, word daar geen konkrete beloftes van teenprestasies aan minderhede gemaak nie. Die Indiër- en bruin stem het klaar getoon ‘n amorfe struggle-lojaliteit bestaan nie by alle voorheen benadeeldes nie. Nie net verskil die Indiërs en bruines se kulturele praktyke van dié van die swart meerderheid nie, maar praat hulle verskillende tale as byvoorbeeld Pedi’s en Sotho’s en is hulle vandag meer besorgd oor swak regeringspraktyke as oor Aprtheid as die enigste lojaliteitsfaktor in ‘n omgewing van wanregering, korrupsie en onbillike regstellende aksie.

Die totale afwesigheid van etniese minderhede by die ANC se Mangaung-konferensie is tekenend van die party se swak vordering om hierdie groepe te paai. Daarom rig ek hierdie vriendelike waarskuwing aan die ANC: Erken eerstens dat etniese en ander minderhede bestaan, selfs binne die swart meerderheid. Luister dan bietjie meer na die behoeftes van minderhede en staak die monoloog waar julle vooronderstellings maak oor hoe mense moet optree, voel en dink. Tree ook dan daadwerklik op as julle klaar geluister het anders is dit net ‘n gefluit in die wind.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

chris ·

Etniese minderhede het n plek in die ANC se magspel. Ongelukkig is dit nie die plek waar minderhede hul self wil bevind nie. Ek wil graag heid n

chris ·

Etniese minderhede het n plek in die ANC se magspel. Ongelukkig is dit nie die plek waar minderhede hul self wil bevind nie.
Ek wil graag hier n aanhaling sit uit Mandy de Waal se artikel in The Daily Maverick:: ” After a long conversation with Jane Duncan of Rhodes University on racism and the economics that underpin racial division in South Africa, what’s apparent is that she doesn’t believe a non-racial society probable or possible under ANC rule. More so, a racially united nation isn’t likely to be in the ANC’s best interests.”
“The realisation of the ANC ultimate goal of a “united, non-racial, non-sexist, democratic and prosperous South Africa” is impossible, says Duncan, because race was always a narrative in the liberation movement, and this had been its Achilles’ heel.”
The insistence of race by the state is to obfuscate elite benefit, Duncan argues. “There are large sections of the ANC’s leadership that are benefiting tremendously from BEE, and they don’t want the race thinking that underpins BEE to be unsettled. They don’t want a discourse in society that thinks differently about how to define transformation and how to go about achieving it. That’s the part of the work race thinking does for the ruling party,” she says.”

Minderhede soos die Afrikaners word gebruik om die demokratiese sisteem te laat werk in die ANC se guns. Dit is ook duielik dat daar nie n verandering in hierdie denkpatroon sal kom nie.
Dit laat mens dan onwillekeurig wonder watter ander opsie Afrikaners het, behalwe om te emigreer.
Kan selfbeskikking dalk weer n moontlikheid word , gesien teen die agtergrond van ander onlangse onafhanklikheids suksesse soos Kosovo en Suid Soedan ?

Mike ·

Chris ek sal graag op jou vraag wil antwoord, selfbeskikking is beslis ‘n moontlikhied en is sonder twyfel haalbaar. Daar is nie ‘n ander alternatief nie die, afrikaner sal weer ‘n sterk, vooruitstrewende en moderne volk kan word maar net as hy sy eie toekoms kan bepaal. Die probleem waarmee ons sit is leierskap, ek weet regtig nie wat het van ons opregte afrikaner leiers geword na 94 nie.

Weer is aan die gebeur net soos voor 94 waar daar talle organisasietjies gestig word elk met sy eie agenda om die afrikaner uit sy huidige posisie te red, maar dit is eintlik maar net ‘n toring van babel waar almal mekaar blameer.

Wat nou moet gebeur is dat daar ‘n sterk span leiers na vore moet kom met ‘n haalbare logiese plan sonder diskriminasie en rassisme om die afrikaner te lei na ‘n beter toekoms vir sy nageslag dmv selfbeskikking. Ek is bewus van goeie leiers wat die kanton stelsel voorstaan en wat hard werk daaraan om die plan te laat slaag, op die oomblik is daar nie baie bekend rondom die plan nie maar ek verwag dat dit binnekort meer momentum kan kry.

Ek is ook ‘n groot ondersteuner van die Orania gedagte, die probleem is egter soos met alle planne die afrikaner nie daadwerklik belangstel nie. Wat baie bemoedigend is is die uitbreidings op Orania wat op die einde van die dag ‘n sneeubal effek sal meebring.

Christo Pretorius ·

Amy Chua betoog in haar boek, ”World on Fire, How Exporting Free Market Democracy Breeds Ethnic hatred and Global Instability (2004, New York: Anchor Books) , dat die liberale demokrasie van die weste (vrye markstelsels en algemene stemreg) nie tot voorspoed en vrede lei nie, maar die teendeel: etniese geweld en selektiewe selfverryking deur ‘elite’ minderhede ( in ‘vennootskap’ met die demagogiese meerderheids leiers’)
Dit is volgens haar ‘n futiele oefening om te meen dat meer geld en meer stemreg die sosiale weefsel ongedaan maak.
Haar studie wat van die ooste na die weste strek en lande in Latyns-Amerika, Afrika, China en die Fillipyne, die voormalige Joegoslawië, Rusland, Rwanda, Zimbabwe, Ethiopië insluit, bevestig dat feitlik orals in die wêreld is etniese geweld, volksmoord en diskriminasie teen minderhede aan die orde. Dit kan volgens haar aan die ekonomiese posisie van etniese minderhede toegeskryf word i.e in die algemeen beter onderrig en finansieël sterker. Enkeles onder minderhede soos die ‘Joodse-Russe’ en Chinese in die Fillipyne se persoonlike welvaart word ook vir politieke manipulasie (mediahuise, televisie-kanale esm) ingespan en wek nog meer die wrewel van die stemgeregtigde, maar armoedige meerderheid.
Indien Chua se analise geldig is, is die skrif aan die muur vir Suid-Afrika met ‘n owerheid wat sy ‘Afrikanistiese beeld’ poets en ‘Afrikaan wees’ gebruik tot voordeel van enkeles, maar tot frustrasie, haat en woede van miljoene werkloses op die vlakte.
In Suid-Afrika is Marikana, De Doorns en Sasolburg, plaasmoorde, polisie-brutaliteit en inploffende infrastruktuur die voorloper van dit wat elders in die wêreld plaasvind: ‘n Wraaktog teen die ‘skuldiges’.

Die Afrikaner (‘n etniese minderheid) moet sy flirtasie met liberale demokrasie te midde van Afrikane (‘n etniese meerderheid) herdink of emigreer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.