Afghanistan en die lesse vir die Weste

Mense klou aan ‘n vliegtuig by die Kaboel-lughawe in ‘n desperate poging om landuit te vlug (Augustus 2021) (Foto: Wakil Kohsar/AFP)

Om die Weste vir elke internasionale mislukking te blameer is al ʼn oeroue joernalistieke tema. Tradisioneel was haat op die Weste en “Westerse imperialisme” ʼn domein van linkse meningvormers, maar deesdae skryf konserwatiewe en regse kommentators in dieselfde rigting. Dit geskied nie uit haat op die Weste nie, maar weens afkeur in die Weste se selfverkose rol as bringer van links-liberale globalisme. Dit was immers een van die helde van die konserwatiewe beweging, Donald Trump, wat die onttrekking uit Afghanistan onderhandel het, al was dit met heel ander bedoelings as die onlangse vernederende vlug wat gevolg het op ʼn totaal verkeerde beoordeling van die situasie op die grond.

Na 11 September 2001 kon geen Amerikaanse president, Demokraat of Republikein, sit en niksdoen nie. Afghanistan onder die Taliban-bewind was die basis van Al Kaïda en Osama bin Laden. Soos in Irak was die militêre ontseteling van ʼn vyandige regering ook uiters suksesvol, maar was effektiewe beheer en die omvorming van die lande in Westerse demokrasieë ʼn onbegonne taak. Elke samelewing het uiteindelik bestel wat hulle miskien nie kies nie, maar ten minste toelaat. Daar is ʼn rede hoekom sekere lande vir kommunisme of Islamisme val en ander nie. Die Taliban se energie gaan waarskynlik daarop gefokus wees om ander Islamitiese kompetisie te beveg. Veg is immers in Afghaanse mans se DNA, en veral met ’n geweldige oorskot aan aggressiewe jong mans en te min formele werk, het oorlog maak ʼn leefwyse geword.

Amerikaanse soldate neem ‘n blaaskans te midde van die chaos op die lughawe in Kaboel waar duisende Afghane saamgedromg het in die hoop dat hulle landuit kan vlug. (Foto: Wakil Kohsar/AFP)

Dit is moeilik om iets goeds in die Westerse ingryping te sien, gemeet aan die groot verlies aan menselewens, die ontsettende koste en daarby geen ooglopende verandering nie, ten spyte van 20 jaar se betrokkenheid en teenwoordigheid. Dit was egter, gemeet aan die oorspronklike militêre doelwitte van 2001, nie heeltemal sonder sukses nie: Al Kaïda as terreurgroep is duidelik verswak, Osama bin Laden gedood (al was dit in Pakistan) en sy netwerk grootliks vernietig. Alhoewel Islam-terrorisme ver van uitgeroei is en gedurig sy frontlinies verskuif (tans wen dit veld in Afrika), is sowel Al Kaïda asook die Islamitiese Staat (IS) ʼn gevoelige knou toegedien en het grootskaalse terreuraanslae ten minste in die Weste aansienlik verminder. Alhoewel die Taliban weer in beheer is, is daar rede om te glo dat hulle intussen ʼn paar lesse in internasionale politiek geleer het en nie weer vir internasionale terroriste ʼn basis sal bied nie. Selfs die kulturele barbarisme en uitermatige onderdrukking van vroue, soos met die eerste Talibanregering, behoort dié keer meer subtiel te wees.

Dit is egter waar al die beskeie suksesse eindig: alle hoop om ’n demokrasie en ʼn burgerlike samelewing met gelyke regte vir vroue en seksuele minderhede op te bou, moes van meet af as uiters naïewe wensdenkery erken gewees het. Die probleem is dat dinkskrums en selfs die intelligensiedienste soos alle magsentrums in die Weste intussen deurspek is met idealiste wat geen benul van die harde wêreld van realpolitiek en van strategiese denke het nie. Ook ʼn kyk in die geskiedenis van Afghanistan behoort vir politieke raadgewers ʼn aanduiding te gee van hoe ontembaar hierdie land en sy mense is. Twee supermoondhede, Groot Brittanje en die Sowjet-Unie, het in verskeie eras hulle tande aan Afghanistan uitgebyt. Moderne tegnologie verander ook niks daaraan nie. Dit is ʼn tragedie dat die Weste as vernederde verloorder wegstap en siniese leiers soos Wladimir Poetin en Xi Jinping, wat self Moslems in hulle lande brutaal onderdruk, nou in die bres probeer tree as nuwe vriende van die Taliban.

As daar dalk uiteindelik iets goeds daaruit voortkom, sal dit wees as die huidige globale leierskap van Biden, Merkel, Macron en hulle links-idealistiese influisteraars hulle geloofwaardigheid verloor en ʼn omdenke in die Weste plaasvind na ʼn meer realpolitieke benadering. Effektiewe grensbeheer en die deportasie van potensiële terroriste sonder verblyfreg moet deel van so ʼn nuwe benadering wees. Dit is meer effektief en prakties as die futiele hoop om Islamisme uit te roei deur oral Westerse demokrasieë op te rig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Bevolkingprojeksies dui aan dat die Europese lande met hul dalende inheemse (blanke) bevolkingsgroei mettertyd deur die Midde-Oosterse inkommers, meestal volgelinge van Islam, verswelg gaan word. Die V.S.A. se bevolkingsamestelling gaan ook onherroeplik deur die instromende Latyns-Amerikaners verander word. Afrika se bevolking gaan nog geweldig groei. Met die gestadigde ondergang van die blankedom, die opkoms van Islam, en die opmars van China en Indie, wag hier onsekere dae.

Marthinus W ·

Afganistan het NIKS met 9/11 te doen nie. Die land is onwettig ingeval deur Amerika/Nato suiwer om Amerikaanse wapenvervaardigers ryk te maak, en Amerika se heerskappy oor die Midde-Ooste in stand te hou. Al Kaida was in Pakistan gebaseer, die 9/11 aanval is in Pakistan beplan, en Osama bin Laden het in Pakistan gebly. [Amerika moes eerder Pakistan ingeval het, maar dit was “bruikbare idioot”. Die meeste kernwapens word deur Pakistan gemaak, sommige so klein dat dit in aktetasse gehou kan word.] Afganistan is ryk aan natuurlike hulpbronne – kyk na die Amerikaanse amptenare se kommentaar toe hulle hoor Biden wil aan die land onttrek.

Thom ·

Baie meer gebalanseerde artikel as Kleynhans en Kadalie se eensydige geprewel .

Vrijburger ·

En Scholtz maak soos die Biden-administrasie – ‘duck & dive’ die onderwerp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.