Afkeer in onwettige immigrasie neem wêreldwyd toe

Die Texas National Guard-soldate verhoed dat immigrante op 13 Maart 2024 in El Paso, Texas, deur lemmetjiesdraad by die grens tussen die VSA en Mexiko gaan. Die draad is deur die troepe geplaas as deel van Texas-goewerneur Greg Abbott se “Operation Lone Star” om migrante te weerhou om na Texas oor te steek. (Foto: JOHN MOORE / GETTY IMAGES NOORD-AMERIKA / Getty Images via AFP)

Op 22 Februarie is die 22-jarige verpleegstudent Laken Riley in die universiteitsdorp Athens in die Amerikaanse deelstaat Georgia dood nadat sy na bewering deur ʼn onwettige immigrant afkomstig uit Venezuela, die 26-jarige José Antonio Ibarra, ontvoer en vermoor is.

Riley se dood het uiteindelik die nuus gehaal toe ʼn kongreslid vir Georgia tydens die Amerikaanse president Joe Biden se staatsrede geskree het dat Biden Riley se naam moet noem. Biden se verkeerdelike verwysing na “Lincoln Riley” was olie op die vuur vir miljoene Amerikaners wat siek en sat is vir Biden se klaarblyklike onwilligheid om die krisis met onwettige immigrasie in die VSA te erken en die gevolge daarvan, insluitende ʼn vlaag geweld deur onwettige immigrante, te verreken.

Die gevolg van Riley se dood is dat die Laken Riley-wet op 7 Maart deur die Huis van Verteenwoordigers, met die steun van alle Republikeine en 37 Demokrate, goedgekeur is. Ingevolge hierdie wet kan onwettige immigrante wat misdaad pleeg, in federale aanhouding geplaas word en kan deelstate die federale regering dagvaar vir die nienakoming van immigrasiewette.

Sedert Joe Biden net meer as drie jaar gelede as Amerikaanse president ingehuldig is, het sowat 7 miljoen onwettige immigrante reeds in Amerika aangekom. Hoeveel onwettige immigrante daar tans in totaal in Amerika is, weet niemand nie, omdat die federale regering geen poging aanwend om onwettige immigrasie te bekamp nie. Tussen 40 en 50 miljoen mense wat tans in die VSA woon, is in die buiteland gebore. Tussen 11 en 15 miljoen van hulle is waarskynlik onwettig in die VSA, maar dit kan selfs meer wees omdat die owerhede beheer oor die administrasie van onwettige immigrante verloor het.

Die grensheining tussen die VSA en Mexiko deur die Imperial Sand Dunes, Kalifornië. Die grens strek oor byna 3 200 km. (Foto: JOHN MOORE / GETTY IMAGES NOORD-AMERIKA / Getty Images via AFP)

Voorstanders van massa-immigrasie in die VSA, Europa en elders verwys telkens na die massa-immigrasie na die VSA vanuit Europa tydens die negentiende eeu, of selfs die massa-immigrasie uit Mexiko tydens die eerste helfte van die 21ste eeu. Die probleem met hierdie argument is dat dit nie die motiewe of profiel van ʼn groot deel van die immigrante in ag neem nie. Daar is goeie redes waarom derde- en vierdegenerasie-afstammelinge van Mexikaanse immigrante tans net so negatief oor onwettige immigrasie as wit Amerikaners is. Die immigrante van die vorige twee eeue wou in die Amerikaanse samelewing assimileer en wou en kon ʼn positiewe bydrae maak.

Die huidige vloedgolf immigrante na die VSA, talle Europese lande, maar selfs ook lande soos Suid-Afrika, Brasilië, Chili en andere, is dikwels nie mense wat immigreer omdat hulle ʼn positiewe verskil in hulle nuwe land wil gaan maak of omdat hulle graag in daardie land wil gaan assimileer nie. Die oorgrote meerderheid van onwettige immigrante is ekonomiese geluksoekers, dwelmsmokkelaars en mense met ernstige misdaadrekords. Daar is tog ʼn rede waarom hulle onwettig en nie wettig na die VSA, Europa of elders immigreer nie.

Verder moet daar ook onderskei word tussen immigrasie en mense wat binne die wetlike raamwerk van talle lande met liberale menseregtebedelings om asiel of vlugtelingstatus aansoek doen. Talle mense steek lande se grense onwettig oor, selfs met ʼn toerismevisum waarvan die terugkeerdatum nie nagekom word nie, terwyl andere bloot in lande aankom en om vlugtelingstatus aansoek doen terwyl hulle besef dat dit beteken dat hulle minstens tydelik van verblyf, kos, ʼn toelae en ander voordele soos gratis mediese sorg voorsien sal word.

Immigrante wag vir vervoer en verwerking nadat hulle die grens tussen die VSA en Mexiko op 13 Maart 2024 in El Paso, Texas oorgesteek het. (Foto: JOHN MOORE / GETTY IMAGES NOORD-AMERIKA / Getty Images via AFP)

Die probleem is dat die stelsel in Westerse lande so ontwerp is dat ʼn uiters liberale interpretasie van ʼn individu, ook ʼn onwettige immigrant, se menseregte geld. Dit veronderstel egter ʼn hanteerbare invloei van mense. Teen die tempo wat onwettige immigrante, veral uit die Midde-Ooste, Afrika, Sentraal-Amerika en die noordelike lande van Suid-Amerika tans na Westerse lande stroom, kan die stelsel eenvoudig nie meer al die aankomelinge hanteer nie. ʼn Persoon wat tans onwettig in die VSA aanland, sal eers oor tien jaar voor ʼn immigrasiehof hoef te verskyn. Hy weet dus dat sy kans op deportasie baie klein is.

Die probleme wat onwettige immigrante na Westerse lande en ook na lande soos Suid-Afrika bring, is velerlei. Misdaad is sonder twyfel een van die duidelikste gevolge, maar verder veroorsaak enorme onwettige immigrasie ook reusedruk op behuising en ander dienste soos onderwys.

In die VSA is dit die afgelope tyd duidelik dat meer en meer onwettige immigrante vir ernstige misdade verantwoordelik is. Dit is belangrik om te onthou dat ʼn groot aantal van die onwettige immigrante wat die grens tussen Mexiko en die VSA oorsteek, nie meer deur grenspatrollie-agente gevang word nie, bloot omdat die federale regering nie genoeg agente ontplooi nie.

Beamptes van die Suid-Afrikaanse Grensbestuursowerheid op 5 Oktober 2023. (Foto: Marco Longari / AFP)

Verlede jaar het grenspatrollie-agente in Texas wel duisende onwettige immigrante met kriminele rekords gevang. Dit sluit in mense wat in hulle lande van herkoms, of selfs tydens vorige verblyf in die VSA, aan gewelddadige misdade soos moord, verkragting, kindermolestering, sowel as dwelm- en wapenhandel skuldig bevind is. Sommige politici vra nou tereg die vraag oor hoeveel soortgelyke kriminele die VSA onwettige bereik het, sonder dat hulle voorgekeer is.

ʼn Verslag van die Amerikaanse Departement van Justisie met data uit 2021 het aan die lig gebring dat 64% van federale arrestasies persone was wat nie burgerskap het nie. Dit beteken dat byna tweederdes van verdagtes wat deur federale beamptes in hegtenis geneem is, immigrante was.

Verlede naweek alleen is tien onwettige immigrante wat almal duidelike kriminele rekords van gewelddadige aktiwiteite soos moord, verkragting en dwelm- en wapenhandel het, op die grens tussen Mexiko en Texas vasgetrek. Wat Amerikaners egter die meeste ontstel, is die toename in wrede moorde, verkragtings en ander misdade wat deur onwettige immigrante gepleeg word. Die hoofstroommedia in die VSA berig min hieroor, maar deur alternatiewe media is daar byna daagliks berigte oor die vlaag van misdade wat onwettige immigrante pleeg.

Pres. Joe Biden voor die Withuis (Foto: Mandel NGAN/AFP)

In Duitsland is daar wel toenemend goeie data oor die krisisafmetings wat misdade wat deur immigrante gepleeg word, aanneem. Dit is ten spyte daarvan dat die hoofstroommedia in die VSA ook weier om meestal oor misdade wat immigrante pleeg te berig. Verlede jaar het immigrante 47 923 misdade in Duitsland gepleeg. Volgens die Duitse polisievakbond begin die omvang van misdade deur immigrante (wettig en onwettig) “angswekkende” afmetings aanneem.

Die getal misdade wat deur immigrante gepleeg is, was verlede jaar 18% meer as die vorige jaar. In die Duitse deelstaat Beiere het die deelstaat se minister van binnelandse sake, Joachim Herrmann, die afgelope week gesê dat 39,6% van alle misdade wat verlede jaar in Beiere gepleeg is, deur immigrante gepleeg is. Immigrante maak tans 16% van Beiere se bevolking uit. Daar was jaar-op-jaar ʼn styging van 20,5% in misdade wat deur immigrante gepleeg is.

Die toename in misdaad deur immigrante veroorsaak ook ʼn algemene toename in misdaad, met diefstalle in Beiere wat verlede jaar met 10,5% toegeneem het, terwyl inbrake met 20,8% toegeneem het.

Misdade wat met messe gepleeg is, waarskynlik weens die onbeskikbaarheid van vuurwapens in Duitsland, het verlede jaar met 30% toegeneem. Meer as die helfte van alle misdade wat met messe gepleeg is, is deur immigrante uitgevoer.

In die Duitse hoofstad, Berlyn, het misdade soos fisiese geweld en diefstal in skole verlede jaar vanaf 3 796 aangemelde gevalle in 2021 tot 6 113 gestyg. Die oorgrote meerderheid van misdade wat in Berlynse skole gepleeg word, is deur immigrante.

Magdalena Andersson van Swede. (Foto: Pontus LUNDAHL / AFP)

Nog ʼn Europese land wat met dieselfde probleem sit, is Swede, wat net soos Duitsland sy grense sedert 2015 wawyd oopgegooi het vir onwettige immigrante uit die Derde Wêreld. Reeds in 2022 het die voormalige linkse premier van Swede, Magdalena Andersson, gesê dat immigrante nie in Swede assimileer nie, dat parallelle samelewings ontstaan en dat immigrantebevolkings disproporsioneel by misdaad betrokke is. ʼn Oorgrote meerderheid van moorde verlede jaar in Swede is deur jong immigrantemans, met ʼn gemiddelde ouderdom van 23, gepleeg.

In Italië het immigrante verlede jaar byna die helfte van alle ernstige misdade wat deur persone in die ouderdomsgroep van 14 tot 24 gepleeg is, uitgevoer. Jong immigrante is verantwoordelik vir 50,2% van alle diefstalle in Italië.

Dit behoort dus nie verrassend te wees dat daar in die VSA en Europa toenemend sterk sentiment is teen onwettige immigrante en mense wat om vlugtelingstatus aansoek doen nie. In die VSA is onwettige immigrasie en grensbeheer tans die belangrikste kwessie vir kiesers – selfs belangriker as die ekonomie. In Nederland het die optrede van immigrante regstreeks bygedra tot die reuse-verkiesingsoorwinning van die regse Partij voor de Vrijheid (PVV) in November verlede jaar.

Geert Wilders, leier van die PVV (Foto: REMKO DE WAAL/ANP MAG/ANP via AFP)

Die PVV se sukses volg nadat soortgelyke anti-immigrasiepartye verlede jaar in die verkiesings in Finland, Slowakye en Switserland geseëvier het. Die meeste aksie word egter vanjaar verwag met ʼn reusegroei in steun vir anti-immigrasiepartye regoor Europa en die VSA. Die immigrasiekrisis in die VSA kan die hoofrede raak waarom Joe Biden vanjaar se Amerikaanse verkiesing kan verloor.

Daar is baie goeie redes waarom welvarende lande soos Katar, die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein, Saoedi-Arabië, Japan, China, Singapoer en Suid-Korea immigrasie baie streng beperk, geen toleransie vir onwettige immigrante het nie en mense aktief ontmoedig om vir vlugtelingstatus of asiel aansoek te doen, wat buitendien dikwels in hierdie lande nie moontlik is nie.

Daarteenoor het die Weste vanuit sy liberale menseregte-agtergrond, gekombineerd met skuldgevoelens en ʼn kollektiewe drang om die ontwikkelende wêreld te ondersteun, ʼn beleidsomgewing geskep wat immigrasie, en veral onwettige immigrasie, aanmoedig. Die gevolg hiervan is dat die reusebevolkingsverskuiwing wat tans in die wêreld plaasvind en in die volgende paar jaar net gaan toeneem, dié van mense vanuit lande wat kultureel min met die Weste in gemeen het, is.

Mense uit Senegal, Nigerië of Somalië vlieg nie na Mexiko en stap dan onwettig oor die grens tot in die VSA omdat hulle graag Amerikaners wil word en dus in die Amerikaanse kultuur wil assimileer nie. Nee, hulle doen dit omdat hulle geluksoekers is wat op opportunistiese wyse deeglik bewus is van die gebreke in die Amerikaanse grensbeheer en immigrasiestelsel en die ruim voordele vir selfs onwettige immigrante. Dieselfde geld in Europa waar bote vol immigrante, soos dit nou lente word, weer daagliks op Spaanse, Franse, Griekse en Italiaanse eilande aankom. Die meeste van hierdie onwettige immigrante is afkomstig uit lande waar daar tans geen oorlog is nie.

Jaco Kleynhans, die Solidariteit Beweging se hoof van internasionale skakeling. (Foto: Verskaf/Jaco Kleynhans)

Mense in ryker lande, nie net in die Weste nie, is met goeie rede toenemend ongelukkig oor die omvang van onwettige immigrasie. Polities kan dit reusegevolge vir die wêreld inhou. Of daar egter leiers na vore gaan tree wat die moed aan die dag kan lê om ʼn einde hieraan te bring, is onseker.

Indien dit nie gebeur nie, sal al die probleme wat onwettige immigrante met hulle meebring, sodanig toeneem dat ʼn kantelpunt bereik kan word, wat tot die destabilisering van Westerse beskawings sal lei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Tinus ·

Die Weste se skuldgevoel en menseregte haal hulle nou in. Gelukkig begin hulle nou sien dat die assielsoekers nie almal goeie bedoelings het nie. Veral vlugtelinge van sekere gelowe, bly op hul eie en wil nie deel word van die nuwe land se kultuur nie. Die groter plan is om die Westerse beskawing so te ondermyn dat dit nie meer bestaan nie.

Marthinus W ·

Ek glo nie Jaco het dit so bedoel nie, maar sy skrywe ondersteun Donald Trump se argumente. Die immigrantekrisis in Europa is tot n groot mate geskep deur Navo en Obama. Samantha Power [tans hoof van USAID], Anne-Marie Slaughter en Hillary Clinton was die State Dept trio wat Barack Obama oorreed het om Navo in Libie in te stuur, en Gadaffi te dood. Dit het gelei tot die skep van IS, en n vakuum na Europa vir immigrante.

Danie ·

Anders as wat sommiges wil glo is die meeste onwettig immigrante glad nie onskuldig of skadeloos nie. Hulle maak hulle al klaar skuldig aan hulle eerste misdaad: wil die grens onwettig kruis. Daar is verskeie ambassades in hulle lande van herkoms wat hulle met graagte sou help om die proses wettig aan die gang te sit. Selfs in die geheim, sou dit nodig wees.

Marous ·

Hulle het self die spyker in hul doodskis gekap. Hulle gaan almal ten gronde gaan .

Mari ·

Die instroming van immegrante in voormalige wit lande is al lankal beplan. Dit is deel van die Een Wêreld Orde planne wat die W E F besig is om uit te voer. Die hoofdoel agter die oorlog in Oekraiene is ook Rusland te verower en met Rusland ook te doen wat met Europa, Amerika, Kanada, Australie, Ierland, Engeland ens gedoen is. Wie sit daaragter: Who nose.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kyk hoe lyk die ministers en parlemente van daai lande. Te laat om nou iets te wil doen.

Mari ·

Goldy jy is reg, George S sit daar agter. Hy is ook betrokke (agter die skerms) by die oorlog in Oekraiene. Wil die inheemse mense in Oekraiene (die mans wat sneuwel in oorlog) en Rusland vervang met immegrante.

annie ·

Dit is presies waarmee Israel nou sit en tans groot teëstand ondervind om Hamas te ontwortel; migrante wat sy enklawes vol gespoel het vanuit Moslemlande en inkommers wat die Weste ten alle koste (kyk hoe is die sg Palestyne finansiëel en andersins gepamperlang) weg wil hou van hul grense. Die VN en EU sal eerder oorlog voer teen Israel as om Islam in hul lande te akkommodeer. Destyds het die regering aan die Kaap al agtergekom diesulkes is bloot op eie oogmerke ingestel.

Pieter ·

Ai die mense wat George S blameer. Daar is net een ding waarvan ek minder hou as ‘n samesweringsteorië en dit is ‘n lui samesweringsteorië. Kom nou mense julle is kreatief dink aan iets meer interessant as dit. Ek is seker julle kan, ek glo in julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.