Africa Check se geloofwaardigheidskrisis

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, tydens die mediakonferensie. Foto: Reint Dykema

Om onakkurate statistieke in die openbaar te gebruik, kan katastrofies wees vir ’n persoon of organisasie se geloofwaardigheid. Ongelukkig is dit duidelik dat almal nie ewe bekommerd daaroor is nie. Dit is juis waarom daar in Suid-Afrika ’n werklike behoefte aan ’n instelling soos Africa Check is, wat gestig is om die korrektheid van verklarings deur openbare figure na te gaan.

Ongelukkig bevorder Africa Check hom aktief vir ’n bepaalde politieke ideologie en publiseer sensasionele bevindings onder dramatiese opskrifte eerder as om werklik feite te kontroleer. Nie net is ek herhaaldelik verkeerd deur Africa Check aangehaal en as “verkeerd” of “oneerlik” uitgekryt op grond van iets wat ek nooit gesê het nie – ek het ook herhaaldelik gesien hoe dit met ander gebeur.

Die eerste keer was in 2013, kort ná Africa Check se stigting, toe een van hul feitekontroleerders my gevra het om ’n sekere verklaring te verduidelik wat ek oor wit armoede gemaak het. Die BBC het my aangehaal dat ek gesê het meer as ʼn honderdduisend wit mense leef in omstandighede “soos dié”. Die betrokke omstandighede het betrekking gehad op mense wat in Wendy-huise, agterkamers, vervalle geboue en ander soorte behuising woon. Op grond van ʼn opname wat bevind het 8 000 wit gesinne woon in hutte, woonwaens en tente het Africa Check verklaar dat my verklaring vals is. Dit is presies wat ’n strooipop-argument is: Die gevolgtrekking dat iemand oneerlik is omdat iets wat hy nooit gesê het nie onwaar is. Wat daardie ontmoeting nog interessanter maak, is die manier waarop ek deur Africa Check aangehaal is. Ons het die saak in Afrikaans oor die telefoon bespreek. Toe die storie gepubliseer word, is my woorde in vrot Engels vertaal, kompleet met “sic”-aanduidings. Die wanvoorstelling van iemand as iemand wat nie Engels vaardig is nie laat vrae ontstaan oor daardie persoon se intelligensie en maak dit makliker om die feite wat aangebied word te bevraagteken.

Ek merk herhaaldelik op dat mense wat met Africa Check geaffilieer is hulself as ideologiese aktiviste beskou eerder as objektiewe feitekontroleurs. Ek merk ook ʼn klaarblyklike gebrek aan opleiding in logiese redenering. ʼn Vername persoon wat bande met Africa Check het (na bewering die persoon wat in beheer van opleiding is), het byvoorbeeld gesê: “Because let’s be honest, it’s MORE F@!#ING LIKELY ALL WHITE MEN WILL GO TO THE MOON THAN LOSE THE VOTE”. Ek het gereageer met: “This type of tweeting is damaging to @AfricaCheck’s reputation as a non-partisan fact checker.” Dieselfde persoon het toe op my twiet gereageer deur te beweer dat ek haar van haatspraak beskuldig het. #Strooipop.

Vroeër het dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, soos volg oor Africa Check verklaar:

(T)here is a strong propensity to declare as ‘wrong’ or ‘incorrect’ fact-based claims that could easily be argued to be right. This is dangerous as it will deter journalists, researchers, and politicians from citing data in their analyses.”

Africa Check het teruggekap deur te meld dat hy iets heeltemal anders gesê het en hom toe op grond van dié opgemaakte storie aan te val. Die waarnemende redakteur van Africa Check het geskryf:

In a Politicsweb article, Frans Cronje of the IRR then criticised Africa Check for questioning the institute’s findings and suggested that scrutinising the evidence, good or bad, for claims made in public debate is ‘dangerous’.

Deur op dié wyse op Cronjé se verklaring te reageer, het Africa Check bevestig dat daar meriete in sy besorgdheid is. Lees dit weer. Wat Cronjé gesê het, is dat dit “gevaarlik” is om feite wat maklik reg bewys kan word as “verkeerd” of “foutief” te verklaar. Africa Check het toe beweer hy het gesê dat dit “gevaarlik” is om bewyse te ondersoek vir iets wat in die openbaar gesê is en hom gekritiseer op grond van hul vals bewerings oor wat hy gesê het. Sowaar.

Net soos in my geval kan die uitbeelding van Cronjé se stelling slegs op een van twee goed dui: óf ’n kwaadwillige wanvoorstelling van sy opmerking, óf ’n nalatige wanvoorstelling van sy opmerking.

Meer onlangs het Africa Check ’n sensasionele storie gepubliseer waarin hulle beweer dat AfriForum oor plaasmoorde lieg. Hulle het tot dié gevolgtrekking gekom nadat hulle AfriForum se standpunt oor plaasmoordstatistieke ontleed het; of liewer dit wat volgens hulle AfriForum se standpunt is. Die ontleding bewys egter net dat die skrywer ’n foutiewe persepsie van AfriForum se standpunt oor plaasmoordstatistieke het en oënskynlik nie die onderliggende nuanses van die onderwerp verstaan nie. As Africa Check enige van die vele konferensies en geleenthede bygewoon het waar ek sélf AfriForum se posisie oor plaasmoordstatistieke uiteengesit het, sou hulle die kwessie waarskynlik anders benader het. Dit sou egter tot ’n minder sensasionele, minder klikaas-vriendelike ontleding gelei het. Ek het AfriForum se posisie en die uitdagings rakende statistiek oor plaasaanvalle verskeie kere uiteengesit en ook uitgebreid daaroor geskryf in ’n boek wat volgende jaar gepubliseer word.

AfriForum het herhaaldelik op die foute in die beskikbare data oor plaasmoorde gewys. Tog glo ons dat dit die betroubaarste poging is om die tempo te bereken waarteen kommersiële boere vermoor word. Africa Check beweer egter dat ons by AfriForum onbewus is van die foute in die data wat ons self uitgewys het; dan kritiseer hulle AfriForum se gevolgtrekking, maar begaan in die proses ’n klomp logiese en berekeningsfoute – en kom tot die gevolgtrekking dat AfriForum uit die staanspoor oneerlik was. Africa Check wend intussen geen poging aan om die tempo waarteen kommersiële boere in Suid-Afrika vermoor word meer akkuraat te bereken nie. Hulle verkies om tot ’n gevolgtrekking te kom op grond van die feit dat die berekening nie perfek is nie en bevestig boonop AfriForum se aanvanklike standpunt: dat die data sekere foute bevat wat in ag geneem moet word, maar dat AfriForum se berekening die beste poging tot die kwantifisering van die verhouding is.

In ’n artikel met die dramatiese titel Racial scaremongering in South Africa makes light of women’s murders het Africa Check gereageer op iets wat Steve Hofmeyr gesê het oor swart-op-wit-misdaad. Hofmeyr het gesê “wit vroue sal waarskynlik deur onbekende swart mans vermoor word”. Africa Check se span het aggressief op Twitter gereageer, met ’n analise geantwoord en verklaar dat sy stelling onwaar is. Africa Check se ontleding het egter misluk, want hulle het die bronne wat hulle gekies het om Hofmeyr mee verkeerd te bewys verkeerd vertolk; daardie bronne bewys daar is meriete in Hofmeyr se stelling.

Anders gestel: Wat ons Africa Check gereeld sien doen, is om te sê ʼn persoon of organisasie wat byvoorbeeld argumenteer 1 + 1 = 2 is verkeerd of oneerlik omdat Africa Check kan bewys 2 + 2 = 4 en nie 2 nie. Gelaaide taal soos “dodgy stats”, “dishonest” en “scaremongering” word vermoedelik as klikaas gebruik om lesers na hulle webwerf te lok.

Die feit dat Africa Check die standpunte van diegene wie se feite hulle nagaan verkeerd weergee, dat hulle appels met pere vergelyk, en dat die organisasie (of ten minste party van hul verslaggewers) ideologiese aktiviste is met gebrekkige opleiding in logiese redenering (of die toepassing van hul opleiding) toon duidelik dat die organisasie ’n toenemende geloofwaardigheidskrisis beleef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jerry ·

As die skoen jou pas trek hom aan. Afri-Forum moet ophou om vingers te wys en ander te blameer vir alles wat skeefloop of nie na julle sin verloop. Bly gefokus op Afrikaner belange en vat die blaam vir foute wat julle maak. Leer lesse en hou op om foute te herhaal. Gebruik geloofwaardige statistiek.

Eish ·

Nadat ek beide artikels deurgelees het, kan ek eerlikwaar nie presies agterkom waar Afriforum gefouteer het nie. Hul erken dat hul feiteversameling die beste is onder die omstandighede waaronder dit versamel word. Hul maak nêrens die bewering dat dit volle akkuraat is nie.
Wat wel duidelik is , is die antagonisme en ongeskiktheid van Africa Check. Gesoute joernaliste maak afsprake met bronne, kry inligting en kommentaar en verifieer feite sover moontlik. Dis hoekom daar so baie joernaliste by Nasrec is, feite verkryging in die eerste persoon. Genade tog, met n telefoonoproep weet jy nie eens of jy die regte persoon beet het nie!
Vir my ruik die hele affêre na n verdagmakery van die Burgerregte organisasie.
Hy wat beweer moet bewys. Laat die klomp hul feite en bronne in die hoed gooi sodat dit ook behoorlik ontleed kan word.
Feite asb.

Piet Snot ·

Wie is Africa Check? Klink vir my soos ‘n toeskouer en sy enigste pêl wat van die kantlyn lawaai maak.
Nog nooit van hulle gehoor nie, en ek’s vir seker nie oningelig nie.
Moet hulle nie aandag gee wat hulle nie verdien nie.

Ingrid Pepler ·

My ervaring van Africa Check is dat hulle hul feite deeglik navors en dat die Africa Check-span baie professioneel is. Dit was vir my nog altyd net ‘n plesier en ‘n voorreg om met hulle saam te werk.

Dries du Toit ·

Afri -check het n politieke agenda. Dit is duidelik

Rupert Ashford ·

Name asb. Wie is hulle en wat is hulle politieke sienings/affiliasie? Soortgelyke organisasies oorsee is deurspek van linkses en aktiviste en hulle uitsprake weerspieel dit. Objektiwiteit sien mens nie veel van nie…

Kosie Kramer ·

Oor armblankes: ek is 55, al 10 jaar werkloos, en het vir die afgelope 9 jaar in `n motorhuis gebly. My broer is onlangs oorlede; ek is nou “bevorder”, deurdat ek sy kamer – in die huis, nogal! – kry. (Hy moes die kamer in die huis kry omdat hy `n werk gehad het, en ordentlik moes lyk.) Ek is nie `n uitsondering hier in die “ou” suide van Jhb nie. In Trossachstraat bly `n witman in kartonbokse op die sypaadjie. Lees die plaaslike koerantjie Southern Courier, en jy sal amper in elke uitgawe lees van `n man wat in `n motorhuis bly, of in `n kamertjie iewers, of selfs in `n kar. Ons kla nie, ons bedel nie, maar ons is `n werklikheid.

Ookso ·

Dankie vir die deel. As ek nie self baie, baie na aan so n situasie was nie, het ek n plakkerskamp vir Afrikaansprekende blankes oopgemaak waar ons met waardigheid kan verarm.

Kappertjie ·

Jy’s is nie in ‘n unieke situasie nie. Duisende mense verloor hul werk en kan nie weer werk kry nie. Duisende het iets anders vir hulself begin doen, mens moet aangaan. As jy gaan wag dat iemand anders vir jou moet werk gee, gaan jy dalk vir altyd wag.

Rupert Ashford ·

Ek sien nou op hulle webtuiste hulle maak geen geheim van hulle OSF befondsing nie. Ernst en kie, julle kan julle maar klaarmaak vir ‘n geveg tot die dood toe. Hierdie spul sal julle van nou af nooit weer uitlos nie.

Gerhard ·

Ek het jare gelede al agter gekom AC is net ‘n politieke drukgroep vermom as ‘n onafhanklike waghond. Lefty/Commie Rubberstamp Inc.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.