AfriForum en die kinders van Nkandla  

kallie-kriel

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Reint Dykema

ʼn Hoofman uit die Nkandla-omgewing het onlangs een van sy verteenwoordigers afgevaardig om AfriForum vir hulp te nader om bykomende druk op die ANC-regering te plaas om toe te sien dat 400 kinders, wat weens die regering se wanbestuur nie toegang tot ʼn skool het nie, toegang tot onderrig kry.

Dié versoek het groot aandag in die media geniet. Dit word deur baie as ʼn pluimpie vir AfriForum beskou, aangesien dit erkenning gee daaraan dat AfriForum ʼn doeltreffende kampvegter vir burgerregte is.

Aangesien AfriForum onbeskaamd en openlik vir die regte van Afrikaners, Afrikaanssprekendes en minderhede veg, was dit vir sommige vreemd dat AfriForum só ʼn versoek uit ʼn swart gemeenskap ontvang het. Dit is egter nie vreemd nie.

AfriForum se baanrekord is bewys daarvan dat die organisasie met groot gemak vir byvoorbeeld Afrikaners se belange kan intree, maar terselfdertyd ook geregtigheid vir álle mense kan voorstaan.

Aangesien ons almal se regte respekteer, kan ons sonder vrees vir teenspraak met groot selfvertroue standpunt inneem wanneer die gemeenskappe benadeel word waarin AfriForum se lede hulle bevind. Ons bou nie ons Afrikanerskap op ʼn basis van haat teenoor ander gemeenskappe nie. Ons wil sien dat daar ʼn plek onder die son vir alle gemeenskappe is. Daarom is ons ook nie skaam om met alles wat in ons is ten behoewe van die gemeenskappe, waarvan AfriForum se lede deel vorm, vir ʼn plek onder die son te veg nie.

Die beginselvraag hier is of dit reg is dat Jacob Zuma as president die staatskas – waarvan AfriForum-lede se belastinggeld deel vorm – plunder deur vir homself ʼn luukse huis van sowat R250 miljoen te bou, terwyl 400 kinders in die omgewing nie toegang tot ʼn skool het nie. Die antwoord hierop is onomwonde: Nee! Iemand moet Zuma se onetiese optrede uitwys en AfriForum sal uit beginsel help toesien dat hierdie onreg aan die groot klok gehang en aangepak word.

ʼn Klein groepie aan sowel die linker- as die verregse kant het, sonder dat hulle dit weet, ʼn bondgenootskap gevorm in hul misplaaste pogings om AfriForum sonder sukses te probeer diskrediteer. Vanuit die linkerkant is daar pogings om die feit, dat AfriForum dit “durf waag” om ten behoewe van Afrikaners op te tree, as rassisme af te maak. Die versoek wat AfriForum ontvang het, om vir geregtigheid vir kinders in Nkandla te veg, het natuurlik hierdie poging van ʼn paar Afrikaanse lefties ʼn ernstige nekslag toegedien.

Vanuit verregse kringe was die aanslag een van vals inligting. Volgens ʼn paar internetkrygers uit hierdie geledere, sou AfriForum nou kwansuis ons lede se geld wanaanwend om ʼn skool vir “swartes” te bou, eerder as om “wit” kinders by te staan en plaasmoorde en ander geweldsmisdaad te beveg. Hoe belaglik hierdie aantygings ook al mag klink, laat ek dit maar op rekord plaas: AfriForum gaan nie ʼn skool bou nie. Dit is nie waarvoor ons lede ons ondersteun nie. Gaan ons veg vir wat reg is? Die antwoord is beslis: Ja!

Die ironie is dat die internetkrygers uit verregse geledere, behalwe vir Facebookgeveggies, sélf maar weinig doen om ʼn toekoms vir Afrikaners, Afrikaanssprekendes en ander minderhede te help bou. Daarteenoor het AfriForum reeds miljoene rande aan regskostes bestee om Afrikaans in Afrikaanse skole en universiteite Afrikaans te hou of om te verhoed dat godsdiens uit dié skole verban word.

AfriForum spandeer ook ʼn wesenlike deel van sy hulpbronne om gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe aan te pak. Meer as 80 buurtwagte is reeds in gemeenskappe gestig waar AfriForum-takke werksaam is en groot planne is in wording om hierdie aksies te versnel om te help om geweldsmisdade in stede, dorpe en landelike gebiede saam met ander rolspelers trompop te pak.

AfriForum se span beraders beweeg ook die land vol om slagoffers van geweldsmisdade by te staan, soos wat die geval was met die gruwelike plaasmoorde wat onlangs in Balfour plaasgevind het. Meer inligting oor AfriForum se omvattende veiligheidstrategie sal eersdaags tydens ʼn veiligheidsberaad bekend gemaak word.

Vanuit die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum trots deel is, word ook reusewerk gedoen ten behoewe van ons lede en die gemeenskappe waarvan hulle deel is.

Die Solidariteit Helpende Hand het byvoorbeeld vanjaar R31 miljoen se studiehulp aan Afrikaanse studente beskikbaar gestel, om nie eens te praat van die talle voedingsprojekte wat in Afrikaanse skole aangepak word en skooltassies wat onder behoeftige Afrikaanse kinders versprei word nie.

Afrikaanse naskoolse opleidingsinstellings, soos Akademia en Sol-Tech, is ook binne die Solidariteit Beweging tot stand gebring om te help toesien dat Afrikaanse studente toegang tot onderrig in hul moedertaal kry. Benewens hierdie aksies, veg Solidariteit ook hand en tand vir sy lede se werk teen die bedreigings wat regstellende aksie en anti-wit rassisme inhou. Daar is nog talle ander groot aksies wat te veel is om hier te noem.

In die lig hiervan is dit dus nie geloofwaardig as enigiemand probeer voorgee dat hulp aan kinders in Nkandla op enige wyse beteken AfriForum versuim sy plig teenoor sy meer as 185 000 lede en hul gesinne nie.

AfriForum gaan hom nie deur kleinlike kritiek van stryk laat bring nie. Die organisasie kan en gaan volstoom voort om te veg vir die belange van sy lede en die gemeenskappe waarvan hulle deel vorm én om terselfdertyd onreg, soos korrupsie en Zuma se onetiese optrede, tot voordeel van almal in die land te beveg.

Die aanstelling van adv. Gerrie Nel, as hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, is ʼn goeie voorbeeld van ʼn aksie wat die belange van ons lede, die gemeenskappe waarvan hulle deel is en almal in die land dien.

Vir diegene wat steeds wonder: Ja, AfriForum gaan veg teen die onreg wat Zuma en sy regering in Nkandla pleeg … En nee – ons gaan nie ʼn skool bou nie. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Skaam julle ·

Ja hoor, gaan kyk julle maar na die kinders van AFRIKA en vergeet van die duisende wit kinders wat langs die dam bly of in Danville nie kos het om te eet nie. Dit is so tipies Suid Afrikaner, wil altyd gaan sop en komberse uitdeel daar waar dit POLITIEKE punte kan inwin of waar hulle gesien kan word. Die REGERING moet vir Nkandla kinders sorg, dit is OP Zuma se stoep, maar nee AFRIFORUM kom help terwyl NIE EEN van daardie mense lid is nie. Afriforum MORS MY LEDEGELD om hulle te help terwyl mense wat WEL lede is daagliks vermoor word, maar hulle is te besig om PUNTE TE SCORE. Het al my respek vir julle verloor. Hoeveel van hierdie kinders is AFRIKAANS? Julle moet nou besluit, staan julle vir Afrikaans of vir ALMAL? Want as dit vir ALMAL Is, stel ek voor julle gaan SAMEL GELD daar in waar julle HELP!! Julle kruip nou lekker, dit gaan julle duur kos.!~

THEA SWART ·

SKAAM JULLE : – dit is ongevoelig om sulke aantygings te maak oor Afriforum se doelwit in die lewe as dit net gaan oor waar en wanneer en hoe jou lede geld gebruik word en vir wie is jy van die naarste mense denkbaar – kinders bly kinders en solank my bydrae n verskil in iemand se lewe gee doen ek dit maandeliks met liefde al is my bedrae nie baie nie maar ek probeer darm – so as jy voel jou ledegeld gaan op ander mense se kinders gemors word gaan koop ‘n bottel brandewyn en drink dit eerder uit meskien voel jy beter daarna

Koos1 ·

Goed gestel. Ek ondersteun julle, veral nou dat die “rasselyn” oorgesteek is.
Wat dit wel vir my wys is dat die “ander” bevolkinsgroepe totaal vertroue in die regering verloor het, en dit met die president wat op hulle voorstoep bly. Dit bevestig net wat ons lankal weet, die regering het voelling met die landsburgers verloor.
Agriforum, wees net versigtig dat die regering nie julle werk gaan kaap nie. Dit is mos hulle styl om dadelik te reageer en reg te stel en dan te sê :Kyk net wat het die regering gedoen.”

Skim ·

Lekker VEG teen die onreg wat aan NKANDLA kinders aangerig word, dit lei julle aandag van die BOERE af wat wreed vermoor word. Weereens, burgerregte organisasie of nie, julle het lede wat geld elke maand betaal, hoekom bedien julle NIE LEDE?? As julle na alle NIE LEDE se belange wil omsien, moet julle sommer vandag HELP om die Nigeriers en hulle eiendom te gaan beskerm, VERGEET die boere~ Dis soos ek ons ou Suid Afrikaanse volkie ken. Verraaiers!

Wouter ·

Jy kan nie geseën word as jy ander nie help nie. Dankie AfriForum. Ek weet jul gaan nie n skool bou nie, maar na daardie kinders se regte ook luister.

stella ·

Ek werk vir n groot staal maatskappy en saam met my werk baie swart mense wat ook lede van soldariteit is, betaal hulle dan om net wit mense te help, soldariteit help alle mense soos hulle ook lede onder almal het, daardie wit mense by die dam is nie noodwendig lede van soldariteit nie, doen so voort soldariteit, apartheid was en is nog nooit reg gewees nie, een wit man se besluit is vir vandag se gemors verandwoordelik

Ampie ·

Stella, ek is nuuskierig, wie is die arme ou wat vir al die ellendes (gemors) van vandag verantwoordelik is?

Nenna ·

Afriforum, julle het my volle steun in die besluite wat julle neem. Doe so voort.

Gerhard ·

Dankie vir die mooi werk wat julle doen en hou so aan Kallie,julle breek die grense tussen mense af.

Wees beter ·

Ek was geleer, wees altyd beter. Jy weet mos tussen reg en verkeerd. Ek gee nie om nie, kom ons gaan bou vir hulle ‘n skool! Ons wil mos bou! Kom ons wys ons is ‘n beter nasie, ons wil saam werk, ons wil laat elke kind in S.A. geskool sal wees. Niemand kan jou kennis weg neem nie, kom ons gee hulle kennis en wysheid. So sal hulle dan ook leer van reg en verkeerd, en weet wie is leunaars in ons land!! Dis tog die grootste bedryging vir die ANC mense wat SLIM is!!

Denise ·

Skim en skaam julle ek stem 100% saam met julle !!!!!! Mens begin by die wat naaste is aan jou !!!!

Skim ·

Dankie Denise, tog iemand met verstand. Die ander probeer politieke punte SCORE op die blankes se rekening. Duisende wit kinders sit sonder heenkome en duisende wit kinders se skole is geinfiltreer, Afrikaans uitgegooi en Engelse skole gemaak daarvan. Die kinders by die dam gaan nie eers skool nie, private organisasies en kerke probeer hulle met kos en klere help, maar Afriforum wil Nkandla se kinders gaan help op Zuma se voorstoep? Dis hoekom ons nie in Afrika gaan survive nie, ons is meestal op ons kniee besig om te kruip.

E.K. - ek sê net! ·

Die negatiewes wat hier kommintaar lewer – ek hoop JULLE doen iets vir die vir wie jul so opkom. Mooi so Afriforum, laat ons opbou en saambou.

Thuunda ·

Ek is ‘n groot ondersteuner van Afriforum, ook met finansiële bydraes.

Maar hierdie storie gaan versigtig aangepak moet word en gereëlde terugvoer sal aan lede gegee moet word.

As daar enigsens die idee gegee word dat ons bydraes nou sal gaan om die hele SA te probeer help is ek eerste om my bydrae te stop.

Ek is van die opinie dat dit nou tyd is om ons eie mense eers te help, en eendag wanneer ons weer vry is ander mense, op ons terme te help. Niemand anders gaan ons help nie en ek betaal klaar te veel belasting wat alreeds gaan om tiene miljoene mense op grants te hou.

Julle doen goeie werk Afriforum, maar wees versigtig met die area wat julle nou betree.

Dellaq ·

Dis met gemengde gevoelens dat ek hier skryf. Afriforum doen goeie werk, uitstekende werk. Aan die een kant is hulle ‘n “stem” vir Afrikaners, van wie hulle meeste van hul ledegelde ontvang. En as hulle geld gebruik gaan word om die kinders van Nkandla by te staan, voel dit vir my weer of die “bakhand” uitkom. Afrikaners wil sien dat hul geld aangewend word vir hul eie mense.Aan die ander kant, staan hulle ook vir geregtigheid, wat almal insluit. Maar ek stem ook saam met wat Thuunda se asook met Stella, indien swart mense bydra tot die fonds, hoekom kan hulle nie ook gehelp word nie? Dis ‘n baie netelige situasie wat fyn hanteer moet word. Kinders is kinders, ja, maar daardie kinders gaan doen weer wat hulle vanaf laasjaar op universiteit doen-breek en brand af. Sterkte Afriforum

Henry ·

Mynsinsiens was die versoek om hulp vir die 400 siele by Nkandla, ‘n slim/slinkse plan van vyandiggesindes om Afriforum in ‘n hoek vas te verf. Iets soos die Souties dit stel – om jouself tussen ‘n “rock and a hard place” te bevind. :-)

Sê Afriforum NEE, is hulle mos rassiste wat slegs Afrikaners bevoordeel.

Sê Afriforum JA, gaan talle ondersteuners vra waarom ontvang Afrikaner kinders en hul ouers se stryd teen die ver-engelsing van Afrikaanse skole, nie meer en groter ondersteuning/hulp vanAfriforum af kry nie. Verskeie pelle wat soos ek en my huis, geesdriftige, betalende lede van Afriforum is, vra die vraag. ‘n Vrot saadjie wat nie ge-ignoreer moet word nie.

Om nie eers te praaaaat van die ge-weeklaag vanuit verregse kringe wat weet hoe om te teem, maar met kort armpies loop, wanneer dit by hulpverlening kom.

Ag ja en toe wonder ek of hierdie poging ook in ‘n snippermandjie gaan beland – wat weer ‘n ander klip in die pad is…

Aquila non capit muscas.

Oom Piet ·

Waarom al die kritiek teen Afri Forum. Ek is seker as dit ‘n verdienstelike geval is en dit kom onder hulle aandag sal hulle help al is dit oor die kleurgrens heen.

Piket ·

Ek stem saam met Henry.
Daar kan uit diè situasie ook munt geslaan word as Afriforum sy kaarte reg speel.

Mattheus 23:23. LIEFDE GEREGTIGHEID EN BARMHARTIGHEID.

Denise ·

Ag asseblief hoeveel skole is al afgebrand ????? En wat van die Universiteite??????

dr. Sakkie van der Merwe ·

Die groot probleem is wanneer ons die kleurgrens “oorsteek” dan moet ons eerlik genoeg wees om met die “mense” aan die anderkant hande te vat, saam te verkeer, saam te leef ens. Dan is ons eerlik met onsself en met hulle. Dan moet my en jou kind saam matriekafskeid toe gaan met die “mens” en uiteindelik met hom kan trou en kinders verwek. Indien ons nie bereid is om die pad voluit te loop nie, is ons oneerlik met mekaar en met hulle. Watter pad kies elkeen van ons ? Integrasie of segregasie? Dit kan ek en jy net vir onsself se.

Fanie ·

Dr Sakkie, ek stem 100% saam. Kyk nou waar het Liberaliste soos Hendrik Verwoerd en Kallie Kriel se hulp aan swart skoolkinders ons laat beland! Jy stem seker ook saam dat dit slimmer sal wees as Afrikaners eerder in vyandskap met almal leef né. Hoera! Ons teen almal en almal teen ons! Behoede ons kinders en weerloses van jou ideologie!

Fanie ·

Baie geluk Kallie! Julle pluk nou die mat onder die Seunse Weenkoor uit! AfriForum het mos altyd gesê ons moet ‘bind en brugbou’. Moenie julle aan kritici steur nie. Almal weet julle is die voorste DOENERS vir Afrikaners, maar julle hulp aan Zoeloes is ook tot voordeel van Afrikaners. Ons Boere het nog nooit net onsself gehelp nie. As jou buurman honger is, slaap jy nie veilig nie. Dankie wat julle vir ons Afrikaners se beeld doen!

Fielies ·

Dr Sak, gelukkig geld Jesus se preek oor die Barmhartige Sameritaan mos nie vir Afrikaners nie nè. Nskandla is só in die wêreld kollig- ou Kallie is darem dom om aan die wêreldmedia wat Afrikaners so verguis te wys ons is nie almal rassiste nie.

Gielie Hill ·

Die belangrikheid van die artikel is dat dit bewys wat Trump se “The African leaders live in absolute luxury, while their people suffer and starve.” Die waarheid is. Dit noodsaaklik dat almal weet wat hier aangaan.

verstom ·

Duidelik het die mense wat sulke negatiewe kommentaar lewer teen Afriforum, ñ gebrek van insig wat hulle lees in die skrywe! Gaan lees weer die berig en as jy nog nie verstaan nie, gaan terug skool toe, al is dit ñ swartskool! Net nog ñ voorbeeld van sekere sogenaamde afrikaners wat strewe na onenigheid! Tragies

Johanna Botha ·

Ek glo dit sal baie goed wees as hulle kan help …dit sal die grense breek en mense se gesindhede verander wat eintlik baie goed kan wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.