AfriForum Jeug se ope brief aan prof. Janse van Rensburg van die NWU

Hoofgebou-potchefstroomkampus

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas, NWU

Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug het hierdie ope brief aan prof. Fika Janse van Rensburg, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus oor die praktyke wat verbied is tydens eerstejaar se registrasie- en oriënteringsprogram (R&O), wat tans plaas vind:

Geagte professor Janse van Rensburg

Uit die aard van my beroep moet ek verskil van mense wat verskuilde agendas het. Ek sal vandag egter my bes probeer om die strydbyl vir ’n oomblik te begrawe en rasioneel te verduidelik waarom ek so bitter teleurgesteld is in die wyse waarop u u gesag as rektor van die NWU se Potchefstroom-kampus uitoefen.

In die verskeie gesprekke wat ek namens die Afrikanerstudentegemeenskap met u in ’n amptelike hoedanigheid gevoer het, het ek die gevoel gekry dat u ’n diepe omgee vir alle studente aan die Puk koester. Met u grys hare het u my selfs aan die wyse ou Geppetto laat dink. Ook in die video waarna ek hieronder verwys, kry mens daardie selfde gevoel. Die gebeure van 17 Januarie vanjaar het egter ’n onderduimse agenda laat deurskemer en dit duidelik gemaak dat u eerder ’n magtelose Pinocchio is wat slegs sy politiese marionetmeesters se grille wil bevredig.

As dié verwysing u nou onkant gevang het, verfris ek graag u geheue:

HK [Huiskomitee]-lede is in ’n boodskap versoek om ’n groep eerstejaars van hul onderskeie koshuise na die ouditorium te neem. Tydens dié vergadering het die oorgrote meerderheid eerstejaars duidelik aangedui dat hulle uiters tevrede is met die stand van sake in die registrasie-en-oriënteringsprogram (R&O-program). Dié groep positiewe (Afrikaanssprekende) eerstejaars is egter toe gevra om die saal te verlaat sodat daar met die nie-Afrikaanse eerstejaars alleen vergader kan word. Tydens dié deel van die vergadering is daar sogenaamde “klagtes” ontvang – hoewel geen amptelike klag ingedien is nie. Dié klagtes sluit eerstejaars se ongelukkigheid oor koshuisdrag, die taalbeleid tydens die R&O-program en die “militaristiese gemarsjeer” op kampus in. U en die bestuur het dit toe goed gedink om koshuisdrag en enige vorm van ordelike beweging van groot groepe op kampus te verbied. Verder is die versekering gegee dat alle studente vertaling deur middel van tolkdienste sal ontvang. Dit is egter hartseer dat u eie video slegs Engelse onderskrifte bevat.

In dié video aan Puk-studente stel u dat hulle moet kan sê “This is my place”. U het voortgegaan en gesê dat u as bestuur “really [wanted to] listen to what’s happening” en dat daar “effective communication” op kampus moet wees. Nou vra ek jou, Prof: Hoe luister jy na iemand wat nie daar is om sy stem te laat hoor nie? Die video bevat al die elemente van die regerende party se fantastiese propagandaboodskappe: vrede, liefde en ’n gevoel van individualisme. Vra asseblief die ouens wat jou toutjies trek om weer Goebbels se große Lüge- (big lie) propagandategniek noukeurig te bestudeer. Julle lieg te klein terwyl julle taaltrots met lekkerkry wegvry.

Die uitsluiting van sekere (en veral Afrikaanse) studente by vergaderings, is egter nie die eerste keer dat julle in die kraal van die anti-Afrikaanse zeitgeist speel nie. In ’n ruggraatlose, vergeefse poging om van Puk-tradisies en -kenmerke soos Totius se standbeeld ontslae te raak, het die bestuur einde verlede jaar aangekondig dat die kleure van die universiteit na pers sál verander. Dit ná talle konsultasies tussen AfriForum Jeug – wat groot getalle Afrikanerstudente verteenwoordig – en die topbestuur; dit ná talle NWU-video’s die “versekering” gegee het dat die bestuur na die wil van studente gaan luister; dit ná die bestuur die verandering na pers en die verwydering van koshuisidentiteit as “gerugte” afgemaak het; dit ná 64% van studente gestem het dat swart voortaan saam met die drie primêre kleure gebruik moet word.

Dit maak my en baie Afrikaanse studente baie hartseer dat jy ons só hanteer – Afrikaanse studente wat verantwoordelik is vir die oorwig van studentegelde aan die Puk; Afrikaanse studente wie se ouers en grootouers die universiteit gemaak het wat dit vandag is.

Ek wens ek kon jou vertrou en hierdie dinge weer mooi uitpraat. Ongelukkig het hierdie donkie (en die ander Afrikaanse studentedonkies) sy kop te veel teen die harde klip van jou leuens en heuning-om-die-bek-beloftes gestamp. Jy het na ons Afrikanerharte geskiet en ’n snaar getref.

Dit is duidelik dat ek verkeerd was toe ek gedink het dat jy die onafhanklike, passievolle, eerbare leier sou wees wat almal op die Puk verdien. Die leiers van die toekoms uit die Puk se skoot sou jou eendag daarvoor bedank. Maar jou skadukamerade se toutjies is skynbaar te dik om te knip. Jy is besig om die Puk van sy identiteit te beroof. Ons het hierdie tipe taktieke ook by Kovsies en Maties gesien. Ons sien die aanval kom. Maar Prof, dié keer is ons slaggereed daarvoor.

As die bestuur van die Puk klaar met Afrikaanse studente gepraat het, het ons ook nou klaar gepraat. Julle dink dat ons geïgnoreer kan word omdat ons weier om af te brand, te breek en te vernietig.

Meer as 200 000 lede het aan AfriForum die mandaat gegee om hierdie verguising van Afrikaanse mense se regte in die kiem te smoor; ’n mandaat om aan jou deur te kom klop – nie om weer gepaai te word nie, maar om dié keer ons Afrikaanse studente se eise op jou tafel te plaas. Ek glo dit is gepas dat my strydbyl maar tog deur die loop van hierdie brief sy verskyning gemaak het en dat jy besliste verset kan verwag. Dit is uit die aard van die saak wat mens dóén as ’n apatiese diktator vir sy pionne sê: “Gee hulle koek!”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Veritas ·

Uiteindelik iemand wat reguit praat. Al wat nou kortkom is om daad by woord te sit.

Eish ·

Baie jammer dat sulke optrede van iemand kom wat reeds deur n sak sout is by PUK, gewese Hervormde dominee en verby aftrede.
Ek is nie so seker watter opsies oop is as teenvoeter wat nie die Afrikaanse studente se studies sal benadeel nie. Die arme Overvaal het ten spyte van die hofuitspraak groot probleme met die daaglikse betogings.

Henk ·

Nie dat dit werklik van enige belang is nie, maar Fika was ‘n Gereformeerde (Dopper) predikant, nie ‘n Hervormde predikant nie.

Johan Neuteman ·

Vir die rekord – nie gewese predikant nie, maar een wat steeds sy predikantstatus het. Die skrywer van die ope brief kritiseer dus ‘n predikant, om dit nou maar op rekord te stel. Maar dit beteken nie dat die kritiek nie geregverdig is nie. Dit maak die teleurstelling in prof Fika se soetsappige beginselloosheid net erger. En mens moet maar wonder of die GKSA nog ruggraat het.

Neil de Wet ·

Well gedaan. As oud en trotse puk pleit ek moet dit nie laat vaar nie, laat die stemme van duisende afrikaners (studente) op die puk gehoor word.

Jo ·

@ Eish…Staan vas Henk Maree., JEUGLEIER…. Jy is nie ‘n oud afgetrede Hervormer predikant nie, maar ‘n jong man wat sy man kan staan en ‘n man wat ‘n bars hou kan slaan met woorde… Situasie danksy polisie optrede onder beheer by Overvaal.. nie duisende betogers soos die media ons wil bangpraat nie… Staan vas Afrikaners…en almal wat pro-Afrikaans is..

Henriette Jacobs ·

Was so dankbaar dat albei my kinders by Puk kon studeer. My dogter het verlede jaar afgestudeer met ‘n MA-graad in Afrikaanse Letterkunde. Dit is vir my egter nou ‘n bron van groot kommer dat ook die PUK-bestuur al hoe meer polities- korrek optree t.w.v. ‘n minderheid om so die karakter van die universiteit onherroeplik te verander en die voortbestaan van Afrikaans aan die PUK in die gedrang te bring! Ondersteun al die pad daadwerklike optrede om dit te verhoed en bid daagliks vir wysheid in die verband.

Alwyn Beetge ·

Die Afrikaner en Afrikaanssprekende se1976 het aangebreek. Staan sterk, staan saam.

Dr H ·

Volgens my seun wat Engelsmedium is, is die studente gevra om te bly indien hulle ontevrede is met die R&O. Verskeie Engelsmediumstudente was ewe tevrede en het die ouditorium verlaat. Dis inderdaad ‘n klein groepie wat die appelkar omgooi.

HEVW ·

Ja Fika was ook in jou Griekse klas geduerende 1973 – 1975. Het jou as persoon en as dosent waardeer, maar is na soveel jare teleurgesteld dat jy n meeloper van die hedendaagse kommunistiese aanslag geword het. Jy het tog hierdie gebeure so duidelik in ons IW klasse geloop. Jy trek nou n duidelike SWART streep deur die roemryke geskiedenis van n universiteit wat vir vele geslagte dierbaar is.

Johann ·

Hoe anders kan my hart as om pure PUK bloed te pomp, as ek lees hoe n jongman verwoord wat vlak in my PUK hart le. Skaam jy jou nie Fika dat jou gewete (of eerder afwesigheid) aangespreek moet word deur n studente leier wat alle respek vir jou karakter verloor het, soos ons ALUMNI, oor jou rugraatlose “akkomodering” van n aanslag teen Afrikaans en my PUK? SKAAM JOU FIKA!!!!

Ansegranus ·

Die probleem is nie prof Fika nie. Sy hande is maar redelik vas in wat hy kan doen en nie kan doen nie. Hy moet maak soos hy gesê word, of anders… Die probleem is prof Dan Kgwadi en sy groter politieke agenda. Hy probeer skaars ‘n geheim daarvan maak dat hy van plan is om PUK se Afrikaanse tradisie, kultuur, en taal as medium, geheel en al te onderdruk en uit te faseer. Dit was hard en duidelik tussen die lyne hoorbaar met sy openingsrede op Saterdag 13 Januarie in die amfiteater. Om hom uit ‘n vorige onderhoud aan te haal, “I will turn this place like a big ship, slowly, so no-one falls off”. Lyk my nie hy gee om hoe vinnig hy nou die draai vat nie, en dis nou maar jammer vir wie ook al afval. Solank Afrikaans verdwyn, ongeag die koste.
Prof Fika se taak is amper onbegonne, hy probeer vure doodslaan en versoen ten alle koste. Hy het al die hulp en ondersteuning nodig wat hy kan kry om behoudend te probeer wees met ons laaste Afrikaanse kampus in die land.
As enige ander groep studente uit die ouditorium gestuur sou word op grond van hulle taal en etnisiteit, sou daar ongekende protes en gewelddadige verwoesting wees, en die amptenaar sou terstond van sy pos onthef word.
Die vrae moet aan prof Dan Kgwadi gerig word – wees eerlik, wat is werklik jou motiewe?

Hendrik vd Westhuizen ·

Eerste Veritas inwoner 1982
Dit is vir my jammer dat die stert die hond rondswaai.
Pukke en Veritas is tops maar gesonde studentelewe word deur mense met ‘n politiek agenda onderdruk

Danie Minnaar ·

Bravo Henk! Afrikaner studente het immers ook nog steeds regte. Dit verstom my dat ‘n instansie wat onder andere regslui moet oplei, so blatant kan faal om almal se regte te respekteer!

Ania ·

Henk, wat help dit dan om teen die marionet te veg? ‘n Marionet het tog geen gesag nie. Moet jy dan nie eerder teen die een wat die toutjies trek veg nie? Tog is jou hele skrywe gemik op die magtelose marionet.
Behou jou waardigheid en respek. Beveg die saak en nie die persoon nie. Moenie van “u” oorslaan na “jy” nie. Hy bly ‘n Oom al hou jy nie van hom nie. ‘n Afrikanerseun brand nie af nie en hy respekteer ‘n ouer mens.

Pieter Fouche ·

Ania

GEEN mens (ouer mense inkluis) kan outomaties op respek aandring nie. Respek word verdien.

Hans ·

Merk op sommige baie beskermend is vir Prof Fika-die oomblik toe hy besluit het om met n klein minderheid afsonderlik te vergader en aan hulle eise toegegee het?mors hy besef hy stel hom bloot aan kritiek.

JC ·

Sjoe, ek is stomgeslaan.

As ‘n oud-Tukkie (en moet my asb. nie die naam noem nie, want Tukkies bestaan nie meer in my oe nie) wil ek net aan Mnr Maree se: welgedaan !

Moeggepraat ·

Ek is moeg askies en jammer gese! My taal is my identiteit en ek gee nie meer bes nie. As daar gedink word dat die Afrikaanssprekendes (alle rasse) ruggraatloos is gaan die Rubicon oorgesteek word – baie binnekort. Daar is n totale aanslag teen my kultuur en erfenis, vanuit rassistiese motiewe en geensins om inklusiwiteit te bevorder nie. Die minister en persone in haar departement hier is n voorstel – gaan “fix” die disfunksionele skole en universiteite sodat daar vir elke Suid-Afrikaner (lees nie slegs “Africans” nie) n toekoms gegun kan word. Prof. Kgwadi met respek vir u posisie. Doen jou werk, en doen jou posisie en intellektuele vermoee gestand deur nie ook net gebruik te word nie. Ek is seker u is vertroud met die beginsel van die Rubicon!

Anon ·

Kyk,die feit dat die persoon wat hierdie brief skryf nie eers die korrekte titels van Prof. Fika kan regkry in sy skrywe nie,sê al klaar alles van AfriForum.
Doen jou huiswerk voordat jy skryf seun. Ek was self 6 jaar op die puk en het gedien op koshuistrukture onder Prof Fika se leiding en hy was niks minder as aangenaam en vasberade om studente én studentelewe te help nie. Ek was ook in die einste koshuis waarin die een persoon wat die “Puk Of Pers” Video namens Afriforum gemaak het,en ek kan met alle eerlikheid sê dat daar wel onder daardie persoon se leiding deur eerstejaars Gemarseer is,terwyl hy so onskuldig vra “Wie get gemarseer”
Ek is heeltemal vir die Puk om behoue te bly en om ons kultuur en erfenis te beskerm op n spesiale plek soos die Puk,maar asb tog Afriforum,moenie julle naam knater maak deur swak geformuleerde briewe te skryf waar jy die feite heeltemal verkeerd kry,en waarin jy die persoon wat jy daarin kritiseer,se titel nie eers regkry nie. Asb man!
Moenie so emosioneel oor die saak dink nie.
*Prf Fika is nie die rektor of die Vise Kanselier nie. Hy is die Adjunk Vise Kanselier. Daar bestaan nie eers meer n Rektor op die NWU nie. En Prof Kgwadi,wie ook aanhoudend deur julle aangepak word,is die Vise Kanselier.

Frik ·

Ag asseblief Annon. Jy maak ook dieselfde foute in jou poging om Fika te beskerm van die waarheid. Nou ewe skielik is dit nie Fika nie. Nou wie het met die studente gepraat en wie wil die veranderings inbring. Ons moet nie emosioneel raak nie, ag asseblief so ons moet ook nie trots wees op wat vir ons belangrik is nie. Ons stel ook nie belang of hy Vise of Adjunk of Assistent wat ookal is nie. Sy titel beindruk ons nie, asook allermins dat hy n dominee is nie.
Jammer om te sê maar ek beleef baie predikante as mantelswaaiers en dat hulle oorboord gaan om in die goeie boekies van die ander te kom. Hulle jaag die politiek van die dag na en is te bang om op te staan vir die afrikaanse taal, kultuur ens.
So Annon jy fouteer ook om jou siening te wil politiseer in plaas daarvan dat jy eerder die crux van die saak raak sien en jou skaar by die behoud van wat vir ons belangrik en dit probeer bewaar, maar ruggraatlose toegee is aan die orde van die dag en niemand het respek vir die sulkes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.