Afriforum kies sy gevegte juis oordeelkundig

Nadat regter Lamont sy veelbesproke uitspraak oor die AfriForum versus Malema/ANC-haatspraaksaak gelewer het, het ʼn eindelose stroom kommentaar in die media verskyn.  In baie gevalle was dit verbasend om te sien dat “kommentators” wat duidelik nóg die aanloop tot die saak nagevors het, nóg die moeite gedoen het om die uitspraak (of selfs net ʼn goeie opsomming daarvan) te lees, skielik hulle onkundige interpretasies daarvan met groot selfvertroue wêreldkundig gemaak het.  Dit is seker maar menslike natuur – die “kenners” wil hulle stukkie lugtyd hê en as ʼn mens dit kan regkry met die minimum insette, terwyl jy boonop die heersende magte plesier, dan waag hulle dit maar.  Ek kan dit verstaan, al kan ek dit nie verskoon nie, en dit gee ʼn mens weer van voor af respek vir die talle joernaliste en kommentators wat wel ingelig en objektief tot die debat bydra.

Daar is, vreemd genoeg, ook ʼn paar wat hulle vingers presies op die seerplekke in ons land druk, maar dit onbewustelik doen en dan ook nog steeds die kat aan die stert beet het.

Heidi Holland (Foto: dinnerwithmugabe.com)

Die afgelope week het die joernalis en skrywer, Heidi Holland, ʼn artikel in Engelse dagblaaie gepubliseer oor die “Need for care in picking our battles”.  Daarin noem sy drie voorbeelde van “South African’s silliness of fighting for the sake of it”, naamlik die haatspraaksaak, die debakel oor die aanstelling van die nuwe hoofregter en die aaklige voorval waar ʼn jong advokaat deur ʼn taxi omgery is toe sy hom probeer voorkeer het, nadat hy haar verloofde se voertuig gestamp het.

Holland se argument is dat daar maar mooi gedink moet word voor ʼn saak hof toe geneem word en duidelik dink sy die Malemasaak is nie een van die voorbeelde wat “hofwaardig” was nie.  As alternatief verwys sy na die land se wye verskeidenheid grondwetlike instellings en prosedures wat tot Suid-Afrikaners se beskikking is om ons te beskerm.  Die gelykheidshof is juis een van hierdie instellings, maar dit kyk sy gerieflikheidshalwe mis.  As AfriForum sommer net sensasie wou hê, kon ʼn ander hofproses gevolg word.  Ons het juis op die gelykheidshof besluit omdat dit een van die meganismes is waarna sy verwys.

Verder is dit so dat vele van hierdie instellings ons so jammerlik faal.  Sowat ʼn jaar en ʼn half gelede het dit duidelik geword dat Julius Malema se aanhoudende, moedswillige gesing van die lied in die openbaar, Suid-Afrikaners intimideer en verdeel.  Dit was ook duidelik dat nóg die ANC self, nóg die ANC Jeugliga daadkragtig teen Malema gaan optree.  Waarom het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) nie toe al ingetree en Malema minstens gewaarsku oor sy polariserende optrede nie?  Al wat toe hoorbaar was, was hulle stilte.  Nou skielik word gepraat oor ʼn debat hieroor met ʼn stewige begroting van ʼn halfmiljoen rand.  Tyd sal leer of die debat enige oplossings gaan bied, maar intussen is AfriForum se hofsaak die enigste daadwerklike aksie wat deurgevoer is.

Sou ons wegbeweeg van die haatspraaksaak, en kyk na nog voorbeelde van die instellings, is die tekortkomings nog meer.  Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PANSAT) wat moet verseker dat ons inheemse tale beskerm en bevorder word in Suid-Afrika, is tans lamgelê as gevolg van die wanadministrasie van fondse.  Een van die gevolge hiervan is weer ʼn hofsaak, naamlik dié van prokureur Cerneels Lourens, wat die staat in 2010 hof toe geneem het oor laasgenoemde se versuim om ʼn nasionale taalwet te implementeer.  In 2010 het hy sy saak gewen en die staat is die verpligting opgelê om so ʼn wet op te stel en te implementeer.  Die konsepwet het in Julie 2011 die lig gesien – seker een van die swakste stukke wetgewing nog.  Dit is so vaag en niksseggend, dat dit geen bydrae gaan lewer tot die bevordering of beskerming van enige inheemse taal in Suid-Afrika nie.  Sou dit wel die parlementêre prosesse oorleef en geïmplementeer word, sal daar waarskynlik verdere regsaksie moet volg om ons tale in die staatssektor te behou.  En steeds sal mense poste volsit in PANSAT en salarisse betaal word om nie te doen wat hulle moet doen nie.

Waarom is die sogenaamde Artikel 9-instellings soos die SAMRK en PANSAT dan so nutteloos?  In die eerste plek omdat die wetgewing wat hulle gevestig het, geen tande aan hulle gee nie.  Al sou hulle hoe daadkragtig optree, hulle het geen mag om bevindings af te dwing nie.  Dit gee aan hulle baie beperkte geloofwaardigheid.  Tweedens is hulle almal vinnig om te sê hulle befondsing is onvoldoende.  As ʼn mens egter na PANSAT se krisis kyk, kan jy tereg vra of dit die geval is, en of die probleem nie is dat die fondse wat daar is, onoordeelkundig aangewend word nie.  Derdens is daar die aanstelling van kaders in poste, veral senior poste, in die instellings.  Dit raak toenemend so dat hierdie instellings deur die ANC aangewend word vir die herontplooiing van lojale partylede en dat hulle daar min tot geen verantwoordbaarheid hoef te toon nie.  Toegegee, by PANSAT is die uitvoerende hoof, me Ntombenhle Nkosi, vanjaar in Junie uit diens ontslaan nadat sy op 8 Junie 2011 aan finansiële wanbestuur skuldig bevind is.  By die SAMRK daarenteen, is adv. Lawrence Mushwana egter nog aan die stuur, hoewel vyf appèlregters vroeër vanjaar saamgestem het dat sy ondersoek na die Oilgate-skandaal tydens sy dienstermyn as Openbare Beskermer so halfhartig en oppervlakkig was, dat dit daarop neerkom dat hoegenaamd geen ondersoek gedoen is nie.  Die regters het ook gevra dat sy verslag oor die ondersoek ter syde gestel moet word.  Dit laat ernstige vrae oor Mushwana se onpartydigheid en bekwaamheid ontstaan.  Kan ons bekostig om in ʼn land waar menseregtekwessies so ʼn brandpunt is, iemand aan die stuur te hê oor wie se onpartydigheid ernstige vraagtekens hang?

Verslae soos die Solidariteit Navorsingsinstituut se Menseregte Barometer, Human Rights Watch se 2010-verslag en die ARPM se 2011-verslag (opgestel deur verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing) spreek almal ernstige kommer oor die stand van menseregte in Suid-Afrika uit.  Genocide Watch het die land se status pas van graad 5 (gepolariseerd) na 6 (potensiële massamoorde) opgegradeer.  Onder hierdie omstandighede is dit juis die tyd om sterk, funksionele, effektiewe, onpartydige instellings te bou wat aan hulle grondwetlike pligte uitvoer kan gee.

Tans is daar geen teken dat dit gaan gebeur nie.  Een instelling wat beïndruk, is die Openbare Beskermer (OB), adv. Thuli Madonsela.  Ongelukkig was dit nodig dat burgerlike instellings tot die OB se hulp moes kom toe ʼn intimidasieveldtog vroeër vanjaar teen haar gevoer is, na ongemaklike onthullings oor twyfelagtige huurkontrakte wat die Polisie aangegaan het.  AfriForum het selfs ʼn dringende skrywe aan die Verenigde Nasies se spesiale gesant vir menseregte beskermers gestuur, waarin laasgenoemde versoek is om by die Suid-Afrikaanse regering aan te dring daarop dat die regering die OB teen polisie-intimidasie moet beskerm.  Adv. Madonsela voer ʼn verbete stryd, maar hoeveel mense sal die moed en krag hê om dit te doen?

Die feite oor die instellings is kommerwekkend, maar nog geen rede om moedeloos te raak nie.  Juis hier het burgerlike instellings ʼn rol te speel.  As die SAMRK ons faal, kan ons gelykheidshof toe gaan.  As PANSAT ons faal, kan ons die hooggeregshof om hulp nader, maar ook ons inheemse tale op vele ander kreatiewe wyses beskerm en bevorder.  As die OB onder druk is, kan ons haar lot wêreldkundig maak en internasionale druk harnas om haar te beskerm.  Dit is wat AfriForum, maar ook vele ander burgerlike instellings in Suid-Afrika doen.  Dit staan enige lid van die publiek vry om ʼn instelling te identifiseer wat die sake na aan sy/haar hart bevorder op ʼn wyse waarmee hy/sy gemaklik is.  Hierdie instellings het elke paar gewillige hande wat hulle kan kry, nodig!

En as ons as instellings ons werk goed genoeg doen, word Holland se mistastende woorde van 2011, dalk selfs waar woorde in die toekoms!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae