AfriForum nou 200 000 sterk

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, tydens die optog (25 November 2017). Foto: Reint Dykema

AfriForum-lede is nou nog sterker! Meer as 200 000 sterk om presies te wees. Dit is natuurlik omdat AfriForum se ledetal aan die einde van Oktober die 200 000-ledekerf verbygesteek het. 200 000 AfriForum-lede wat saamstaan kan baie meer bereik as wat elkeen van ons op ons afsonderlik kan bereik. Saam is ons sterker! Wat die mylpaal van 200 000 lede veral indrukwekkend maak is die feit dat AfriForum se ledetal in Januarie 2010 nog op slegs 8 000 gestaan het. Dié organisasie het dus oor die afgelope agt jaar eksponensieel gegroei.

Dit is ʼn goeie ding dat ons almal die 200 000 ledetal en al AfriForum se ander suksesse vier. In die gewelddadige land vol korrupsie waarin ons ons bevind, is dit belangrik dat ons erkenning moet gee aan die feit dat dit steeds moontlik is om suksesse te behaal en dat daar hoop vir die toekoms is indien ons hard werk om ons plan vir gemeenskapselfstandigheid stap vir stap te implementeer.

Om suksesse te kan vier beteken natuurlik ook dat daar groot rede is vir dankbaarheid. Ek is veral dankbaar vir die groot genade wat AfriForum sedert sy stigting 11 jaar gelede van God ontvang het. AfriForum het baie vinniger gevorder as wat ek menslik gesproke gedink het moontlik is.

Daar moet veral dankbaarheid betuig word teenoor elkeen van AfriForum se meer as 200 000 lede. Sonder lede kan AfriForum niks vermag nie. Elke sukses wat AfriForum behaal is dus elke lid se sukses.

AfriForum se personeel en direksie verdien ook dank. Hierdie span hardwerkende, energieke en visie-gedrewe mense doen meer as wat enige werkgewer van ʼn werknemer kan verwag. Die feit dat die AfriForum-span hulle werk by AfriForum nie maar as net nóg ʼn werk sien nie, maar as ʼn roeping, is deel van AfriForum se suksesresep.

Hoewel ʼn ledetal van 200 000 groot blydskap meebring is dit belangrik om te onthou dat AfriForum se visie nie bloot is om oor ʼn groot ledetal te beskik nie. Die visie is en bly om ʼn toekoms te skep waarin ons en ons kinders blywend vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan aan die suidpunt van Afrika. ʼn Groot ledetal is egter ʼn belangrike middel tot die bereiking van hierdie doelwit. Hoe groter AfriForum se ledetal, hoe beter is die organisasie gerat om op ʼn nuwe vlak as suksesvolle voertuig te dien om te help toesien dat ons visie bereik word.

Die ledetal van 200 000 beteken ook dat AfriForum nou ʼn nuwe fase betree waartydens die organisasie sy werksaamhede en veldtogte nog verder kan uitbrei. Dit is onder meer nou moontlik om adv. Gerrie Nel se span by die AfriForum- private vervolgingseenheid verder uit te brei om meer sake te kan aanpak. AfriForum is nou ook in staat om sy netwerk van sowat 100 AfriForum-buurtwagte en ander selfdoen-aksies in plaaslike gemeenskappe verder uit te brei, terwyl dié organisasie se nasionale en internasionale veldtogte op ʼn nóg groter skaal aangepak kan word.

Die feit dat die regering deurspek met wanadministrasie en korrupsie is, beteken dat die vestiging van sterk burgerlike instellings al noodsaakliker is om te verseker dat die regering verantwoordbaar gehou word. Die 200 000 lede gee aan AfriForum die nodige spierkrag om hierdie rol met groter doeltreffendheid te vervul.

Ten spyte van die suksesse en sterk groei wat AfriForum die afgelope 11 jaar behaal het, is dit belangrik dat almal van ons wat betrokke is by die organisasie nie selfvoldaan raak nie. Ons kan trots wees op dít wat bereik is, maar moet baie bewus wees daarvan dat daar nog baie meer is wat gedoen moet word om ons visie te bereik. Dit wat reeds bereik is dien wel as stewige basis vanwaar ons in die toekoms vinniger nog meer moet doen. Die huidige omstandighede vereis dat ons elkeen ons roeping met ʼn sin vir dringendheid moet uitleef. AfriForum sal ook nog sterker gemaak moet word.

Dankie aan elkeen wat die pad saam met AfriForum gestap het tot op hierdie punt. Ek sien daarna uit op saam met hulle die pad vorentoe te stap, nie net tot by die 250 000-mylpaal nie, maar tot op die punt waar ons almal ʼn nóg groter bydra gelewer het om ʼn beter toekoms te skep.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Vermeende ·

Kallie, dis nou goeie besigheid, as elke lid R100/maand betaal dan het julle n geraamde inkomste van R 20 000 000.00, uitstekend besigheidsplan gewees en geluk aan elke lid.

RB ·

En dan vat hulle daardie geld en help mense, lewer dienste soos instandhouding en verbeteringe (wat die staat eintlik moes doen) en werk aktief om korrupsie en misdaad teen teveg….die skurke!

Ag nee man…skakel in, of gaan kla elders.

Paul ·

Genugtig — Uit die R20M kry Afriforum dit reg om, soos RB tereg noem, dienste te lewer rakende instandhouding, verbeteringe, korrupsie te beveg, iemand soos Gerrie Nel te betaal om die korruptes vas te vat ens. Jy het verseker ‘n klomp mense nodig om hierdie werk reg te kry. Ek vermoed die Afriforum werkers moet onderbetaal word om al hierdie dinge vir net R20M gedoen te kry! Uitstekend Afriforum! Ek verhoog sommer dadelik my maandelikse bydrae aan julle.

Gert ·

Ek was lid. Maar hulle het in my opienie net mooi niks beryk nie. Ekt ekstra betaal vir oom gerrie. Daar het ook niks van gekom nie en ek gaan n voorspellig maak, daar gaan niks van kom nie. Afri gaan eendag almal mislei en julle gaan nie weet of julle wil lag of huil nie.

Ww ·

Hoop regtig dat elkeen wat aangesluit is en die waarde besef, dankie ook nog ‘n maatjie aan die hand sal neem om aan te sluit

Hannes ·

Wonder net hoeveel van die lede stem DA. Dit sal glad nie sin maak nie

RB ·

Jip, ek het self, maar verstaan nou my fout…nie volgende keer nie.

Jerry ·

Baie geluk. Afri-Forum het goeie inisiatiewe wat die Afrikaner hoop gee en hoe meer lede hoe meer inisiatiewe en hoop sal daar wees. Eendrag maak mag en al is daar Afrikaners wat verskil en wat nie lede is nie, ondersteun almal inisiatiewe wat hoop bring. Inisiatiewe wat nie hoop bring nie het ongelukkig n klankie en maak Afrikaners teikens vir die bloedlustiges. N vereiste vir inisiatiewe moet wees dat dit goed deurdink word sodat dit geen, maar geen konflik of negatiewe gevolge vir Afrikaners mag inhou nie. Waak daarteen om soos wat die ledetal groei, inisiatiewe van stapel te stuur met n arrogante houding. Die benadering moet nederig wees vandat die inisiatief geloods word totdat dit suksesvol afgehandel is. Julle doen goed en met n paar aanpassings kan julle nog beter doen. Julle inisiatief (resep) tov plaasbeveiliging kort nog n paar bestanddele. Sit skouer aan die wiel en vind daardie bestanddele.

Eish ·

Baie geluk met die groot mylpaal wat bereik is. Tereg word die opmerking gemaak dat hefaan nou voorlê en selfvoldaanheid nie plek het nie.
Indien ek my kan verstout om die volgende te “wens” vir 2018.
* Die eerste suksesvolle privaatvervolging.
* Die eerste blanke plakkerskamp sodat mense met waardigheid die slae kan vat vooruitspruitend uit BEE en die algehele verval van die ekonomie.
* Uitbreiding van tersiêre studierigtings om professionele beroepe soos GR, dokters, regslui en ingenieurs in te sluit.
* Oplossing vir skole om in Afrikaans te kan klasgee.
* Dat ons Hemelse Vader se seën en leiding op die werk sal rus.
Vrede.

Pessimis ·

Dit is basies 0.4 % van RSA se totale bevolking…
Hoekom voel ek nie so positief oor hierdie 200 000 mylpaal nie:(

Eish ·

Die mense wat voorlangs vasvat is altyd in die minderheid totdat dit wat tot stand gebring word, die huidige oortref. Dan is dit n “stampede” soos draadsitters migreer na groener weivelde.

Merkur ·

Buiten die goeie nuus oor die ledetal ook ´n mooi boodskap van AfriForum. Dankie vir julle goeie werk en toewyding!

Johann de Beer ·

Geluk aan Afri-forum. Nie net ledegeld moet na julle, maar ook belastinggeld. Afriforum moet dink daaraan om as NGO te “registeer” om belastinggeld te kry. Ons betaal nou dubbel vir die werk. (ledegeld + belasting = Dienste) HAhaha

John ·

Mooi… maar meer deursigtigheid is nodig veral tov van besluitneming en daarvoor is riglyne nodig. AfriForum kan nie jaar na jaar deur dieselfde mense beheer word wat net doen wat hul wil sonder inspraak deur lede nie. Mogabe-dinamika moet verhoed word en daarom: Hoe word die bestuur en die raad, aangestel en wie beheer die geldsake? Word dit streng gekontroleer of is pellie-pellie en woede-vir-die-oomblik die snellers? Om net op die vrese en goedertrou van Afrikaners te reken en lukraak besluite te neem, is nie baie slim nie. Uiteindelik gaan nepotisme vol in die blom staan, geld dwaas aangewend word en chaos seevier. Om die DA te dupliseer en hofsake vir enkelinge te veg, terwyl die boerevolk bloei, is kordaat maar waarheen lei dit? Net koerantopskrifte?

Eish ·

Geldige punt.
Wat meeste van ons seker te bang was om te opper.
Sonder om vinger te wys.

Joe Hall ·

Sal maar broekskeur gaan om voor elke besluit wat geneem moet word, 200,000 lede met 200,000 standpunte te raadpleeg.
Indien al die vrese vir ‘nepotisme wat in die blom staan’, lukrake besluite’ en’chaos’ wat seëvier ‘n probleem vir enkeles sou wees, is die amtwoord baie eenvoudig. Beëindig jou lidmaatskap en bydraes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.