AfriForum se 9-punt-plan vir Buurtwag-stigting

afriforum-kempton-park

Lede van die AfriForum-buurtwag in Kempton Park saam met polisiebeamptes tydens ‘n aksie waar ‘n voertuig opgespoor is. Foto: Verskaf

Deur Hein Gonzales

Die Grondwet, wetgewing en regspraak gee jou as ’n wetsgehoorsame burger die reg om jouself en jou familie te beskerm binne die raamwerk van die wet. Wat beteken dit in die praktyk? Daar is heelwat onsekerheid oor die stig van buurtwagte en die status van hierdie strukture. Kragtens wetgewing en gevestigde praktyk is jy geregtig om ʼn buurtwag in jou gemeenskap te stig. Hierdie entiteit is nie onderhewig aan ander sekuriteitmaatskappye en/of gemeenskapspolisiëringsforums nie, maar moet verkieslik in samewerking met die SAPS gedoen word. Hierdie buurtwagte het die verpligting om te verseker dat hulle binne die raamwerk van die Grondwet en wetgewing optree.

Verhoudinge bou en samewerking met ander entiteite soos die SAPS, GPF en/of ander entiteite, is baie belangrik, maar wel sonder om jou identiteit prys te gee. Die uitkoms is ’n veilige Suid-Afrika vir al die gemeenskappe wat in die land woon. Misdaad is nie selektief as dit kom by ras, geslag, kultuur, taal, herkoms of politieke affiliasie nie. Misdaad is dus a-polities van aard. Laasgenoemde plaas ʼn morele verpligting op ons as landsburgers om aksie te neem teen misdaad. Hoe begin ek?

Jou 9-punt-plan

Voorbeeld: Koos is woonagtig in Waterkloof. Die afgelope paar weke was daar verskeie inbrake in die omgewing. Die polisie sukkel om hierdie probleem hok te slaan weens ʼn tekort aan patrollievoertuie en personeel. Koos besluit om ’n buurtwag te stig.

  1. Die eerste stap in hierdie proses sal wees om ʼn gemeenskapsvergadering te reël waar al die betrokke rolspelers van die buurt teenwoordig is. Tydens hierdie vergadering word die konsep van ʼn buurtwag bespreek deur die rolspelers. Die besluit van die vergadering is om die proses vir die stigting van ʼn buurtwag te begin, wat nou? Op hierdie vergadering moet ʼn projekkoördineerder en taakspan deur die rolspelers verkies word om die proses te stuur. In hierdie stadium moet daar ʼn algemene waardering by wyse van ʼn AfriForum-veiligheidsvraelys gedoen word om die behoefte van die gemeenskap te bepaal. Laasgenoemde kan verkry word op navraag by [email protected].
  2. Die tweede stap is vir Koos om die AfriForum-hoofkantoor in Pretoria te kontak ten einde die besonderhede van die koördineerder in sy gebied te kry. Koos maak direk kontak met die koördineerder om ’n AfriForum-inligtingsessie te kom aanbied vir die gemeenskap. Tydens hierdie vergadering sal die AfriForum-verteenwoordiger ’n voorlegging maak oor die dienste en ondersteuning wat AfriForum bied.
  3. Ná afloop van die inligtingsessie kan die gemeenskap besluit om onmiddellik te begin met die stig van ʼn buurtwag. Die AfriForum-verteenwoordiger sal die nodige dokumentasie by hom hê wat benodig word vir die stigting. Indien daar nog nie ʼn tak gestig is nie, sal dit eers die betrokke aand gestig moet word.
  4. Ná die ondertekening en invul van al die takbestuurvorms, AfriForum-grondwet en gedragskodes, sal die struktuur formeel gestig wees met betrokke bestuurslede en sektorleiers. Laasgenoemde is ’n oudit-voorvereiste. Dit sal die buurtwagvoorsitter se verantwoordelikheid wees, in samewerking met die AfriForum-koördineerder, om te verseker dat die struktuur effektief funksioneer.
  5. Ná die stigting kan die voorsitter reël met die betrokke AfriForum-koördineerder vir opleiding vir die struktuur wat onder meer insluit patrollie-opleiding, radio-opleiding, noodhulpopleiding, insidentbeheer, selfverdedigingsklasse, teenverkragtingsklasse, reaksiespanopleiding en nog vele meer. Indien daar ’n bepaalde behoefte vir opleiding is, sal AfriForum-hoofkantoor reël met konsultante vir die opleiding.
  6. Die buurtwag moet begin met die beplanning en uitrol van infrastruktuur soos byvoorbeeld ʼn radionetwerk, glimbaadjies, voertuigmagnete en/of die vestiging van ʼn GOS (gesamentlike operasionele sentrum). Uitgawes in hierdie verband kan uit die betrokke takfondse betaal word, onderhewig aan die beskikbaarheid van sulke fondse.
  7. Identifiseer rolspelers in die gemeenskap en sluit samewerkende ooreenkomste met hulle, soos byvoorbeeld SAPS en GPF.
  8. Reël so gou moontlik ’n gesamentlike massapatrollie in jou buurt. Stel ʼn behoorlike operasionele plan saam en betrek rolspelers soos byvoorbeeld SAPS, die metropolisie, GPF, sekuriteitmaatskappye en ander private buurtwagte om deel te neem. Dit is altyd wys om die samewerking van die plaaslike SAPS te kry vir die projek. Reël ʼn vergadering met die stasiebevelvoerder en gaan verduidelik vir hom die operasionele plan. AfriForum-hoofkantoor sal die buurtwag hiermee help en die proses fasiliteer.
  9. Verseker dat die struktuur volhoubaar en op gereelde basis patrollie ry.

Dit is essensieel om te verseker dat jou buurtwag altyd binne die raamwerk van die wet en die Grondwet optree. AfriForum-hoofkantoor bied aan sy strukture strafregtelike regsbystand en buurtwagversekering, maar slegs in gevalle waar dit ’n betalende AfriForum-lid is en waar hy wel binne die raamwerk van die wet opgetree het.

Die onlangse gebeure in Coligny is ’n duidelike voorbeeld van wat kan gebeur indien ’n gemeenskap nie pro-aktief organiseer en strukture bou nie. Ons befonds die oplossing, nie die probleem nie!

  • Hein Gonzales is risiko- en ondersteuningbestuurder by die burgerregte-organisasie AfriForum se afdeling vir gemeenskapveiligheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Die’ plan-van-aksie druis mos in teen die regstellende-aksie-plan van die regering wat verontregtes tot binne-in jou huis beskerm selfs met ‘n mes teen jou bors. Bravado in donker nagte in buurtes is gevaarlik en aksie kan lede duur te staan kom, wanneer ‘onskuldige’ bewoners eise begin instel teen goedbedoelde vredeliewende buurtwaglede. Opleiding, afrigting en noue samewerking met die polisie sal prioriteit moet wees en sulke eenhede sal die volle samewerking van almal in die buurt moet he… en dit is waar die knoop le.

Andries ·

N plan om ons boere te beveilig op hul plase hulle so bloot gestel

Nico ·

Dit sal werk as die regering net die grondwet wil handhaaf maar geld net vir sekere mense al die geld wat gesteel en gemors is deur hul doen en late sal suid-afrika n super moontheid maak

Steve ·

Wie betaal vir al die opleiding en radios en en en. Gemeenskappe loop erg deur wonder druk van verhoogde elekt water en erf blasting wat meer en meer raak.. Die avg Joe kan nie nog meer uit haal petrol en die se meer ook nie… Watse pa of man wil sy vrou en kinder elk geval alleen by die huis los as hy rond Ry in die nag. Ek bly op n plot en gaan nie eers uit as my buurman se alarm uit gaan nie… My huis en familie is meer belangrik as om in die tronk te gaan sit en van aanranding aangekla te word en my vuyrwapen lisensie te verloor omrede ek iemand gearresteer het en hy n saak teen my oop gemaak het… Julle kan my nie guarantee dat selfs tree ek volgens die wet op dat ek niks sal oorkom nie… Ek as Pvt man mag nie my wapen dra nie, ek mag niemand deursoek nie, mag nie nie n voertuig deursoek nie so watse hulp is ek wat rond Ry, my petrol more en dalk nog in die tronk kan slaap tussen criminals 12 in een sel… Nee Dankie..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.